Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Onthul: ‘Dramas en intrige’ van ‘vuil’ tabakbedryf

Groot tabakmaatskappye in Suid-Afrika en elders in die wêreld smokkel al vir dekades met hul eie produkte, sê Telita Snyckers aan Murray La Vita. Sy het pas ’n boek geskryf waarin sy ook beweer dié maatskappye doen die belastinggaarder met miljarde rande in.

Telita Snyckers skryf in haar boek 'Dirty Tobacco: Spies, Lies and Mega-profits' die groot tabakbedryf beheer wat ons lees, hy beheer wat ons politici doen, en hy beheer wat ons wetstoepassers ondersoek. Foto: Jacob Norgaard

Indien sy nie die prokureur geword het wat haar oor die afgelope twee dekades in Suid-Afrika en elders in die wêreld besig gehou het met die bestryding van maatskappye en misdaadnetwerke se pogings om al groter winste te maak en so min as moontlik of geen belasting te betaal nie, sou Telita Snyckers ’n professionele fotograaf gewees het.

Op die Zoomskerm is daar agter haar ’n groot foto van Kampsbaai en die Gewelberge wat tot op die horison uitstrek – sý het dit geneem. Ook elders in haar huis hang haar foto’s van Suid-Afrika en Suid-Afrikaners. Sy woon tans saam met haar gesin in Indonesië waar haar man as meubelontwerper en -vervaardiger werk. Maar die verlange na haar tuisland is groot.

“Ek is so tien jaar gelede weg uit Suid-Afrika. My man het in daardie stadium in Singapoer gewerk en sedertdien het ons Indonesië toe getrek,” sê sy.

‘Derduisende stukke papier’

Snyckers se boek Dirty Tobacco: Spies, Lies and Mega-profits het pas by Tafelberg verskyn. Dít is die fokus van ons onderhoud.

“Ek het aanvanklik ’n boek begin skryf oor wat hierdie ouens [groot tabakmaatskappye] aanvang op ’n internasionale vlak. Ek wou gaan kyk wat het hulle in byvoorbeeld China gedoen; en meer spesifiek wou ek kyk hoekom kom hulle daarmee weg – wat is hul strategie en taktiek. So, aanvanklik het my manuskrip baie spesifiek níks oor Suid-Afrika ingehad nie.”

Haar uitgewer het op ’n Suid-Afrikaanse hoek aangedring.

“Ek was bang om dit te doen, want ek was nie seker of ek daaraan reg kon laat geskied nie. Dis soveel dramas en intrige en dis soveel smoke and mirrors.

“Maar hoe meer ek daarna begin kyk het . . . Mense was besonder vrygewig met inligting en met bewyse.”

Sy het uiteindelik “derduisende stukke papier” en inligting op geheuestokkies gekry.

“Dit het lank geneem om daardeur te werk, maar dit het dit moontlik gemaak om ’n Suid-Afrikaanse storie op ’n nuwe manier te vertel en om dan daai lyn te trek tussen wat ek gesien het hulle op ’n internasionale vlak doen en wat in Suid-Afrika gebeur het.”

Inligting oor vyande

Waarom dink sy was mense so “vrygewig” met inligting?

Snyckers beskryf in Dirty Tobacco hoe groot tabakmaatskappye internasionaal en in Suid-Afrika die kuns vervolmaak het om tonne sigarette te laat verdwyn en dan daarmee te smokkel.

“Eerstens: Mense is altyd bereid om inligting te gee teen hulle vyande, so van die inligting wat ek gekry het was van die kleiner tabakvervaardigers. Maar ek dink daar is ook ’n ander hoek. Suid-Afrikaners voel ontnugter en ontmagtig. Hulle is só moeg vir gesprekke oor staatskaping, só moeg vir gesprekke oor korrupsie en hulle voel magteloos.

“En ek dink toe ek mense eers kon oortuig dat ek glo ons kan ’n storie vertel wat ’n verskil gaan maak, was dit bemagtigend. Dit was soort van . . . Ons kon ’n bietjie van ons persoonlike mag terugwen. ’n Geval van: Hier het ek ’n geleentheid om iets te doen aan kaping en korrupsie; om my klein deel te doen om op te staan teen die misbruik van staatsmag. Mense wil ’n kans hê om hulle stories te vertel.”

Sigarette wat verdwyn

Snyckers beskryf in Dirty Tobacco hoe groot tabakmaatskappye internasionaal en in Suid-Afrika die kuns vervolmaak het om tonne sigarette te laat verdwyn en dan daarmee te smokkel.

“Dit gebeur op verskillende maniere. Kom ons neem wat in Suid-Afrika gebeur as ’n tipiese voorbeeld van hoe sleg beheer eintlik in baie lande in die wêreld is.

