Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Ons kom ons rykdom terugneem’

In ’n wêreld met oop grense sal die planeet se rykdom verdubbel, sê prof. Suketu Mehta, skrywer en akademikus, aan Murray La Vita.

Suketu Mehta in Queens, New York.Foto: Verskaf

Die onderhoud met Mehta (57) begin by wat hy al beskryf het as die “verbysterende skynheiligheid” waardeur die debat oor wêreldwye migrasie gekenmerk word.

Mehta woon in Greenwich Village in New York, waar hy ’n medeprofessor in joernalistiek aan die universiteit van New York is. Ons gesels dus per Skype. Hy kom eersdaags vir die eerste keer na Suid-Afrika waar hy aan gesprekke op die Toyota US Woordfees in Stellenbosch gaan deelneem. Hy beplan om daarna ook Johannesburg en Durban te besoek.

“Ek het This Land Is Our Land: An Immigrant’s Manifesto (2019) geskryf omdat migrasie tans een van die belangrikste kwessies op die planeet is. Maar as jy in die ryk lande koerante lees en televisie kyk, is die hele debat oor migrasie vanuit die oogpunt van die ryk land: Hoeveel immigrante moet toegelaat word? Moet ons hulle enigsins toelaat?

Hoekom sal iemand hul tuiste, hul families, hul taal en hul kultuur agterlaat om na ’n vreemde, dikwels koue land te gaan waar hulle alles op die spel plaas?

“Dít beskou ek as verbysterende skynheiligheid, want die rede waarom hierdie immigrante hul lande verlaat, is nie omdat hulle versot is op die Eiffeltoring of die liggies van Broadway nie – hulle migreer omdat die ryk lande die toekoms van mense in armer lande gesteel het – deur kolonialisme, oorlog en klimaatsverandering.”

Hy het die afgelope jare migrante oor die wêreld heen besoek.

“Hul stories is baie ontroerend. Hoekom sal iemand hul tuiste, hul families, hul taal en hul kultuur agterlaat om na ’n vreemde, dikwels koue land te gaan waar hulle alles op die spel plaas?”

Pinkiesoene

In This Land Is Our Land beskryf Mehta ’n besoek aan ’n plek wat as Friendship Park bekend staan. Dit is ’n klein strokie grond tussen San Diego in Amerika en Tijuana in Mexiko waar mense deur ’n digte staalheining kan kontak maak.

Suketu Mehta op die Woodfees

Mehta is op 11 Maart om 18:30 deel van die Skrywers-langtafel in De Volkskombuis, waar gaste saam met 12 skrywers aan ’n lang tafel gaan sit. Kabous Meiring en Loftus Marais is die aanbieders en die besprekingspunte is: Kan ’n mens deur boeke met mekaar praat en mekaar beter leer verstaan?

Die ander skrywers is Anoeschka von Meck, die Nederlander Benno Barnard, Lou-Marié Kruger, die Skotse Damian Barr, Jolyn Phillips, China Mouton, Olivia M. Coetzee, Fred Khumalo, Bibi Slippers, Marita van der Vyver en Fatima Dike.

Op 12 Maart om 15:30 gesels Azille Coetzee, skrywer van In my vel, met Mehta en Christy Lefteri en Mira Feticu. Die onderwerp is “om alles te verloor” – jou land, jou familie, selfs jou taal. Lefteri, die kind van Griekse vlugtelinge, het vir haar navorsing vir The Beekeeper of Aleppo tyd in ’n Siriese vlugtelingkamp in Athene deurgebring. Mira (Al mijn vaders) het haar familie agtergelaat toe sy van Roemenië Nederland toe getrek het, terwyl Mehta in 2005 vir die Pulitzerprys vir Maximum City, Bombay Lost And Found, sy verslag van sy kindertyd in Mumbai benoem is.

Op 13 Maart om 09:30 gesels Mehta en die ondersoekende joernalis Pauli van Wyk met Ismail Lagardien oor populisme wat – aangevuur deur fopnuus, rekenaarbots en -trolle – die wêreldorde op sy kop keer.



