Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Ons kan nie vir altyd Zoom nie’

Dit is te verskriklik om eens daaraan te dink dat nie een van ons weer ’n normale lewe sal hê nie; dat ons van nou af net deur Zoom gaan kommunikeer, sê die mediese antropoloog prof. Lenore Manderson aan Murray La Vita.

Prof. Lenore Manderson, internasionaal gerekende mediese antropoloog.

Wanneer sy in Melbourne – waar die inperking pas opgehef is – in die straat loop, kom sy agter hoe versigtig mense is; hoe hulle byvoorbeeld wantrouig terugdeins vir mekaar.

“Ek vind dit baie skrikwekkend, want wat nou kan gebeur, is dat almal vir ons die ‘ander’ word. Dít is die soort ding wat stigma in die hand werk, soos wat met MIV gebeur het.”

Manderson is ’n uitgelese professor in openbare gesondheid en mediese antropologie aan Wits se skool vir openbare gesondheid. In dié hoedanigheid bring sy ’n hele aantal maande per jaar in Johannesburg deur.

Dit sal baie jammer wees as die angstigheid oor die pandemie die verhoudings tussen mense belemmer, hetsy weens klas of ras of immigrasiestatus.

Sy is ook ere-professor in die instituut vir omgewing en gemeenskap aan Brown-Universiteit in die VSA en medeprofessor in die skool vir sosiale wetenskappe van die Monash-Universiteit in Australië.

“Dit het die vertroue tussen mense afgebreek en in sommige lande is dit kritiek. In Suid-Afrika is daardie vertroue geweldig belangrik, dit is ’n land waarin mense ’n daadwerklike poging aangewend het om vertroue op te bou ondanks ongelykhede en die verskriklike verlede.

“Dít in teenstelling met Amerika op die oomblik waar dit lyk of niemand begaan is oor ongelykhede nie.”

Sy sê dit sal baie jammer wees as die angstigheid oor die pandemie die verhoudings tussen mense belemmer, hetsy weens klas of ras of immigrasiestatus.

“Indien daar gekonsentreerde uitbrekings van die koronavirus is, bestaan die gevaar dat mense sê: ‘Ek sit nie my voete daar nie, want hulle het almal die siekte.’”

‘Ek mis die vibe’

Manderson het Suid-Afrika in Maart, kort voor die afkondiging van die nasionale inperking weens die Covid-19-pandemie, verlaat en is sedertdien in haar tuisstad Melbourne.

Uit ons Zoom-gesprek is dit duidelik dat Suid-Afrika haar na aan die hart lê. Sy gebruik byvoorbeeld die woord “ons” wanneer sy oor die land en haar mense praat en sê sy mis Suid-Afrika geweldig baie.

“So gou as wat ek kan, is ek weer op ’n vliegtuig en kom ek terug Johannesburg toe. Ek gee die afgelope ruk via WhatsApp klas. Ek het meestergraadstudente, Phd-studente en navorsingsprojekte. Ek mis die vibe,” sê sy.

Indien daar nie ’n inperking was nie, sou die land se gesondheidstelsel in duie gestort het.

“Ek dink toe die inperking aanvanklik ingestel is, was daar baie mense wat gevra het: ‘Wat is die punt hiervan?’ Ek dink, terugskouend, wat die inperking gedoen het, was om die land die geleentheid te gun om sy gesondheidstelsel in orde te kry.

“In Suid-Afrika was dit geweldig belangrik. Indien daar nie ’n inperking was nie, sou die land se gesondheidstelsel in duie gestort het. Géén hospitaal sou so ’n groot getal ernstig siek mense kon hanteer nie.

“Oordrag van die virus sal voortgaan, maar die verspreiding is wel vertraag. Toe die eerste gevalle in Maart in Suid-Afrika aangemeld is, het ek werklik gedink dit sal soos ’n veldbrand deur die townships versprei. En daar was goeie rede om só te dink: Gebrekkige infrastruktuur soos swak sanitasie en toegang tot skoon water; geweldige armoede; en tot vier mense wat ’n bed deel.

“Die aantal infeksies kan dalk báie onderskat word, maar nogtans was daar genoeg van ’n vertraging dat daar nie, sover ons weet, ’n verskriklike styging in sterftes was nie.”

Sterk leiers

“Mense leer om met die risiko te leef, en dít is wat ons nou ook moet doen.”

