Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Perels’ van wysheid

Die internasionale verhoudingsterapeut Esther Perel is vandeesmaand in Suid-Afrika om met ’n Suid-Afrikaanse gehoor oor moderne liefde te praat. Carla Lewis het met haar gesels oor affairs, of die huwelik as maatskaplike instelling nog geldig is en of ons te veel van ons lewensmaats verwag.

Illustrasie:ISTOCK

In ’n era waar ’n app en algoritme vir jou 1-2-3 ’n kêrel kan bestel, 45-jarige yummy mummies met lywe soos 25-jarige prikkelpoppe hul sensualiteit op sosiale media ten toon stel en voorstedelike swinger-partytjies ’n ope geheim is, sal jy dink alles gaan klopdisselboom in die mensdom se slaapkamers.

Daarom krap jy eers kop oor die Belgiese sielkundige en verhoudingsterapeut Esther Perel se gewildheid.

Haar boeke Mating in Captivity, wat handel oor hoe om weer erotiek in jou huwelik aan te wakker, en The State of Affairs, oor hoekom mense hul huweliksmaats verneuk, is internasionale topverkopers. Seks, en goeie seks daarby, is toegankliker as ooit, maar as jy kyk na die miljoene eksemplare van Perel se boeke wat van die rakke af vlieg, is ons huwelike duidelik passieloos.

As ons wel seks wil hê, is dit met die bure, ons kollegas, of selfs ’n vreemdeling wat ons oor ’n app “bestel” het.

Is dit miskien tyd vir paartjies om hul verwagtinge oor verhoudings en die huwelik met so ’n paar sporte te laat sak, of selfs alternatiewe leefstyle soos “oop huwelike” te oorweeg?

Perel het immers in ’n onderhoud met The New Yorker gesê ’n meer realistiese huweliksbelofte voor die kansel is:

“Ek sal gereeld droogmaak en somtyds sal ek erken as ek verkeerd is.”

“Dis waar ja,” erken Perel oor ’n Skype-skerm vanuit haar praktyk in New York.

Selfs tussen rekenaarpiksels, ses tydsones en amper 13 000 km ver, het die Belgiese verhoudingskenner ’n kragtige teenwoordigheid. Sy luister geduldig, dit voel meer soos ’n gesprek met jou slim, wêreldse vriendin as ’n formele onderhoud.

Tussendeur pols sy my oor my eie mense se sienings oor die liefde, seks en verhoudings. (Afrikaanse mense en Amerikaanse Wasps, White Anglo-Saxon Protestants, blyk dit het baie in gemeen.)

“Maar in die New-Yorker-onderhoud verwys ek ook na ‘love’ as ’n werkwoord, nie ’n selfstandige naamwoord nie,” gaan sy voort.

“Die probleem met moderne huwelike is nie die hoë verwagtinge wat ons koester nie,” benadruk sy. Ons is nie bereid om daarvoor te werk nie.

“Liefde is iets wat ’n mens die heeltyd bewustelik moet beoefen. Jy werk daaraan. Soms is dit ’n struweling. Somtyds gedy dit.”

’n Verhouding, veral ’n lewenslange een, meen sy is ’n langdurende, werkende ooreenkoms met allerhande emosies – positief, primitief en soms laakbaar.

“Maar ‘lief’ ” – soos in ‘ek lief jou’ – “is ’n aktiewe werkwoord. Dit eb en vloei. ‘Lief’ is nie ’n konstante toestand van opwinding en bewondering nie.”

Sy en haar Amerikaanse man, Jack Saul, is al vir 35 jaar saam en sy benadruk: Hulle oefen hard om mekaar lief te hê. Hulle was self al telkemale voor ’n verhoudingsterapeut.

Sy vergelyk ’n huwelik met ’n avontuur, soos om die berg Everest uit te klim.

“Jy kry paartjies wat streef na die hoogste kruin van ’n verhouding. En bygesê, die uitsig daarvandaan is asemrowend. Ek self is in ’n gelyke, gelukkige huwelik. My loopbaan bied my ook eindelose geluk. Ek reis oor die wêreld en help mense.” En haar man gun haar al haar sukses. Etlike dekades terug was so ’n egalitêre huwelik, waar ’n vrou ewe veel voldoening uit haar verhouding, gesin en ’n loopbaan kon put, ongehoord.

