Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Ons moet by boere leer aanpas in SA’

Die vreesaanjaende ding vir boere in Suid-Afrika is hulle weet naderhand nie eintlik meer wie die vyand is nie, sê Kabous Meiring, nuwe aanbieder van MegaBoere 5, aan Murray La Vita.

Kabous Meiring gesels met Lorna Joubert op haar en haar man, Dawie, se plaas in Zimbabwe.

Suid-Afrika is besig om baie vinnig te verander en boere is die mense na wie ons moet kyk om te sien hoe ons moet aanpas.

Dít is dan ook hoekom die vyfde reeks van kykNET se MegaBoere ’n nuwe klem het, sê Kabous Meiring.

“In die verlede was die klem op megaboere – boere wat ’n baie groot omset en dikwels ook groot plase het. In die nuwe reeks is daar ook megaboere, maar ons het besef daar moet ’n klemverskuiwing kom omdat Suid-Afrika besig is om baie vinnig te verander. Boere is eintlik die ouens wat weet hoe om aan te pas.

“Die uitdrukking ‘ ’n boer maak ’n plan’ is natuurlik iets wat ’n mens nou nogal ter harte neem, want ’n mens sién dit. Ons het nou die dag ’n boer besoek en toe sê ek vir hom dit voel vir my asof ’n mens vir hom ’n probleem kan bring en hy gaan dit oplos.

Dis die ander wanpersepsie – dat boere ontoeganklik is.

“Hulle filosofie is net dat hulle lief is vir Suid-Afrika en hier wil bly, maar hulle besef daar is uitdagings en hulle probeer die heeltyd kyk hoe om planne te beraam om dit te bowe te kom, en dit is natuurlik baie inspirerend.

“Steve Mohale, een van die boere wat ons besoek het, het byvoorbeeld net 300 ha. Hy het sy grond gekry by Modjadji, die Reënkoningin, want hyself is deel van haar stam. Hy het gaan vra of hy die grond kan kry nadat hy gesien het hy kan boer, want hy het geleer by mense soos Tommie van Zyl, die groot tamatieboer in daardie omgewing.

“So hy het gaan aanklop by mense en hulle het vir hom geleer en hy besing hulle lof verskriklik. Dis die ander wanpersepsie – dat boere ontoeganklik is. Maar hulle is óngelooflik toeganklik; dis nogal iets wat ons agterkom.

“Steve is geweldig produktief met hierdie 300 ha van hom en hy help ook nou die kleiner bestaansboere in die omgewing. Hoe hy hulle help, is dat hy ’n ooreenkoms het met die vervoermaatskappy wat hy gebruik dat die bestaansboere op sý onkoste hulle produkte vir die mark kan lewer.

“Dit is nou maar net ’n voorbeeld van iemand wat met min grond, wat nie eens in sy naam is nie, regtig help met kosvoorsiening.”

Traumatiese onteiening

Kabous by ’n opname van MegaBoere 5.

Die gesprek beweeg na die kwessie van grondonteiening in Suid-Afrika.

“Ons was by Dawie Joubert, ’n boer in Zimbabwe waar dit ’n groot kwessie was. Hulle het hul grond reeds verloor en hulle het toe ten tyde van die onteiening onderhandel en gevra of hulle nie net asseblief hul kleinste plaas kan behou nie.

“Dit was natuurlik ’n geweldige traumatiese proses vir hulle. Hulle moes baie vinnig uit hulle hoofhuis en hoofplaas oppak en waai en hulle kon nie eens alles oppak nie. Toe het hulle begin boer op die kleinste plasie en wat hulle daar verrig, is ongelooflik. Hulle het besluit om met makadamias te begin boer, want dit is baie winsgewend. Hulle was beesboere en daarmee het hulle op ’n kleiner skaal voortgegaan.

“Hulle wou nie te veel praat oor die trauma waardeur hulle is nie, want hulle is steeds in die prosesse om hul grond te probeer terugkry.

Ek het daar persoonlik besef dat ’n mens nie sommer Zimbabwe en Suid-Afrika moet vergelyk nie.

“Hulle probeer ’n baie goeie verhouding met die nuwe regering handhaaf. Dís die soort dinge wat my inspireer – hulle wil só graag hulle plaas terugkry. Hulle het ’n geweldig inspirerende filosofie.