Die ander ding wat Suid-Afrika gedoen het, en wat hoogs aanprysbaar is, is dat Cyril Ramaphosa mense verenig het soos wat die Australiese premier Scott Morrison ook in Australië gedoen het, en premier Jacinda Ardern in Nieu-Seeland, sê sy.

“Lande met sterk leierskap het merkwaardige uitkomste gehad in die aangesig van wat nou lyk na die ineenstorting van die neokapitalistiese demokrasie.

“Amerika het die teenoorgestelde gedoen. Dit is ’n land wat die morele spilpunt van die wêreld was en nou is dit die mees immorele land.

“Suid-Afrika het goed gevaar en behoort vertroue daaruit te put en te verstaan dat sommige mense weens Covid-19 kan sterf, maar dat meeste mense nié daaraan sal sterf nie.

“Mense sterf ook aan tuberkulose, MIV, kardiovaskulêre siektes en so meer, en Covid sal waarskynlik nou, soos wat dit versprei, ’n soortgelyke morbiditeit hê as enige van dié siektes.”

‘Enorme verlies’

Om nooit weer die soort interaksie met mense te hê as voor die pandemie nie, sal ’n enorme verlies aan sosiale lewe wees.

“Ons wil nie een- en tweejariges grootmaak wat vir die res van hule lewens ander mense bloot gaan beskou as potensiële draers van siektes nie. Dit is verskriklik en dít is waarteen ons baklei het met MIV, en tot ’n mindere mate met TB en ander siektes.”

Mense leer om met die risiko te leef, en dít is wat ons nou ook doen.

Die ergste ding wat ’n mens kan doen, is om iemand wat ly te straf.

“Ons in Suid-Afrika weet baie meer van MIV as enige ander land in die wêreld en ons vermy nie mense met MIV nie. Mense gaan met mekaar uit en vra mekaar nie: ‘Voordat ons verder gaan – is jy MIV-positief, want indien jy is, wil ek nie met jou kontak hê nie.’

“Mense leer om met die risiko te leef, en dít is wat ons nou ook doen. Anders word ons in die gesig gestaar deur die ineenstorting van die menslike samelewing soos wat ons dit geken het, en dit sal net erger word.”

’n Ander wêreld

Die beskouing bestaan dat die wêreld waarheen mense nou stelselmatig terugkeer, ’n ander wêreld is – een wat dramaties verander het.

“Dit kan so wees, maar ek dink die wêreld verander in elk geval elke dag. Wat ook al ek ’n week gelede gesê het, was byvoorbeeld nie op Amerika gefokus nie, en al waaraan ek nou kan dink, is mense wat mekaar doodmaak en ’n president wat soldate mobiliseer,” sê sy met verwysing van die geweldige openbare onrus wat in Amerika uitgebreek het ná die skokkende wyse waarop die swart man George Floyd onder ’n wit polisieman se knie aan sy einde gekom het.

“Dan dink jy die koronavirus was ’n repetisie vir dinge wat nog op ons wag . . . Ek het gedink die volgende ding gaan met aardverwarming en so aan te doen hê, maar ek het vergeet van maatskaplike siektes in sekere lande en ander vorme van desintegrasie.”

Angs oor besmetting

“Ons leef in ’n menslike samelewing en mense wil voortplant.”

Sommige mense gaan dit moeilik vind om hul lewens ná die inperking te hervat en na “normaal” terug te keer.

“Mense wat geneig is om angstig te wees sal voorgaan om angstig te wees en hoe leef jy met daardie konstante angs dat jy besmet gaan word?

“Dit is egter belangrik om te onthou dat die meeste mense nie aan Covid-19 sterf nie. Dit is blykbaar ’n uiters onaangename siekte om te hê, maar dit hoef nie fataal te wees nie. Die meeste mense wat daaraan sterf, is ouer, reeds weerlose mense.

Dit is te verskriklik om eens daaraan te dink dat nie een van ons weer ’n lewe sal hê nie.

“En dan moet ’n mens in ag neem wat Covid-19 vir Suid-Afrika beteken het – dit het waarskynlik die gesondheidstelsel aansienlik versterk, iets wat báie nodig was. Mense wat nou die siekte opdoen, kan waarskynlik hoop op veel beter behandeling as vier maande gelede.”

Ondervinding is belangrik in die behandeling van mense met Covid-19.

“Nie net individuele ondervinding nie, maar die kollektiewe ondervinding van mense wêreldwyd met betrekking tot wat werk en hoe jy mense aan die lewe hou.”

