Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Ouerversorgings-verlof nog ’n windmeul vir Hendri

Hendri Terblanche, “die vader van vaderskapsverlof”, bestorm nou ’n nuwe windmeul – ouerversorgingsverlof. Hy het met Willemien Brümmer gesels.

Hendri Terblanche (42), die “pa van vaderskapsverlof” wat nou ook ouerversorgingsverlof goedgekeur wil kry, in sy kantoor in Kaapstad. Hy is finansiële bestuurder by Medpages. Foto: Jaco Marais

Noem hom die Zackie Achmat van die Boereworsgordyn. Of die vader van vaderskapsverlof. Of, dalk meer korrek: die ouer van ouerskapsverlof.

Maar dié “Lone Ranger” van Eversdal sê met ’n grinnik: “Campaigner of social activist is so half ’n label. Ek is maar net Hendri. Hendri Terblanche”

Agter sy netjiese, wit lessenaar in Medpages in Kaapstad lyk dié finansiële bestuurder nie soos ’n strydros of ’n kryger vir geregtigheid nie. Hy is ’n 42-jarige pa, geklee in ’n blou onderbaadjie, blou jeans, plakkies en sokkies. Aan weerskante van ’n sielvolle skildery van ’n leë swembad deur Willem Pretorius pryk foto’s van sy vierjarige tweeling, Juandré en Danté.

Sy blou oë vonkel vriendelik en hy is nederig en byna oordadig beleefd en noem my aanvanklik “u”.

Dié rekenmeester, wat die Comrades-ultramarathon al ses keer voltooi het en nege suksesvolle Two Oceans agter die rug het, is nou aan die spits van ’n nuwe veldtog: ouerversorgingsverlof.

‘Bietjie groter as jou vuis’

Hendri by sy tweeling, Juandré en Danté (4). Hy het ná dié tweeling se geboorte op 26 weke ’n versoekskrif aan Thandi Modise, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, gerig om vir vaderskapsverlof van tien dae te vra. Foto: Jaco Marais

In 2014 het hy ’n proses aan die gang gesit om die arbeidswet verander te kry sodat ouers (soos pa’s), wat nié vir kraamverlof kwalifiseer nie, onder meer op tien dae ouerskapsverlof geregtig is. Dit sluit ook aanneemouers van kinders jonger as twee in, of die ouers van ’n kind wat deur ’n surrogaatswangerskap gebore is. Indien daar twee ouers is, kry die een ouer tien dae ouerskapsverlof en die ander een tien weke.

Die saadjie vir die aktivisme van dié oud-Gimmie is al lank gelede geplant. Om die waarheid te sê, dit is deel van sy DNS.

“Suid-Afrikaners is te geneig om te kla. Ons sê te min dankie. Ek dink ons moet meer begin konsentreer op wat ons kán doen, eerder as wat ons stilbly en vir mekaar kwaad word. Elke huishouding het maar sy probleempies en baie van die dinge kan opgelos word as ons net saamstaan.”

Sy loopbaan in maatskaplike geregtigheid het begin toe sy vrou, Giselle, op 26 weke die lewe aan Danté en Juandré geskenk het. Danté, wat outisties is, moes 139 dae in die neonatale intensiewe sorgeenheid bly en Juandré het 79 dae daar deurgebring.

Die opgewekte blou oë word sag. “Hulle was ’n bietjie groter as jou vuis. Die Vrydag het ek nog salarisse betaal toe ek ’n oproep kry dat sy bloei. Toe sê ek: ‘Jy jaag net hospitaal toe’ en ek jaag ook. Die Saterdag was ons heeldag daar en ons sien sy gaan in kraam, maar die masjiene het niks opgetel nie. Daai aand (24 November 2013) twee minute oor middernag is hulle gebore.”

Hendri, wat ná sy universiteitsloopbaan rugby afgerig het, lag. “Ek dink dit was die vinnigste wat hulle nóg ’n mediese span bymekaargekry het, en dit was ook nog die aand van die Springbok-toets.”

Tien jaar gelede sou hulle nie oorleef het nie, maar met die tegnologie van vandag het hulle wél oorleef.

Aanvanklik was Giselle sy eerste verantwoordelikheid. “Hulle was in goeie hande, ek kon nie daar help nie, maar ek kon háár help. Daar was dae wat dit touch and go vir albei van hulle was, en daar was al hierdie klein hoogtepunte en laagtepunte.”

