Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Ons is anders, en dis goed’
Dr. Dranny Titus meen Suid-Afrika kan ’n rolmodel wees vir Amerika en Europa.Foto: Waldo Swiegers

‘Hoekom het die Vader in die hemel ons hier, op die suiderpunt van Afrika, bymekaargebring?” wonder dr. Danny Titus, uittredende direkteur van kultuur van die ATKV.

“Dis iets wat ek myself aanhoudend vra.”

Die Nederlanders, wat hier op hul jaghte aangeseil het vanuit Europa, en die Nguni’s, wat suid getrek het van Afrika se Groot Meer-distrik, wie se afstammelinge vandag die Zoeloes, Xhosas, Ndebele en Swazi’s is.

Suid-Afrika se eerste nasies, die Khoi-Khoi en die Khoi-San, wie se klikke ons hoor in tale soos Xhosa en weergalm in woorde soos “aitsa”, “eina” en “nja!”. Dan was daar die Tamils uit Indië wat ’n beter lewe kom soek het in die suikerplantasies van Natal en Britse setlaars, wat van die verlammende werkloosheid van 19de eeuse Engeland probeer ontsnap het.

Slawe wat in die pense van skepe hier aangebring is, weggeskeur uit plekke soos Ceylon en Batavia, wat vandag nuwe name het.

“Hoekom kon ons almal nie net Duitsers, of Engelse of Nederlanders gewees het nie? Het Hy dit gedoen, amper as ’n nagedagtenis? Of lag Hy homself klaar daarbo vir al die nonsens wat ons hier onder aanvang?

“Die antwoord is eenvoudig,” meen Titus. “Ons moes almal bymekaar uitkom.”

’n Smeltkroes in Suid-Afrika

Titus tree einde vandeesmaand af ná 12 jaar by die ATKV. Sy tyd by dié organisasie was ’n hoogtepunt in sy deurlugtige loopbaan, waarin hy onder meer poste by die Verenigde Nasies (VN) en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie beklee het.

“Dit is een van die ATKV se grootste suksesse,” sê hy in ’n Zoom-onderhoud uit sy huis in Roodepoort, Johannesburg.

“Die vereniging het dit reggekry om Afrikaanssprekendes van oor die land heen – ongeag hul taal, velkleur of kultuur – bymekaar uit te bring.

“Jy moet onthou, by die ATKV gaan dit nie net oor taal nie, maar ook oor kultuur.

“Hoewel ons dieselfde taal praat, kan Afrikaanssprekendes soms so vreemd vir mekaar wees.

Die mooi ding van die ATKV is hoe mense saam vakansie hou by dié organisasie se oorde, sê dr. Danny Titus.Foto: Deaan Viviers

“Ons moet die vrymoedigheid hê om te kan sê apartheid het ons geskei, apartheid het ons baie, baie seergemaak. Dit het ons vreemd vir mekaar gemaak. Maar noudat dit verby is, moet ons regtig die geleenthede aangryp om weer bekend met mekaar te word.”

Jonger mense, meen hy, is reeds daar. “Vir hulle kom dit natuurlik, hulle sukkel nie daarmee nie.

“Ek glo ons het nog ’n paar verhale om mekaar te vertel, dat ons bekend kan raak met mekaar se geskiedenis en gewoontes. En dikwels kom ons agter daar is meer wat ons verenig as wat ons verdeel.”

Jare gelede, toe hy as staatsaanklaer in Kempton Park gewerk het, het hy een van sy wit kollegas vir middagete na sy huis genooi.

“Die eerste ding wat my vriendin en kollega aan my sê, is: ‘Julle eet dan dieselfde kos as ons!’ ”

Organiese integrasie

“Dit was lekker om vir ’n vereniging te gewerk het wat bewustelik hierdie ontmoetings oor velkleur en kultuur heen aangemoedig het.

“Hier kon kinders saam toneelspeel, saam sing, daar was koorkompetisies en rieldanse . . .

“Die ander mooi ding van die ATKV . . . Ons het mense gekry om saam vakansie te hou by ons oorde.”

Hy lag.

“As jy kon sien wat daar by die oorde gebeur het, hoe wit, swart, bruin en Indiër daar met mekaar saamkuier . . .

“Aan die begin, wanneer die een by die swembad inklim, klim die ander uit, maar later verbrokkel daardie grense. Mense braai saam. In die oggende sien jy hoe hulle saam ontbyt maak.

“By die ATKV wou ons nooit hierdie ontmoetings afdwing nie. Ons praat van organiese integrasie, nie gedwonge integrasie nie. Dis ’n gemaklike vloei van sake.

