Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Petra Müller: Die vrou wat nie wou mak word nie

Op wat sy beskryf as “’n effense winterdag” in Kaapstad, het die Hertzogprys-digter en skrywer Petra Müller in Augustus 2007 met Murray La Vita gepraat oor haar werk, haar geliefdes, die natuur, die dood en noue ontkomings.

Petra Müller tydens ’n onderhoud in Augustus 2007. Foto: Edrea Cloete

Teen ’n wit muur in haar motorhuis hang ’n kierie, ’n houtskop, ’n dungetrapte stiebeuel, en ’n foto van drie blonde seuns by ’n watergat.

“Ek is versot op stokou goed: ou stories, ou mense, ou kledingstukke. Want hulle is deurtrek van lewe. My skrywery is ’n poging om die lewe van dinge te verleng.”

Petra Müller staan in die leefvertrek van haar huis. Van hier kan sy tot in die motorhuis sien. Die kierie, die skop, die stiebeuel, en die foto is dus voor haar oë as sy hier rondbeweeg.

As sy oor die bruin Persiese mat stap verby die stoel wat lyk soos die een waarin dr. Con de Villiers se oom selfmoord gepleeg het. As sy voor ’n skildery van Marjorie Wallace gaan staan wat resoneer met die purper fluweel en die salmpienk sy van haar uitrusting. As sy wegdraai van die teetafel. Talm by ’n foto van haar ma, Mooi Annie. ’n Foto optel van haar pa (met die “bekende blou vuur” in sy oë). Opkyk en beaam dat haar ouers “natuurmagte” is.

Martin Versfeld het vir my gesê: ‘As dit by die dood kom, word almal behalwe die malles stil.’

Die skop, daardie graafagtige langsteel- Middeleeuse implement, kom van haar pa se solder af. Die kierie (in die Zen-wêreld “die simbool van die ganse gang van die lewe”) het haar ou vriend, wyle die filosoof Marthinus Versfeld, uit tambotiehout gemaak wat hy op haar plasie Waterval op die Piketberg gekry het.

Die stiebeuel kom uit Swellendam en hou verband met die befaamde Skotse Barrys.

En die aantreklike seuns: twee balanseer op stompe en een is halflyf in die water; hulle glimlag vir mekaar. Die seuns is haar broers, jare gelede afgeneem op haar ouers se plaas, Eenzaamheid. Een van hulle, haar jonger broer, Nico, wat hier links voor staan met sy lang bene, het verdrink toe hy 22 jaar oud was.

Dit is dié tragedie wat haar wérklik laat begin dig het. Sy het vroeër gesê: “Poësie is so ’n intense manier waarop jy probeer om jou smart uit te druk.”

So het sy dan ook verse geskryf oor die dood van haar ouers, haar man, Wilhelm Grütter, en vriende soos Versfeld.

“Martin Versfeld het vir my gesê: ‘As dit by die dood kom, word almal behalwe die malles stil.’ Die verlies, daai gat, jy sien hom dán. En die dood word vir jou baie bekend. Hy’s nooit weer ’n vreemdeling as jy hom een keer in die oë gekyk het nie.

“Ek was al twee keer naby die dood gewees. Water is my ding. Ek kan nie van water af wegbly nie.”

‘Ek leef in die oomblik’

Haar wêreld is die wêreld van die verlede, die antieke wêreld. Haar middelnaam is Helena. Sy is eintlik ’n Griek, sê sy.

“Ek is deel van ’n kultuur wat ’n klein plek inneem in die wêreld van vandag. Dit het eintlik ’n subkultuur geword. Die hedendaagse wêreld is op jong mense en húl toekoms ingestel. Ek leef nie in die toekoms nie. Ek leef in dié oomblik, ingelig deur die verlede.

“Ek gaan nou my genoom laat ondersoek. Want ek het ’n vermoede daar’s ’n hele klompie Boesmanbloed in my en ek wil dit bevestig hê. Ek wil familie wees van mense wat die eerste mense genoem word en wat dit reggekry het om in Afrika hulleself en hulle kultuur vir duisende jare aan die gang te hou.”

