Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Oranje Blouwillem bring boek Bfn toe

Daar is die erotiese trilogie en TV-reeks Fifty Shades of Grey, en nou is daar Blouwillem se boek 50 blertse blou.

Blouwillem en sy vrou, Karien, wat in Kroonstad grootgeword het.Foto: Dirk Kok

En nee, 50 blertse is nie blouerig soos 50 Shades nie, sê Willem Theron, Volksblad en sy susterskoerante Beeld en Die Burger se gewilde Maandag-rubriekskrywer.

Trouens, hy het vaste beginsels wanneer hy sy satiriese rubriek oor die week se gebeure in die wêreld, die politiek en op die rugbyveld skryf. “Ek onthou altyd my oorlede ma, Tinkie, kon die storie gelees het, en my vriendinne ook. Jy kan kwets en stout en snaaks wees sonder om banaal te wees.”

Een van die mense wat dit by hom ingeprent het, was Cor Bekker, sy destydse baas en adjunk-direkteur in die nasionale intelligensiediens en pa van die Naspers-voorsitter, Koos Bekker.

“Nadat ek begin skryf het, het oom Cor my so een keer ’n maand gebel. Dit was lekker. Die slag wat ek ’n bietjie riskant geskryf het, het hy my gewaarsku. Hy het altyd gesê ’n mens skryf nie onder die belt nie.”

Blouwillem is ’n instelling. ’n Skrywer met ’n gevolg. Volgende jaar sal dit al 20 jaar wees wat hy vir

Beeld Blouwillemaandag skryf. Volksblad het so ’n bietjie later sy rubriek Maandae se Goeiemôre gemaak en Die Burger het daarna ingeval.

Geboorte van ’n rubriek

Sy skrywery het begin toe hy nog ’n “spook” in die intelligensiediens was.

“Ek het maar stories agterin my dagboek geskryf, eers oor myself en toe oor ander ouens, want jy het mos net soveel stories oor jouself.

“Tom Ferreira het destyds die rubriek Dwarslat, meestal oor rugby, vir Beeld geskryf. Tom moes vir ses weke Amerika toe en vra my om vir hom te locum sonder dat die koerant weet. Ons was op dieselfde golflengte. Francois Lötter, destyds Beeld se kantoorhoof in Pretoria en deesdae bestuurder van die (Breyten) Breytenbach-sentrum in Wellington, sien toe Dwarslat kom van my e-posadres af en vang my uit, maar laat my begaan.”

Toe teken Willem sy kenmerkende prentjie van sy gesig wat hy nou nog op sy boekbekendstellings vir mense voor in sy boeke teken, en faks dit aan die koerant.

“En ek sê vir hulle dis my foto en hulle mag nie my naam gebruik nie, net ‘Blouwillem’.”

Tot vandag toe is daar net ’n gesigskets en “Blouwillem” by sy rubrieke.

Dit kom van ver af

Dié naam dra hy al van jare voor sy skrywery af, van sy koshuisdae in die destydse Reitz-kamerwonings op die Kovsie-kampus in Bloemfontein.

Hy was die voorvegter om Reitz se blou rugbytruie te behou en om nie in wit truie te speel nie omdat dit meer sigbaar sou wees onder die spreiligte.

Dié kleurstryd het hy verloor, maar die naam Blouwillem het gebly.

“Barry was so ’n lekker woelige rooikopflank wat vir Noord-Transvaal Cravenweek gespeel het. Ons het Reitz toe gekom, want Joggie Jansen en sulke ouens was in dié koshuis. Barry het Latyn gehad op skool en het ’n goeie besluit geneem en regte geswot. Ek het eers vir BCom ingeskryf, maar toe ek by ’n senior hoor dit staan vir ‘Boetie kom huis toe’, gaan inskryf vir ’n BA. Daar is Suid-Afrika toe van ’n sakeleier beroof. Ek kon Steinhoff gewees het.