“Ek sal altyd dankbaar wees dat ek deel daarvan kon wees, dat ek die skuif van regte tot kultuur kon gedoen het. Hopelik sal ek nog van ’n afstand deel kan wees.”

Dr. Danny Titus: vegter vir menseregte, taal en kultuur. Foto: Lerato Maduna

Afrikaans vir Afrika-tale

Meer onlangs het die ATKV ook begin bemiddel vir die ontwikkeling en voortbestaan van ander inheemse Suid-Afrikaanse tale.

“Mense het na ons gekom en ons gevra: ‘Wys ons om ’n ATKV vir Zoeloe of ’n ATKV vir Tswana te begin.’

“Soms is dit net so eenvoudig om hulle om ’n tafel te bring, hulle ’n kan koffie te gee en ’n ruimte om te gesels. Ons het die ervaring om dit te doen.”

Dis ook Suid-Afrika se diversiteit wat hom van die res van die wêreld onderskei.

Hierdie verskille moet gevier word, dit moet gekoester word, meen Titus.

“Daar moet steeds meer klem op diversiteitsbestuur en diversiteitsbewussyn geplaas word. Ons kan nie maak asof ons almal dieselfde is nie, want ons is nie.

“Ek dink Suid-Afrika kan ’n rolmodel wees vir Amerika en Europa, wat al hoe meer verdeeld, al hoe meer onverdraagsaam word.

“Ons is self ’n verdeelde land en Covid-19 het dit net weer beklemtoon. Maar ons deel ’n gesamentlike verhaal en ons kan dit met die wêreld deel.

“Suid-Afrikaners – oor taal-, kleur-, geloof- en kultuurgrense heen – moet hulself herinner: Ons het apartheid oorwin.

“Ja, daar is baie mense wat aan jou sê: ‘Moenie nonsens praat nie.’ Maar dis weg, dis nie meer daar nie.”

Wat van die soms openlike rassistiese kommentaar wat op nuuswebwerwe verskyn, waar mense skynbaar terughunker na “die goeie ou dae”?

“Ek steur myself nie daaraan nie. Ek lees dit glad nie. Daardie mense wat daar gal braak, dis mense wat voorheen mag gehad het. Maar hulle is nou weg. Nou moet hulle nuwe gatjies vind om in te kruip en daardie soort kommentaar uit te kry.

“As jy in die apartheidsera geleef het en jy het gesien hoe winkelsentrums gelyk het . . . Dit was spierwit.

“By die kruidenierswinkels was daar net wit kassiere, die poskantore was net wit. Die weermag, die ouens in Pretoria, dit was een militêre staat. Die ouens het mekaar sommerso in die straat gesalueer.

“Dis verby.” Hy beklemtoon dit weer. “Dis verby. Ons sal nooit weer daartoe terugkeer nie.”

Suid-Afrikaners het ook verantwoordelikhede in die Covid-19-krisis, sê dr. Danny Titus. Foto: Lisa HnatoWicz

Menseregte ten tyde van inperking

Menseregte is Titus se ander passie. Hy het ’n doktorsgraad in menseregte aan die Universiteit van Leiden in Nederland verwerf en was van 2009 tot 2016 ’n deeltydse kommissaris by die Menseregtekommissie.

Wat is sy mening oor die staat van inperking en die sterkman-taktieke wat daarmee gepaardgaan?

“Onthou, menseregte is nie absoluut nie. Dit kan beperk word . . . Die staat kon dit nog altyd doen.

“As jy die situasie deur die filter van menseregte bekyk, dan moet jy aanvaar daar gaan beperkings wees en ons moet bereid wees om die staat in ’n mate te vertrou. Vertrou dat die president probeer om ’n baie moeilike proses te bestuur. Vertrou dat hy ons ondersteuning nodig het.

“Maar,” beklemtoon hy. “Daar is ook bepaalde voorwaardes betrokke.”

Die polisie en die weermag se doel is om Suid-Afrikaners te beskerm, nie om hul spiere te bult en hul mag uit te buit nie, maan hy.

“Hulle is daar om vriendelik te wees, hulle moet mense oortuig om die reëls te gehoorsaam en hulle gerusstel gedurende die krisis.

“Hul rol is beslis nie om mense aan te rand of hulle seer te maak nie. Dit was veronderstel om die rol van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te gewees het ná 1994. Hulle moes ’n oorgang maak van ’n polisiemag na ’n polisiediens.

“Hulle moes meer fokus op gemeenskapspolisiëring en -veiligheid.

