Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
FW bevestig wit mense het nie 'clue gehad oor apartheid nie'

Swart Suid-Afrikaners se geduld raak op, want ‘jammer’ mag nie ’n ‘maar’ hê nie. Die teoloog dr. Deon Snyman het aan Willemien Brümmer gesê wit mense sal moet begin om hul vergifnis te verdien.

Dr. Deon Snyman, teoloog en voormalige hoof van die Restitusie-stigting, in die St. Georges-katedraal in Kaapstad wat vir hom ’n nuwe spirituele tuiste geword het. Foto: Adrian de Kock

“FW de Klerk het nou net weer vir swart Suid-Afrikaners bevestig dat ons nie vertrou kan word nie en dat ons nie regtig verander het sedert 1994 nie . . .”

Dr. Deon Snyman, teoloog en die nuwe besturende direkteur van die Goedgedacht Trust in die Swartland, se stem is intens, sy grysgroen oë gefokus. “Hy het ook bevestig dat ons nie ’n clue het wat apartheid regtig was nie.”

Buite sy kantoor aan die voet van die Kasteelberg wapper witter-as-sneeu-lakens wat in die waskamer langsaan gewas is. Hy vat-vat aan die bril wat hy al dra sedert hy ’n tjokkertjie op Potchefstroom was in ’n huis gewortel binne die drie-eenheid van Broederbond, NG Kerk en NP.

Sy gedagtes loop terug na sy finale jaar op Tukkies toe hy as SR-lid vir De Klerk na die kampus genooi het kort ná sy epogmakende toespraak op 2 Februarie 1990.

Dis ’n dag van teatrale chaos. Regse studente annekseer die amfiteater op Tukkies en ontwrig die oudpresident se toespraak só dat dit die aand op CNN uitgesaai word.

Dis jammer dat hy (FW de Klerk) nie sommer vroeg kon afgetree het nadat hy die 2 Februarie-toespraak gemaak het nie.

“Die KP-studente het uit hulle pad uit gegaan om eintlik maar te doen wat die EFF nou in die parlement doen en dit was baie moeilik vir FW om daai vergadering toe te spreek. Ek was baie trots daai tyd dat ek verbind kon wees met FW so kort nadat hy daai toespraak gemaak het en ek onthou hoe opgewonde ek was, eintlik bewoë, toe hy (saam met Madiba) die Nobelprys vir Vrede kry.”

Hy skep asem, ’n man van lang sinne met ’n voorliefde vir die woord “messy”. “Maar kort ná die regering van nasionale eenheid het ek geweet this is not inspiring at all. Dis jammer dat hy nie sommer vroeg kon afgetree het nadat hy die 2 Februarie-toespraak gemaak het nie.”

Vir Deon, wat vir 14 jaar die hoof van die Restitusie-stigting in Kaapstad was, was De Klerk se getuienis voor die WVK die “klassieke voorbeeld van ’n swak apologie”. “ ’n Jammer moet nooit ’n maar hê soos wat nou gebeur het (toe De Klerk gesê het apartheid was nie ’n misdaad teen die mensdom nie). ’n Verskoning moet onvoorwaardelik wees. Dít en egte berou is vreeslik belangrik, want dit help om die magsbalans ’n bietjie te herstel.”

Snyman terwyl hy die hoof was van die Restitusie-stigting in Kaapstad. “Ons het in daai tyd ’n restitusie-opname saam met die Raad vir Geesteswetenskappe ontwikkel en minder as 20% van wit mense wat deelgeneem het, het gedink restitusie is nodig,” sê hy. Foto: Garth Stead

‘Ons geduld raak op’

Hy het reeds vroeg in sy loopbaan die pad van berou begin verken toe hy ná sy teologie-studies in die destydse “NG Kerk in Afrika” (deesdae die VGK) in ’n baie arm, landelike Zoeloe-gemeente in Nongoma in die noorde van Zoeloeland gelegitimeer is.

“Ek het nie gegaan om mense na wie ook al te lei nie. Dit was vir my belangrik dat hierdie mense my leerskool is. My pa, Wilhelm, het ook by my bevestiging gesê hy is ’n ou Afrikaner en hy weet Suid-Afrika moet verander, maar die gemeente moet nou sy seun leer want sy seun sal weer vir hom moet leer.”

Jy’s kwaad vir die kerk, jy’s kwaad vir die Afrikaner, jy’s kwaad vir almal, want dis ’n gemors. Die mense se lewens is opgefoeter.

Hy was nie toe getroud nie, en soms  het hy gaan oorslaap by gemeentelede se huise – of hy nooi hulle om in die pastorie te kom woon. Vir elkeen vra hy dieselfde vrae: Hoe het apartheid jou lewe beïnvloed? Wat dink jy van wit mense? En hoe gaan ons hierdie land verander?