Müller in die leefvertrek van haar huis. Foto: Edrea Cloete

Sy wys na haar televisie en sê: “Daai ding het gebreek toe ek hiernatoe getrek het. Ek noem dit my kulturele voorwerp. Hy maak vir my sneeu. Dis al wat hy doen. Ek skakel hom aan, dan kyk ek ’n bietjie na die sneeu. En dan skakel ek hom weer af. Sokrates het gesê: ‘Hoe baie dinge is daar op hierdie markplein wat ek nie hoef te koop nie.’ ”

’n Ondeunde glimlag. Haar rustige, ligblou oë (laat hulle ’n mens nie aan dié van ’n jong madame Blavatsky dink nie?) vonkel.

Die bloupers glasoorbelle maak swaaibeweginkies wanneer sy haar kop draai. Trane van Venesiese glas wat sy in Florence gekoop het. Sy het ’n kas vol oorbelle; koop altyd oorbelle as sy reis. Hulle is die klein Marco Polo’s wat daar lê en getuig: Hierdie vrou was in Europa, Tibet, Rusland, China, Kanada.

‘Want dis lekker’

“Skrywery is ’n vorm van ekstase. Dis ’n vorm van vervoering. Terwyl daardie verhaal jou beet het, gaan die tyd verby en jy is nie daarvan bewus nie. Dít kan enige kreatiewe mens vir jou sê.

“Ék skryf om in daai toestand te gaan. Want dis lekker. Dis hoekom ek sê dit is nie werk nie.

“Ek stel nie besonder belang in my eie skryfwerk nie. Dis iets wat ek dóén, dis nie iets waarin ek belangstel nie.”

Kreatiwiteit is ’n metgesel, jy weet. Kreatiwiteit word ’n lewensvriend.

Sy skryf nie eintlik meer kortverhale nie.

“Ek wil graag gedigte skryf. En gedigte skryf, is ’n ongelooflike lekker bedryf. Al wat jy nodig het, is ’n pen en ’n stuk papier.

“Dis ’n bevlieging. Dis een reël wat na jou toe kom en die volgende oomblik dan groei die ding só.” Sy beduie met haar hande asof sy wys hoe ’n brood uitrys.

“Kreatiwiteit is ’n metgesel, jy weet. Kreatiwiteit word ’n lewensvriend.”

Vroeër sê sy ’n mens is verlief op jou eie manuskrip.

“Ja. Dit is ook daardeur dat daardie verskriklike publikasieskok kom. As jy daardie manuskrip eventueel in jou hande het, dan skrik jy jou kóúd! Wat het ek aangevang?

“Ek het byvoorbeeld toe ek nou hierdie boek (Desembers) gelees het, gedink: wat ’n verskriklike, gruwelike verbeelding is dit wat na vore kom. Wie is die mens wat dit geskryf het?

“En kyk hierdie agterblad; dit wys daardie pokdaligheid en vuurspuwendheid. Dit lyk mos soos ’n verbrande landskap. Daar is iets vreemds daaraan.”

Dit is ’n foto van ’n strand wat vir haar só lyk.

Vakmanskap

Die bundel Desembers is opgedra aan die uitgewer “Charles Fryer, leermeester en bron”, saam met wie sy by Tafelberg gewerk het.

Wyle Cas van Rensburg voer in Augustus 2010 ’n onderhoud met Müller. Foto: Argief

“Ek het ’n dekade lank in die kantoor langs hom gewerk. Hy’t langs jou gaan sít . . . Hy het jou elfuur in die nag gebel oor ’n komma. Vakmanskap. Maar hy het ons almal geleer; hy’t die hele trop van ons daar geleer. Daar het nie destyds ’n boek met ’n drukfout in verskyn nie.

“Ek het by Die Burger begin as ’n joernalis. Toe het ek daarna eers na die Sarie Marais gegaan as verhaleredaktrise en toe Tafelberg toe. En ek dink ek was 25 jaar lank ’n mens wat met manuskripte gewerk het.

