Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Oorlog . . . of miskien ’n bietjie vrede?

Sien jy kans vir ’n oorrompelende en meesleurende wipwaentjierit oor die mens (hoofsaaklik mans) se geneigdheid tot oorlog (meestal) en vrede (dan en wan)? Waag dit en maak Willie Esterhuyse se Oorlog en vrede oop, skryf Lizette Rabe.

Willie Esterhuyse, emeritusprofessor in filosofie en sake-etiek aan die Universiteit Stellenbosch, sê hy het sy nuwe boek in Afrikaans geskryf Afrikaans geskryf omdat hy Afrikaans se intellektuele en semi-akademiese seggingskrag wou illustreer.

Willie Esterhuyse, emeritus-professor in filosofie en sake-etiek aan die Universiteit Stellenbosch (US), is veral bekend vir sy rol as vredesmakelaar in die “gesprekke oor gesprekke” in die laat-1980’s in Engeland met die toe nog verbanne ANC. In sy jongste boek, Oorlog en vrede, gesubtitel: Die morele verbeelding van die mens, worstel hy met die gedagte oor of die mens (gewoonlik mans, maar daar is ook ’n paar spektakulêr bloeddorstige vroue) van nature wreedaards is, gedryf deur magsug en hebsug. En of ons tog die goeie wil laat seëvier.

Bekend as Prof Willie onder sy oudstudente, is hy mentor van ’n hele generasie Matie-denkleiers, onder hulle ’n huidige professor in filosofie, Anton van Niekerk, asook die direkteur van die US se Sakeskool, Piet Naudé.

’n Mens kan maar sê hy het hul “morele verbeelding” aangevuur. Bowendien, daar’s sowaar net een Afrikaner-filosoof oor wie al ’n internasionale fliek gemaak is én wat Huisgenoot se eeufeesgedenkboek kon haal. Die fliek is Endgame, in 2009 gemaak oor daardie gesprekke oor gesprekke, met Hollywood-akteur William Hurt in die rol van Prof Willie as vredesmakelaar. En in 2016 haal hy toe om presies daardie rol as bemiddelaar Huisgenoot se eeufeesgedenkboek.

Prof Willie is ’n storieverteller – dis wat hom so ’n gewilde dosent gemaak het. Die universum is immers gemaak van stories, nie van atome nie, à la die Amerikaanse digter Muriel Rukeyser. Dus, Prof Willie, brei uit op jou stories, asseblief:

Die boek is so dig geweef dat dit moeilik is om net op enkele punte te fokus. Al die verhale is eintlik van toepassing op ons hier en nou, lokaal en globaal. Dit gaan oor hebsug en magsug, oor die elite wat die gewone mens oor millennia uitgebuit het. Plaaslik: bloedstollend bloeddorstige misdaad, geweld teen vroue en kinders, anargie. Globaal: Brexit as ’n andersoortige Britse bloeddorstigheid, Trump as weersinwekkende verskynsel, tot by die Islamitiese Staat waarmee die boek sy volle sirkel maak vanwaar hy begin het met die heel eerste beskawings in die Midde-Ooste. Van al dié gegewe, waaruit behoort ons die grootste les te neem?

Vrede op aarde is slegs ’n droom. Nietemin ’n belangrike droom, want dit motiveer ons om verantwoordelikheid vir ons eie toekoms te aanvaar en maniere te vind om ons van ons boosheid te “tem” – soos met die verklaring van die Universele Regte van die Mens. En dan wil ek byvoeg: Die mens hét ’n morele verbeelding. Hoe om dit positief te aktiveer is die groot vraag.

Juis dié subtitel oor “morele verbeelding”: Wat is dit – en is dit iets wat ’n mens het of kan jy dit kweek?

Die morele verbeelding is die vermoë om tussen goed en kwaad, reg en onreg, te onderskei en daarvolgens op te tree. Dis nie net ’n funksie van die brein nie en kan evolueer en kultureel beïnvloed word. Daarom is die mens se geskiedenis ’n permanente spel van feite en waardes. Die sogenaamde heilige tekste het natuurlik ’n invloed op baie mense se morele verbeelding. So ook ideologieë. Daarom is morele leierskap van sleutelbelang. Dit kan oorloë voorkom óf veroorsaak.

Daar’s dikwels verwysings na die rol van religieuse tekste, dwarsoor verskillende mitologieë, van preantieke gode tot die huidige verskillende mitologieë waar kerk en kultuur versmelt. Hoe kan ons vandag, vanuit ons diverse gelowe en kulture, leer om meer verdraagsaam – meer ménslik – met mekaar om te gaan?

