Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Ontwrigtende innoveerder

Edward Kieswetter het verlede Saterdag in Beeld oorlog verklaar teen staatskapers en vertel hoe hy die Suid-Afrikaanse Inkomstediens gaan regruk. Vandeesweek gesels hy met Carla Lewis oor sy werk- en lewensfilosofie.

Suid-Afrikaners hou aan om terug te kyk na die verlede, eerder as om ’n gemeenskaplike, toekomstige doel na te streef, sê Edward Kieswetter. Foto: Lisa Hnatowicz

In ’n onderhoud kies Edward Kieswetter sy woorde met berekening, die waarde van elkeen word versigtig opgeweeg.

Krabbel, die bordspeletjie, is immers een van sy gunsteling-tydverdrywe. Hy maak seker sy antwoorde klop, sy stellings word so versigtig soos ’n Excel-balansstaat opgestel en uiteengesit.

Dieselfde woorde duik herhaaldelik in die onderhoud op. Dien. Lei. Verbeter. Bevraagteken. Doelgerig. Koersgedrewe.

“Ek is ’n nuuskierige mens,” sê hy. “Ek is die hele tyd besig om te wonder. Hoe werk dinge? Hoekom werk dit so? Kan dit anders werk? Kan dit beter werk?”

Hy hou sy hande op.

“Sien jy hierdie twee hande? Hulle skrik vir niks nie. Ek het al huise met dié hande gebou, ek maak karre met hulle reg, ek het my eerste radio met hulle gebou.

“Toe ek nie sitplekgordels vir my motor kon bekostig nie, het ek self ’n stel gemaak,” vertel die nuwe kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

“Nood leer bid.”

Hulle het koers verloor toe hulle meer aandag aan hul finansiële state as aan hul kliënte se welstand begin gee het.

Durf om te doen

Sy Twitter-beskrywing is kort, kragtig. Leierskapdenker en -praktisyn. Spreker. Ontwrigtende innoveerder. Globale burger.

Ontwrigtende innoveerder? Dit klink soos een van daardie esoteriese gonswoorde – woorde soos “influencer” en “growth hacker” – wat baie indrukwekkend op jou sosialemedia-profiel lyk, maar eintlik niksseggend is.

“Het jy al agtergekom die enigste mense wat werklik groot vooruitgang dryf, is dié wat dit waag om die status quo uit te daag?” verklaar hy. “Mense is geneig om te vra ‘waarom’, maar soms moet jy vra ‘hoekom nie’.

CV-hoogtepunte
  • Edward Kieswetter verwerf in 1983 sy eerste kwalifikasie, ’n diploma in elektriese ingenieurswese, aan die destydse Kaapse Skiereiland-Universiteit van Tegnologie.

  • Van 1984 tot 1991 is hy dosent en hoof van ingenieurswese van die Ath­lone-technikon in Kaapstad.

  • Hy het drie meestersgrade: in sakeadministrasie, wetenskaponderrig en handel.

  • Een van sy akademiese hoogtepunte was toe hy in 1991 as ’n medeprofessor in kognitiewe studie aan die Harvard-Universiteit in Amerika aangewys is. 

  • Sleutelposte wat hy voorheen beklee het, sluit in: opwekkings- en kragaanlegbestuurder by Eskom; senior uitvoerende amptenaar en direkteur van die FirstRand Group; adjunkkommissaris van die SAID onder Pravin Gordhan; asook groep- uitvoerende hoof van die versekerings- en batebestuursmaatskappy Alexander Forbes. 

  • Hy is ook ’n gasprofessor en voorsitter van die Da Vinci-instituut, ’n sakeleierskapskool in Modderfontein, en ’n gasprofessor aan die Universiteit van die Vrystaat.

“Jy kry mense wat sê: ‘Dis hoe ons dit nog altyd gedoen het.’ Maar soms moet jy ook vra: ‘Is daar nie ’n ander manier waarop ons dit kan doen nie?’ Jy kry mense wat sê: ‘Die metode is oor en oor beproef en getoets. Ons berus hierby.’ Soms moet jy vra: ‘Maar is daar nie nogtans ’n beter manier nie?’

“Ek sê nie ons moet die baba saam met badwater uitgooi nie.” Maar ons moet leer om die stand van sake te bevraagteken en deurentyd dink: Hoe kan ek hierop verbeter?”

Maar daar moet ook moed wees om besluite deur te voer en, indien nodig, sake te ontwrig. “Ontwrigtende innovering beteken jy moet vinnig beweeg. Dis nie genoeg om te sê ‘sjoe, dis ’n goeie idee, maar ons moet nou eers mooi daaroor dink’ nie. Jy moet oorgaan tot daadwerklike aksie. Sonder om te blik of te bloos.

“Die meeste maatskappye en organisasies is dikwels vasgevang in hul eie erfenis.”

Hy meen dit maak hulle soms kortsigtig oor hul tekortkominge, wat hulle nie die nodige insig gee om self ontwrigting in die maatskappy te dryf nie. ’n Maatskappy sal altyd deur eksterne faktore ontwrig word. Soos tegnologie.

