Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'Ons het nog Mandelas in Suid-Afrika nodig'

Mense wat oudpres. Nelson Mandela daarvan beskuldig dat hy swart mense verraai het, weet nie waarvan hulle praat nie. Inteendeel, Suid-Afrika het meer leiers soos hy in die toekoms nodig, het Basetsana Kumalo, voormalige Mej. Suid-Afrika en deesdae gedugte sakevrou, aan Gert van der Westhuizen gesê.

Basetsana Kumalo wil graag hê die gees van die nuwe Suid-Afrika van 1994 moet weer in die land vaardig word. Foto: Felix Dlangamandla

In 1994, toe die nuwe Suid-Afrika uiteindelik aangebreek het, was Basetsana Kumalo (tóé nog Basetsana Makgalemele) een van die gesigte van dié nuwe samelewing wat destyds soveel vryheid en hoop weerspieël het.

Sy was maar die tweede swart Mej. Suid-Afrika ná Jacqui Mofokeng in 1993, iets wat op sigself ook baanbrekerswerk was in ’n land wat sy eerste huiwerige tree op pad na ’n heeltemal nuwe onbekende toekoms gegee het.

Sy onthou nog hoe Mofokeng beledig is en onder gifpenne deurgeloop het, sê Kumalo waar ons in haar kantoor in Braamfontein gesels. Dié kantoor wat as’t ware in die skadu van Johannesburg se groot gasaanleg in die middestad is, se moderne nywerheidstyl pas nogal by die elegante vrou wat ’n kwarteeu gelede as die mooiste in die land aangewys is en vir lank ’n bekende gesig as een van die televisieprogram Top Billing se aanbieders was.

Basetsana Kumalo (tóé nog Basetsana Makgalemele) met haar aanwysing as Mej. Suid-Afrika in 1994. Foto: Argief

“Ek was so senuweeagtig. Ek het nogal soms gewonder wat ek aan myself gedoen het. In 1994 was baie mense se idee van skoonheid nog dat jy blonde hare en blou oë moes hê. Jy kon nie met ’n Afro en ’n donker vel gekom het en gesê het jy is mooi nie! So toe ek gewen het, het Madiba my onder sy vlerk geneem omdat hy gesien het wat met Jacqui gebeur het.”

En uiteindelik was die hoogtepunt van haar jaar as Mej. SA die tyd wat sy saam met Mandela deurgebring het, skryf Kumalo in haar boek, Bassie: My Journey of Hope wat verlede jaar deur Penguin Books uitgegee is.

Dit is duidelik dat Kumalo steeds groot bewondering het vir Suid-Afrika se eerste demokraties verkose president. Hy het haar destyds laat voel dat sy een van die nuwe Suid-Afrika se ambassadeurs was, iemand wat ook mense help verenig het.

Madiba g’n ’n ‘sell-out’

Oudpres. Nelson Mandela het volgens Basetsana Kumalo in 1994 ’n burgeroorlog in die land verhoed. Foto: Getty Images

Gegewe haar bewondering vir Mandela, is dit seker nie vreemd dat Kumalo nogal heftig reageer as sy gevra word oor hedendaagse uitsprake onder veral jeugdiges dat hy swart mense “verraai” het, ’n “sell-out” wat versuim het om ’n beter ooreenkoms te beding vir dié wat voor 1994 onder rassediskriminasie gely het.

“Wow! Sal jy vandag – jong persoon, vrygeborene – in ’n hof opstaan en die wêreld van jou oortuigings vertel en sê jy is bereid om daarvoor te sterf? Iemand wat sy lewe op die spel geplaas het vir dit waarin hy geglo het en vir die bevryding van sy mense?”

Ons 25 jaar van demokrasie is te danke aan Mandela, aan die Luthuli’s, aan die Govan Mbeki’s, aan die Ruth Mompati’s.

Kritiek dat Mandela ’n beter ooreenkoms met die apartheidsowerhede kon beding, is volgens Kumalo ook nie geldig nie.

“Ons sou ’n burgeroorlog gehad het as dit nie vir Madiba was nie. Sy leierskap het alle Suid-Afrikaners – swart, wit, bruin en Indiër – bymekaar gebring. Hy het in sy wysheid besef dat ons verenig moet word as ons nie ’n burgeroorlog wil hê nie.”