Dié vraag is ’n taai toffie! Terwyl ek godsdiensvryheid aanvaar, is die Grondwet vir my soewerein in ’n demokratiese staat. Alle burgers behoort in die Grondwet “gekatkiseer” te word. Ek glo ook dat kontak en interaksie met die sogenaamde “die ander” die enigste weg na ’n kultuur van verdraagsaamheid en betreklike vrede is. Vrede en verdraagsaamheid in ’n diverse samelewing word nie gestig deur met vriende te praat nie. Soos die uitdrukking lui: “Talking to the enemy is the roadmap to peace-making and peace-building.”

Daar’s ’n paar kantelpunte in die boek. As ons vir ’n oomblik ons planeet en al haar probleme, polities en ekologies, laat staan en net na ons eie bestaan hier aan die suidpunt van Afrika kyk: Dit lyk asof anargie ons voorland is. Is ons weer by ’n kantelpunt?

Ja, ons staan by ’n kantelpunt. Die kanse dat dit vorentoe nog slegter kan gaan, is goed. In terme van die tema van my boek verkeer ons reeds in wat ek ’n lae-intensiteit-burgeroorlog wil noem. Ek is egter nie op moedverloor se vlakte nie. Vir die eerste keer is daar goeie tekens van ’n integrasie van ons historiese verdeelde samelewing rakende belangrike kwessies: geweld, veral teen vroue, veiligheid, volhoubare ontwikkeling, goeie openbare bestuur, ensovoorts. Hopelik lei dit tot ’n regering van nasionale eenheid.

En wat kan, en moet, ons gewone burgers daaraan doen?

Gewone burgers moet hul gewig agter bogenoemde en ander inisiatiewe ingooi. En nie na hul innerlike of ander lande emigreer nie.

“Maatskaplike samehorigheid” – “kohesie” – is iets wat op die oomblik skynbaar dun gesmeer is. En tog: Die welwillendheid tussen gewone mense is daar. Simunye: ons ís een, ons kán hierdie wa deur die drif trek. Is dit regs en links wat skynbaar vir eie gewin die afgronde probeer dieper maak pleks van om brûe te bou?

Ek is bevoorreg om ’n “Advokaat vir Maatskaplike Kohesie” van die departement van kuns en kultuur te wees. Die boek het ook as agtergrond ’n kursus wat ek by Unisa, binne die Thabo Mbeki-leierskapsprogram, moes aanbied. Die kursusgangers het vanoor die hele Afrika en elders gekom. My ervaring was dat aanvanklike voorbehoude teen my agtergrond (wit, Afrikaans) net deur myself verander kan word. Soos om te bevestig dat jy nie ’n Europeaan is nie, maar ’n Afrikaanse wit Afrikaan. Ek dink maatskaplike samehorigheid is moontlik. Én noodsaaklik, deur middel van kontak, kontak en kontak. En praat, praat en praat. Ondanks dinge soos die katastrofale gevolge wat veral die Groepsgebiedewet gehad het.

Lizette Rabe

As filosoof is jy bekend vir die transendentale – hoe ons ook onsself kan transendeer. Hoe kan Afrikaanssprekende wit mense in Suid-Afrika die rassisme van hul verlede transendeer? Natuurlik is wit Afrikaanses nie alleen aandadig aan rassisme nie, dis oral, maar Afrikaans spesifiek het aan die wêreld een van sy lelikste woorde gegee: apartheid. Hoe kan wit Afrikaanses help om die onregte van die verlede reg te stel?

Dit gaan oor regstelling. Daar kan nie positiewe vrede in ons land wees sonder regstelling wat volhoubare ontwikkeling bevorder nie. Dis iets anders as sentimentele versoeningspraatjies, want dit vereis suksesvolle projekte. Elke dorp of stad moet projekte onderneem, ondersteun deur wit mense, wat op regstelling en volhoubare ontwikkeling én vennootskapsverhoudinge gemik is.

Na aanleiding van die boek Cultures & Organizations as “software of the mind” en hoe mense, kulture en gemeenskappe “geprogrammeer” word: Wat was die sterkste invloed op die ystergreep wat Afrikaner-nasionalisme op Afrikaners gehad het: die politieke leiers in elke era of beleid?

Die vraag is ’n turksvy vol dorings . . . Dit was albei – die leiers én die beleid, met stutorganisasies wat ’n groot rol gespeel het, soos die stigting van die Afrikaner-Broederbond, en baie later, die jeugorganisasie die Ruiterwag. En wat van Volkskas en die Voortrekkers? Ook die kerke: hoogs georganiseerd. Nie oorlewing nie, maar heersersmag was ’n vername dryfkrag, versterk deur ’n rassistiese ideologie en morele verbeelding.

En dan Afrikaans self. Beleef die taal nou ’n kantelpunt en hoekom?

