Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Ons wil nie NGK brand nie’

Hy is nie die NG kerk se handperdjie nie, maar hy beplan ook nie om die kerk hel te gee nie, sê die nuwe redakteur van Kerkbode aan Murray La Vita.

Le Roux Schoeman in Kerkbode se kantoor in Wellington by van die vroeë uitgawes van dié publikasie waarvan die eerste uitgawe in Januarie 1849 verskyn het. Foto: Jaco Marais

’n Effens oorstuurse Le Roux Schoeman (40) ontmoet ons by die imposante voordeur van die ou gebou in Wellington waarin die kantoor van Kerkbode gesetel is.

Le Roux is sedert Januarie die redakteur van die Nederduits Gereformeerde Kerk se 170-jaar-oue-blad en die tweede uitgawe onder sy redakteurskap is kort voor ons besoek voltooi. Kerkbode het pas “gesak”, sou mens in koeranttaal sê.

Die onderhoud vind plaas in sy kantoor op ’n boonste verdieping van die gebou. Vanuit ’n venster agter hom in die Hessekwaberge sigbaar.

Op ’n vraag of Kerkbode ’n ruimte is waarin hy sy eie mening gaan lug, sê Le Roux hy sien die koerant nie as ’n kansel nie maar eerder as ’n aansteekbord.

Kerkbode is die kerk se amptelike koerant, maar sy rol is om onafhanklik te wees. So, hy moet verteenwoordigend wees van die stemme in die kerk. Jy moet dus daardie balans handhaaf.

Dis vir my maar nog ’n learning curve . . . hierdie is maar my tweede uitgawe.

“My benadering daartoe is om die redakteursbrief te gebruik om te sê waarmee is ons besig; wat gaan aan; wat sê ons lesers vir ons. Eerder dít as wat ek myself nou iewers gaan afsonder vir ’n dag en dan sê: Hier is hoe ek voel oor X.

“Soos hierdie week sê ons twee mense het vir ons geskryf oor die rol van jong mense binne die gemeentes en dat dit soms skadelik is om hulle net uit te stuur Sondagskool toe; moet hulle nie liewer in die kerk wees nie?

“Dan voel ons ’n rol wat ons kan speel, is om ’n peiling op Kerkbode se webwerf te doen en te hoor hoe ander mense daaroor dink. Ons win opinies in en raak amper ’n klein peilingsinstrument. En die redakteursbrief is ook ’n lekker spasie om daardie soort metanuus in oor te dra.”

“Dis vir my maar nog ’n learning curve . . . hierdie is maar my tweede uitgawe.”

Nie ‘bestem vir bediening’

“Ek dink baie outsiders is aangetrokke tot joernalistiek en as jy lank genoeg ’n joernalis bly, versterk dit daardie outsiderskap.” Foto: Jaco Marais

Le Roux het ’n B.Th-graad aan die Universiteit Stellenbosch behaal voordat hy ’n honneursgraad in joernalistiek aangepak het. Wou hy aanvanklik ’n dominee word?

“Ek was, en is nou nog geïnteresseerd in die ou nabye Oosterse studies en die vakke Grieks en Hebreeus. Ek was nie presies seker wat ek wou doen nie, so dit het vir my gevoel na . . . Ek het geweet dit val uiteen in twee grade, ’n voorgraads en ’n nagraads – so daar is ’n gaping in die middel – en dit het vir my begin lyk na ’n baie stewige BA.

“Ek dink nie ek was ooit ‘bestem vir die bediening’ en daardie klas van goed nie; dis meer nou maar net die veld wat my geïnteresseer het.”

Hy het uiteindelik ’n bekroonde joernalis geword binne die Media24-stal en was aan die voorfront van die ontwikkeling van die maatskappy se digitale nuusplatforms. In 2017 het hy bedank uit sy pos as multimediaredakteur van Netwerk24 en ná ’n jaar van vryskutwerk het hy vir die pos as redakteur van Kerkbode aansoek gedoen.

Wat het hom laat besluit om uit die wêreld van harde nuus, waarin hy van politiek en misdaad tot die konflik in Sirië verslag gedoen het, na Kerkbode te beweeg?

“Ek dink dit is ’n interessante uitdaging. ’n Dominee-vriend van my het vir my die advertensie vir die pos aangestuur. Uit die aard van die saak is dit nie die soort pos wat baie oopgaan nie, so dit is nie iets waaraan ek sit en dink het nie want mens dink daaraan as ’n gevulde pos; dit is soos ’n ligtoringbestuurder of whatever; dis een van dáái poste.

“Toe kyk ek na wat dit is . . . Ek het enersyds daaroor gedink en andersyds dit net nie óórdink nie. En toe doen ek aansoek.

