Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Ons moet ’n paar goed afslag in dié land’

Ons gaan in hierdie land nog véél, véél dieper – tot op die been – moet sny, sê die skrywer en teoloog prof. Cas Wepener (47) aan Murray La Vita.

Prof. Cas Wepener in die leefvertrek van sy huis in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

In sy lewe het ’n rivier afgekom, sê Cas Wepener wanneer ek hom pols oor die ontstaansgeskiedenis van Die slaghuis, sy jongste roman.

Hy het op George grootgeword, maar hulle het ’n familieplasie op Jansenville in die Oos-Kaapse Karoo waar hy as kind baie tyd deurgebring het en wat hy steeds gereeld besoek.

Drama en teologie

Drama en teologie

Drama en letterkunde is in sy bloed, sê Wepener. Hy het aanvanklik ’n jaar drama aan die US gestudeer voordat hy na teologie oorgeslaan het.

“Met die skuif het ek in die drama van die teologie gebly. In praktiese teologie bestudeer ons wat mense doen – handelinge. En my kant is spesifiek gemik op rituele en liturgie. Dít resoneer met drama – performance studies en so aan.

“Terugskouend kon ek sien hoe baie van my loopbaan in my boek is. My proefskrif oor versoeningsrituele was lewensveranderend in die sin dat ek daar in die Kaap en omgewing ’n etnografiese studie gedoen het. Ek het met mense gesit in Langa; ek het hulle stories probeer hoor; hulle het vir my gaan wys waar het hulle die pasboeke verbrand – daardie tipe van goed.

“Daai was ’n ander tyd, ’n ander verstaan; die IJR (Institute for Justice and Reconciliation) by UCT . . . almal het versoening toe baie anders verstaan as vandag. En ek dink Die slaghuis verstaan versoening ook ’n bietjie meer kompleks as toentertyd.”

“In die warm maande val daar so nou en dan ’n donderbui, maar dit val nie noodwendig by jou nie. As dit egter reg val op ander plekke dan maak dit ’n stroompie en dan kom die rivier af.

“En ek dink dis iets daarvan. Daar het ’n paar donderbuie geval by my, soos my proefskrif [oor versoeningsrituele], belewenisse met die studente, baie gesprekke met mense.

"Ál hierdie goed is donderbuitjies en stofnatbuitjies en later kom die rivier af.

“Maar benewens dié ‘rivier’ was my inspirasie nog altyd iets wat vir my ’n belewenis van atmosfeer gee. En daardie belewenis van atmosfeer is my dorp in die Karoo en hoe hy in 20 jaar verander het. En daardie atmosfeer as ek daar kom . . . Ek het grootgeword met die mense en ek sien nóú hoe leef die mense.

“En ek sien hoe lyk die huis daar teen die rivier [soortgelyk aan die een in Die slaghuis] en hoe verander hy. En dan kyk ek na die huis en ek dink: Wat is die storie van dié huis?

“Dit is vir my belangrik om nié te weet wat die storie is nie.” Hy lag. “Ek kan nie ’n bladsy vooruit weet wat nou met hierdie rivier gaan afkom nie. Dit kóm net en dan later moet ek maar ’n bietjie polish.”

‘’n Harde boek’

“Ek dink in baie Suid-Afrikaners se psige sit vleis, vleisverwerking, die omgaan met vleis." Foto: Deaan Vivier

Die onderhoud met Wepener vind per Skype plaas. Hy is in Pretoria, waar hy tot onlangs hoogleraar in praktiese teologie was. Hy neem aanstaande maand ’n soortgelyke pos op aan sy alma mater, die Universiteit Stellenbosch.

“Ek wou die boek aanvanklik Om die waarheid te sê noem, maar dit was te tentatief. Die slaghuis is ’n stérk titel. Ek het ná die skryf, besef hierdie is ’n hárde boek; daar is sprake van ’n slagting, dit moet iets in die lyn van slagter, die slaghuis wees.

“Daar is natuurlik hopelik ook iets van ’n samehang tussen die inname van kos en ekskresie. [In die loop van die roman is daar deurentyd die beweging van trokke met skape op pad na die slagpale toe en die nagwa wat deur die dorp beweeg.] En dat die twee met mekaar verband hou en absoluut lepellê met die tema van versoening en geregtigheid. Dís vir my baie belangrik.

“Met ander woorde: Die nagwa sê ook vir ons daar is ’n klomp ekskresie waarvan daar nog ontslae geraak moet word in hierdie land. Dit stínk en dis ’n morsige, aaklige joppie daai. Dis soos afval kook [wat ook in die boek plaasvind]; dis ook deel van die uitskot; dis ’n stink storie as jy afval kook.”

