Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Ons kosbare kultuur word vernietig’

Daar is nou in Suid-Afrika die neiging om van die verlede ontslae te wil raak met standbeelde wat verdwyn, museums wat sluit en versamelings wat nie meer in stand gehou word nie, sê Ian Pretorius van die Stigting Simon van der Stel aan Murray La Vita.

Ian Pretorius, voorsitter van die Stigting Simon van der Stel, met op die agtergrond een van sy gunsteling- Kaapse geboue – die gebou waarin die Sentrum vir die Boek gehuisves word. Foto: Jaco Marais

Die onderhoud met Pretorius (53) vind plaas in die Kompanjiestuin. Hier waar ons nou sit met eekhorings wat onder die bome en om die standbeelde van Cecil John Rhodes en Jan Smuts rondspring, en die klank van wilde eende in ons ore, het Jan van Riebeeck kort ná sy aankoms in 1652 ’n groentetuin laat aanlê.

Die ander stukkie koloniale verlede wat op hierdie lieflike windlose en sonnige Kaapse winterdag aanwesig is, is gesetel in die naam van die bewaringsorganisasie waarvan Pretorius die voorsitter is, naamlik die Stigting Simon van der Stel wat optree as ’n drukgroep vir die bewaring en restourasie van “ons erfenis wat van nasionale kultuurhistoriese, argitektoniese en estetiese waarde is”.

Die onderhoud word gevoer teen die agtergrond van ’n verklaring wat onlangs deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns uitgereik is. Daarin sê die Akademie in die afgelope jare het meer as 50 van die land se 210 museums tot niet gegaan en nóg 50 verkeer in gevaar.

“Daar is veral internasionaal ’n geweldige oplewing in privaat museums en dit lyk vir my amper asof die staat sy funksie van kunsbewaarder vir die nasie effens begin verloor en dat dit na die besonder welgestelde individu oorgaan,” sê Pretorius.

Volgens Pretorius is een van Suid-Afrika se belangrikste kunsversamelings, die Michaelis-versameling wat bestaan uit kunswerke van 17de-eeuse meesters uit die Nederlandse Goue Era soos Frans Hals, Jan Steen, Jacob van Ruisdael en Antonie van Dyck, nou al “ ’n besondere lang tyd” nie meer vir die publiek toeganklik nie.

Ek dink daar is goeie gesprekvoering nodig om met interessante nuwe idees vorendag te kom van hoe ons ons kultuur kan uitleef en kan behou.

Die Ou Burgerhuis op Groentemarkplein, waar dit jare lank gehuisves is en ’n groot toeriste-aantreklikheid was, is gesluit en die versameling word nou in die SA Nasionale Kunsgalery geberg.

“Daar is net ’n nota op die deur wat sê: Tydelik gesluit tot verdere kennisgewing. Die gebou raak net al vuiler. Ons het ’n brief aan die departement van openbare werke gestuur om uit te vind wat met die gebou gebeur, maar nog geen antwoord gekry nie.”

Hy wys daarop dat die SA Nasionale Kunsgalery hier aan die bokant van die Tuine in die jare 90 “gewéldige veranderings” ondergaan het om sy versameling meer van ’n Afrika-versameling te maak.

“En my argument is: Daar is plek daarvoor, maar ons het ook ’n wónderlike Suid-Afrikaanse ou meesters-versameling wat nou geïgnoreer word en ek is seker daar is bestaansruimte vir albei.”

Hy meen al die bewaringsrolspelers moet saamwerk om oplossings te vind.

“Ek dink daar is goeie gesprekvoering nodig om met interessante nuwe idees vorendag te kom van hoe ons ons kultuur kan uitleef en kan behou.”

’n Opstel oor bewaring

Pretorius gedurende die onderhoud vandeesweek in die Kompanjiestuin. Foto: Jaco Marais

Pretorius het al as kind by die Stigting Simon van der Stel betrokke geraak.

“Ek het op Potchefstroom skoolgegaan en daardie jare het die stigting se Potchefstroom-tak ’n baie goeie jeugprogram gehad. Ek het op hoërskool aan ’n opstelkompetisie van hulle deelgeneem, waarin jy moes skryf oor ou geboue en waarom jy dink dit bewaar moet word, en ek het ’n prys gewen.

“En van toe af het ek altyd aan hulle uitstappies deelgeneem en toe ek op Stellenbosch kom studeer het, het ek daar by hulle aangesluit. Toe ek ’n werk in Kaapstad as ’n stadsbeplanner kry, het ek weer hiér by die tak aangesluit.

“En natuurlik, soos met al hierdie organisasies, sukkel hulle om bo water te bly. Jong mense raak nie betrokke nie en ons lede is maar aan die ou kant, so ons sukkel om jong mense te kry.

Ongelukkig speel geld ’n geweldige groot rol; indien ’n land nie geld het om kultuur te bewaar nie, dan suig dit ongelukkig aan die agterspeen en word dit as ’n luukse beskou.

