Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Ontmoet Nuweland se roomys-baron

Mohammed Cassiem is so eie aan Nuweland se rugby- en krieketerfenis as Eddie Barlow se hardnekkige kolfwerk en Percy Montgomery se korrelwerk pale toe. Willemien Brümmer het “Hansie se beste vriend” ontmoet.

Mohammed Cassiem verkoop al 51 jaar roomys op Nuweland. Foto: Jaco Marais

Mohammed Cassiem loop soos ’n wafferse popster deur die toeskouers by Nuweland se krieketstadion. Sy aksent is iets tussen Kaapse Vlakte en Queen’s English.

“Good morning, good morning everyone, Good afternoon! What about you, young lady? I’ve got a sucker to make your boyfriend wakker!”

Hy stop langs ’n Brit en glimlag triomfantelik toe die man sy selfoon uitpluk. “You see, they want to take photos, I don’t mind,” sê hy gemaak-beskeie. “My face is going around the world.”

Groter as lewensgroot, dié roomysverkoper wat al vir 51 jaar op Nuweland sy King Cones smous met sy blou Dairymaid keps en sy rooi koelboks. Net so eie is hy aan dié stadions se rugby- en krieketerfenis as Eddie Barlow se hardnekkige kolfwerk en Percy Montgomery se korrelwerk pale toe.

Vandag, hier, op die vyfde eendagwedstryd tussen Suid-Afrika en Pakistan is dit moeilik om met hom te praat sonder dat iemand ons onderbreek vir ’n foto of ’n geselsie. Hy praat seepglad en aan ’n aaneenlopende band.

Hy glimlag en klap op sy koelboks soos ’n ryk man.

“My neighbour se kind innie Mitchells Plain het gegaan matriek toe en sy ma en pa het bietjie heavy gekry, toe sê ek vir hom: ‘Bring jou stationary list’ en toe vat ek hom Pick n Pay toe en toe spend ek ’n duisend rand op hom. Ek het vir hom al sy goeters gekoop – sy pencils, sy rulers, sy calculator alles.”

Hy glimlag en klap op sy koelboks soos ’n ryk man. In die eerste drie en ’n half dae van die toets teen Pakistan het hy R4 500 se wins gemaak. “Ek kry daai geld terug, verstaan juffrou, soos die mense by my kom koop. Die mense hulle hou van my!”

Hy kén van swaarkry. Gebore in Pontacstraat in Distrik Ses en sy verstand gekry in Fractreton as een van tien broers en twee susters.

“Ek het maar standerd vier uit die skool gegaan, want kyk, daai tyd was die lewe ’n bietjie swaar. Ons moet gaan werk het en dan het ons nou vir onse ma en pa gehelp en so het ek gekom aan die roomys.”

Hy lig sy regterhand en regterpinkie omhoog soos ’n Shakespeariaanse akteur. “Vrydagmiddagse het ek eerste my vloere afgewas wat my ma my gegee het en ek het dié gedoen en daai gedoen en dan sê ek vir my ma-hulle: ‘Kyk hier, ek gaan nou bietjie sokker toe.’”

Hy spreek die woord “sokker” uit as “sjokker”.

Die volgende mylpaal in sy loopbaan was toe iemand vir hom sy beroemde kwinkslae geleer het.

Sy loopbaan het begin toe hy nog op skool was en ’n vreemdeling op Groenpunt-stadion vir hom gevra het vir R10.

“Dit was ’n sokker game. Cape Town City en Hellenic. Ek het hom nie gevra vir wat is die geld nie. Ek het hom net die R10 gegee en hy het my aan die hand gevat en gesê: ‘Jy gaan nou saam met my, ons gaan nou lekker roomys verkoop.’

“Daai was in die seventies, juffrou. Toe gee hy vir my ’n ice cream jacket en toe gee hy vir my ’n boks soos hierdie. Op die jacket het gestaan Dairymaid. En hy het vir my gesê: ‘Daar is jou jacket, daar is jou goeters’, en toe het ek begint te verkoop.”

Die volgende mylpaal in sy loopbaan was toe iemand vir hom sy beroemde kwinkslae geleer het. “Die rympie wat die man vir my gegee het was ‘ ’n sucker to make your girlfriend wakker’ en ‘ ’n wafer to make your boyfriend styfer’ en ‘a lolly to make you jolly’.”

Hy lag asof dit die snaaksste grappies is wat hy nog gehoor het.

‘Ek kom nie hier vir die politiek nie’

Mohammed is ’n ou bekende by sportgeleenthede in Kaapstad en is veral bekend vir sy kwinkslae soos “ ’n sucker to make your boyfriend wakker”. Dawid van Rensburg en sy broer, Adam, poseer saam met Mohammed vir die foto. Foto: Jaco Marais

Sy geskiedenis op Nuweland gaan hand aan hand met die geskiedenis van ons wye en droewe land.

Die eerste keer toe hy op Nuweland (se rugbystadion) kom was toe die All Blacks se Maori-skrumskakel Sid Going in 1976 hier kom speel het. Die All Blacks se toer van 1967 is gekanselleer omdat die apartheidspremier, dr. Hendrik Verwoerd, nie “gekleurde spelers” wou toelaat nie.