“Dit is seker een van die hartverskeurendste plekke wat ek nog ooit besoek het. Om hierdie mense te sien . . . Daar was hierdie Mexikaanse man wat sy ma 17 jaar laas gesien het.

“Ek het my ma lief, maar sy woon in New Jersey, so ek kan haar weekliks sien. Hierdie man het sy ma éwe lief. Sy hele lewe is getuig van sy heroïsme. Hy is in Amerika omdat omstandighede soos wêreldhandel en die wyse waarop grense geskep is, dit vir hom onmoontlik gemaak het om in Mexiko die regte mediese behandeling vir sy ma te kry.

“So, hy het na Amerika getrek waar hy in Colorado as ’n skrynwerker gewerk het. En uiteindelik sien hy sy ma ná 17 jaar . . . Hulle het hul hande teen die heining gesit . . . Sy het gesê: ‘Seun, ek is lief vir jou . . . Ek mis jou.’ En sy het vir hom gevra of hy reg eet.

“En toe doen hulle hierdie pinkiesoen . . . Oral langs die heining sien jy mense wat met hul pinkies aan mekaar raak.”

Dit is die enigste fisieke kontak wat moontlik is omdat die gaatjies in die heining so klein is dat mense slegs met hul pinkies aan mekaar kan raak.

“Die liggaam wat smag na net die kleinste menslike kontak . . . Ek het in trane uitgebars en na my motor gehardloop en my ouers gebel en vir hulle gesê ek het hulle lief. Hulle wou weet: ‘Wat gaan aan? Waarom huil jy?’ ”

In Kaapstad is dit reeds donker, maar waar Mehta in ’n vertrek in Manhattan met ’n boekrak agter hom sit, is dit die middag skuins ná 12 en die sonlig skyn by ’n venster in. ’n Sirene is nou en dan op die agtergrond hoorbaar.

“As jy ooit ’n familielid verloor het of ’n afstand tussen jou en iemand beleef, moet jy na Friendship Park toe gaan en kyk wat gebeur wanneer die staat jou en jou familie van mekaar skei en mense daardie basiese behoefte om met hul familie kontak te maak ontsê.”

’n Wêreldwye kwessie

Ons praat oor die Suid-Afrikaanse situasie en die xenofobie wat hier jeens immigrante en vlugtelinge heers.

“Ja, dit is nie net ’n Westerse kwessie nie. Dit gaan ook oor hoe Suid-Afrikaners teenoor Nigeriërs en Zimbabwiërs optree, of Indiërs teenoor mense van Bangladesj. Die huidige Indiese regering is net so xenofobies soos Donald Trump.

Amerika is verantwoordelik vir ’n derde van die koolstofvoetspoor in die wêreld en Europa vir ’n kwart.

“So, dit is ’n wêreldwye kwessie: Wie moet jy buite hou en wie moet jy inlaat? Migrasie is dikwels nie net van suid na noord nie, dit vind ook van noord na suid plaas. 85% van migrante beweeg van ’n arm land na een wat net effens minder arm is. Hulle sal byvoorbeeld nie van Sirië na Amerika beweeg nie, maar van Sirië na Jordanië of Turkye.

“Maar lande soos Indië en Suid-Afrika is minder skuldig as die ontwikkelde lande want hulle is nie koloniseerders nie en het in die meeste gevalle nie onwettige oorloë begin nie. Hulle is ook nie so aandadig aan klimaatsverandering nie.

“Amerika is verantwoordelik vir ’n derde van die koolstofvoetspoor in die wêreld en Europa vir ’n kwart. Ek dink die twee grootste kwessies van die 21ste eeu gaan klimaatsverandering wees en migrasie wat daardeur veroorsaak word.”

Wêreld sonder grense

Mehta in die Mexikaanse dorp Guanajato.Foto: Verskaf

Migrasie hou vir lande ekonomiese voordeel in.

