Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'n Geskiedenis vol pyn

Suid-Afrika se geskiedenis is só vol pyn dat ons nou ’n stadium bereik het waar niemand eienaarskap daarvan wil neem nie, het prof. Charles van Onselen aan Gert van der Westhuizen gesê.

Prof. Charles van Onselen sê die Suid-Afrikaanse geskiedenis is só vol pyn dat niemand eienaarskap daarvan wil neem nie. Foto: Simon Sonnekus

Hy is al vele keer in sy lang loopbaan as historikus bekroon en word gereeld as ’n meester op sy vakgebied beskryf. Sy werk lok soms hewige debat uit, maar jy kan maar weet as Charles van Onselen iets geskryf het, is dit die moeite werd om te lees.

Sy boek oor die deelsaaier Kas Maine, The Seed is Mine, word beskou as een van die 100 mees invloedryke boeke wat al in Suid-Afrika verskyn het. Hy het ook gesoek na die ware identiteit van die reeksmoordenaar Jack the Ripper en jy word steeds na sy boeke verwys as jy meer wil weet oor die vroeë Johannesburg en die geskiedenis van die mynbedryf in Suid-Afrika.

Van Onselen se jongste boek, The Night Trains: Moving Mozambican Miners To and From South Africa, circa 1902-1955 (Jonathan Ball), sal sy aanhangers nie teleurstel nie.

Dié boek is eintlik ‘n fout

The Night Trains is eintlik ’n fout, sê Van Onselen. Hy is besig met ’n groot projek oor Suid-Afrika se verhouding met sy buurstate. As deel daarvan wou hy graag iets oor trekarbeid skryf omdat trekarbeiders uit Suider-Afrika, veral dié uit Mosambiek, só ’n groot rol in die industrialisasie van Suid-Afrika gespeel het sonder om genoeg erkenning daarvoor te kry. Toe kry hy te veel inligting vir ’n essay. “Ek wou nie dié boek skryf nie, maar ek moes dit skryf, ek moes net verslag doen oor wat op daai treine gebeur het.”Hy het as tienjarige kind baie met mynwerkers te doen gekry en het as student op die myne gewerk. Dié boek is deel van die antwoorde op ’n klomp vrae wat ’n jong seun meer as 60 jaar gelede gepla het. Maar The Night Trains (247 bladsye) het sy aandag van die groter projek afgetrek. “Dit is eintlik ’n pamflet”, spot Van Onselen. “The Seed is Mine (649 bladsye) . . . nou dáár is ’n boek,” sê hy.

Dit vertel die skrikwekkende verhaal van Mosambiekse trekarbeiders wat per trein na en van Suid-Afrika vervoer is.

In die stampvol treine wat hulle na die steenkool- en goudmyne gebring het, was daar nie sit- of lêplek nie; om nie eens van water en toiletgeriewe te praat nie.

Ná hul kontrakte van 12 maande verstryk het, is hulle weer teruggebring na Mosambiek – dikwels gebroke in liggaam én gees. Ná ’n jaar van hel in die myne het long- en psigiese siektes wyd voorgekom.

Van behoorlike mediese dienste op die treine was daar nie sprake nie. Daar is ook nie behoorlik boekgehou van die dooies nie; hul longe is dikwels bloot teruggestuur Johannesburg toe om deur wetenskaplikes ondersoek te word.

Boonop het kansvatters en misdadigers op stasies probeer om terugkerende mynwerkers van hul swaarverdiende geld en besittings te beroof terwyl handelaars allerhande nuttelose snuisterye aan hulle probeer verkwansel het.

The Night Trains is skokkend en ontstellend, en soms maak dit ’n mens woedend. Jy staar, soos Van Onselen in ’n stadium skryf, in die spieël van kolonialisme en wat jy sien, is nie mooi nie. Dit laat jou ongemaklik voel.

“As jy ’n boek oor die geskiedenis gelees het en dit het nie jou denke gekompliseer en deurmekaargekrap en jou nuwe vrae laat vra nie, dan het dit nie sy werk gedoen nie,” sê Van Onselen terwyl ons in ’n koffiewinkel naby sy huis in Parkview gesels.

Mense het met die bekendstelling van The Night Trains in die Randse Klub, die luukse lêplek van die mynbaronne wie se rykdomme verdien is met die sweet en bloed van die mynwerkers waaroor hy skryf, aan Van Onselen se lippe gehang.

Hy kan nie net skryf nie, kom ek gou weer agter. Hy kan ook ’n storie met soveel geesdrif en oortuiging vertel dat jy nie kan glo die passievolle man oorkant die tafel is al 75 jaar oud nie.