“Jy sal dit by al die organisasies hoor – die Volksboukundige Vereniging van Suid-Afrika het dieselfde soort probleem. Ook mense soos die Sentrum vir die Boek en die Van Riebeeck-Vereniging sukkel. Een het al gevou – die FAS, Fine Arts and Decorative Society of Cape Town, moes weens ’n tekort aan lede toemaak.”

Pretorius het 12 jaar vir die destydse Wes-Kaapse provinsiale administrasie as stadsbeplanner gewerk.

“Daar het ek nogal báie te doen gehad met bewaring want ek was in die platteland op dorpe soos McGregor en Robertson en Worcester, en al daardie plekke waar daar ’n gróót behoefte is aan mense wat kennis van bewaring het. Stadsbeplanners word nie oor die algemeen opgelei in daardie aspekte nie en ek het nogal baie betrokke geraak by wat hulle destyds estetiese komitees genoem het, ook op Stellenbosch – net om te verhoed dat náre kentekens en advertensietekens en onvanpaste kleure en al sulke goed opgerig of gebruik word.

“Ons het handleidings ook geskryf om byvoorbeeld vir mense te wys hoe jy jou huis simpatiek kan restoureer.”

‘Almal is nuuskierig’

Is die tradisie van bewaring en museums soos wat dit tot uitdrukking kom in die groot Europese en Amerikaanse kunsversamelings en argitektoniese besienswaardighede, nie ’n hoofsaaklik Westerse een nie?

“Nee, ek dink nie so nie. Ongelukkig speel geld ’n geweldige groot rol; indien ’n land nie geld het om kultuur te bewaar nie, dan suig dit ongelukkig aan die agterspeen en word dit as ’n luukse beskou. Dít is die gevoel wat ek kry . . .

“Inherent is ons almal nuuskierig; ons wil almal weet: Wát doen ander mense? Hoe leef hulle? Ons wil na hulle huismuseums gaan kyk en ons wil sien wat se kuns produseer hulle. Ons wil weet: Hoe is jy anders as ek?

“Ek het nou onlangs weer in Parys gesien hoeveel mense by die Notre Dame wil ingaan. Waarom? Net omdat dit hierdie ongelóóflike ou historiese gebou is en jy wil die geskiedenis vóél en jy wil iets van die Franse psige ontdek miskien. En ek is seker jy sou dit in Windhoek en Timboektoe ook wou doen . . . indien dit beskikbaar was.”

Dit kom van ver af

Chris Burgess, hoof van Media24 se landboupublikasies, het in ’n rubriek geskryf die voorgestelde nuwe onteieningswet het betrekking op elke Suid-Afrikaner en dat enigiets, nie net grond nie, ingevolge daardie wet onteien sal kan word.

Pretorius by die ingang na die Sentrum vir die Boek. Foto: Jaco Marais

Ek vra Pretorius of hy meen so ’n wet hou ’n gevaar in vir kultuurgoedere wat as irrelevant of koloniaal beskou word.

“Dis ’n bietjie van ’n moeilike een . . . Maar my gedagtes spring nou na die oorlog in Sirië waar Isis hierdie wonderlike antieke stad Palmyra grootliks vernietig het . . . die ou Romeinse biblioteek en beelde wat hulle vernietig het.

“Kom dit nie al járre met die mensdom saam nie? Waar dit wat ons bereik het in die lewe, wat vir ons waardevol is en kultureel verfynd deur ’n ander nasie weggeneem en vernietig word.

Die Chinese is ook daardeur met Mao en die kulturele rewolusie. Nou koop hulle ten dúúrste hul eie kuns terug.

“As jy kyk na die Franse rewolusie – die meeste toerisme wat Frankryk tans trek, hou juis verband met dit wat hulle wou vernietig. Hulle het Lodewyk en Marie Antoinette van hul troon afgehaal en onthoof, maar ons wil almal vandag gaan kyk na hierdie fantastiese paleise soos Versailles en die wónderlike beelde en ongelóóflike meubels wat alles uit koningshuise kom, nè. Dit fassineer ons nog steeds. Ons gaan nie, om dit nou kru te stel, na plakkerskampe kyk nie, ons gaan kyk na goed wat ons óphef.”

Die oorwinnaars takel die geskiedenis en nalatenskap af van diegene wat hulle oorwin het?

“Ja. Die Chinese is ook daardeur met Mao en die kulturele rewolusie. Nou koop hulle ten dúúrste hul eie kuns terug.”

Unieke kultuurskat

Pretorius, wat as stokperdjie ’n antiekwinkel bedryf, het ’n groot liefde vir ou Kaapse meubels.

“Ons het ons eie meubelkuns ontwikkel en ek is seker die kunskenners gaan vir jou sê die Suid-Afrikaanse Skool het ook iets anders. So waarom basuin ons dit nie uit en wys dit vir die mense en maak mense meer bewus daarvan nie? Dit sal so interessant wees.