Danté, wat breinskade opgedoen het, het op 18 maande bloot ophou praat. “Tegnies is hy nog op die vlak van ’n 18 maande oue kind,” sê Hendri sag. “Sy liggaam raak groter maar sy verstand ontwikkel nie op dieselfde vlak as dié van ander kinders nie.”

Hy en Giselle moes aanskou hoe Danté die een operasie ná die ander kry: Liesbreukoperasies, ’n oogoperasie en twee operasies vir sy tande. “Omdat hy te vroeg gebore is het sy kop ook verkeerd gegroei en prof. (Frank) Graewe (’n plastiese chirurg) moes byvoorbeeld vir hom ’n voorhoof opbou waar hy bene uit die skedel uitgehaal het. Tien jaar gelede sou hulle nie oorleef het nie, maar met die tegnologie van vandag het hulle wél oorleef.”

Hendri se skoonma, Alice Bruwer, op die tweeling se doop. Juandré is links en Danté is regs. Bruwer is intussen ná ’n lang stryd teen borskanker oorlede. Foto: Facebook

Dag ná dag het hy in die intensiewe sorgeenheid gesien hoe ander mans hul drie dae gesinsverlof vir hul kinders se geboorte gebruik en dan, hopeloos pootuit, moes teruggaan werk toe. Sy eie werk het uit hul pad gegaan vir hom, maar baie van die ander pa’s het bloot verdwyn.

“Kinders het nie gevra om gebore te word nie. Dit is in die beste belang van kinders dat albei ouers ’n rol in hul versorging speel, veral in die eerste 1 000 dae ná geboorte. Ongeveer 61% van die 886 202 geboortes wat in 2014 aangeteken is, het geen melding van die pa gemaak nie.”

Hy het dus op 3 Julie 2014 ’n versoekskrif gerig tot Thandi Modise, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, om te vra dat tien dae betaalde vadersdagverlof in Suid-Afrika ingestel word. Dit het gevolg op honderde briewe wat hy in Junie per e-pos aan “elke LP” gestuur het.

Ná vier jaar – en verskeie versoekskrifte, voorleggings en selfs ’n onderonsie met Cheryllyn Dudley van die ACDP – is die Nasionale Raad van Provinsies uiteindelik gereed om die Wetsontwerp op die wysiging van die arbeidswet goed te keur. Pres. Cyril Ramaphosa sal dié wetsontwerp na verwagting op 1 Oktober teken.

Ouerversorgingsverlof

Hier is Hendri saam met sy tweeling en sy ouers, Japie en Susan Terblanche, in hul huis in die Paarl. Juandré sit op Hendri se skoot en Danté op sy ouma s’n. Henri het nou die stryd vir ouerversorgingsverlof opgeneem. Foto: Jaco Marais

Sy volgende stryd – “ouerversorgingsverlof” – het begin toe borskanker in 2015 by sy skoonma, wyle Alice Bruwer, gediagnoseer is. “Sy was ’n onkologiesuster en het haar hele lewe gewy aan die versorging van kankerpasiënte en toe het sy uiteindelik self kanker gekry. Sy was ’n goeie 78, maar sy’t baklei. Sy het baklei vir haar twee kleinkinders (Danté en Juandré) en vir haar dogter, Giselle.

“In November 2017 het ons die tyding gekry dat haar tyd min raak, maar in Mei het ons haar verjaardag en Moedersdag gevier.”

Hy glimlag dapper. “Dis ter nagedagtenis aan haar en aan my ouers. My pa, Japie, het Parkinson se siekte en my ma, Susan, het verspreide sklerose. Hulle woon in die Paarl, so my suster, Marieka, is maar die een wat hulle versorg en hulle is heeltemal afhanklik van mense soos sy vir hul vervoer byvoorbeeld.”

Hy knik. “Dit is nou maar net my storie, maar elke familie het iets soortgelyks.”

Baie keer wil ouers wat siek is nie hul kinders verontrief nie. Nou sit jy weer daai menswaardigheid terug.

Eintlik het hy die voorstel reeds in September 2016 gemaak toe hy ’n mondelinge voorlegging oor die arbeidswysigingswetsontwerp voor die portefeuljekomitee vir arbeid gedoen het. Op 30 Julie vanjaar het hy egter ’n aparte versoekskrif hieroor aan Modise gerig.

