Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'Afrikaners trek toenemend na 30 spesifieke dorpe en stede'

Solidariteit wil op 30 gebiede konsentreer. Dit maak dit haalbaar om dan daar die minimum faktore te vestig wat nodig is om “vry, veilig en voorspoedig” te leef, het Dirk Hermann, uitvoerende hoof, aan Barnard Beukman gesê.

Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, in dié organisasie se hoofkantoor in Centurion. Foto’s: lisa Hnatowicz

‘Die staat moet minder betrokke raak. Hoe meer staat hoe minder ontwikkeling. En hoe minder staat hoe meer ontwikkeling.”

Dit is die belangrikste enkele ding wat hy vir pres. Cyril Ramaphosa sal wil sê as hy die geleentheid kry, is Hermann se reaksie op die eerste vraag in sy kantoor in Solidariteit se hoofkantoor in Centurion.

Volgens hom het die staat die wanindruk dat hy die hoofverantwoordelikheid vir ekonomiese ontwikkeling moet neem. Dit is onderliggend aan die groot fout wat die ANC maak. Hy wil toenemend sentraliseer, maar dít juis terwyl die staat besig is om te verswak. Dit is ook die foutlyn van sosialisme oor die wêreld heen en die rede waarom dit oral so misluk. Dit is ’n gebrek aan selfvertroue wat die ANC laat voel hy moet alles beheer.

“Dit klink dalk vreemd, maar die staat moet onderneem om nie een enkele werk te skep nie. Hy moet bloot vertroue skep en die ontwikkeling van die ekonomie en werkskepping aan die private sektor en die gemeenskap oorlaat. Deur op te hou sentraliseer, kan die ekonomie op verskeie vlakke vrygemaak word om te groei.”

Die groot Eskom-toets

Die ekonomie lei die onderhoud na die volgende vraag: Eskom. Heelwat ontleders meen dié kragverskaffer is Ramaphosa se grootste toets. Hulle vra onder meer dat personeel drasties verminder word en Solidariteit het baie lede wat daar werk. Steun Solidariteit dit?

Volgens Hermann hou Eskom met sy R450 miljard skuld en die SAL die grootste bedreigings vir die staatskas in. Hy meen die opbreek van Eskom in drie dele kan hom laat wegkom van sy gesentraliseerde struktuur, wat die geleentheid vir die plundering van die organisasie geskep het deur oorregulering en aankoopprosedures waar vet ingebou is.

Mooi woorde “Korrupsie is onder die vaandel van swart ekonomiese bemagtiging ingebou,” sê Hermann. “Dit was niks anders as plundering nie, maar as morele grondslag is mooi woorde soos die regstelling van die verlede en die uitwissing van die wanbalanse van die verlede gebruik.”

“As AfriForum slaggate in paaie regmaak, is dit in diens van die totale gemeenskap.”

Aankoopprosesse is opgeblaas en daar is 50% of 100% en selfs 200% by pryse gevoeg.

“Eskom is ’n monument vir die mislukking van swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie. Daar is van vaardighede ontslae geraak met die mooi woorde dat dit ’n plekmaakstrategie is. Van die beste mense is daar weg en sit nou in die buiteland. Daar is dus nou ’n ‘vaardigheidsmisplasing’ – op sekere plekke is daar te veel mense en op sekere plekke te min.

“Dit sou onverskillig wees om oor die algemeen te sê soveel duisende mense moet net gaan. ’n Vaardigheidsoudit is eers nodig. En daar kort ’n oudit van kontrakte om te kyk waar onnodig opgeblaas is.

“Die groot ironie van Eskom is ons weet daar is geplunder en wie geplunder het, maar steeds is daar geen vervolgings nie.”

Is dit waarom Solidariteit Brian Molefe hof toe gesleep het?

“Molefe is simbolies van belastingplunderaars in Suid-Afrika,” meen Hermann.

Volgens hom is belastingprotes ’n gesonde deel van die demokratiese proses in die res van die wêreld, maar het so ’n kultuur nog nie in Suid-Afrika posgevat nie. Daarmee bedoel hy nie belastingweerhouding nie. Mense besef nie hoeveel regsinstrumente daar in Suid-Afrika is om belastingplunderaars mee te gryp nie.

Afrikaners gaan nog vir geslagte lank in Suid-Afrika bly, sê Hermann.

Solidariteit in die hof

Daarom het Solidariteit nou reeds in dié verband suksesvol in die howe opgetree teen Molefe, Denel en Hlaudi Motsoeneng van die SAUK. Hulle is ook besig met verhaling van die regskoste van albei – Motsoeneng het alles betaal, maar uitstel gevra vir die laaste R20 000. In Molefe se geval het hulle nou die balju opdrag gegee om die uitstaande bedrag te verhaal.