“Baie van Kerkbode se uitdagings is van die goed waarby ek al betrokke was, naamlik om te probeer om iets vanuit ’n printwêreld na ’n digitale wêreld te vat en hoe om ’n digitale gehoor te groei, want ons probleem word opgesom in daardie grafiek,” sê hy en wys na die bord teen die muur oorkant ons.

“Dis die probleem van ’n dalende druksirkulasie met die belofte van ’n stygende digitale sirkulasie en hoe om daardie kloutjie by die oor te bring.”

Wil nie die kerk brand nie

Le Roux Schoeman in sy kantoor in Wellington met die eerste uitgawe van Kerkbode wat onder sy redakteurskap verskyn het. Foto: Jaco Marais

Is daar enige spanning tussen sy eie beginsels en die beleid van die NG Kerk, byvoorbeeld betreffende gay lidmate?

“Ek dink dit is belangrik om my te bepaal by my rol, en die rol is om die bes moontlike nuusblad vir die kerk uit te bou. Natuurlik is daar ’n verskil tussen die kerk en Kerkbode.

Kerkbode is ’n platform wat verslag doen oor die kwessies binne in die kerk; dis ’n weerspieëling van wat in die kerk aangaan.

“Wesenlik het ons die kerk se beswil op die hart. Ons is nie ’n inwonende Vrye Weekblad wat die kerk wil bránd om elke hoek en draai, en expose nie. Ons is inherent lojaal teenoor die kerk.

“Nou wil mense jou altyd as ’n tipe skoothondjie opdress en hulle probeer vir jou een van nét twee opsies gee: Óf jy gee die kerk hel of jy is sy handperdjie, en dít is die enigste twee opsies tot jou beskikking. Ek probeer net sê dít is nie twee ekstreme wat ék beleef nie. Ek dink ’n mens kan redelikerwys deur bloot joernalistieke beginsels toe te pas sê ons doen na die beste van ons vermoë verslag in die nuusblaaie oor wat aan die gang is en in die meningsblaaie probeer ons so oop en verteenwoordigend bly; ons gee vir al die rolspelers so veel as moontlik ruimte om hulself in uit te druk.

Eerder as om nou te baklei daaroor, vra ons wat dink die mense.

“Dít is die ideaal. Daardie ideaal kom natuurlik onder druk want almal maak foute, so aan redakteurskant kan jy dit verkeerd kry.

“Ek wil dit in verband bring met [dalende] lidmaatgetalle. Hoe ek ons rol sien, is . . . daar is geen leedvermaak of Schadenfreude in hoe ons daaroor verslag doen nie. Die behoefte is om te sê wat sê die data en dan by die beste breine . . . en harte in die kerk uit te kom en te vra: ‘Hoe verstaan julle hierdie goeters?’

“Dít is die rol van die media; en die battle cry wat ons nou maar aanneem, is: Meer lig as hitte. Eerder as om nou te baklei daaroor, vra ons wat dink die mense. Hierdie is ’n feit; die kerk se eie koppetelling, wat niks met Kerkbode te doen het nie, wys hierdie getalle. En dan probeer ons net ’n joernalistieke laag inbou bo oor daardie dinge en kommentaar kry daaroor en lesers daarby betrek.

Kerkbode is die enigste publikasie wat daardie gesprekke gaan fasiliteer; die hoofstroom koerante het nie ’n hond in daai fight nie – hulle wil net rapporteer wat die opskrif is: Die kerk verloor al sy mense . . . moving on to the next thing.

“Dis vir my belangrik om te sê mý opinie daaroor geld nie. My rol is om kommentaar te kry by die algemene sekretaris van die NG kerk of by dominees; dít is die waarde wat ons toevoeg tot so ’n ding.”

Pelgrimstog?

Ds. Alex Clark en Le Roux Schoeman in Jerusalem aan die einde van hul maandlange reis van Bethlehem na Betlehem. Foto: Verskaf

Le Roux en ds. Alex Clark, ’n vriend, het in Desember ’n reis onderneem van Bethlehem in die Vrystaat na die Betlehem waar Christus gebore is.

“Ons het die reis begin reël voordat ek vir die pos by Kerkbode aansoek gedoen het, so dit is nie asof . . . maar dit was op ’n manier goeie voorbereiding. Vir my om net weer rêrig ’n groot tree terug te gee in Christendom en te sien: Ja. dit is verskriklik belangrik wat in ’n comment onder aan ’n storie of in ’n nuusbrief staan, en wat nóú en by laas maand se sinode gebeur het, maar die groter prentjie is dat hierdie hele proses al 2 000 jaar aankom.”

Hulle was op Kersdag in Betlehem in die Palestynse gebied.