Sy het ’n uitdaging vir enigiemand wat Mandela se motiewe en oortuigings vandag in twyfel trek, sê Kumalo. “Probeer jy 27 jaar in die tronk deurbring.

“Ons 25 jaar van demokrasie is te danke aan Mandela, aan die Luthuli’s, aan die Govan Mbeki’s, aan die Ruth Mompati’s.”

Eerder as om Mandela se nalatenskap te beswadder, moet jong Suid-Afrikaners volgens Kumalo eerder vra waar die volgende Mandelas vandaan gaan kom.

Die volgende Mandelas

Nog net so stylvol en lewenslustig as die vrou wat ’n kwarteeu gelede as die mooiste in die land aangewys is. Foto: Felix Dlangamandla

“Ons het nuwe Mandelas nodig,” sê Kumalo.

“Ons moet onsself vra hoe ons ’n nuwe geslag van pioniers kan aanspoor. Ek glo dit begin by die huis. As ’n ma wat drie kinders grootmaak, is dit my verantwoordelikheid om die waardes en beginsels van ordentlikheid, van harde werk, van moed en van onselfsugtigheid by hulle tuis te bring. Dán het ons ’n beter kans om sulke leiers in die toekoms te hê.

“Die hoop vir ’n beter toekoms begin by die huis, by die gesprekke om die etenstafel, hoe ons met ons dogters praat, die rolle wat ons aan ons seuns gee.

“In my huis maak ek dit duidelik: My seuns sal help om groente te skil en te kook. My dogter kan met ’n kar speel. As jy haar net ’n pop gee om mee te speel, sê jy eintlik vir haar sy gaan eendag net ’n babamaker wees.”

Jy is nooit te oud vir onderwys nie en jy kan nooit sê: ‘Ek weet alles nie.’

Onderwys is ewe belangrik en dit is iets waaroor Kumalo baie sterk voel. Sprake van ’n slaagsyfer van 30% krap haar om. Sy kap met ’n vinger op die tafel om haar misnoeë met só iets duidelik te maak.

“Ons gaan jong mense kry wat nie op universiteit slaag nie en wat nie die koers van hul lewens sal kan verander nie en wie se deelname aan die ekonomie beperk sal word. Dit sal die kringloop van armoede en ongelykheid laat voortduur.”

Kumalo het haar studies opgeskop toe sy Mej. SA geword het, maar het later weer die boeke nadergetrek en ’n graad in politieke wetenskap behaal.

“Jy is nooit te oud vir onderwys nie en jy kan nooit sê: ‘Ek weet alles nie.’ Onderwys is iets waarop jy altyd kan steun, niemand kan dit van jou wegneem nie. Die skoonheid kan vervaag en die hare kan grys word, maar as jy eers ’n grondslag van kennis het, kan niemand aan jou raak nie.”

Skep ’n omgewing van entrepreneurs

Sy kan nie glo dat sommige jong mense vandag sê oudpres. Nelson Mandela was ’n ‘sell-out’ nie. Foto: Felix Dlangamandla

Volgens Kumalo is die hoë werkloosheidsyfer onder jong mense in Suid-Afrika baie kommerwekkend. Sy glo die regering sal doelbewus moet probeer om met die hulp van die sakesektor ’n ekosisteem te skep waarin entrepreneurs aangemoedig sal word.

Dit kan onder meer gedoen word deur dit makliker vir jong mense te maak om die nodige kapitaal in die hande te kry om ’n onderneming te begin.

Kumalo weet waarvan sy praat. Sy is immers self ’n entrepreneur. As jong meisie in Soweto het sy saam met haar gesin toebroodjies by die Orlando-stadion verkoop (sy is ’n lewenslange ondersteuner van Kaizer Chiefs, sê sy), en ook suigstokkies, gekookte eiers en roomys probeer verkwansel.

Vandag het sy haar eie reisagentskap en televisie-onderneming. Sy het ook belange in mynbou.

Suid-Afrikaners sal weer vir mekaar moet begin omgee, sê Basetsana Kumalo. Foto: Felix Dlangamandla

Alles was nie altyd maklik nie vir dié vrou vir wie haar geloof baie belangrik is nie. Sy moes onder meer die motor wat sy as Mej. SA gewen het verkoop om kameras en ander toerusting aan te skaf. Van haar ondernemings het misluk sodat sy van voor af moes begin.