“Hieroor het ek baie navorsing gedoen en met talle ekonome gepraat. Een merkwaardige syfer is dat indien grense oop was, sou die wêreld se jaarlikse bruto binnelandse produk (BBP) verdubbel het. Dit wil sê die wêreld sou jaarliks 78 000 miljard dollar ryker gewees het.

“Ons weet dít gaan nie oornag gebeur nie, maar selfs as elke land net migrasie laat toeneem, sal almal daarby baat. En, terloops, Afrika is waar die aksie is met betrekking tot migrasie; die grootste aantal migrante gaan inwoners van dié kontinent wees.

“Selfs in Amerika . . . Trump se stafhoof, Mick Mulvaney, het ’n paar dae gelede op ’n private vergadering gesê Amerika het ’n desperate behoefte aan immigrante; die voortgesette groei van die ekonomie is daarvan afhanklik.

“Westerse lande het ook immigrante nodig omdat die aanwas in daardie lande afneem en die bevolkings vinnig verouder en werkers wat belasting kan betaal minder word.”

Ryker kultuur

Mehta saam met twee Amerikaanse aktiviste in Friendship Park voor die heining tussen Amerika en Mexiko.Foto: Verskaf

Daar is ook kulturele voordele.

“Ons as ’n spesie het nog altyd rondbeweeg. Jou voorgeslagte het van ’n ander plek af Afrika toe gekom. Ék het van Indië af Amerika toe gemigreer. Mense bewéég. Goeie dinge gebeur só. Hulle bring hul kultuur saam met hulle; hulle bring hul energie saam met hulle. Kultuur is nie ’n statiese ding nie. Diegene, byvoorbeeld in Europese lande, wat sê: ‘As julle hierheen kom en jul kultuur saambring, sal dit ons kultuur verwater of verswak . . .’ is verkeerd. Dit sal hul kultuur eerder verryk.”

Dit is maar die afgelope eeu of wat dat die stelsel van mure en grense en paspoorte en visums in die wêreld geld.

“40% van al die grense in die wêreld is deur slegs twee lande geskep – Brittanje en Frankryk. Dit is nie net wat die koloniale magte gedoen het toe hulle ín die kolonies was nie, dit is ook die swak en arbitrêre aard waarop grense geskep is.”

Ek stel nie voor dat ons alle grense ophef en mense laat rondbeweeg soos wat hulle wil nie, maar die wêreld gaan ’n gekoördineerde wêreldwye reaksie nodig hê op migrasie wat deur klimaatsverandering veroorsaak word.

Hy verwys na die enorme ontwrigting en verlies aan lewens wat veroorsaak is deur die wyse waarop Brittanje Indië en Pakistan geskei het voordat hy hom aan die gebied onttrek het.

“Ook in Afrika kry jy hierdie belaglike reguit lyne wat gemeenskappe en volke verskeur het. Al hierdie burgeroorloë is dikwels weens die pogings van stamme en gemeenskappe om oor koloniale grense heen te hergroepeer.

“Ek stel nie voor dat ons alle grense ophef en mense laat rondbeweeg soos wat hulle wil nie, maar die wêreld gaan ’n gekoördineerde wêreldwye reaksie nodig hê op migrasie wat deur klimaatsverandering veroorsaak word.

“Teen die middel van hierdie eeu gaan meer as ’n miljard mense volgens VN-ramings deur klimaatsverandering verplaas word. Waarheen sal hulle gaan? Omdat mense gewoonlik van ’n arm na ’n effens minder arm land migreer, sal veel meer mense na lande soos Suid-Afrika en Indië stroom.

“Wat gaan gebeur as Bangladesj oorstroom en 400 miljoen mense droë grond soek? Hulle gaan Indië toe beweeg.”

'Ons rykdom'

Mehta beskryf in This Land Is Our Land hoe sy oupa aan moederskant op ’n dag in die 80’s in ’n park in Londen deur ’n bejaarde, vingerswaaiende Engelsman gekonfronteer is met die vraag: “Hoekom is jy in my land?”

Sy oupa, wat in Indië gebore is en sy hele lewe in koloniale Kenia gewerk het en nou in Londen afgetree het, se antwoord was: “Omdat ons die krediteure is. Julle het al ons rykdom gevat, ons diamante; nou het ons dit kom terugneem.”