“Ek en Barry was stoere Bulle. My pa (wyle Piet, wat in 1975 as adjunkkommissaris van die polisie afgetree het) was betrokke by die polisierugbyklub. Mof Myburgh en daai manne was my


heroes
. Toe speel die Springbok-gelaaide Transvaal in 1971 in Bloemfontein teen die Vrystaat, wat net twee groot name, Sakkie van Zyl en Joggie, gehad het. Vrystaat wen toe 26-12. Toe ek en Barry van die stadion af terugstap koshuis toe, sê hy ons is nou hier en moet maar oorskuiwe Vrystaat toe. En ek belowe jou ek sal nooit terugskuif nie.”

Willem het darem nie net rugby gespeel nie, maar gestudeer ook.

Blouwillem se “selfie”, wat hy voor in mense se boeke teken.

Pik en Madiba

Onder wyle prof. Frans Wessels het hy in staatsleer gespesialiseer en Niël Barnard, latere nasionale intelligensiehoof, was sy promotor vir ’n meestersgraad in stedelike terrorisme. So het hy eers in die ou veiligheidspolisie en daarna in die intelligensiediens beland.

In sy loopbaan het hy onder meer gesorg vir die veiligheid van oudpresidente soos C.R. Swart en Jim Fouché. Hy het saam met Pik Botha “dorpies” soos Washington, New York en Parys (die een in Frankryk) besoek en in die Withuis by Jimmy Carter gaan draai.

Willem was ook aan die hoof van die span wat die planne moes voorlê vir oudpres. Nelson Mandela se vrylating. Hy was die aand daar toe Mandela in Tuynhuys ingelig is hy word vrygelaat.

“Ek kon hom gelukwens met sy vrylating, en hy het baie uitgevra oor my familie en drie kinders. Hy het gesê hy wil ná sy vrylating heel eerste sy tuisdorp, Qunu, besoek.”

Willem die skrywer

Deesdae, op 66, is Willem onder andere die bemarker van die Kovsie Alumni-trust en reis hy die land vol. En tussendeur skryf hy sy rubrieke en boeke.

“Dit hou my jonk.”

Hy trek al by bykans 1 000 Maandag-rubrieke.

“Daar gebeur mos elke week iets snaaks. En partykeer gebeur goed mos weer en weer. Soos nog ’n ref wat skelm was en nuwe korrupsie in Mpumalanga. En waar anders in die wêreld word ’n dieretuingorilla soos Max ’n erekolonel van die Parktown-polisie, kry polisiehonde koeëlvaste onderbaadjies en word ’n kerkklok van ’n ton vir skrootmetaal gesteel.

“Ek kry temas in die week, maak notas, rol dit in my kop rond en skryf gewoonlik Sondagoggend vroeg. Maar soms dink ek nog in die kerk wat om te skryf.

“Elke ou het twee kante, maar ek hou meer daarvan om die ligte kant raak te sien. Ek raak nie sommer depressief nie. Jy moet jou lewe lekker maak en nie vir ander mense wag om dit vir jou te doen nie. Dit help nie jy haak vas by die morbiede goed nie. Ek draai dit maar om en kyk vir die snaakse goed.”

Blouwillem se stories lees jy nie net nie, jy kan hulle voor jou sien, sê die Bloemfonteinse skrywer, dramaturg en akteur, prof. Nico Luwes.

Sy stories leef voluit, net soos hy.

En die lewe saam met Blouwillem Theron is ’n groot avontuur propvol teater-aande, bergklim, en invalkuiers by mense wat hul lewe verryk, sê sy Kovsie-liefde en vrou, Karien, wat al vier dekades lank met hom getroud is.

Blouwillem glo dit sal goed gaan met almal van ons hier in die Vrystaat en Suid-Afrika.

“Hoe dan anders met Franco Smith by die Cheetahs en Cyril Ramaphosa as president?”

Meer oor:  Blouwillem  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.