“Ek het toe ’n klomp woede eintlik beleef. Jy’s kwaad vir die kerk, jy’s kwaad vir die Afrikaner, jy’s kwaad vir almal, want dis ’n gemors. Die mense se lewens is opgefoeter. Ek het toe nie meer lus gehad om eintlik meer baie konneksies met wit mense te hê nie – en ek het baie min gehad, want die wit gemeenskap in daai gebiede was baie konserwatief.”

Snyman het in die jare negentig predikant geword by twee Zoeloe-gemeentes in die noorde van KwaZulu-Natal. Die idee was nie om mense te bekeer nie, maar om by hulle te leer, vertel hy.Foto: Adrian de Kock

Hierna is hy predikant by nog ’n Zoeloe-gemeente in Dingaanstat by ’n ou sendingstasie van die NG Kerk waar die grafte van Piet Retief en sy Voortrekker-afvaardiging is. “Dis hier waar dinge tussen die Afrikaners en die Zoeloes lélik begin skeefloop het”. Dis ook hier waar hy mettertyd begin verstaan versoening is nie wanneer wit en swart “Kumbaya” sing nie.

Wit mense, julle het nog ’n lang pad om te loop, maar ons gaan nie die werk vir julle doen nie; julle moet dit self doen onder julle eie mense.

As hoof van die Restitusie-stigting (aanvanklik die Stigting vir Kerkgeleide Restitusie) ontwikkel hy sedert 2006 verskillende modelle vir herstellende geregtigheid – maar elke keer wanneer hy die woord “restitusie” sê, sien hy “die wit gesigte val”. “Ons het in daai tyd ’n restitusie-opname saam met die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing ontwikkel en minder as 20% van witmense wat deelgeneem het, het gedink restitusie is nodig.

“Ons het ook ’n restitusie-konferensie aangebied by die Kasteel die Goeie Hoop in die Must Fall-era en mense was baie kwaad vir wit mense en daar het die boodskap baie sterk deurgekom: ‘Wit mense, julle het nog ’n lang pad om te loop, maar ons gaan nie die werk vir julle doen nie; julle moet dit self doen onder julle eie mense’. En meer belangrik: ‘Dis dringend; ons geduld raak op.’”

‘Die koningin moet kom jammer sê’

Hy verduidelik graag aan die hand van Monopoly wit bevoorregting het nie ná 1994 plotseling tot ’n einde gekom nie. “Twee spanne speel Monopoly. Die een span kry geld as hulle by die begin verbygaan, hulle kan huis toe gaan en hulle hoef nie tronk toe te gaan nie. Die ander span kry geen geld nie en hulle moet betaal as hulle op iemand se eiendom land en hulle kry nie die Get Out of Jail Free-kaart nie. Jy speel dit ’n paar keer en dan gaan sy pa dood en hy erf ’n huis of ’n hotel en só kan jy dit maar lekker aandik.

“En dan is dit 1994 en alles is gelyk, maar die een span het al die eiendomme klaar gekoop – en dís die dilemma wat moeilik is vir die Afrikanergemeenskap om te verstaan.”

Dr. Deon Snyman verduidelik dikwels aan die hand van Monopoly aan wit Suid-Afrikaners hoekom hul bevoorregting ná 1994 nie plotseling opgehou het nie. Foto: Adrian de Kock

Hy vertel van die “Afrikanertannies en -ooms” wat vir hom gesê het die koningin van Engeland moet kom jammer sê oor wat in die konsentrasiekampe gebeur het tydens die Anglo-Boereoorlog. “Hulle sê dan: ‘Daai armoede wat ons gehad het was deels deur die toedoen van die Engelse, en hoe gaan hulle opmaak daarvoor?’ en dan maak dit nie sin dat hulle nie daai verband kan trek nie.”

Hy sug. “As jy kyk vanuit ’n teologiese hoek word daar nog elke Sondag onthou wat op Golgota gebeur het – en gemeentelede word aangemoedig om dit te onthou – so daar is nie konsekwentheid nie. ’n Mens wil sekere goed onthou, maar wanneer hulle ongemaklik is oor dinge, dan wil hulle dit nie onthou nie.”

‘Ons verwag te maklik vergifnis’

Hy vertel van die “Kniefall von Warschau” toe die voormalige Wes-Duitse kanselier en Nobelpryswenner Willy Brandt ’n krans gaan lê het by die monument vir die Helde van die Ghetto van Warskou. Op dié dag het hy spontaan en tot almal se verbasing skielik op sy knieë geval. Volgens Antjie Krog was dit ’n eenvoudige gebaar “wat die eerste sein gegee het van Duitse politieke berou, smart, boetvaardigheid en skuld”.

“Ek het al gedink wat doen ons nou eintlik om die verbeelding aan te gryp? Jy weet, op ’n manier was die 2 Februarie-toespraak beduidend, want die wind is ’n bietjie uit ’n mens se seile gehaal daai tyd, maar ongelukkig was die mag van daardie hele proses eintlik net gesetel in daai een dag en Mandela se vrylating nege dae later – maar hoe help ons nóú ons samelewing? Ek dink ons het wéér so iets nodig en wie gaan die leiers wees wat ons daarmee gaan help?”

