Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Pieter-Steph: ‘Elke Suid-Afrikaner is ’n Springbok’

Ons as Suid-Afrikaners is almal Springbokke, sê Pieter-Steph du Toit (27) aan Murray La Vita.

Pieter-Steph du Toit gesels vandeesweek met Murray La Vita in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Buite ’n restaurant in ’n noordelike voorstad van Kaapstad sit ’n babaseun in ’n stootwaentjie. Op sy skoot is ’n rugbybal.

“Hy is groot vir sy sewe maande. Hy dra klere vir babas van 12 tot 18 maande,” sê sy ma, Willemien du Toit.

Langs die seuntjie (hy is ’n agtste geslag Pieter Stephanus du Toits) sit ’n blonde reus met ’n bofbalpet op sy kop. Dit is sy pa, Pieter Stephanus du Toit, beter bekend as Pieter-Steph.

Netnou gaan twee skraal mans in blou oorpakke hier verbystap en vassteek. Die een gaan sê: “Is dit moontlik om ’n selfie te vat, Pieter?” Dan gaan hy na sy maat draai en vra: “Jermaine! Ken jy dié man, Jermaine?! Dis ’n Wêreldbékerwénner!”

In die loop van die onderhoud met Pieter-Steph, Wêreldbekerrugby se speler van die jaar en die Springbokke (wat pas die Wêreldbeker gewen het) se “ysterflank”, gaan dit drie keer gebeur.

Ook gaan ’n man vir Pieter-Steph sê hoe beïndruk hy was met sy bedankingswoorde die aand toe hy ná die Wêreldbekerrugbytoernooi in Yokohama as speler van die jaar aangewys is, en watter indruk dit op sy twee seuns, wat nie rugbyondersteuners is nie, gemaak het.

Ek het daar voor gestaan en ek het geswéét en ek het gebewe toe ek moes praat en ek het nie geweet wat om te sê nie.

Wanneer ek Pieter-Steph oor daardie aand uitvra – die aand wat soos ’n rockkonsert was met die harde musiek wat in die groot saal vol ligte en mense gespeel het toe hy opstap om sy prys te ontvang – sê hy:

“Ek het net ge-blackout. Ek het gebewe toe ek daar opstaan. Dit was só stresvol. Hulle lees name uit van ouens wat dit al voorheen gewen het en die name wat hulle daar uitlees, is legendes . . .

“Ek het daar voor gestaan en ek het geswéét en ek het gebewe toe ek moes praat en ek het nie geweet wat om te sê nie. Dit het vir my gevoel ek hap net bubbles,” sê hy met ’n verleë glimlag.

Was dit vir hom ’n verrassing?

“ ’n Mens speel nie vir daai goed nie, maar dis lekker as dit kom. Dis ongelooflik. Jy kan dit nie beskryf nie. Jy doen alles tot die beste van jou vermoë en jy stel die span altyd eerste. As die individu nie op vorm is nie, gaan dit die span ook benadeel, so ek voel altyd die individu moet op vorm wees vir die span om ook te kan perform, maar baiekeer dra die span die individu wat nie . . . Sê nou jy het ’n slegte game, dan maak jy op die span staat om jou te dra. En as jy ’n goeie game het, hélp jy die span dra.”

Pieter-Steph kus die Webb Ellis-trofee.Foto: Getty Images

‘Onbeskryflike ontvangs’

Die Springbokke se ontvangs met hul terugkeer en die toer na verskeie stede in die land ná hul sege, was ook vir Pieter-Steph onbeskryflik.

So ’n paar jaar terug wou niemand iets te doen gehad het met die Springbokke nie en noudat die Springbokke gewen het, praat almal oor die Springbokke . . .

“Eerstens, toe ons in Johannesburg land, ons het op verskillende vlugte geland, toe ons daar uitkom . . . Ek het nog nooit in my lewe so iets beleef nie. Ek het altyd gedroom as ons van toere af terugkom en by Johannesburg uitstap . . . Jy wens die mense is passiévol en die plek is vol. Ek het dit al so ’n paar keer in die verlede gesien soos in 2007 [die vorige keer toe die Springbokke die Wêreldbeker gewen het] en ek het maar net gedroom om so iets te kan beleef.

“Die lughawe was própvol. Die mense het gehúil. Dit is iets verskríkliks. Ek kan dit nie beskryf nie. En toe ons op die busse gaan – die plekke waarheen ons gegaan het, is ongelooflik. Hoe passievol die mense was. Hoe hulle élke speler se naam ken.

“So ’n paar jaar terug wou niemand iets te doen gehad het met die Springbokke nie en noudat die Springbokke gewen het, praat almal oor die Springbokke . . . Wow! Dit is rêrig . . . Ek kán dit nie vir jou verduidelik nie. Dit is soos ’n séé vol mense.

“Toe ons hier in Kaapstad in Langstraat afry . . . Die restaurante staan vol mense . . . Die mense in die straat – jy sien nie eens die pad nie!”

Pieter-Steph sweef oor die doellyn vir sy drie teen Nieu-Seeland tydens die Wêreldbekerrugbytoernooi in Yokohama.Foto: Getty Images

‘Iemand moet ’n verskil maak’

In die townships van plekke soos Oos-Londen en Port Elizabeth het hy geskrik vir hoe die mense lewe.