Hy tel ’n slimfoon op.

“Die toestel in my hand het sterker en beter tegnologie as wat die VSA se president 20 jaar gelede tot sy beskikking gehad het. So, as jy ’n nuuskierige mens is, as jy die wêreld ’n beter plek wil maak, speel jy rond daarmee. Jy waag dit om foute te maak, maar jy moet dit ook weer kan regstel.

“Dis die tipe mense wat ons tans nodig het. Ons kort egter ook die regulars. Jy wil nie hê die Eskom-operateur wat die prosesse by die kernkragstasie monitor moet eendag skielik besluit: Kom ons kyk wat gebeur wanneer ek ander riglyne volg nie. Jy kort albei: Mense wat die beproefde en getoetste goed en konsekwent kan volg, maar ook mense wat die appelkar kan omgooi. Ek sien myself in die laaste kategorie.”

Ons dink aan onsself as wit en swart, bruin en Indiër. Ryk en arm. Dié verskille is heeltemal sinloos en kniehalter ons vermoë om vorentoe te beweeg.

Verantwoordelike vernuwing

Hy praat van mense wat die moed het om foute te maak, “dinge te breek” en dit dan reg te maak.

Maar dan dink ’n mens aan Mark Zuckerberg en sy Facebook-kultus waar werknemers aangemoedig is om “vinnig te beweeg en dinge te breek” en hulle eers later oor die gevolge te bekommer.

Gebreek is daar gebreek: Die manier waarop demokrasie funksioneer. Mense se privaatheid.

Hoe kan ons steeds die appelkar omgooi sonder dat al die appels, soos in die geval van Facebook, fyn en flenters val?

Beeld se voorblad van 6 April
Beeld se voorblad van 6 April. In ’n onderhoud het hy geregtigheid vir staatskapers in die inkomstediens belowe.

“Dis eenvoudig – dit gaan alles oor jou bedoelings. Jy moet koersvas en altyd getrou bly aan jou hoër lewensdoel. Jou aksies moet mense se lewe positief beïnvloed.”

Is dit sy doel in lewe?

“Ek is hier sodat ek ’n seëning vir ander kan wees. Daaraan twyfel ek nie. Maar as jy jou bestaans-rede begin verloor, begin jy allerhande vreemde goed aanvang.” Dit geld ondernemings én individue.

“Al wat dan saak maak, is hoeveel geld jy kan maak, hoe jy jou winsgrens kan vergroot.

“Facebook se oorspronklike doel was om mense met mekaar te verbind, om ’n sosiale netwerk te skep. Die voordele was sosiale samehorigheid en kommunikasie, om vriende met wie jy kontak verloor het, weer op te spoor. Dit was edel . . . aan die begin.

“Hulle het koers verloor toe hulle meer aandag aan hul finansiële state as aan hul kliënte se welstand begin gee het.

“Hul bestaansrede was om hul winsgrens en hul aandeelhouers se belange te dien. En hoe het hulle dit gedoen? Hulle het hul kliënte in produkte verander. Nou was jy ’n bron van inligting waaruit geld gemaak kon word. Wanneer invloedryke organisasies soos Amazon, Google en Facebook koersvas bly en ’n edel doel nastreef, sal hulle op die pad van deugsaamheid bly. Dit moet altyd ’n positiewe impak op mense se lewe hê.”

Carla Lewis

‘Red eerder die omgewing’

Kieswetter geniet ’n goeie glas rooiwyn en ’n lekker ete. “Ek is ’n regte smulpaap. Ek geniet dit om te kook, veral kerries. Enige soort: Thai, Indies, Asiaties, maar omdat ek van die Kaap kom, kook ek gereeld Kaaps-Maleis. Ek reis ook graag en geniet die buitelewe. Ek het baie pret.”

Dis nou wanneer hy nie deel is van die uitdagende taak om die ekonomie te red nie?

“Sjoe! Om die ekonomie te red? Wat beteken dit in elk geval? Ek dink tans dis belangriker om die omgewing te red.

Ek glo dis ons plig om die wêreld in ’n beter toestand aan ons nageslag oor te laat as die een wat ons gekry het, om aan onsself te dink as opsigters, nie eienaars nie.

“Ek sê altyd ek moet leef asof ek die verandering in my gemeenskap gaan dryf. Ons moet leer om die standaard waaraan ons onsself meet, aansienlik hoër te stel as die een waaraan ons ons mede-landsburgers meet. Ons wys gou op ander se foute, terwyl ons met balke in ons eie oë sit.

“Suid-Afrikaners moet ook ophou om aan mekaar te dink as “ons” en “hulle”. Só beklemtoon ons eerder ons verskille as wat ons ons ooreenkomste vier.

“Ons dink aan onsself as wit en swart, bruin en Indiër. Ryk en arm. Dié verskille is heeltemal sinloos en kniehalter ons vermoë om vorentoe te beweeg.”

Hy sê Suid-Afrikaners hou aan om terug te kyk na die verlede, eerder as om ’n gemeenskaplike, toekomstige doel na te streef.

Meer oor:  Edward Kieswetter  |  Carla Lewis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.