Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Passiespel soos g’n ander

Die Here het haar gelei, sê die sangeres Lizanne Barnard oor haar produksie Dwarshout wat aanlyn vertoon word. Sy het ook tydens die inperking drie aanlyn konserte en ’n digbundel die lig laat sien. Charles Smith het met haar gesels oor haar kreatiewe tydperk toe baie kunstenaars gesukkel het.

Toe Lizanne Barnard begin om die toonsettings vir die produksie Dwarshout oor die kruisiging van Jesus te doen, het jare se pyn en onderdrukking van haar stem en geloof van haar skouers geval.

Dwarshout, wat sy as ’n Passiespel in Rosendal gedurende die Paasfees wou opvoer – maar wat weens ’n verwagte derde vlaag van die pandemie moes uitstel – word nou aanlyn uitgesaai en word wyd geprys.

Die produksie volg boonop ná drie Woord-konserte tydens die inperking waarvoor sy mense se gedigte aangevra en getoonset het.

Lizanne Barnard en haar span wat die produksie Dwarshout opgevoer en opgeneem het. Van links is haar man, Wayne Raath, Lizanne, haar seun, Adam (Pyjama Shark), en Leon de Kock. Die vertoning word elke Sondag in April aanlyn uitgesaai. Foto: Verskaf

Die derde konsert Woord en musiek is met bekendes sangers soos Anna Davel en Helena Hettema in die Atterbury-teater in Pretoria opgevoer.

Dit het tot die digbundel Skeppers gelei, wat eersdaags op die rakke is.

Die lied “Verlore Seun”, wat sy met Frank Opperman sing, het mense in trane gehad.

Waar ander kunstenaars in sak in as was weens die verbod op konserte, het sy letterlik die virtuele verhoog in geloof gepak.

“Ek het in ’n stadium van my lewe besef ek wil ook my talent aanwend om my geloof bloot te lê. My geloof in Jesus Christus is vir my baie belangrik. Ek het begin om liedjies te skryf en wou ’n konsert hou vir die kerk waarby ek betrokke was.”

Ná haar egskeiding van die musikant Abraham Helberg, met wie sy in die groep Marimba was, is dit op die agtergrond geskuif. Dit het weer na vore gekom toe sy die digter en skrywer Hans du Plessis op die skip MSC Musica ontmoet het. Hy het gesê hy en Bernard Odendaal het begin met ’n bundel Kruis van liefde met geestelike inhoud. Sy het gevra of hy dit vir haar sal stuur.

Sy het dadelik begin om die 13 liedtekste te toonset. Sy het groot planne gehad met kore en solosangers, maar die Covid-19-pandemie het ’n stokkie daarvoor gesteek. Sy het een van die liedjies vir haar seun, Adam, gegee en toe sy hoor wat hy daarmee doen, het “ ’n liggie” aangegaan.

“Ek het besef: Wat as ek Covid kry en doodgaan en ek nog nie die een ding gedoen wat ek wou nie? Dit sou vir my sleg gewees het in die oë van God. Regtig, as hy vir my die talent gegee het en ek doen nie iets om Sy Naam te eer nie, wat dan?”

Sy moes dit aanpak. Toe sy eers begin het, het alles in plek geval.

“Ek het met die minste geld moontlik en met gunste en gawes dit voltooi.”

Lizanne sê aan die begin van Marimba het sy nie haar eie stem gehad nie. Nou, op haar eie is, voel dit of jare en jare se kreatiwiteit skielik in haar ontplof.

“Dit is nie of ek gesukkel het om liedjies te skryf nie. Die toonsettings het só maklik gekom. Dit was daar, ek moes dit net uithaal. Dit kom van die Here af, dit is hoe dit gebeur het.”

Ná skool wou sy niks van godsdiens weet nie. Toe het iets gebeur met ’n Satanis en dit het haar na die kerk teruggeruk. Sy was aanvanklik huiwerig, want sy wou nie ’n tipiese gospel-ster wees nie.