“Al wat ek vra is dat die gedeelte oor gesinsverantwoordelikheidsverlof só gewysig word dat dit insluit ‘ouer, aanneemouer of grootouer’ in afdeling 27(2)(b) van die wet of alternatiewelik vir die bekendstelling van ’n nuwe soort verlof, naamlik ouerversorgingsverlof, om te sorg vir ’n verouderende ouer wat siek of terminaal siek is.”

Hy kom op dreef. “Dit is ook meer in lyn met die Grondwet. Baie keer wil ouers wat siek is nie hul kinders verontrief nie. Nou sit jy weer daai menswaardigheid terug. Ons sê almal in die lewe is gelyk, maar ons is nie eintlik gelyk nie. Ek het byvoorbeeld kinders, my suster het nie. Ek kan kyk na my kinders, maar sy kan nie kyk na ons pa nie.

“Niemand kan sê oor ’n maand of twee maande is dit die einde nie, maar daar is ’n ses weke periode wat ek ingevoeg het vir onbetaalde verlof by die werk wat jy hopelik by die werkloosheidsversekeringsfonds kan eis. Anders moet jy drie dae kry, en of jy dit nou gebruik vir jou kind of jou grootouer of jou ouer of jou aanneemouer is jou keuse. Op die oomblik kan jy dit nie gebruik as jy byvoorbeeld jou ma dokter toe moet neem nie.”

‘In almal is ’n aktivis’

Hendri saam met Danté (links) en Juandré (regs). Foto: Jaco Marais

Vir dié wat sê hy maak ’n regte Pandora-kissie oop met die voorgestelde wetgewing en dat dit uitgebuit sal word in ’n land waar die ekonomie reeds vuisvoos is, het hy blitsvinnig ’n antwoord: “Mense se kommentaar is altyd interessant. As jy gaan kyk in ons verlede is baie mense grootgemaak deur oumas en oupas. Hul pa’s het ver van die huis af gaan werk en hul ma’s het ook gaan werk.”

Hy skep asem. “Ons wet laat jou nou net toe om verlof te neem as jou ouer of grootouer dood is. Dis beter om hulle te versorg terwyl hulle nog lewe. Net deur ’n paar woorde te verander, gaan jy 8,1% van die bevolking se lewe heeltemal verander.”

Wanneer hy gesels oor al die ander windmeule wat hy wil bestorm, is dit moeilik om te glo dat dié Don Quixote van Eversdal ooit slaap. Hy’s nou ook deeltyds besig met sy LLB, hy’t nog ’n versoekskrif gerig aan Modise oor hoekom water aan huishoudings nie met 15%-BTW belas moet word nie en hy’t onder meer ’n projek begin vir skarebefondsing om puttoilette by skole te vervang.

Hy’t ook Eversdal se munisipale belastingbetalersvereniging en die Eversdal-diensaanvraag-groepie gestig sodat die gemeenskap kan saamstaan teen die klein jakkalsies soos slaggate en lamppale wat nie werk nie.

“Ek is ’n gewone mens. In ons almal is ’n aktivis. Ek is net in die bevoorregte posisie dat ek kon sê dít is fout met die wetgewing, hier is ’n oplossing.”

Hendri in sy kantoor by die skildery deur Willem Pretorius. Foto: Jaco Marais

En ja, hy dink beslís aan ’n loopbaan in die politiek. “Ek is al ’n paar keer, veral in die afgelope tyd, deur gewone mense genader. Ek het aangesluit by ’n politieke party, maar ek is baie neutraal. Byvoorbeeld met die vaderskapsverlof kon ek na enige party gegaan het. Ek is steeds in kontak met almal, wat lekker is.”

Anders as die meeste politici behou hy egter sy humorsin. Sy ouma Tienie, wat “Mosselbaai se ouetehuis regeer” en sterk op pad na 100 is, tik hom gereeld op die vingers.

Hy lag lekker uit sy maag. “Nou bel ek haar en sê: ‘Ouma, hoor gou hierso, dís nou waarmee ek besig is’ en dan sê sy: ‘Hendri, Hendri, Hendri, wánneer werk jy? Toe jy klein was, kon jy nie wag om op die plaas te kom bone pluk nie. Wat gaan jou werk nie sê nie? Jy wil net vir almal afgee. Nee, dis nonsens!’ ”

Meer oor:  Zackie Achmat  |  Arbeidswette
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.