“Dawie sê hulle het gewik en weeg of hulle na Suid-Afrika of Australië toe moet gaan en dit was ’n baie spanningsvolle tyd. En toe het een of ander mentor daar aangekom by hulle huis op ’n Sondagaand en met hulle gesels en vir hulle gesê die beste ding om nou te doen is om ’n besluit te neem. En as jy besluit het jy bly, dan bly jy. Hulle het toe besluit om te bly en nooit weer gewik of weeg nie.

“Ek het daar persoonlik besef dat ’n mens nie sommer Zimbabwe en Suid-Afrika moet vergelyk nie want dit is natuurlik twee verskillende politieke stelsels.

“Ek dink die vreesaanjaende ding in Suid-Afrika, wat ons opgetel het, is jy weet naderhand nie eintlik meer wie die vyand is nie.

“Hulle vertrou tog wat in die parlement gebeur en die grondberaad was uiters suksesvol en daar is die regte goed gesê, maar die boere is nie heeltemal seker wat gaan gebeur nie, daar is ’n gevoel van onsekerheid hoewel hulle goeie kommunikasiekanale met Cyril Ramaphosa het of dan nou met al die landbou-organisasies.”

Onderlinge respek

Ek vra haar uit oor die stereotipe beskouing dat sommige boere hul werkers swak behandel.

“Ek moet oppas om die ding nie te verromantiseer nie want ek kan nogal meegesleur raak; ek wil om elke hoek en draai ’n goeie Suid-Afrikaner gaan probeer uitkrap. Maar ek het nog nie een boer teengekom wat nie besef hoe belangrik sy werkers is nie. En hier en daar is daar goeters wat jou hart so vermurwe. Die groot ding wat ek as ’n stadsmeisie agtergekom het, is ons het ’n geneigdheid om woorde soos ‘patroniserend’ rond te gooi en wanneer jy op ’n plaas kom . . . Die teendeel is vir my oor en oor bewys. Daar is ’n ongelooflike onderlinge respek, iets van ’n kollegiale verhouding tussen die boere en hulle werkers.

Daar is baie goeie boere, al klink dit asof ek dit oorromantiseer.

“Op een plaas, waar ek gedink het die boer is nogal konserwatief, was die hoofwerker, die plaasbestuurder, amper die patriarg. Hy het die boer se naam in ’n verkleinvorm gebruik; sy naam is Nico en die bestuurder praat van ‘klein Niekie’, want dis die seun wat nou oorgeneem het.

“So daar was vir my ’n groot kameraderie amper. Dit beteken nie daar is nie ’n hiërargiese struktuur nie, maar daar is definitief baie liefde sonder die patriargie waarmee ons, van ’n buiteblik af, grootgeword het.”

Sy bly ’n oomblik stil en voeg dan by: “Ons was in Namibië, in Zimbabwe en in Zambië. Ons gaan môre Vrystaat toe. Ons was in Komatipoort en ons was in Mokopane en in Tzaneen en ons was in die Kaap. Ons is nou besig met die 64ste episode van die reeks, so daar is baie goeie boere, al klink dit asof ek dit oorromantiseer.”

Verby politiek

“Die uitdrukking ‘ ’n boer maak ’n plan’ is natuurlik iets wat ’n mens nou nogal ter harte neem, want ’n mens sién dit.”

Ons praat oor die misdaad waaraan boere blootgestel word.

“Ek vind die afgelope paar jaar was mense dikwels bang om te praat oor misdaad, want dis ’n gelaaide onderwerp. Maar op die oomblik ervaar ekself ’n geweldige mismoedigheid daaroor. Dis vir my bítter sleg dat misdaad so hoogty vier en dat die land so gewelddadig is; selfs nou met huisrowe, verkragting, padwoede – you name it.

So ek dink dit sou totaal naïef wees om dit te ontken as jy by ’n boer kuier en nie met ’n simpatieke oor daarna te luister en dit te verstaan nie. Die boere ontken dit glad nie . . . Al die boere het eintlik maar dieselfde vrees.

“Allan Whyte, die makadamiaboer in Louis Trichardt, wat Engels is, het vir my gesê as hulle vriende uit Amerika kom kuier, is hulle geskok. Hulle het een aand aan die etenstafel ’n gesprek gehad en die boer het vir hulle gevra: ‘So, how many people do you know that have been murdered?’ En toe sê die Amerikaners: ‘What sort of a question is that? We don’t know anybody that has been murdered.’ Hy sê toe vir my: ‘I had to answer I already know twelve.’

