Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Paparazzi-tannies sak toe op Wolfgat

Mense wat dink Wolfgat in Paternoster is die beste restaurant ter wêreld, gaan groot skrik as hulle sien dit is ’n taamlik informele restaurant wat met duinekool en bokkoms kook, sê Kobus van der Merwe aan Murray La Vita.

Kobus van der Merwe en Lorna Maseko, Suid-Afrikaanse televisiesjef, wat die Off-Map-bestemmingseerbewys oorhandig het. Foto: Verskaf

Twee dae nadat Van der Merwe se restaurant Wolfgat op die Wêreldrestaurant-toekenningsgeleentheid in Parys as sowel die restaurant van die jaar as die beste “Off-Map”-bestemming aangewys is, is hy weer op sy pos en besig om kos te maak en gaste te bedien.

Dit is ’n geval van Maandag Parys, Woensdag Paternoster.

“Ja, ek is weer in volle gang. I hit the ground running,” sê hy.

Hoe meen hy gaan hierdie prys sy lewe en die lewe van sy klein (en nou wêreldberoemde) restaurantjie aan die Kaapse Weskus verander?

“Wat ek hoop gaan gebeur, is dat ons meer mense sal kry in die wintertyd, wat ons stilste tyd is, want dit is altyd vir my so half frustrerend dat die winter ons gunsteling-tyd van die jaar is en dan is dit so half dood en mense bly weg.

“Maar wat nou oor die afgelope 48 uur gebeur het, is dat ons aanlyn besprekings mál gegaan het. Ons maak dit net vir ’n tydperk van drie maande op ’n slag oop om almal so half ’n gelyke kans te gee om te bespreek. Dit is so ’n continuous roll-out, so daar is ’n nuwe dag drie maande die toekoms in wat beskikbaar word vir bespreking. En dit is nou vol tot en met ons wintervakansie in Junie.

“Ek wil hoop as daardie golf so aanhou dat dit ons stil tyd gaan voller maak . . .”

Kobus en kollega SheEarl Pietersen besig om ’n gereg voor te berei. Foto: Jac de Villiers

Dan onderbreek hy ons telefoongesprek.

“Jammer, ek raak so ’n bietjie geïrriteerd; ons kry mense wat net deurstap asof ons ’n besienswaardigheid is. Hulle het gelees van die pryse. Ons het nou vanmiddag al so drie tannies gehad wat ond soos paparazzi deur die venster met hul selfone probeer afneem . . . Ja, dis nogal awkward.”

Wat doen hy dan?

“Ag, ons gaan maar net aan. Ek dink dit sal waarskynlik teen volgende week oorwaai. Dis nou nog taamlik nuut en dis warm nuus, so almal klim nou in hul karre en ry om te kom kyk hoe lyk dit.”

So dis amper soos mense wat Weskus toe ry om te gaan blomme kyk?

“Absoluut! Die voordeur is soos ’n black hole. As hy oopstaan, dan kom daar mense in.”

Die gesprek keer terug na wie nou so druk bespreek om by Wolfgat te kom eet.

“Dis nogal ’n mengsel van local en internasionale gaste.”

‘Uit ons diepte’

Kobus met een van sy geregte waaroor mense so gaande is. Foto: Verskaf

Ek vra hom uit oor Maandagaand in Parys.

“Dit was ’n ongelooflike ervaring. Dit was in die Palais Brongniart, ’n verskriklik mooi, statige historiese gebou en daar was ’n rooi tapyt. Ja, dit was ’n prestigeryke geleentheid. Ek het nogal nie heeltemal geweet wat om te verwag nie. Dit was effe intimiderend, maar baie lekker.

“Ons het gedink ons is maar 'n bietjie uit ons diepte, veral in ag genome die kaliber van die ander restaurante wat benoem is in ons kategorie en in ander kategorieë.

“Toe ons ons kategorie wen, was dit ’n hoogtepunt en ons het allermins die restaurant van die jaar-prys verwag.

Dít is die kos wat van Wolfgat so ’n gewilde restaurant maak. Foto: Jac de Villiers

“Die vreemdste ding vir my is dat almal nou op die bandwagon van ‘béste restaurant ter wêreld’ gespring het, en dit is só nié die idee agter hierdie prys nie.

“Ons is nie die beste nie, ons is die mees verteenwoordigende van die filosofie van hierdie prys. En dit gaan oor volhoubaarheid, gemeenskapsbetrokkenheid, gender in die kombuis; dit gaan oor allerhande ander kwessies.

“So dit frustreer my nogal dat almal op die internet en baie van die headlines ook sê Wolfgat is die beste restaurant ter wêreld.

“Die creative director van die geleentheid het ook netnou op Instagram gesê hulle is so opgewonde dat hulle Wolfgat as die restaurant van die jaar gekies het, want ons is presies wat hulle op die oomblik inspirerend vind van restaurante wat betref volhoubaarheid en die klein skaal waarop ons alles doen en dat ons vergeleke met soortgelyke restaurante bekostigbaar is; die feit dat ons plaaslike mense aanstel; die feit dat die span oorwegend uit vroue bestaan.

“Dit is vir my ’n moerse eer dat ons die prys gekry het juis as gevolg van al daai boksies wat ons volgens hulle tick. So, dit is eintlik ’n heeltemal ander soort prys as ’n ‘beste-ter-wêreld’-prys. Ek gril so ’n bietjie vir hierdie hele best of-ding, want dit veroorsaak heeltemal die verkeerde hype.

“Ons doen net wat ons doen en mense wat dink dit is die beste restaurant in die wêreld gaan groot skrik as hulle sien ons is ’n taamlik informele restaurant wat met duinekool en bokkoms kook.

“Daar is niks wat vergelyk met ’n stywe, formele restaurant met drie Michelinsterre met ’n dík boek van ’n wynlys en gestyfde wit tafeldoeke nie.”

Ster waarna hy nie streef nie

Aan die werskaf in Wolfgat se kombuis. Foto: Jacques de Villiers

Ons praat oor die allure van die Michelinster; iets waarvoor restaurante in Suid-Afrika nie in aanmerking kom nie aangesien dit volgens Kobus hoofsaaklik in Europa, Brittanje en Amerika toegeken word.

“ ’n Michelin-ster is iets waarna ek nog nooit gestreef het nie, al het ons dit nie eens in Suid-Afrika nie. Ek dink selfs vir Suid-Afrikaners is dit ’n vreeslik prestigeryke ding. Dit is vir my hoegenaamd nie die alfa en die omega nie en ek dink doe gewig wat dit dra, is debatteerbaar.

“Ek sien al hoe meer kritiek op Michelin, veral van kollegas in België en Nederland wat verskriklik vasskop teen die Michelin-metode van goed doen en dat hulle nie met die tyd tred hou nie.”

Ons gesprek word weer onderbreek deur nuuskierige mense wat die restaurant wil betree al is dit al lank ná middagete en al het hulle geen bespreking nie.

Kobus keer terug en sluit die gesprek af met: “Natuurlik is die prys vir ons ’n moerse eer . . . Ja . . . Al wat ek wou opklaar, is daai wanopvatting van die beste restaurant en ook die feit dat die prys nie enigiets aan ons benadering gaan verander nie. Ons gaan net aanhou doen wat ons doen.”

Meer oor:  Murray La Vita  |  Kobus Van Der Merwe  |  Wolfgat  |  Paternoster  |  Restaurante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.