‘Nog nie diep genoeg nie’

“Terugskouend kon ek sien hoe baie van my loopbaan in my boek is.” Foto: Deaan Vivier

Die tema van slag is “ongelooflik belangrik”.

“Vir my is die ontwikkeling van die konsep van versoening na geregtigheid na waarheid baie belangrik. Ek dink ons begin nóú eers met die slagmes tot op die been sny. Ons moes al lankal dieper gesny het, maar ons kom nou eers daar uit en ons het nog glad nie diep gesny nie. Ons gaan nog véél, véél dieper tot op die been moet sny.

“Saam met dit is daar byvoorbeeld die vel wat daar op die draad hang van die skaap wat Marietta [vrou van die karakter oudbrigadier Karel Bergh] en Moses [Mahlangu, ’n gewese askari en oudkollega van Bergh] geslag het. Daardie is ’n sintuig amper wat daar hang; dit gaan oor die tás en dis ’n belangrike element ook vir Marietta.

“So, tas in ons land sodat ons by mekaar uitkom en aan mekaar vat, en dat ons in die proses vrék seer gekry en nog báie seer gaan kry. Dít gaan alles saam met die slagting.”

’n Droom oor die waarheid

“Ek dink ons moet maar eerder nou ordentlik slag.” Foto: Deaan Vivier

’n Karakter in Die slaghuis sê in ’n stadium oor die protesoptogte in 2017 – die boek speel in 1997 en 2017 op ’n Oos-Kaapse Karoodorp af – deur ’n groep bekend as die Black Berets op die dorp: “Hulle claim mos dat die TRC ’n sell-out was.” En later: “Hulle claim violence is nodig. Violence was glo wat in die nineties moes gebeur het en, soos hulle sê, nie al Madiba se tear jerking kak nie.”

Daar was ’n droom dat as die waarheid uitkom, kan versoening gebeur, eerder as die idee dat dit ’n reis is wat nie in sy leeftyd gaan ophou nie, sê Wepener.

“As ek nou terugkyk oor 20 jaar – vir dié van ons wat ook baie nou betrokke is by universiteite – die studente het ons nogal ’n paar dwarsklappe gegee.

“En met die Fees Must Fall en decolonisation of curriculum – al daai goeters – het hulle ’n érnstige wekroep gehad wat baie belangrik was om vir ons te wys versoening sny veel, veel dieper as ’n paar omhelsings en ’n droomidee van ’n reënboog, en so.”

Wepener wou in Die slaghuis die kompleksiteit van die temas van versoening en geregtigheid en waarheid verken. En om nie net vanuit een perspektief te kyk nie, maar om die karakters te vat en “te speel daarmee”.

Die wêreld van destyds

Die slaghuis, wat pas by Protea Boekhuis, verskyn het, is Wepener se derde roman. ’n Bundel kortverhale het onder meer ook al uit sy pen verskyn.

Ek pols hom oor oudbrigadier Bergh, wat in 1997 weier om voor die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) te gaan getuig en om amnestie aansoek te doen vir sy moorddadige bedrywighede as polisieman. Hoe lyk sý waarheid?

“Ek dink sy idee van waarheid resoneer sterk met Moses se idee. Dis vir hom belangrik dat die idee van waarheid binne sy konteks geïnterpreteer moet word.

“Dis vir hom belangrik om as jy oor die waarheid van die verlede [onder apartheid] wil praat, moet jy die wêreld van destyds saam met die teks en kaart bring van wat daar gebeur het. Anders kan jy nie begin om te interpreteer en uitsprake te maak nie.

“So vir hom is daar iets anachronisties daaraan om nou met hierdie idees [van 1997] terug te kyk na die verlede. Hóé kyk ons? Hóé interpreteer ons? Hoe verstaan ons wat gebeur het?”

Die waarheid van die destydse bestel – voor 1994 – was diép in die DNS van mense gegiet.

“En dis nie só maklik vir mense om hulle storie nuut te skryf nie en Karel is baie eerlik daaroor en daarom is hy baie skepties oor hoe maklik sy vriend [en kollega] Malan [’n oudpolisiegeneraal] dit kan opgee [deur voor die WVK te gaan getuig en amnestie te kry].”

Die waarheid van voor 1994 is die waarheid van apartheid.

“Dit was ’n diép onreg en ’n onwaarheid wat verstaan is as ’n waarheid.”

Goeie ou dae?

Ons praat oor die skynbare heimwee en hunkering na die “goeie ou dae” wat Marietta beleef wanneer sy na musiek soos Rina Hugo se “Troepie Doepie” luister.