Tog hoef almal nie vir Everest se kruin te mik nie, stel Perel gerus.

“Jy kry paartjies wat net so gelukkig is om op die voetheuwels rond te ploeter. Hulle is heeltemal tevrede met die uitsig.”

Wanneer jy ’n verhouding of huwelik betree, moet albei partye net duidelik wees of hulle na Everest se kruin mik, of die eerste basiskamp.

Teenstelling van moderne liefde

“Wanneer jy kyk na die gene­rasies voor jou, dié van jou ma en jou ouma, het vroue dikwels die huwelik betree as gevolg van ekonomiese redes. Dit het niks met liefde te doen gehad nie.

“Hulle het ook vervulling gekry by verskillende mense en instansies – by hul kinders en familie, om uit te help by die kerk en maatskaplike instansies en hul breër vriendekring.”

Sy sê om die hoë egskeidingsyfer te verstaan as gevolg van affairs en ontrouheid, moet jy kyk hoe die huwelik en die getroude paartjie se plek in die samelewing die afgelope eeu verander het. Mense het getrou vir ekonomiese, praktiese redes – dit was ’n lewenslange pragmatiese vennootskap tussen twee partye. Die vrou het vir die man ’n erfgenaam verseker in ruil vir ekonomiese sekerheid, beskerming en sosiale aansien. Soms was dit om ekonomiese of politieke mag tussen twee families te vergroot.

“Nou soek ons steeds ekonomiese sekerheid, beskerming en kinders, maar ook ’n beste vriend, sielsgenoot, ’n erotiese minnaar. Boonop leef ons twee of drie keer langer as ons voorvaders, en ons verwag dat ons behoeftes – waarna ’n hele gemeenskap omgesien het – nou deur een mens bevredig moet word.

“Omdat die moderne same­lewing tans ook ’n groter klem op individualisme plaas en die invloed van maatskaplike instellings soos ’n mens se uitgebreide familie, die kerk en gemeenskapswerk besig is om te kwyn, draai ons na een persoon en verwag hulle moet vir ons dieselfde ondersteuning en hulpbronne as ’n gemeenskap bied.”

En wanneer ons voel daardie persoon skiet kort, begin ons oë dwaal . . .

Die tragedie van ons tyd

“Tydens my seminare of praatjies vra ek soms vir mense om hul hande te lig as hulle direk in hul lewe deur ontrouheid geraak is.

“Amper almal in die kamer of saal steek gewoonlik hul hande op, want ontrouheid is alomteenwoordig.

“Sedert die huwelik bestaan, bestaan ontrouheid.”

Of jy is dalk self die skuldige wat ’n erotiese, verbode liaison aangegaan het, of die slagoffer wat die bitter kulkelkie van ’n ontroue maat of ouer moes sluk, of ’n vriendin, geliefde, of familielid deur ’n affair moes ondersteun.

Die narratief van ’n affair, meen Perel, neem die hele kompleksiteit van die menslike toestand in beslag.

Kykie na ander se slaapkamersake

Verhoudingsterapie is duur, gee Perel toe, en talle paartjies het ook nie altyd toegang tot ’n verhoudingsterapeut nie.

Dit is waarom sy as’t ware besluit het om mense by haar spreekkamer in te nooi, met behulp van ’n pod­sending: Where should we begin.

Die konsep is eenvoudig, dog boeiend: Perel gee jou ’n blik op regte (anonieme) paartjies, met regte probleme. Die terapiesessies is met die paartjies se toestemming opgeneem en daar word ruiterlik en openhartig oor verhoudingsprobleme en intieme slaapkamersake gepraat.

Daar is die diepgelowige paartjie wat albei maagde gebly het tot met hul huweliksaand, maar nou sukkel tussen die lakens, ’n getroude paartjie wat al 17 jaar saam is, maar maande laas intiem verkeer het omdat hulle mekaar as vriende, eerder as minnaars beskou, ’n vrou wat haar rol binne haar huwelik moet heroorweeg nadat Parkinson se siekte by haar man gediagnoseer is en sy weier om sy “verpleegster” te word.

Om na die podsending te luister is amper ’n voyeuristiese ervaring; Perel glo die voyeuristiese element maak vir boeiende luisterstof.