Van Onselen se vertellings in Engels en Afrikaans is deurspek met baie sterk menings. Hy kan nasionalisme byvoorbeeld nie duld nie; ook nie die beheptheid met die moderne nasiestaat in ons deel van die wêreld wie se grense deur kolonialisme bepaal is nie.

Hy sê ook sommer gou dat hy daarvan hou om ’n ding op die naam te noem.

Alles het nie ‘een oggend in 1948 begin’

Al die onteiening en onderdrukking op grond van ras in Suid-Afrika het nie een oggend in 1948 begin nie, sê prof. Charles van Onselen. Foto: Simon Sonnekus

Ons begin oor The Night Trains gesels nadat hy eers vra waar ek vandaan kom en hoekom ek in geskiedenis belang stel.

Dié boek was nie maklik om te skryf nie omdat die argiewe van die Witwatersrand Native Labour Association maar gebrekkig is en daar elders nie juis veel vertellings van die mynwerkers self was nie.

Tog was daar hier en daar ’n dokument in die argiewe wat meer lig op die vergrype van destyds gewerp het.

“Hier sit ’n ou op die trein in sy eie vomeersel en hy is besig om dood te gaan en die kondukteur deursoek hom vir geld. Hoe vaar ons hier wat beskawing betref, ouens? Hoe vaar ons wat empatie betref, wat Christelikheid betref, hoe vaar ons wat deernis betref? Nie eintlik baie goed nie . . . ”

Daar het baie, baie lelike dinge hier gebeur in die 1950’s en 1960’s, ongelooflike lelike dinge. Ons kan dit nie onderskat nie.

Maar dis nie waar die ongemaklikheid ophou nie.

Met The Night Trains wil Van Onselen ook op ’n subtiele wyse aantoon dat alle onteiening en alle onderdrukking op grond van ras en klas nie net “een oggend in 1948 begin het toe die Afrikaners die verkiesing gewen het nie”.

“Daar het baie, baie lelike dinge hier gebeur in die 1950’s en 1960’s, ongelooflike lelike dinge. Ons kan dit nie onderskat nie. Maar die wortels van hierdie dinge lê in die industrialisering van Suid-Afrika sedert die 1860’s – veral met die ontdekking van diamante, en later met die ontdekking van goud in 1886.

“Dié primêre nywerhede het die politieke, arbeids- en rasse-agenda vir die land bepaal.

“Ons wou geldmaak uit diamante, ons wou geldmaak uit goud. En hier kom die kampong-stelsel. En hier kom die paswet. En hier kom die inperking van swart manlike arbeid. En hier kom die ding waar jy sê swart vroue en kinders mag nie in die stad kom nie, dat hulle nie hier mag wees nie.

“Dit het lank voor Afrikaner-nasionalisme gebeur.”

5 miljoen op treine

Daar word geraam dat sowat 5 miljoen passasiers tussen 1910 en 1960 tussen die Booysens-stasie in Johannesburg en die Komatipoort/Ressano Garcia-stasiekompleks op Suid-Afrika se grens met Mosambiek vervoer is.

Mense moet in dié verband aan die Kamer van Mynwese en die goudmynbedryf dink, sê Van Onselen.

“Die staat het verkies om stil te bly. Die treine is nooit op enige plek langs die roete gestop sodat navraag gedoen kon word nie: Hoeveel man is daar in ’n kompartement? Is daar water, is daar ’n toilet, het dié mense geëet?

“Tjoepstil, tjoepstil . . . boetie. En ek kan jou sê, as die staat iets daaraan wou doen, sou die eerste ouens wat knyp en klap, die Kamer van Mynwese gewees het.”

Engelssprekende stedelike Suid-Afrikaners was ook nie so onskuldig in die verlede nie, voeg Van Onselen by.

“Een van die dinge wat in ons ongeletterde geskiedenis ingevou is, is dat Engelssprekende stedelike Suid-Afrikaners deur die bank liberaal en oopkop en akkommoderend was. Hulle was nie. Hulle was net soos die res. Hulle het keer op keer gestem vir wat later stedelike segregasie geword het.

“Tweegatjakkalse. Tog is hul geskiedenis silwerskoon. Afrikaners het mos oor hulle baasgespeel, soos veral ná 1948 wel die geval was, maar hulle is silwerskoon in terme van hul denke en hul algemene goedhartigheid en rasseverhoudinge.”

Dit is nie waar nie, sê Van Onselen. Hulle is boonop oneerlik omdat hulle nie Afrikaner-nasionalisme en swart nasionalisme oor dieselfde kam skeer nie.