Sy boodskap: “Ons is hier omdat julle daar was.”

Stryd tussen storievertellers

Mehta in sy woonstel in Manhattan. This Land Is Our Land is sy jongste boek .Foto: Verskaf

Die wêreldwye toename in populisme en hoe dit deur sosiale media en fopnuus aangevuur word, kom ter sprake.

“Wat ons op die oomblik in die wêreld beleef, is ’n epiese stryd tussen verskillende storievertellers.

“Populiste kan ’n vals storie oor iemand anders vertel en hulle kan dit goed doen. Die énigste manier om dit te beveg, is om die waarheid béter te vertel. Die waarheid het sy eie waarde en krag. Maar dít is nie genoeg nie. Dit moet op ’n boeiende manier oorgedra word.

“Die mense wat teen die populiste stry, is dikwels akademici of beleidmakers en hulle is nie bedrewe met die vertel van stories nie. Dit is waar ons as joernaliste en skrywers inkom, en dít is waarom die populiste so bang is vir ons. Dit is waarom joernaliste en skrywers oor die wêreld heen vervolg, in die tronk gegooi en gemartel of doodgemaak word, en mediaorganisasies geteister word.

Hulle weet ons, die storievertellers, is wat tussen hulle en die verspreiding van hul vals boodskap staan.

“Met koerante was daar ’n soort filter in die vorm van feitekontroleerders en redigeerders. Deesdae kan ’n populis ’n boodskap regstreeks op Facebook plaas en dit kan ’n veel, veel groter gehoor bereik omdat dit sensasioneel is en op mense se vooroordele jeens die ander sinspeel.

Facebook is vandag se ekwivalent van die Rwandese radiostasies wat volksmoord aangeblaas het.

“Facebook en Twitter behoort dit te monitor want enorme skade word aangerig. Ek verwys in my boek na ’n studie in Duitsland waarin bevind is dat die aanvalle op immigrante skerp afgeneem het wanneer daar internet-onderbrekings was en mense nie Facebook kon gebruik nie.

“Facebook is vandag se ekwivalent van die Rwandese radiostasies wat volksmoord aangeblaas het.

“Mark Zuckerberg van Facebook sê dit is nie hul werk om misleidende politieke inligting te stop nie. Hy gee hoog op oor vryheid van spraak. Ek glo in vryheid van spraak, maar ek glo nie jy het die reg om ‘brand!’ te skreeu in ’n vol teater nie. En om op Facebook te verkondig dat ‘immigrante ons vroue gaan kom verkrag’, is soos om ‘brand!’ in ’n vol teater te skree.”

Die tussenmense

Mehta is in Kolkata gebore en het as 14-jarige saam met sy Goedjarati-ouers na Jackson Heights in Queens, New York, geëmigreer.

“Dit was vir my nogal ’n traumatiese ervaring. Ek was in hierdie geweldig rassistiese Katolieke seunskool waar daar die hele tyd op my gepik is. Ek is weens my aksent uit die debatspan gegooi en ek is meer as een keer aangerand.

“En ek het geweldig baie huis toe verlang . . . Ek het Mumbai soos ’n deel van my liggaam gemis. Veertien is ’n baie vreemde ouderdom . . . Jy voel nooit heeltemal tuis in die land waarheen jy migreer nie, maar jy kan ook nooit weer heeltemal na jou land van herkoms terugkeer nie.”

Jackson Heights, waar baie Indiërs woon, is deesdae die mees diverse buurt in Amerika, sê Mehta.

“Ons trek binnekort terug soontoe. Daar voel ek tuis tussen die ander bannelinge soos ek. Ons is die tussenmense van die middelwêreld.”


Meer oor:  Facebook  |  Woordfees  |  Mark Zuckerberg  |  Donald Trump  |  Suid-Afrika  |  Afrika  |  Europa  |  Bangladesj  |  Amerika  |  Vlugtelinge  |  Migrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.