“Die manuskrip kom by jou aan, hy’s miskien halfklaar, hy’s miskien heeltemal onklaar, hy’s miskien driekwart klaar, en by die weiniges is hy heeltemal klaar.

“Mense weet nie hoeveel werk daar aan manuskripte gedoen word by uitgewerye nie. Ag, die skrywer vergeet dit ook. Dit is jou werk om daardie manuskrip te reflekteer. En die één ding waarvoor jy móét oplet, is nie die oue waarvan jy weet nie; die bekende nie, maar vir dít wat nuut is daar.

“Dis veral die ónbekende deel van die manuskrip; dié gedeelte wat nog nie voltooi is nie. En dit is wat my tot hierdie dag toe nog altyd fassineer. Bestaan daar, soos Plato gesê het, vorme in die natuur?”

'Skrywery is ’n vorm van ekstase. Dis ’n vorm van vervoering.' Foto: Argief

Sy wys na die muur agter haar. Daar waar die boekrak is. Die skilderye. En die jasmynbloeisels in ’n vaas.

Fryer het haar ook geleer van leemtes in manuskripte.

“Waar versaak die roman sy eie bedoeling? Want die kwessie is altyd dat dié ding, dié stuk werk wat voor jou lê, aan sy eie gesproke of ongesproke bedoelings moet voldoen. En daai ding is nie altyd nie, maar meestal, sigbaar: dié leemte, dit wat nog makeer. En dít is ’n fassinerende ding.

“Jy weet, kreatiwiteit het sy eie patrone. Dis die een ding waarmee jy nie kan voorskryf nie. Dit is onberekenbaar.”

‘Tel elke woord’

Müller, wat in 1996 Leserskring se toekenning Boekjoernalis van die Jaar ontvang het, het pas die eerste keer in vyf jaar weer ’n resensie geskryf.

“Ek het ná my man se dood heeltemal ophou resensies skryf, want ek het gedink: Wat het ék nou soveel te sê oor ander mense se werk?

“Ek sal nie maklik weer klompe resensies skryf nie. Dit is ’n groot verantwoordelikheid. Jy moet élke woord tel. Jy weet, kreatiwiteit is ’n lewende ding, ’n organiese ding.

“Jy moet versigtig wees vir organiese prosesse; hulle vang jou. Ek dink enige vorm van kreatiewe lewe het absoluut iets onberekenbaars daaraan.

“En dít is wat my trek. Die wilde gedeelte daaraan. Want ek is eintlik nog maar ’n halfmak mens. Ek het nog nooit mak geword nie. Ek wil dit ook nie wees nie. Dit is ’n streep wat in my familie is.”

‘Totaal bevange’

Kenmerkend van haar werk én lewe is haar intense omgang met die natuur. Dit is al beskryf as haar “byna mistiese belewenis van landskap”.

“Ons Afrikaners het ons mistiek aan die grond afgegee. Jy kan jou eenvoudigste boer loop bekyk. Hy kyk na sy plaas met ’n mistiese oog. En mý pa het daai ding in hom gehad. Grond was vir hom die begin en einde van alles.”

Sy was self haar lewe lank “totaal bevange” in die “geleerdheid wat jy uit boomstompe en uit klippe haal”.

“Ek het as ’n kind ook aanmekaar weggeloop; by die waterslote weg. Ek kon dit nie weerstaan nie. Hulle moes my partykeer loop vang. Ek weet van eenkeer wat hulle die konstabel met die perd gestuur het.”

Die Bergpredikasie

Die oggend word middag. Dit reën en hou op reën. Die son skyn op sandsteen. Hadidas vlieg krassend en prehistories verby.

Sy praat oor haar plasie, waar sý ’n storie geword het wat daar ronddwaal; oor hoe sy as kind in die nag onder haar bed met ’n kers weggeraak het in die wêreld van lees; die Zen-kern van die Bergpredikasie; hoe die Boeregrap vry maak; die gewone mens as held; heersers wat stadigaan mal word; drome wat verlei; haar kleinseun wat taal ontdek. Om ouer te wees is lekker, sê sy.

En fluister: “Jy kan maak wat jy wil.”

Meer oor:  Petra Müller  |  Digter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.