Hulle het ook regsbriewe aan Eskom se pensioenfonds geskryf en dit duidelik gemaak hulle gaan waghond speel sodat Molefe se skuld van R10 miljoen ingevorder word. Die fonds het in ’n brief bevestig hy tree “vigorous” in dié verband op.

Die motief hiermee is ook om te help om ’n kultuur van verantwoordbaarheid in die land te skep. En dit is ’n waarskuwing aan ander belastingplunderaars dat hulle nie toegelaat gaan word om daarmee weg te kom nie. Die vraag is voorts waarom Ramaphosa en sy regering nie optree en die nodige vervolgings instel nie.

“Ons het ’n brief aan die nasionale vervolgingsgesag geskryf en gevra waarom hulle Molefe nie strafregtelik vervolg nie. Maar geen antwoord gekry nie. Ons het aangedui ons gaan hulle dwing om dit te doen. Of ons gaan vir Gerrie Nel inroep en aansoek doen om ’n sertifikaat vir private vervolging.”

HoffiksMolefe en Motsoeneng het gedink hulle gaan Solidariteit uitput deur tot in die konstitusionele hof te litigeer. “Maar ons is hoffiks. Ons het geld opsygesit en 45 000 mense lewer maandeliks deur ’n debietorder bydraes vir ons regsfonds.”

Dit is ’n voorbeeld van waar die krag van die gemeenskap sterker is as die staat. Solidariteit is besig om Molefe rondom die staat te vervolg weens die onvermoë en of onwilligheid wat daar heers.

“Ons word daarvan beskuldig dat ons ’n alternatiewe staat langs die staat vestig. Maar ons reageer eerder op die staat wat nie sy verantwoordelikheid nakom nie, want dit is nie goed vir die demokrasie nie. Ons neem verantwoordelikheid as gemeenskap.”

Hermann verwerp die beskuldiging dat sulke hofoptrede dislojaal teenoor die land is. “Dit wys eerder ons is lojaal jeens die demokrasie. Ons wen ons sake, wat wys ons neem juis die demokrasie in beskerming. Die groter Solidariteitsbeweging veg en bou en die hofsake is deel van ons vegstrategie.”

Sy organisasie is hoffiks en sy talle hofgedinge toon hy is lojaal jeens en beskerm die demokrasie, meen Hermann.

Gaan nêrens heen nie

“Navorsing wys 85% van Afrikaners wil in Suid-Afrika bly. En baie het nie die geldelike of akademiese opleiding om elders heen te gaan nie. Ons sê ons gaan nog vir geslagte lank hier bly.

“Jy bestee nie R1,5 miljard aan die bou van ’n universiteit – Akademia – as jy op pad is nie. ’n Gemeenskap wat besig is om te ontbind het nie die energie om sulke groot projekte aan te pak nie. Ons tegniese kollege – Sol-Tech – kry ’n nuwe kampus van R400 miljoen. Dis ’n luide stelling dat ons nêrens heen gaan nie, want ons het geen ander keuse nie.”

Hy wys daarop dat Afrikaners hulself na die vasteland genoem het. Hul taal is op die vasteland ontwikkel en ook daarna genoem.

“Die oomblik dat ’n mens besluit het jy bly, breek daar ’n klomp energie los, want dan moet oplossings gekry word.”

’n Deel daarvan is Solidariteit se konsentrasiestrategie.

Sy omvattende navorsing wys Afrikaners bly in nagenoeg 300 stede en dorpe, maar trek toenemend na 30 spesifieke dorpe en stedelike gebiede – byvoorbeeld na groter streekdorpe soos Betlehem in die Vrystaat.

Die Afrikaner se historiese bestaanskrisis is nie soseer getalle nie, maar verspreiding. Daarom wil Solidariteit nou op dié 30 gebiede konsentreer en die trek soontoe stimuleer. Dit maak dit haalbaar om dan daar die minimum faktore te vestig wat nodig is om “vry, veilig en voorspoedig” te leef.

Dit sluit in die vestiging van veiligheidstrukture, toegang tot sentrums van Akademia, Afrikaanse skole, alternatiewe regspleging, maatskaplike sorg en druk op die owerhede vir behoorlike munisipale dienste en mediese sorg.

Fokus is Afrikaner-kultuur

Die konsentrasie van ’n kritieke massa maak dit moontlik om ’n sterk gemeenskapsomgewing te skep. Daar word gekonsentreer op die Afrikaner-kultuur, maar ook as deel van die groter Afrikaanse gemeenskap waar daar toenemend saamgewerk word, ook met groepe soos die DAK-netwerk.

Maar as Solidariteit uitreik in die groter Afrikaanse gemeenskap, waarom nie ook in die groter Suid-Afrikaanse gemeenskap tot voordeel van almal nie?