“Ons het gestap van Jerusalem af – dis omtrent 15 km – tot in Betlehem. Jy stap deur die grenspos en dan skielik is jy in hierdie totale ander omgewing en almal praat Arabies.

Die slegte nuus is dat die Jesus Trail baie sleg gemerk is. Op ’n sekere punt moet jy oor snelweë hardloop.

“Ons het eintlik van die Kaap af gery . . . deur die Kaap en die Vrystaat en soveel as moontlik kerke besoek. Al was dit in die week het ons gestop en net gekyk hoe die goed lyk. Dis amper net soos ’n oudit van plekke van aanbidding op ’n baie informele vlak. Soos in Sutherland en Loxton en Ladybrand – ál daardie klein kerkies.

“En dan het ons ’n diens bygewoon in Bethlehem (Vrystaat) net om die ding so half ’n simmetrie te gee. Toe het ons, net om tyd te bespaar, na Ethiopië gevlieg wat ’n tipe van ’n middelpunt is. Ons het toe ’n week daar deurgebring by daardie rotskerke in Lalibela, wat absoluut ongelooflik is. Ethiopië is al Christen van die vierde eeu af. So daardie Christentradisie en -beskawing is baie anders; daar is baie ander invloede en dit is verskriklik outentiek.

“In Israel het ons baie gestap. Daar is ’n ding wat hulle noem die Jesus Trail wat jy stáp. Jy stap van Nasaret af na die See van Galilea. Die slegte nuus is dat die Jesus Trail baie sleg gemerk is. Op ’n sekere punt moet jy oor snelweë hardloop. Ek het vir Alex gesê dis amper asof jy die Otterwandelpad oor die N2 laat gaan,” sê Le Roux en glimlag.

Dunner membraan

“Meer lig as hitte. Eerder as om nou te baklei daaroor, vra ons wat dink die mense.” Foto: Jaco Marais

Was daar ’n spirituele beweegrede vir die reis?

“Daar is so ’n sêding wat ek opgetel het: ‘You can’t think your way into right acting; you have to act your way into right thinking.’ My doel met die reis was op ’n manier om te sê: As jy na genoeg van hierdie plekke toe gaan, is dit net ’n maklike manier om weer in verbinding te tree met . . . prof. Nelis Niemand praat van die belang van stil plekke, en verwys onder meer na retraitesentrums waar ’n mens kan stil word. Hy verwys ook na heilige plekke ‘waar die membraan tussen die heilige en die gewone baie dun is’.

[Le Roux se voorganger Neels Jackson haal Niemand so aan in ’n onderhoud in die jongste Kerkbode.]

“So ek dink mens gaan met ’n mate van soeke na hierdie plekke, maar ook net om waar te neem hoe ander mense daarmee omgaan. As ’n joernalis . . . Ek dink baie outsiders is aangetrokke tot joernalistiek en as jy lank genoeg ’n joernalis bly, versterk dit daardie outsiderskap. So as ek op ’n plek soos by die Klaagmuur is, is ek ná die tyd altyd effens teleurgesteld in myself dat ek meer tyd daaraan bestee het deur te kyk hoe reageer mense daarop as om rêrig sélf te gaan engage met die muur. Dit raak ’n gewoonte. Soms is dit ’n goeie ding, maar ek dink nie dit is altyd ’n goeie ding nie.

Dis moeilik want daar is baie toeriste en ek is seker ’n bietjie aandagafleibaar want ek begin rondkyk en ek karring altyd met kameras.

“Dit raak ’n storie oor ’n pelgrimstog eerder as ’n pelgrimstog. Ek probeer in myself nog verteer presies wat ek gesien het. Dit is nogal baie om aan te herkou.”

Het die “membraan” op enige gegewe plek wel vir hom “dun geraak”?

“Kyk, daar is die Via Dolorosa, die Lydensweg [van Christus] nè. Dis moeilik want daar is baie toeriste en ek is seker ’n bietjie aandagafleibaar want ek begin rondkyk en ek karring altyd met kameras. Daar is ’n klomp goed wat veroorsaak dat ek myself nie heeltemal in die oomblik kan bevind nie.

“Daar is ’n punt waar jy kan sien die stad Jerusalem soos wat hy nou is, sou opgehou het en waar Jesus dan met sy kruis uit die stad sou uitbeweeg het, en dan sou dit nou rêrig veld en koppie geraak het waar hy uiteindelik gekruisig is.

“Dis moeilik om daardie goed te verbeel; dis moeilik om in tyd terug te gaan en in beelde terug te gaan en al hierdie goed te probeer verstaan.”

Meer oor:  Murray La Vita  |  Le Roux Schoeman  |  Godsdiens  |  Ng Kerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.