... en ek vind dit baie jammer dat die teologie in ons land eintlik so magteloos geword het dat dit ons nie kan inspireer om te lewe in die nuwe Suid-Afrika nie.

Hy aarsel. “Binne die teologiese tradisie is berou ’n geweldige belangrike ding. Jy kan die idee van Goeie Vrydag nie eintlik omhels as jy nie gekonnekteer is met die berou in jouself nie. Dit is so déél van ons Afrikaners se DNS omdat ons so verweef is met die kerk, en ek vind dit baie jammer dat die teologie in ons land eintlik so magteloos geword het dat dit ons nie kan inspireer om te lewe in die nuwe Suid-Afrika nie.”

Die probleem is dat wit mense in die nuwe bedeling en veral ná die Zuma-jare voel húlle is nou die slagoffers van ’n nuwe “misdaad teen die mensdom”.

Deon tree in die huwelik met Sarah Crawford-Brown, die dogter van Lavinia Crawford-Brown, emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu se jare lange persoonlike assistent.Toe hy jonk was in Potchefstroom, en die aartsbiskop beskou is as die “aartsvyand”, het hy nooit daarvan gedroom dat hy hom eendag sou trou nie.

Hy knik. “Wat hier gebeur is projeksie op ’n manier. Die situasie is ongelukkig messy, maar wit mense plaas nou die blaam op die regering en eintlik is daai blaam wat my betref aan die verkeerde adres gerig. Ek dink dit moet gerig word aan hul ouers en hul ouers moet verantwoordelik gehou word en dít het nog nie gebeur nie.”

Hy frons. “Daar is baie van my swart vriende wat vir my sê: ‘Deon, it’s not easy to be your friend’ – en dít is ongelukkig die realiteit. Mense in die swart gemeenskap wil dikwels nie meer die woord versoening hoor nie en een van die redes hiervoor is dat mense vergifnis verwag sonder dat hulle dit eers verdien het. Ek dink indien iemand vergifnis wil hê, is daar geweldig baie werk wat vooraf gedoen moet word.”

‘Omhels jou weerloosheid’

En nou sien ons ’n bose sirkel van misbruik wat van geslag na geslag oorgedra word soos ’n slang wat sy eie stert ingesluk het.

“Ek dink wat gebeur het is ons het nooit ons eie ervaring van die Boere-oorloë eintlik deurgewerk nie. Dis slagoffers wat daders word en ons sien dit nou weer op baie plekke, byvoorbeeld met die xenofobie en swart mense wat in staatsondernemings senior poste het waarvan hulle misbruik maak omdat hulle in ’n stadium misbruik is.”

Snyman woon saam met sy vrou, Sarah, ’n kliniese maatskaplike werker wat spesialiseer in trauma, in die kleinste werkershuisie op Goedgedacht. Dié huisie het net een deur. Foto: Goedgedacht Trust

Hy vryf oor sy slape waar hy sit langs die wapperende wit lakens. “Maar die feit dat sommige swart mense nou ryk is, beteken nie hulle is oukei nie. Ek dink baie min mense in Suid-Afrika is regtig oukei. Ek dink dis ’n diep gewonde samelewing wat baie, baie weerloos is – en dis miskien wat die boodskap vir die Afrikaner is: Omhels jou weerloosheid, want dan gaan jou menslikheid meer sigbaar wees.”

Maar op 55, sê hy, is hy nie meer kwaad vir wit mense nie. Sedert hy by Goedgedacht is, waar hy en sy vrou in die kleinste werkershuisie op die plaas woon, wil hy plattelandse kinders en jong mense help om hulself uit die siklus van armoede te bevry. Hy samel saam met die wit boere geld in vir ’n ouetehuis vir plaaswerkers en wat hy hoor en sien, gee hom hoop.

Kinders wat deel is van die Path out of Poverty- of POP-program by Goedgedacht. Die Goedgedacht Trust het verskeie sentrums begin waar kinders en jongmense van naburige plase en klein dorpies aan sport kan deelneem, huiswerk kan doen en gesonde kos kan eet met groente uit die tuine van dié plaas naby Malmesbury. Foto: Goedgedacht Trust
Die Intergeloofs-kapel op Goedgedacht, waar Snyman sedert einde verlede jaar die besturende direkteur is en waar hy probeer om mense van verskillende gelowe bymekaar te bring. Foto: Goedgedacht Trust

Hy glimlag. “Hier is baie goeie en welwillende mense. Ek het vroeër die week tien boervroue in die omgewing uitgenooi vir tee en skons. Ons het nie oor diep goeters gepraat nie, maar hulle praat van ‘ons kinders’ en hoe daar na ‘ons kinders’ gekyk word.”

Hy staan op, ’n dominee wat ’n brugbouer vir geregtigheid geword het. Hy het ’n ver pad gereis van Potchefstroom tot hier. “Jan Rabie het gepraat van aanhou beweeg en geraas maak. Daai ding beteken vir my baie. Die een ding wat swart mense nie wil hê nie, is dat ons níks moet doen nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.