Ek het die boek in Afrikaans geskryf omdat ek Afrikaans se intellektuele en semi-akademiese seggingskrag wou illustreer. Daarom fokus ek nie op Afrikaans as onderrigtaal nie. Dié is afhanklik van eersgenoemde – al is dit ook so dat doktorale proefskrifte tans oorwegend in Engels geskryf word. Om dit kras te stel: Afrikaans, as gesubsidieerde onderrig- en intellektuele publikasietaal het géén toekoms nie!

Om mee af te sluit: Daar’s een sleutelparagraaf wat ’n mens koue rillings gee. Dit gaan oor “die infiltrasie en uiteindelike oorname van regerings met swak leierskap, swak bestuurstelsels en onbekwame staatsamptenare deur goed georganiseerde misdaadsindikate, gepaardgaande met die verskyning van brose, mislukte en selfs misdadige state. Staatskapings het ’n moderne werklikheid geword.” Dis mos ’n beskrywing van Suid-Afrika? Maar dan weet ons ook ons is maar ’n spieëlbeeld van die globale prentjie. Hoe nou verder? Waar vind ons HOOP?

Sistemiese korrupsie en staatskaping neem jare om uit te wis, want dit gaan nie net oor korrupte mense nie, maar gevestigde patrone, strukture en wat ’n organisasiekultuur genoem word. Vreeslose leierskap en die groots moontlike samewerking tussen politieke, sake-, kommunikasie- en gemeenskapsleiers is daarvoor nodig. Ons is nog nie daar nie, maar wel op pad.

* Oorlog en vrede: Die morele verbeelding van die mens word deur Naledi uitgegee en kan by die uitgewer teen R270 bestel word en is ook by boekwinkels te koop.

Wie is Willie?

Willie Esterhuyse is ’n plaaskind van Laingsburg, gebore in 1936. Soos hy self sê: ook sy humor is Karoo. Hy het teologie aan die US studeer, besef die preekstoel is nie vir hom nie en verder studeer. Hy het professor in filosofie aan sy alma mater geword en het die vere in die politieke hoenderhok al in 1979 laat fladder met sy Afskeid van apartheid. Dit was ’n kantelpunt in Afrikaner-nasionalisme waarin die toe reeds verloopte Broeder die “morele bankrotskap” van Afrikaner-nasionalisme aan die kaak gestel het. Vir alles waaraan die begrip “Stellenbosch” aandadig is, is dit ook ’n feit (“soos ’n koei”, ’n uitdrukking wat hy graag in sy klasse gebruik het) dat Fort Apartheid se fondamente vanuit Stellenbosch se Filosofie-kantore begin verkrummel het.

In 2009 het hy weer die godsdienstige hoenders in die Afrikanerkerke, as dit nie te oneerbiedwaardig klink nie, laat fladder met sy God en die gode van Egipte. Hy het daarna SMS-boodskappe gekry van “Willie, jy gaan brand in die hel”. Dié Prof Willie Wysgeer was voorloper, wegbereider en voorposdenker, ook oor die roete na jouself. Dalk selfs na ’n nuwe Jerusalem.

Sy transendentale denke het ook gelei tot sy boek Geagte Jahwe waarin hy probeer om ’n begrip van die mens en sy band met die Onsienlike, die Ewige, te probeer kry. Daarmee saam versinnebeeld hy die morele gewete – volksgewete – van die Afrikanerdom. Daar’s ’n rits vererings op dié roete. Onder meer ’n eredoktorsgraad van Stellenbosch, die Stals-medalje van die Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Orde van Luthuli Silwer, selfs ’n eremedalje vir oud-SR-voorsitters. Benewens dat Prof Willie semester ná semester sy studente op nuwe roetes, van die antieke tot die moderne, begelei het, moes hulle veral die Sokratiese proses aanleer: om te bevraagteken. Ondersoek verskillende roetes op soek na wat die “waarheid” kan wees. En nou karteer hy verder aan nuwe roetes, van die voortye tot by ons hedendaagse problematiek. En ja, “kantelpunte” is ’n begrip eie aan hom – as vegter vir geregtigheid word dit gesimboliseer deur sy versameling skale – die simbool van kantelpunte, van dié van sy Laingsburgse stamplaas, tot die prent van Egipte se Osiris wat moet bepaal of jou hart ligter as ’n veer is vir toegang tot die hiernamaals. Só stap Prof Willie deur die labirint van die lewe – soekend, morele kompas in die hand.

Meer oor:  Willie Esterhuyse  |  Lizette Rabe  |  Stellenbosch  |  Vrede  |  Apartheid  |  Godsdiens  |  Staatskaping  |  Afrikaans  |  Korrupsie  |  Oorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.