“So, jy weet ons betaal belasting op ’n pakkie sigarette as dit geoormerk is vir die plaaslike mark. Jy kan op een van twee maniere mínder belasting betaal. Die eerste een is jy maak sigarette en jy verklaar eenvoudig nie die volle volume aan die belastinggaarder nie. Dié wat jy nie verklaar nie, kan jy dan belastingvry verkoop.”

‘Vervals dokumente’

“Mense was besonder vrygewig met inligting en met bewyse.” Foto: Jacob Norgaard

Dan is daar nog ’n manier, wat “ ’n bietjie meer gesofistikeerd is”.

“Jy maak asof jy die pakkies vir uitvoer vervaardig het of sê maar vir die belastingvrye winkels op lughawens. Jy kan dan actually die pakkies régtig uitvoer na ’n ander land – Botswana of waar ook al – en dieselfde vragmotor maak ’n U-draai en hy bring eenvoudig daai pakkies net terug na Suid-Afrika toe. So dit lyk asof hulle uitgevoer is, maar hulle is steeds op die plaaslike mark verkoop, maar sonder belasting.

“Óf, selfs makliker, jy vervals eenvoudig die uitvoerdokumente. Met ander woorde: Jy verklaar aan Sars die pakkies gaan uitgevoer word; jy vervals die uitvoerdokumente en daardie pakkies bly eenvoudig op die Suid-Afrikaanse mark. Jy betaal nooit belasting daarop nie.”

Sy skryf in Dirty Tobacco dit het uit interne dokumente van 'n tabakmaatskappy aan die lig gekom dat smokkeloperasies amper sonder twyfel plaasvind met die medewete, en dikwels betrokkenheid, van senior amptenare in dié maatskappy.

Dit blyk trouens dat uitvoerende amptenare van die maatskappy in beheer geplaas is van verskeie smokkeloperasies.

Beter beheer

Biografie

Telita Snyckers is ’n prokureur wie se terreine van kundigheid insluit belasting en doeane. Sy was tussen 1999 en 2010 in diens van die SAID waar sy nou saam met Pravin Gordhan en Ivan Pillay gewerk het en deel was van die oprig van die ontvanger se Spesiale Eenheid vir Belastingpligtigheid (Special Compliance Unit) en later aan die stuur gestaan het van landwye ondersoeke na misdadige bedrywighede. Sy was ook ’n beleidsraadgewer in die kommissaris se kantoor.

Nadat sy die SAID verlaat het, het sy in 25 lande wêreldwyd gewerk soos Serwië, Ethiopië, Jordanië en Singapoer. Sy het klante soos die Internasionale Monetêre Fonds van raad bedien oor belasting- en doeanehervorming.

Sy het ’n meestersgraad in konstitusionele reg en diplomas in onder meer valutabeheer en die bestryding van geldwassery.

In Suid-Afrika is dit baie maklik om daarmee weg te kom omdat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) nie produksiebeheermaatreëls het nie, sê sy.

“Sars vertrou op die integriteit van tabakvervaardigers om te verklaar hoeveel pakkies sigarette hulle vervaardig. So, as ’n doeane-ou of ’n polisielid ’n pakkie sigarette in ’n winkel of ’n spazawinkel kry, is daar géén manier om ’n spesifieke pakkie terug te spoor na ’n spesifieke tabakvervaardiger nie.

“So, hoe hou jy enigiemand aanspreeklik? Hoe gaan jy na British American Tobacco (Bat) of na Carnilinx of na Amalgamated Tobacco toe en sê: ‘Hierdie pakkie kom van jou produksielyne af, so jý moet die belasting daarop betaal.’

“Daar is ander issues wat ’n bietjie krap in Suid-Afrika, byvoorbeeld, een van die maniere hoe jy dit beter kan beheer, is . . . Daar is ander goed wat in sigarette ingaan, soos die sigaretpapier en die filters. So, as jy dáárdie bedryf kan beheer dan beheer jy in effek die vervaardiging van sigarette. En sover ek weet is daar iets soos drie maatskappye in die wêreld wat sigaretfilters vervaardig.

“Al wat Sars hoef te doen, is om die invoer van sigaretfilters te beheer en jy beheer outomaties meer van die mark.”

‘Goue era’

“Wat my bekommer is ons weet wanneer Bat onder druk is, speel hulle vuil.” Foto: Jacob Norgaard

Snyckers dink aan haar tyd by die SAID – tussen 1999 en 2010 – as ’n goue era.

“En ek dink dit was toe minder pynlik om belasting te betaal, want belastingbetalers in Suid-Afrika was tróts op Sars.

“Dit was ámper ’n plesier om belasting te betaal, want dit het ámper gevoel of jy ’n verskil maak en asof jy iets doen wat belangrik is vir ons land. En hierdie lot het dit alles ongedaan gemaak.

Selfs wanneer die verbod op die verkoop van tabakprodukte opgehef word, is ek baie seker dat baie rokers gaan aanhou om onwettige sigarette te koop.