Pretorius in die Sentrum vir die Boek. Foto: Jaco Marais

“Dis eintlik ongelooflik as jy dink – in ’n kort tydperk het ons ’n unieke argitektuur ontwikkel hier in die Kaap; ons het ons eie taal ontwikkel, meubelkuns . . . tot ’n mate kan jy sê dis ’n Kaapse stoel, daar is nie elders in die wêreld ’n stoel wat presies so lyk nie. So dis eintlik ’n baie unieke kultuurskat wat ons het.”

Maar dit word nie meer as kosbaar beskou nie.

“En tog is dit besonder relevant want dit het ook toerismewaarde, daar lê báie krag in toerisme. Ons kan rêrig geld maak met toerisme, ons moet dit net op die regte manier hanteer. Ek is seker die algemene Europeër stel baie belang in hoekom is ons hier en hoe het ons ontwikkel en wat kan ons wys van ons verlede. Ons hoef nie alles te verpolitiseer nie.”

Kyk nou hoe belangrik is bewaring – as jy nie iets het om te wys nie, het jy niks om te vertel nie.

Die groot uitstalling wat verlede jaar in die Rijksmuseum in Amsterdam gehou is om die verhouding tussen Nederland en Suid-Afrika sedert die koloniale tyd uit te beeld, is uit sommige oorde gekritiseer omdat dit nie die geskiedenis van swart (in die breë sin van die woord) mense voldoende uitgebeeld het nie.

Ek pols Pretorius daaroor.

“Daar ís nie baie tasbare kultuurprodukte nie. Kyk nou hoe belangrik is bewaring – as jy nie iets het om te wys nie, het jy niks om te vertel nie. Dis soos ’n boek in ’n biblioteek – jy moet hom net gaan oopmaak en hom begin lees. Ek sê altyd ou geboue is ook so; hulle inspireer ’n mens en jy kan meer van hulle leer as hulle daar is, maar as hulle nie meer daar is nie, is dit verlore, is dit verby.”

Politiek en die Kasteel

Carlo Randall, ’n kenner van inheemse medisinale plante, in die Koisan-kraal wat in die Kasteel opgerig is as deel van ’n poging om die Khoisan-kultuur en -erfenis lewend te hou. Foto: Melinda Stuurman

Kommer bestaan in bewaringskringe oor die toestand van die Kasteel De Goede Hoop. Hawelose mense woon byvoorbeeld op die onversorgde grasperke voor die mure en maak snags daarteen vuur.

“Die Stigting VOC onder meer is redelik bekommerd oor die Kasteel. Hulle het ook vir ons [Stigting Simon van der Stel] daaroor genader. Ek weet daar is ’n aansoek gedoen om ’n heining om die Kasteel aan te bring spesifiek om die oornagslapers daar uit te hou, en ons moes kommentaar lewer daarop om te sorg dat dit ’n simpatieke heining is en dat dit nie ’n negatiewe impak op die omgewing het nie. Ons was heel tevrede met die voorstelle, maar blykbaar het een of ander erfeniskonsultant gesê dit is nie ’n simpatieke heining nie en die hele spul het toe nou tot ’n halt gekom.”

Waaraan skryf hy dit toe dat daar nie erns gemaak word met die bewaring van dié geskiedkundige gebou nie?

“Ek dink dit het ’n baie sterk politieke ondertoon. Die Kasteel word seker beskou as die begín van die ellende waar mense aangehou is en waar mense van hul grond ontneem is. Dit is ’n baken van kolonialisme.”

Is ander Suid-Afrikaners se geskiedenis in die verlede onderverteenwoordig en afgeskeep?

Dit is besonder belangrik om ’n plek soos die Kasteel te behou as ’n herinnering van wat in die verlede gebeur het.

“Jong, die Westerling is geneig om baie meer tásbare kultuurskatte te ontwikkel waar die Afrikaan ’n meer mondelinge kultuur het, so ek weet nie . . . Ons s’n is net meer sigbaar en dis miskien waarom daar nou gedink word dat die ander kulture afgeskeep is, maar hulle het nie ’n vreeslike sigbare kultuur sover dit my kennis strek nie.

“Maar dit is besonder belangrik om ’n plek soos die Kasteel te behou as ’n herinnering van wat in die verlede gebeur het.

“Ek het onlangs ’n kort insetsel gesien van ’n persoon wat navorsing gedoen het oor slawerny in Afrika. Hy het gegaan na al die hawes waar slawe aangehou is voordat hulle weggevoer is om te kyk in watter omstandighede die mense aangehou is en wat die algemene roetine was. Hy het sy kommer uitgespreek dat daar so baie van dié plekke reeds verdwyn het en gesê dit sou goed wees as hierdie plekke daar was as ’n getuie van wat in die verlede gebeur het.

“En ek dink dít is nogal besonder belangrik in die wêreld van bewaring – dís waarom ons bewaar; dit is deel van ons geheue. Maar daar is ongelukkig nou die neiging in Suid-Afrika om van die verlede te wil ontslae raak . . . standbeelde verdwyn en versamelings word nie meer in stand gehou nie.”

Meer oor:  Bewaring  |  Museums  |  Erfenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.