Hy was ook op Nuweland in die 1980's tydens die Australiese krieketspan se rebelletoere na Suid-Afrika in die tyd toe Internasionale Krieketraad Suid-Afrika verban het. Die Australiese premier Bob Hawke het die groep “verraaiers” genoem en die toetskaptein Kim Hughes het daarna nooit weer internasionale krieket gespeel nie.

Nee juffrou, ek het net aangegaan met my ding en roomys verkoop. Ek kom nie hier vir die politiek nie.

Koerantopskrifte in Januarie 1986 het uitbasuin wat vryheidsvegters toe al vir jare beweer het: Die toere is deur die apartheidsregering befonds.

Mohammed skud sy kop, min gepla. “Nee juffrou, ek het net aangegaan met my ding en roomys verkoop. Ek kom nie hier vir die politiek nie.”

Dit was in dié dae dat party mense vir hom gesê het hy moenie op Nuweland roomys verkoop nie, maar hy het hom nie aan hulle gesteur nie.

“Ek het nie nog tyd vir apartheid of politics nie. Ek was net ’n man wat gegaan het vir my besigheid.”

‘Moenie worry oor die geld nie’

Mohammed Cassiem se loopbaan as roomysverkoper het begin toe ’n onbekende man vir hom R10 gevra het en hom ’n ysboks vol roomys en ’n Dairymaid-baadjie gegee het. Foto: Jaco Marais

Dis juis deur roomys verkoop dat hy sy vier kinders deur kollege gekry het. “Die een werk vir Ou Mutual, die ander een is ’n onderwyser vir Jamaica Way Primary in Mitchells Plain en die ander een is in labour law. En dan het ek my meisiekind wat vir Disaster Management werk in die Parow. Ek het vir hulle gesê: ‘Kyk hier, studeer julle net, moenie worry oor die geld nie’.”

Hy poseer vir ’n foto, gesels dan verder. “Ek het twee kinders ook ge-adopt, ’n meisie wat toe sy 26 is, toe trou sy uit my huis uit, en ’n boy, hy werk vir Shoprite. Ek het vir hulle almal grootgemaak.”

“Ek hou van al die sports, juffrou,” sê hy. “Ek hou van sokker en krieket en rugby. Ek drink nie, en ek rook nie, dís my hobby. As Manchester United speel, dan kyk ek dit op die TV.”

Op die sportvelde van die Wes-Kaap het hy byna ’n alomteenwoordige persoonlikheid geword.

“Ek is by rugby en krieket en ek is in die Paarl, ek is in Wellington, ek is in Worcester. Sondag is dit weer rugby op die Kaapse stadion en Maandag gaat ek weer Stellenbosch toe. Dan gaat ek weer die Maties rugby doen. Elke keer waar daar ’n event is, dan bel hierdie man my,” en hy wys na Anthony Downs by die Dairy Maid-stalletjie wat voor elke wedstryd vir hom ’n koelhouer, droë ys en soveel King Cones, lollies en wafels gee as wat hy wil hê.

‘Hansie was my beste vriend’

Mohammed by die Dairymaid-stalletjie by Nuweland se krieketstadion waar hy sy koelboks, droë ys en roomys oplaai. Toe Suid-Afrika teen Pakistan gespeel het het hy binne drie en ’n half dae R4 500 wins gemaak. Foto: Jaco Marais

In sy 51 jaar as roomysbaron van die sportveld het hy al baie bekendes ontmoet. “Juffrou, ek het saam met hulle geloop! Ernie Els was die ene wat vir my gesê het: ‘Mnr. Cassiem, hoe gaan dit met jou besigheid?’ en toe sê ek vir hom: ‘Met jóú sal ek nie verloor nie.’ Ek het ook nog ’n glove daar en ’n keppie met sy handtekening.

“En Hansie (Cronjé) was my beste vriend! Een jaar wat die Suid-Afrikaanse span mos in Engeland gespeel het vir die World Cup wou hy my geneem het, maar toe wil my vrou nie hê ek moet gaan nie. Hy wou hê ek moet kyk die games sodat die mense kan sien wie ek is. Ek het nog ’n das wat ek gekry het van hom en ek het ’n trui gehad wat hy my gegee het met al die handtekeninge. Ek het dit vir ’n skool gegee en hulle het dit op auction gesit en hulle het dit verkoop.”

En toe Hansie skynbaar “deur die duiwel verlei is” om betrokke te raak by wedstrydknoeiery?

“Juffrou, hoe kan ek sê? Ek kan nie sleg praat van hom nie. Wat hy gedoen het, daai is sy probleem. Hy het van my gehou en hy was my idol en hy het my opgetel. Enige iets wat ek gevra het, het ek gekry.”

Hy tel sy ander weldoeners af op sy vingers.

“Soos Eric Simons het vir my gegee ’n bat en gloves, en soos Eddie Barlow en Clive Rice – daai was manne wat sommer na jou gekom het. Daai was nie mense wat in die apartheidsjare gesê het ek kan nie met mnr. Cassiem worry nie.”