’n Komplekse geskiedenis vol pyn

Prof. Charles van Onselen bespreek The Night Trains met Fred Khumalo op die bekendstelling van dié boek in die Randse Klub. Foto: Eugene Ashton, Jonathan Ball

Stellings soos dié bewys net weer dat die Suid-Afrikaanse geskiedenis uiters kompleks is. Dit is nie bloot net ’n geval van dat alles goed gegaan het in die pre-koloniale era voor 6 April 1652 en dat dit daarna steeds goed gegaan het behalwe vir wit mense wat grond gesteel en ander onderdruk het nie.

Boonop was die oorgang in 1994 nie perfek nie. Niemand het gekry wat hy wou gehad het nie en niemand het die oorlog gewen nie en ’n kompromie moes aangegaan word. Dit was nie ’n perfekte feëverhaal-einde nie, maar gelukkig darem ook nie ’n volslae nagmerrie nie.

Maar nou gaan dinge sedert 1994 nie te goed nie.

“Suid-Afrikaanse geskiedenis is só vol pyn dat ons nou by ’n punt is waar niemand eienaarskap van ons geskiedenis wil neem nie.

“Daar is nie ’n groot en glorieryke storie om te vertel nie, wat dinge twee keer meer pynlik maak.”

Ons skryf ons geskiedenis doodeenvoudig asof die bruin mense en die Indiërs nie bestaan nie.

Dan is daar nog iets anders oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat Van Onselen hinder.

“Ons is só behep met die swart/wit-ding, jy weet, dit maak my mal. Ons skryf ons geskiedenis doodeenvoudig asof die bruin mense en die Indiërs nie bestaan nie. Dit is verregaande.”

Hy is maar versigtig vir die begrip “nasiebou”, sê Van Onselen, maar as jy werklik ’n veelrassige, multikulturele nasie wil bou, moet dié twee groepe ook in ag geneem word.

Hy verwys na ’n haat en afkeer aan Suid-Afrikaners van Indiese afkoms deur wittes en swart nasionaliste. “Maar hulle kan ons verstaan van godsdiens, kultuur, filosofie, kuns en taal verbreed.”

Geskiedenis in gevaar

Alle geskiedenis het ’n beperkte raklewe en sal oorgeskryf word. Foto: Simon Sonnekus

Van Onselen is bekommerd dat geskiedenis in gevaar is weens toenemende (letterlike én figuurlike) ongeletterdheid en die agteruitgang van museums, biblioteke en argiewe.

Daarby is daar in Suid-Afrika ’n oordrewe klem op die erfenis-aspek en is daar nie genoeg kritiese geskiedskrywing nie.

Erfenis help om mense te mobiliseer en hulle goed oor hulself te laat voel deur klem te lê op sekere uitgesoekte dele van die geskiedenis.

“Dit gaan oor nasionalisme, toerisme en die potensiaal om geld te maak. Geskiedenis is nie só nie. Geskiedenis is ’n private aktiwiteit wat ontwerp is om komplekse vrae te vra en jou op ’n kritiese manier oor die verlede te laat dink.

“Die vraag is nie of ons moet kies tussen erfenis en geskiedenis nie. Daar is ’n plek vir albei. Erfenis moet onderlê word deur uitstekende geskiedenis.”

Dit pla verder dat ons intellektuele agendas in Suid-Afrika so verbeeldingloos is.

“Ons wou geldmaak uit diamante, ons wou geldmaak uit goud,” sê prof Charles van Onselen oor die industrialisasie van Suid-Afrika. Foto: Simon Sonnekus

Volgens van Onselen het alle geskiedenis ’n raklewe en word dit voortdurend oorgeskryf deur historici wat gevangenes van die hede is.

“Alle geskiedenisboeke, insluitend en veral myne, sal vervang word. Die vraag is nie of hulle vervang sal word nie, maar hoe lank hulle sal hou voordat hulle vervang word. ’n Goeie boek wat dieperliggende waarhede bevat sal 10, 20, 30, 40 jaar hou en daar sal een, twee, drie, vier uitgawes wees en mense sal dit weer lees.

“Dit is waarna historici moet strewe: Hoe om die raklewe van ’n geskiedenisboek te verleng sodat dit oor 30 of 40 jaar steeds gelees kan word en mense kan sê dit bevat waarhede en dit gryp hulle aan.”

Geskiedskrywers kan in hierdie proses nie wegdeins van die ironieë van die geskiedenis nie.

“Geskiedenis is nie wetenskap nie. Dit is vol doodloopstrate, verkeerde rigtings, ironieë en dubbelsinnighede en onopgeloste dinge. Dit gaan oor mense met al hul swakhede.”

Meer oor:  Kamer Van Mynwese  |  Suid-Afrika  |  Mosambiek  |  Liberalisme  |  Erfenis  |  Geskiedenis  |  Mynbou  |  Kolonialisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.