Dis soos om deur die blinders te loer of jou ore te spits wanneer die bure baklei – amper ’n troos om te weet ander mense ervaar ook huweliksprobleme.

“Ons lewe in ’n era waar mense voorgee dat hul lewens en verhoudings foutloos en fantasties is. Dan wonder mense: ‘Is ek normaal? Is ek die enigste een wat hierdeur gaan?’ ”

Die derde seisoen kyk na verskillende fases van die huwelik, en die uitdagings wat getroudes ervaar.

Die podsending kan gratis op Gimlet en op iOS-toestelle se podcasts-app afgelaai word.

Dit is waarom dit vir haar so ’n interessante onderwerp is en sy haar loopbaan daaraan gewy het om affairs en ontrouheid te bestudeer en verstaan.

“As jy elders vir die drama, tragedie, intrige, passie en spanning gaan soek, sal jy Russiese literatuur moet studeer. Of die operahuis moet besoek,” lag sy.

“Dis die universele verskynsel van ons tye.”

Ten spyte daarvan dat dit so algemeen voorkom en die samelewing se sienings oor “oop huwelike”, veelwywery, en menslike seksualiteit al hoe meer oopkop word, is ’n affair of ontrouheid steeds een van die uiterste taboes.

“Dis omdat daar vir alle praktiese doeleindes, in die moderne huwelik, nie ’n rede is om ’n affair te hê nie. Ons trou mos vandag met ons sielsgenoot wat ons van liefde, romanse en passie sal voorsien.

“In die verlede kon mans rondloop en hul vroue verneuk, dit is geduld. Vroue moes dit maar verduur.

“Daar was allerhande verskonings oor hoe dit in ’n man se aard is om ’n dwalende oog te hê.”

Maar meer gelykheid binne die huwelik en veranderende geslagsrolle het ook dié siening in die kiem gesmoor.

“Ek wou verstaan hoekom verneuk mense hul geliefdes.”

En ná jare se navorsing het sy steeds nie ’n definitiewe antwoord nie. Party is ontrou, al is hulle in gelukkige huwelike; die redes waarom mense hul maats verneuk is so legio soos die verskille in die kompleksiteit van die menslike toestand.

“Jy kry mense wat chroniese verneukers is. Iemand trap in ’n oomblik van swakheid oor die tou. Met party is daar nie eens regtig groot fout binne die huwelik nie.

“Mense dink omdat ek so baie oor affairs en ontrouheid skryf en navorsing doen, dat ek dit op ’n manier goedkeur. Ek sien daagliks in my praktyk die verskriklike nagevolge daarvan. Dis een van moderne verhoudings of huwelike se grootste krisisse: dis een van die grootste oorsake van egskeidings in die Weste.

“Dis ’n groot uitdaging vir die langdurigheid en voortbestaan van huwelike. Ek probeer dit objektief verstaan, sonder die emosie, smet en skandaal wat gewoonlik deel is van die narratief.”

Perel wil juis vir paartjies laat verstaan al voel ’n affair soos iets wat jou lewe in duie laat stort en die begin van die einde is, dit nie noodwendig die geval is nie. ’n Affair kan ’n waarskuwing wees, ’n kans vir groei en vernuwing, as albei partye bereid is om dit te omhels.

“Daar is affairs wat ’n paartjie uit ’n groef kan lig, hulle laat besef hoe kosbaar hul verhouding is. Dit kan ’n nuwe begin vir hulle beteken.

“Maar dis gewoonlik eers wanneer hulle op daardie afgrond staan, wat hulle moet besef hulle loop die risiko om iets te verloor wat kosbaar en broos is.”

  • Esther Perel en die digter David Whyte lewer op 26 Oktober in Johannesburg, by Montecasino, ’n lesing oor verhoudings en liefde en op 27 Oktober in Kaapstad, by Kelvin Grove in Nuweland. Kaartjies is beperk tot 400 en albei lesings vind 08:30 die oggend plaas. Kaartjies kan by quicket.co.za gekoop word.

Aanvullende bronne: Mating in Captivity: Unlocking Erotic Intelligence.

* Lewis is ’n senior redaksielid van Beeld.

Meer oor:  Profiel  |  Verhoudings  |  Liefde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.