Ek was die beste roomysverkoper in die Kaap.

Hy haal sy selfoon uit en wys vir my ’n foto van hom saam met Makhaya Ntini, die eerste swart krieketspeler wat vir die nasionale span gespeel het. “Dís die mense wat ek mee staan. Hulle kom na jou toe en vra: ‘Hoe is die besigheid?’ ‘Wat maak jou kinders?’ Dís nou lekker mense, juffrou.”

Die voormalige Protea-snelbouler Morné Morkel het glo voor sy uittrede uit internasionale krieket vir hom sy karsleutel gegee en gesê: “Maak my boot oop en vat vir jou alles.”

Mohammed glimlag. “Toe vat ek vir my die jersey, die broek, die kêp en alles. En hy’t vir my gesê: ‘Mnr. Cassiem, ek het geweet ek kom Kaap toe en hier is jou goeters.’ Die mense was mal agter my! Die mense wil die goed gekoop het by my en ek dink toe ek kan nie hierdie goed op ’n sale sit nie.”

Dis nie net by die sportsterre wat hy gewild is nie. “Ek het iets gekry by Dairymaid ook, want ek was die beste roomysverkoper in die Kaap. Juffrou het mos gehoor toe ek hier inkom dan groet ek my mense. Ek groet hulle ‘morning lady’ en ‘morning young man’. That’s how you start your business. As ek nou miskien ’n stryery gehad het met my vrou, dan kom ek nie hier en ek is kwaad vir dié een en kwaad vir daai een nie. Nee, ek los almal daai opsy. Hier kom ek in ’n different arena en nou moet ek vir my hou soos ’n man wat besigheid doen.”

‘My hart is groen’

“Sonder die mense wat hier op Nuweland is, kan ek nie lewe nie,” sê Mohammed Cassiem. Foto: Jaco Marais

Vanuit die stadion weerklink die nasionale volkslied: Eers Nkosi Sikelel’ iAfrika en toe ‘Die Stem’.

Mohammed hou sy hand op sy hart daar waar ons sit voor die Dairymaid-stalletjie. “Ek voel groots as hulle dié lied sing, juffrou. Dis my land, ek is hier gebore. Vroeg in Januarie het daar ’n vrou gekom van Amerika en sy wil hê ek moet met haar dogter praat oor die foon. Toe sê die dogter: ‘Ma, bring hierdie man Amerika toe’. Maar toe sê ek vir die dame: ‘Dame, ek sal nie my career change nie’.”

Hy knik. “Ek geniet dit hier in Suid-Afrika. My teams is die Springbokke en die Proteas.”

Selfs in die dae van apartheid het hy nie vir die ander spanne geskree nie. “Nee juffrou, ek het hulle sommer gesê my hart is groen. Ek woon in Suid-Afrika, hoekom moet ek skree vir Nieu-Seeland of Australië of so?’

En ja, hy’s bly oor transformasie in sport.

Mettertyd was dit egter nie meer nodig om vir ander spanne te wil skree nie.

Hy was daar tydens die Nuwejaarstoets in 1993 – die eerste wedstryd op Nuweland sedert Suid-Afrika uit isolasie gekom het. Dit was ’n snikwarm toets en die krieket (Suid-Afrika teen Indië) was vervelig – maar die atmosfeer was elektries.

“Die mense was bly en mense het my ingevra en ek het hulle geantwoord en gesê dis about tyd ensovoorts.”

En ja, hy’s bly oor transformasie in sport. “Vorige jare was daar nie ’n bruin man of ’n African nie. Nou kan my kind of my kleinkind saamspeel of hulle kan saam na u se huis toe kom. In die jare wat ek opgegroei het was dit nie so nie, maar ek het gesê die tyd gaan kom wat alles gaan change.”

‘Almal is lief vir my, juffrou’

Kan hy onthou wat sy gelukkigste dag op Nuweland was?

Hy knik dadelik. “Juffrou, ek sal sommer straight sê: As ek klaar gepay is en en ek het lekker gewerk, dan sit ek die next dag by die huis en dink ek het darem lekker geld gemaak. Sonder die mense wat hier op Nuweland is, kan ek nie lewe nie.”

Hy staan op, gereed om deur die bewonderende skare ingesluk te word. Op 64 is dit vir hom geen probleem om op en af, kruis en dwars in die moordende son te loop nie.

“Hulle vra vir my: ‘Nou mnr. Cassiem, wanneer tree jy af?’

“Ek sê dan: ‘Juffrou, ek sal nie aftree nie. Ek sal doodgaan as ek by die huis sit. Cause why daar is nie action nie. Hier kan ek praat met mense, ek kan alles doen met mense. “

Hy tel sy koelsak op en trek die blou Dairymaid-keps reg oor sy kop. “I’m the famous guy in Africa!” skree hy voor hy om die hoek verdwyn.

Meer oor:  Hansie Cronjé  |  Morné Morkel  |  Makhaya Ntini  |  Nuweland  |  Sport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.