“Ek het dit gewaag om te droom, ek het dit gewaag om die status quo uit te daag en ek het gesê ek sal iets van my lewe maak sodat ek ook ’n invloed op ander mense se lewens kan hê.”

Te midde van alles moes Kumalo ook persoonlike probleme oorkom. Daar was die teleurstellings van miskrame voordat sy en haar man, Romeo, uiteindelik kinders gehad het. Sy vertel van ’n bekruiper wat haar nou al vir 20 jaar lank lastig val.

Maar ek het besef ek moes my eie stem terugkry en dat ek dit moes gebruik sodat dit ook ’n invloed op ander se lewens kon hê.

En sy het ook haar verhouding met Dingaan Thobela, die liggewig-bokskampioen van die wêreld, ter wille van haar eie veiligheid beëindig.

Sy was nog altyd baie openlik hieroor en skryf weer daarvan in haar boek. Sy wou daarmee die boodskap uitdra dat dit reg is om só iets te doen in ’n samelewing waarin geweld teen vroue alledaags is.

“Dit is oukei. Aanvanklik voel jy skaam en jy is verleë omdat jy wonder wat mense oor jou, Mej. SA, gaan sê. Maar ek het besef ek moes my eie stem terugkry en dat ek dit moes gebruik sodat dit ook ’n invloed op ander se lewens kon hê. ‘As dit met Basetsana gebeur het en sy het daaroor gepraat en ’n einde aan die verhouding gemaak, kan ek ook.’

“Jy kán van voor af begin en jou eie drome vervul.”

Die gees van 1994

’n Beter toekoms vir Suid-Afrika hang af van ’n beter onderwysstelsel. Foto: Felix Dlangamandla

Sy wil mense met haar boek eweneens moed inpraat, sê Kumalo. Daar is volgens haar nie meer sprake van ubuntu in Suid-Afrika nie. Mense is selfgerig en selfsugtig. Daar het ook ’n moedeloosheid in Suid-Afrika posgevat.

Sy wou mense daarom weer herinner aan die tydsgees van 1994 in die hoop dat die gees van die nuwe Suid-Afrika van destyds weer by hulle sal posvat.

“Ons het ’n nuwe demokrasie gehad, ’n nuwe regering en Madiba as leier en hierdie kind van Soweto het die Mej. Suid-Afrika-kompetisie gewen.

“Kan jy jou die bedwelmende invloed van vryheid in 1994 voorstel? Ons was ’n nasie met hoop, ons was ’n optimistiese nasie, ons was ’n nasie wat geglo het en ons was ’n nasie wat moed gehad het.

“Ek wil hê ons moet weer só wees sodat ons saam kan staan teen die booshede wat ons bedreig, sodat ons verkragters in die tronk kan sit en seker kan maak dat ons nie ons broers van oorkant die grense, wat ons voor 1994 beskerm het, doodmaak nie.”

Wanneer ek sê ons het ’n nuwe geslag leiers nodig, moet ek eerstens na myself kyk.

Kumalo erken dat dit nie maklik gaan wees om dié droom te bewaarheid nie. Om dit reg te kry, is sterk leierskap nodig én ’n regering wat daad by die woord kan voeg. “Ons is mos baie goed wanneer dit kom by die opstel van beleid, maar nie so goed wanneer ons dit in werking moet stel nie.”

Staan haar kop met al dié sterk uitsprake nie dalk politiek toe nie? wil ek by Kumalo weet.

“Ek kan dalk net daar beland,” sê sy. “Wanneer ek sê ons het ’n nuwe geslag leiers nodig, moet ek eerstens na myself kyk. Ek kan nie na mense in die strate wys en sê hulle moet na vore tree as ek nie bereid is om dit self te doen nie.

“Ons sal maar moet sien wat die toekoms inhou. As ek betrokke moet raak, sal my fokus op onderwys wees. As ons ons onderwysstelsel kan regkry, sal ons ’n wen-nasie wees. Dan sal ons vlieg.”

Meer oor:  Basetsana Kumalo  |  Nelson Mandela  |  Suid-Afrika  |  Demokrasie  |  Armoede  |  Ubuntu  |  Onderwys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.