“En dis al wat hy gesê het, oor ’n gin-en-tonic. So, mense is maar bewus daarvan. ’n Boer in Mokopane het vir my reguit gesê hulle is soms bang, maar dit is nou maar die aard van die situasie.

“En dan is daar byvoorbeeld Steve Mohale wie se besproeiingspype en elektriese drade die héle tyd gesteel word, so hy moet vreeslik baie planne maak om alles onder die grond te gelei.

“Ja, en dan is daar veediefstal . . . Die piesangboer Roy Plath by wie ons verlede week was, het op sy plaas van 2 000 ha in Mpumalanga ’n veiligheidsmag van 30 mense. Hulle patrolleer met klein Jeeps met nagsigtoerusting op in die nag. So ek is verbaas dat baie mense so lank gevat het om daaroor te praat omdat jy dalk gedink het dit is dalk polities gelaai. Dit is vér verby politiek.”

Hulle help dorpe

Sy kan nie uitgepraat raak oor wat boere vir die gemeenskap doen nie.

“Hulle doen rêrig baie vir hul dorpe. Steve Mohale het byvoorbeeld ’n wateraanleg ingesit vir sy onmiddellike dorpie, want hulle het vir baie maande al nie water nie. En die Zimbabwiese boer Dawie Joubert kyk ook vreeslik mooi na hul onmiddellike dorp.

“Daar is boere in hierdie land wat op die ou einde soveel van die munisipale las dra met paaie wat geskraap word; elektrisiteit wat reggemaak word; vullishope wat op boere se erwe in die dorpe is. Dit is baie kommerwekkend, want dit wys nou vir jou hoe die munisipaliteite agteruitgaan. Ek weet nie hoeveel daarvan die boere sal kan aanhou dra nie.”

Lus vir boer

Kabous gesels met Brian Angus oor sy Wagyu-stoetery op Arlington in die Vrystaat.

Kabous sê sy was aanvanklik baie skrikkerig om die pos as aanbieder van MegaBoere te aanvaar.

“Ek was bang vir kritiek, om die waarheid te sê . . . Oor die feit dat ek nie so baie van landbou weet nie. Toe het ek gedink dit is eintlik wat vir my so lekker is – hier is ’n kans om regtig net van iets te leer wat my nog altyd geïnteresseer het. Ek was nog altyd mal oor boere, maar ek het nooit baie van die tegniese aspekte van boerdery óf die entrepreneurskap geweet nie.

“Ek vind dit só inspirerend; vir my is dit absoluut lewensveranderend.” Sy lag en sê: “Dis klein goedjies soos . . . Ek dink my huis is nou netjieser. Ek dink ek hou my kar skoner. Ek gooi petrol in om geld te spaar. Jy dink aan ’n klomp . . . Hulle is só prakties. Ek dink hulle het eintlik ’n soort Zen-lewenstyl. Dis daai ding van vir alles is daar ’n oplossing; jy moet net gaan sit en dink en dit uitwerk.”

Ek is ontsettend lus vir boer, maar dit sal op ’n baie klein skaal wees.

Hoewel sy ’n “stadsmeisie” is wat tussen Kaapstad, haar tuiste, en haar werk in Johannesburg as aanbieder van Prontuit pendel, wonder ’n mens (as jy hoor hoe geesdriftig sy oor die pastorale lewe is) of sy nie dalk lus het om te boer nie.

“Ábsoluut! Ek het ’n piepklein stukkie grond in Koringberg [in die Swartland] en ek het nou al gewonder of ek dit nie maar in ’n boord of ’n ding moet omskep nie. Maar nou weet ek die grond daar is nie baie goed nie; dít het ek nou al uitgevind. Nee, ek is ontsettend lus vir boer, maar dit sal op ’n baie klein skaal wees.

“Kyk, ek is nog altyd baie lief vir die natuur en plante en so aan. Ek dink daai ding dat iets opkom en dit groei en dit word gepluk en uiteindelik gaan dit deur ’n sorteringsproses en dan word dit op ’n trok gelaai en dan kom dit by die mark uit en dan word dit verpak. Dit is óngelooflik opwindend.”

* Die nuwe reeks van MegaBoere begin op 9 Januarie op kykNET en bestaan uit 14 episodes.

Meer oor:  Tommie Van Zyl  |  Steve Mohale  |  Kabous Meiring  |  Megaboere  |  Boere  |  Grondonteiening  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.