“Ongelukkig, in die dae van jong wit polisiebeamptes in apartheid . . . Hulle het mag gehad oor swart mense. Hulle kon jou sommer net met ’n vinger roep en sê: ‘Hei, jy, kom hier!’

“Gaan dit oor mag, wonder ek. Die jong swart polisiebeamptes ervaar ook nou daardie mag.”

En wanneer polisiëring oorgaan in magsvertoon, dis wanneer menseregte in dié ruimte beklemtoon moet word.

“Maar mense kry nie behoorlike opleiding in die SAPD nie, veral wanneer dit by wetsgehoorsame burgers se menseregte kom.

“Suid-Afrika is ’n diverse land. Ons is ’n ongelyke land en die virus het ’n groot kollig daarop geskyn.

“Maar as jy nou in beheer is – van die polisie se kant of van die weermag se kant – dan moet jy juis daardie soort ingesteldheid hê om te verstaan wat is die verskille. Jy moet ook begrip hê om gesag binne konteks uit te oefen.

“Dis die uitdaging in Suid-Afrika se stryd teen Covid-19 en dis ook my kritiek op die president.

“Pres. Cyril Ramaphosa kon homself al baie sterker uitgespreek het toe die eerste misdrywe van die polisie aan die lig gekom het.”

Nietemin, die staat het wel ’n baie belangrike rol om te speel in die krisis, beklemtoon Titus. Maar landsburgers het net so ’n deurslaggewende rol.

“Volgens die epidemioloë se ramings gaan dit nog baie erger word. Aan die einde van die dag sit ons weer eens met ’n enorme bedreiging en ons kan nie bekostig om hordes lyke na die lykhuise aan te ry nie.

“Êrens moet ons, as burgers, ook bereid wees om ’n paar opofferings te doen.

“Die Nederlanders het ’n mooi woord wat hulle gebruik, inleveren. Dit spreek daartoe dat jy bereid moet wees om jou individuele regte en vryhede te kan inlewer, en kan sê: ‘Ek doen dit vir ’n groter doel.’

“Ek dink nie Suid-Afrikaners is al by inleveren nie.”

Titus is voorsitter van die DAK Netwerk, ’n organisasie wat hom beywer vir die ontwikkeling van en navorsing oor voorheen benadeelde Afrikaanse gemeenskappe. Ná sy uittrede by die ATKV is hy van plan om sy werk by dié organisasie voort te sit.

Die eerste DAK-simposium, wat verlede jaar in Mei plaasgevind het, is beskryf as ’n “waarheid-en-versoeningskommissie vir Afrikaans.”

Titus, die ewige student, beplan om ná sy aftrede nog navorsing oor Afrikaans te doen.

Hy is besig met ’n navorsingsprojek oor die rol van sending en taal, maar Covid-19 het dit so ’n bietjie uitgestel.

“Nietemin, wanneer die inperking opgehef word en ná my aftrede gaan ek daarmee voortgaan.

“Ons het soveel sendingstasies in Suid-Afrika. As jy net luister na die verhale van Genadendal, Elim, Goedverwacht . . . en wat gebeur het toe daardie Duitse sendelinge Suid-Afrika toe gekom het . . .

“Hoe het hulle Afrikaans aangeleer? Wat was hul bydrae tot die taal, wat was hul bydrae tot die gesange?

“Dis nogal iets wat ’n bietjie te groot vir my kan raak, maar vir nou hou ek hom klein.”

Titus het sy BA LLB in 1982 aan die Universiteit van Wes-Kaapland verwerf.

Hy is in 1983 toegelaat as advokaat van die hooggeregshof van Suid-Afrika.

Hy het as staatsaanklaer by die departement van justisie gewerk en in 1987 die land verlaat om aan die Universiteit van Leiden in Nederland verder te studeer.

Hy het ’n meestersgraad en doktorsgraad in die regte in die buiteland verwerf en in 1993 teruggekeer na Suid-Afrika.

Die titel van sy doktorale tesis is: “Die invloed van die internasionale norme van menseregte op die Suid-Afrikaanse regstelsel – met spesifieke verwysing na die regterlike mag.”

Voordat hy in 2008 by die ATKV aangesluit het, was Titus ’n professor in strafregpleging en menseregte aan Unisa, waar hy ook die pos van visedekaan van die Kollege vir Regsgeleerdheid beklee het.

Van 2012 tot 2015 het hy opgetree as ’n raadgewer by die Verenigde Nasies (VN) in die veld van inheemse nasies se menseregte.

Carla Lewis is ’n senior redaksielid van Beeld.

Meer oor:  Danny Titus  |  Atkv  |  Taal  |  Afrikaans  |  Aftrede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.