“Wanneer iets soos Troepie Doepie speel dan moet ’n mens ook weet in en deur daardie heimwee is Marietta ook besig met haar leuen. So, dit is ’n wonderlike gevaarlike ónware heimwee.”

Ek is diép dankbaar teenoor Willem Pretorius; ek is mal oor die skildery. Daar is ’n stilte en ’n verlatenheid in.

Watse leuen?

“Goeie ou dae? Regtig? Ek dink ons moet maar eerder nou ordentlik slag. Die leuen, die krake, sit regdeur in elke karakter. So, vir my is dit belangrik om te weet dit sit ook in mý; dit sit in . . . Ja, laat ek nie verder as myself praat nie.”

Op die voorblad van Die slaghuis is ’n skildery van Willem Pretorius gebruik. Dit is van ’n wit motor wat voor ’n ou plattelandse gebou wat lyk na ’n winkel (of slaghuis) geparkeer is.

Dié kunswerk het ook die vermoë om heimwee by die kyker te ontlok. Maar dit is ’n ander heimwee as wat uit “Troepie Doepie” straal.

“Ek is diép dankbaar teenoor Willem Pretorius; ek is mal oor die skildery. Daar is ’n stilte en ’n verlatenheid in. Ek kyk altyd sy [leë, vervalle] swembaddens so wat hy skilder. Ek weet nie hoekom nie, maar elke keer as ek sy goed sien, is daar iets wat resoneer met wat ek met ’n pen probeer doen.”

‘Vleis in ons psige’

“Dit is vir my belangrik om nié te weet wat die storie is nie.” Foto: Deaan Vivier

Kos, resepte en eet speel ’n belangrike rol in Die slaghuis.

“My vrou wil haar doodlag . . . Dan kom ek hier uit ons biblioteek uit terug met sulke stapels boeke wat almal resepteboeke is uit die tyd van Marietta – wat sy nou by uitstek sou gekook het toe hulle nog in Pretoria gewoon het – om my net in te lééf.

“En dis regtig ’n wêreld daar buite. Dis vir my fantásties. Daar was selfs boeke oor servetvoukuns in die 1980’s,” sê hy laggend.

'Met die bril van kos'

Wepener besin saam met studente oor die rol van kos in sy praktiese teologiekursus.

“Ek speel baie met my eie studente hier by Tuks. Ek vat hulle byvoorbeeld in een module en dan stap ons oor die kampus. En dan sê ek: ‘Oukei, jy stap nou met die bril van kos. Kom ons kyk hoe lyk die studente wat ken van cappucino’s en Griekse slaaie en met ’n kaart betaal, en kom ons kyk wie sit op die grasperk voor die Ou Hoofgebou en eet uit ’n Tupperware pap, en dan gaan ons terug klas toe en dan gesels ons gou ’n bietjie weer oor die tema.

“Dis 2019 . . . Dis skreiend om te sien hoe langs duidelike lyne die ongelykheid en die verdelings in ons land nog altyd loop . . . Ons moet dié goed oopskryf. Dít resoneer met die tema van versoening, geregtigheid, herstel – waar is ons in 2019?”

“Daar is min dinge wat so baie sê oor wie ons is en wat ons doen, as hoe ons eet, hoe ons kook, hoe ons omgaan met kos – soos die filosoof Marthinus Versfeld sê in daardie aanhaling van hom voor in Die slaghuis.

“Ek dink in baie Suid-Afrikaners se psige sit vleis, vleisverwerking, die omgaan met vleis . . . kos – al daardie goeters. En om dit ’n bietjie oop te sny en te verken, het ek gedink kan my help om beter te verstaan wie is die karakters wat hier by my aangemeld het? Wie is dié mense?”

Kos verdeel ons en dit bring ons ook by mekaar uit.

“Jy ken seker die geskiedenis van 1857 toe die NG Kerk geskeur het rondom die nagmaaltafel. Om dit bar te stel: Die wit mense het nie kans gesien om saam met die swart en bruin mense in dieselfde gebou nagmaal te vier nie.

“Kos sit in die hartseer geskiedenis van ons land. Daardie was een van die vroeë stimuli gewees van apartheid wat van die tafel van versoening af kom – dis absolúút ironies. Dis verskriklik wat daar gebeur het.

“Die teenoorgestelde is die potensiaal van kos. Want dit is dieselfde tafel en dieselfde kos wat ons nader aan mekaar kan bring. Ek dink ons moet grense stukkend kóú. Maar op hierdie oomblik moet ons nog ’n paar goed afslag ook.”

Meer oor:  Cas Wepener  |  Willem Pretorius  |  Suid-Afrika  |  Versoening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.