‘Hoe leef jy dan?’

“Ons kán nie aanhou leef soos wat ons wil nie.” Foto: Hannelie Coetzee

Ons kan nie vir die res van ons lewens in afsondering wees nie.

“Dit is te verskriklik om eens daaraan te dink dat nie een van ons weer ’n lewe sal hê nie; dat ons van nou af net deur Zoom gaan kommunikeer . . . Hoe leef jy dan?

“Die feit dat arm Suid-Afrikaners tot dusver grootliks oorleef het, is ’n ongelooflike manifestasie van die krag van die menslike gees en die toewyding van die regering aan die mense.

“Hoe oorleef jy as jy nie werk het nie? ’n Mens moet weer kan werk. Daar moet ’n punt kom waar jy die gevaar om die virus op te doen in perspektief sien en sê: ‘Ek is bereid om te waag net soos wat ek met ander dinge in my lewe sou waag.’”

Buiten die ekstreemheid van die negentiende eeuse inmerkingsmaatreëls – die polisie, die boetes, bly in jou huis, sluit die voordeur en moenie uitgaan nie – is dit die oorvloed inligting oor die pandemie wat dit so skrikwekkend maak.

“Met MIV was daar nog nie internet nie. Ons het nie al daardie inligting gehad nie, anders sou die helfte van die mensdom nie die lig gesien het nie want mense sou so bang gewees het om seks te hê. Mense het uiteindelik besef daar is ’n risiko en hulle verstaan die veiligste is om nie seks te hê nie. Maar ons leef in ’n menslike samelewing en mense wil voortplant.

“Mense sou sê die verskil is jy kan medisyne gebruik vir MIV. Maar die meeste mense herstel van Covid-19 terwyl hulle nie van MIV herstel nie.

“So, daar is genoeg redes waarom MIV net so skrikwekkend as korona was, maar nou is dit deel van die menslike opset en die risiko’s wat daaraan verbonde is om ’n mens te wees. Met die koronavirus is dit die risiko om ’n mens te wees op ’n baie oorbevolkte planeet.”

Die toekoms

Sy praat oor die lesse vir die toekoms en hoe ons anders kan leef.

“Ek dink die pandemie het die proses versnel van hoe ons dink oor ’n hele klomp ander groot probleme waardeur ons in die gesig gestaar word. Dit sluit in dinge soos klimaatsverandering, die aard van regerings en samelewings, en nou ‘black lives matter’ . . . Dit het ’n dringende kwessie geword. In Amerika is die meeste mense wat aan Covid-19 dood is, swart mense.

En ek dink die vlak van openbare debat – beslis in Australië – is véél hoër as wat dit in jare was.

“Iets wat my bemoedig, is dat baie lande – veral in die Noordelike Halfrond – waar daar so ’n gebrek aan enige vorm van openbare verantwoordelikheid geheers het, nou wakker geskud is.

“Ons kán nie aanhou leef soos wat ons wil nie; ons kan nie net ons tasse pak en in Switserland gaan ski omdat dit na pret klink nie. En ek dink die vlak van openbare debat – beslis in Australië – is véél hoër as wat dit in jare was.”

Beter gesondheidsorg

Dit is belangrik om nie nou perspektief te verloor en ander probleme – insluitend gesondheidsuitdagings – te ignoreer nie.

“Dis so maklik om nou deur die koronavirus oorweldig te word en dan te vergeet ons het ’n verantwoordelikheid teenoor 7 miljoen mense wat elke dag antiretrovirale middele nodig het. Dan is daar diegene wat insulien nodig het of behandeling vir harttoestande.

Ek hoop die aanpassings en ingrepe op die gesondheidstelsel weens die pandemie sal beter gesondheidsorg in die algemeen tot gevolg hê.

“In Suid-Afrika het ons reeds dwelmprobleme, tuberkulose en MIV, en aan die ander kant diabetes en kardiovaskulêre probleme.

“Die ergste ding wat kan gebeur, is om dit te ignoreer. So, ek hoop die aanpassings en ingrepe op die gesondheidstelsel weens die pandemie sal beter gesondheidsorg in die algemeen tot gevolg hê.

“Ons moet dus ag slaan op ander mense se gesondheidsbehoeftes sodat Covid-19 nie ’n veel erger – en voortgesette – invloed op ons het nie,” sê sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.