Hermann antwoord die eerste fokus is Afrikaner-kultuur. “Want deur te behoort, voel mense geborge en dit gee hulle juis die selfvertroue en energie om in ’n groter konteks betrokke te raak. As hulle nie geborge voel nie, onttrek hulle en later vlieg hulle. Daar is diegene wat onverbonde individue in die wêreld wil wees en dis hul reg. Maar oor die wêreld heen veroorsaak dit onsekerheid.

“In die groter Afrikaanse gemeenskap is daar nou goeie samewerking omdat identiteite soos die Khoi-San herontdek word. Daarenteen het die poging om alle Afrikaanssprekendes as ‘Afrikaanses’ te beskou enige energie doodgemaak.

“Akademia se sentrums word juis so geplaas vir gemaklike toegang deur toenemende getalle bruin studente. En daar is byvoorbeeld betrokkenheid by wiskundeverryking in arm bruin skole om die opwaartse groei na universiteitstoelating te stimuleer.”

Derde sirkel

Maar Hermann erken die “derde sirkel” – dié van die groter Suid-Afrikaans gemeenskap.

“As AfriForum slaggate in paaie regmaak, is dit in diens van die totale gemeenskap. Ons sê nie net Afrikaanssprekendes mag daaroor ry nie. Of as ons help om ’n dorp se kragtoevoer te herstel, sê ons nie dit moet net na tradisioneel Afrikaanse woonbuurte gaan nie.”

So is hul ingryping dat die kinders van Nkandla ’n behoorlike skool het, deel van ’n wyer bemagtiging. Een afgestudeerde by Sol-Tech het ’n maatskappy begin met 44 mense in diens. Dit is werkskepping vir Suid-Afrika.

Hermann is opgewonde oor die moontlikhede wat die vierde nywerheidsrevolusie bring. Solidariteit is die eerste instansie wat die voortspruitende telematiese tegnologie vir opvoedkundige doeleindes inspan. Private Afrikaanse skole is dus nie meer te duur nie. “En ons sal die tegnologie graag aan almal beskikbaar stel.”

Vraag: Wat is die balans tussen eiebelang en negatiewe etniese mobilisasie op rasselyne? Oorskry Solidariteit nie soms die grens nie? Ernst Roets verwys?

“Mense het ’n behoefte om geborge te voel en moet toegelaat word om dit te doen. Wêreldwyd voel mense toenemend vervreem van hul omgewings en gryp gevolglik terug na hul kultuur- en soms godsdiensidentiteit.

“Afrikaners is positief oor hul kulturele identiteit en het dit gemoderniseer. Dit is ook die meeste van hulle se primêre identiteit. Maar daar mag nooit isolasie ontstaan nie en brûe moet altyd na ander gebou word.”

Hermann sê Solidariteit het ’n baie goeie verhouding met Cosatu-vakbonde, “want ons is eerlik oor wie ons is”. Hy glo dat Solidariteit juis ’n respekvolle verhouding met die ANC kan handhaaf omdat hy nie wegskram om soms robuus te wees nie. Onlangse gesprekke met Pravin Gordhan was juis robuuste, dog goeie gesprekke. Suid-Afrika kan gerus ’n soort “respekvolle robuustheid” ontwikkel, solank die doel net is om iets positief te bereik. Daar moet gewaak word om nie uit haat op ander te skreeu nie.

Verhale oor feetjies

“Maar ons maak ook maar soms foute. Dit is so . . .”

“Dit pas dalk nie by ’n harde vakbondman nie,” maar hy sal graag kinderboeke wil skryf en ook een oor feetjies.

Want sy een dogter het op feetjiestories aangedring. En hy het seker meer as 2 000 publiseerbare kinderverhale wat hy saans vir sy dogters vertel. Elke keer ’n nuwe een wat hyself uitdink.

Hy en sy vrou, Elsha – ’n maatskaplike werker, het vier dogters. Twee in die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria en twee in die Laerskool Dirk Postma, ’n private Christelike skool. Gesinstyd is maar vir sy private tydverdrywe en as sy gesin nie daar is nie, lees of skryf hy. Benewens aktuele boeke het hy al ’n novelle ook agter die blad.

Werkdruk en -stres hanteer hy juis deur grense om gesinstyd te trek en te weet wanneer mens nie dinge huis toe moet vat nie. Hermann glo die feit dat sy organisasie begin bou in ’n moeilike tyd in die land, spruit uit die “Christelike geloof waarin ’n mens glo jy moet doen wat jy moet doen en glo aan God se toekomsbelofte”.

  • Beukman is redakteur van Beeld.
Meer oor:  Dirk Hermann  |  Afrikaners  |  Solidariteit  |  Korrupsie  |  Kultuur  |  Gemeenskappe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.