“Dit steek my dwars in die krop. Maar die tyd is nou reg vir my. My een professor het altyd vir my gesê ek is ’n iemand wat laat ontwikkel. Ek is definitief. Ek het gevoel ek is nou reg, ek het die selfvertroue. Ek sê nou wat ek dink en voel en waarin ek glo.”

Lizanne Barnard en haar seun Pyjama Shark se plakkaat van hul produksie Dwarshout. Foto: Verskaf

Lizanne sê sy weet nie hoe om die oënskynlike onuitputbare bron van kreatiwiteit wat sy tydens die inperking beleef het te verduidelik nie, maar sy dink dit is omdat sy jare lank soveel moes opkrop dat sy nou voluit uiting gee aan die golf van skeppende krag wat uit haar binneste vloei.

Sy het van kleins af geweet sy gaan ’n musikant word. Dekades later is sy een waarvan almal kennis neem, al was sy altyd op die toneel met produksies soos Uit die bloute waarin sy die gedigte van Eugène Marais getoonset het.

Die sanger Lizanne Barnard se produksie Dwarshout is pas voltooi. Foto: Verskaf

“Ek het begin klavier speel toe ek vyf was en ek het altyd geweet ek gaan ’n musikant wees, daar was nooit iets anders nie. Ek het gedink ek gaan ’n klassieke pianis wees, ek was lief vir klassieke musiek en ek het grootgeword in ’n huis waar my pa veral vir ons Bach en Beethoven gespeel het. My eerste liefde was klassieke musiek.

“Ek het kabaretsangers begin begelei en my eie liedjies geskryf. ’n Groot keerpunt het gekom toe ek die Crescendo-kompetisie in 1997 gewen het. Ek het ingeskryf met geen verwagtinge nie en toe ek wen, het ek baie meer begin dink in die rigting van Afrikaanse musiek en Afrikaanse gedigte met toonsettings. My woordkunsliefde het toe eintlik begin.”

Vandag speel sy klavier, dwarsfluit, djembe en marimba. Leon Ecroignard en Adam (Pyjama Shark) sorg vir die spesifieke klank, baie met selfgemaakte instrumente. Die klank is deels wêreldmusiek met Afrika- en klassieke ondertone.

“Ek moet Leon krediet gee as my nommer-een-go-to guy, omdat ek so mal oor hom is as mens en hy so ontsettend kreatief is. Hy is ’n absolute non-conformist, dis hoe hy die lewe en musiek benader. In sy huis kan jy enigiets van die muur haal of van die grond optel en daarmee musiek maak. Jy kan of daarvan ’n drom maak of dit het ’n snaar aan. My seun neem klanke op en herskep dit in sy komposisies.”

As jy vir haar enigiets speel met Arabiese musiek in, rave sy, sê Lizanne.

“Dit moet lyk soos ’n kameel of ’n woestyn, dan is ek happy.”

“Ek is ook mal oor enige wêreldmusiek. Indiese, Noord- en Wes-Afrikaanse musiek. Ander goeters, poliritmes met interessante instrumente. Ek hou ook van ’n lekker rock groep. Maar enige eksotiese klanke is my ding.”

Haar eerste projek tydens die inperking was Stuur my jou woorde. Sy het niks verwag nie, dit was meer om na mense uit te reik. Dit het net lekkerder geraak en al hoe meer mense het begin deelneem.

Met die derde een het ’n mediahuis betrokke geraak en sy het oor die 200 gedigte ingesamel. En sy het tydens die inperking net aangehou musiek maak.

“As daar nie geld is nie, kan jy óf sit en sulk óf aangaan dit waarvoor jy lief is.”

Lizanne is vier jaar gelede met Wayne Raath getroud. Sy sê hy is nie ’n musikant nie, maar ’n “musiekverstaner”. “En hy is mal oor musiek.”

  • Dwarshout word elke Sondag in April uitgesaai. Dit is 11, 18 en 25 April 17:00. Kliek hier. 

Meer oor:  Produksie  |  Lizanne Barnard  |  Dwarshout  |  Sangeres  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.