“Dis nie net Sars se vermoë wat erg geknou is nie; dit het ook Suid-Afrikaners se vermoë om trots te wees op iets geknou. Sars was amper ’n samebindende faktor . . . Ons het dalk oor ander dinge verskil, maar die meeste mense het saamgestem dat Sars ’n goeie job doen en dat ons tróts is op wat by Sars gebeur.

“Ek dink nou met die verbod op die verkoop van tabakprodukte . . . Selfs wanneer dit opgehef word, is ek baie seker dat baie rokers gaan aanhou om onwettige sigarette te koop. Dis ’n manier om standpunt in te neem, om vir die regering te sê: ‘Ons keur nie jul optrede goed nie. Ons keur nie goed hoe julle ons belastinggeld bestee nie.’

“Ek is amper spyt dat ek nie rook nie, want dit is ’n manier om die punt te maak dat Suid-Afrikaners moeg is vir ’n regering wat hulle belastinggeld mors."

Grootste speler

“Mense wil ’n kans hê om hul stories te vertel.” Foto: Jacob Norgaard
Snyckers sê Bat sal ná die opheffing van die verbod op die verkoop van tabakprodukte steeds die grootste speler in die Suid-Afrikaanse tabakbedryf wees.

“Maar ek dink nie dit gaan die 75% wees wat dit voor die verbod was nie. Ek is taamlik seker dat dit dramaties minder gaan wees.

“So, voor die lockdown het die onwettige mark op so 35% gesit, wat báie hoog is. Toe Honey Badger [een van die ondersoekeenhede in die SAID wat deur die toenmalige kommissaris Moyane ontbind is] aan die gang was en suksesse begin behaal het, was die onwettige mark af tot so 14%.

“Dit het dus dramaties gegroei en ek dink dit gaan ná die verbod op tabakverkope opgehef is, nóg groei. Myns insiens is die rede daarvoor die feit dat belastingbetalers van hul magte wil herwin.”

Sy sê dit is interessant dat al die gesprekke oor tabak tot Desember verlede jaar deur die Tobacco Institute of Southern Africa (Tisa) gedryf is.

“Hulle was soort van ons groot bron van inligting. Maar wat intussen gebeur het nadat Tisa in duie gestort het, is dat Fita, die Fair-Trade Independent Tobacco Association, wat altyd maar gelukkig was indien hulle by gesprekke betrek is, se profiel báie gegroei het.

Ons weet in Suid-Afrika is R30 miljard van ons pensioengeld in ’n tabakmaatskappy belê.

“Ek sien op sosiale media hoe mense nou vir Fita ondersteun en hulle sien as die goeie ouens wat die battle vir die rokers fight. So, ek dink hulle profiel en geloofwaardigheid gaan baie toeneem as gevolg van die baie rasionele manier waarop hulle met die verbod omgegaan het.”

Fita doen tans in die hooggeregshof aansoek dat die regering se verbod op die verkoop van tabakprodukte ongeldig verklaar moet word.

“Ek het na hul pleitstukke gekyk – dis ’n beautiful stuk werk. Die argument wat hulle teen die regering aangevoer het, is prágtig geskryf. Dit laat my my dae as ’n prokureur mis.

“Ek dink dit gaan hulle baie help en dat dit Sars en ander regeringsinstansies gaan forseer om Fita baie meer ernstig op te neem. Dit gaan die dinamika verander van hoe Sars met Fita aan die een kant en dan Bat aan die ander kant skakel."


‘Afhanklik van tabakbedryf’

Snyckers praat oor waarom die groot tabakmaatskappye “wegkom met al hul streke”.

“Die grootste rede is juis dat ons ekonomieë só afhanklik is van hulle. Ons weet in Suid-Afrika is R30 miljard van ons pensioengeld in ’n tabakmaatskappy belê. So, as hulle aandele sleg vaar, dan gaan my ma volgende maand nie kos kan bekostig nie.

Maar ’n mens moet ook in gedagte hou dat dit die belastingbetaler R57 miljard per jaar kos wat die gesondheidskoste wat met rook geassosieer word, betref.

“Daar is ook argumente dat indien die tabakbedryf sou vou, gaan Sars R17 miljard per jaar verloor wat hulle op ’n ander manier sal moet opmaak.

“Maar ’n mens moet ook in gedagte hou dat dit die belastingbetaler R57 miljard per jaar kos wat die gesondheidskoste wat met rook geassosieer word, betref.

“So, as ons die R17 miljard verloor, gaan dit nog ’n paar jaar neem wat ons daardie R57 miljard moet dra, maar in ’n stadium gaan dit eintlik goed wees vir die belastingbetaler, want mettertyd gaan ons nié meer daardie R57 miljard se uitgawes hê nie,” sê sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.