“Jis, dit was ’n eye opener. Om te sien hoe die mense moet leef. Die ontlasting; daar’s nie plek vir ontlasting nie. Die rommel; als lê net daar. Hulle lewensomstandighede is glad nie goed nie.

Ons as Springbokke wil graag ’n verskil maak en hoop gee, maar al hoe ons dit kan doen, is om goed rugby te speel.

“As ’n mens so ry dan dink jy: Hoe gaan ’n mens ’n verskil kan maak. Ons het nou die Wêreldbeker gewen en almal is passievol, maar oor ’n week gaan daardie mense nog steeds daar moet lewe. Iemand moet opstaan en ’n verskil kan maak. Dit was vir my baie erg om te sien . . . En dat daardie mense nie gehelp word nie.

“Ons as Springbokke wil graag ’n verskil maak en hoop gee, maar al hoe ons dit kan doen, is om goed rugby te speel. Dit gaan nie hongersnood en geweld wegvat nie, maar ek is seker daarvan dit gaan êrens ’n verskil maak. Ek kan nie vir jou sê presies waar nie, miskien deurdat mense beter oor die weg kom en verhoudings beter verstaan . . .

“Dít is wat ons as Springbokke ook geleer het toe ons 22 weke saam was – hoe verhoudings werk en om mekaar te verstaan en nie net altyd jóú sin te wil kry nie; om ander ouens se belange op die hart te dra. Jy kan nie net oor jouself worry nie. As jy ander mense se belange bo joune sit, gaan jou goed outomaties vanself kom.”

Vir hom as betreklik private mens was dit ’n uitdaging om die hele tyd in ’n groep te leef.

“Maar dit word later soos jou huis. Die ouens is bymekaar en begin mekaar verstaan. Dis nie altyd maklik gewees nie. Almal se opinies en manier van lewe verskil, maar almal het maar net op hulle lip gebyt as hulle nie saamstem met wat iemand sê nie.

“Dit was amper asof ons getroud was. Jy bly saam in ’n huis vir 22 weke – ’n groep van 50, die spelers en die bestuur, het die heeltyd saam in ’n hotel gebly; ons was van die oggend tot die aand bymekaar.”

“Jy doen alles tot die beste van jou vermoë en jy stel die span altyd eerste.” Foto: Jaco Marais

Dis in ons bloed’

Daar is al gesê Pieter-Steph het sy oupa, die Springbokrugbyspeler Piet “Spiere” du Toit, se gene.

“My broers speel ook lekker rugby. Ons hou van rugbyspeel; dis in ons bloed om rugby te speel. Hulle gee 110%.

“ ’n Mens se kop is ’n sterk ding en as jy selfvertroue het, dra dit baie by tot jou sukses. Ek glo jy moet jouself sielkundig voorberei. Omdat ons so hard oefen en ons lywe deur so baie stres sit – jy kan ook net soveel ekstra doen; jy kort ook rus.

Jy kan vir enigiemand vra, sodra jy bang is, gaan jy seerkry.

“Baiekeer as ek byvoorbeeld plaas toe ry, sal ek net sit en deur goed gaan – ’n sekere checklist van wat ek dink ek op die veld moet doen – hoe om te tackle; hoe om die basiese goed te doen.”

Pieter-Steph kan van al die Springbokke met die meeste duikslae (61) in die toernooi spog. Hy is klaarblyklik nie ’n bang speler nie?

“Jy kan nie bang wees op die rugbyveld nie. Jy kan vir enigiemand vra, sodra jy bang is, gaan jy seerkry.

“Ek is ook so grootgemaak om altyd my beste te gee. Almal het ’n talent en ’n gawe gekry en party mense se gawe is om harder te werk as ander en party ouens kán nie hard werk nie en het net ’n gawe om te kan speel.

“So, ek dink mý talent is om net baie hard te werk. Ek glo jy kan nie ’n prys op harde werk sit nie.”

Willemien, Pieter Steph du Toit (middel) se vrou, sy pa Pieter, broer Johan en ma Annalene, met die Webb Ellis-trofee.

Die lewe ná rugby

Sy ouers boer op die familieplaas Kloovenburg by Riebeek-Kasteel met druiwe en olywe.

Sal hy wil boer?

“Ja. Boerdery is in my bloed, ek is net nie seker wát ek sal doen nie. Dis ’n familieboerdery en ek sal beslis graag daarby betrokke wil raak. Ons het byvoorbeeld ’n Eight Feet-wyn wat ons maak. Ons is vier seuns, so eight feet is mos nou die agt voete wat die wyn getrap het.

Hoe ouer ek raak, hoe meer begin ek dink aan goed van die rugbyveld af, want rugby hou jou net ’n sekere tydperk...

“So, ek stel baie belang in die wyn en al daardie goeters en die besigheidsfaktor daarvan, en veral ook in eiendomsontwikkeling.

“Hoe ouer ek raak, hoe meer begin ek dink aan goed van die rugbyveld af, want rugby hou jou net ’n sekere tydperk; ons het ’n baie kort werktydperk. Ek probeer die heeltyd iets van die veld af doen om my te kan help ná rugby.

“ ’n Tyd terug toe ontmoet ek ’n oom wat ’n groot boer is en toe sê ek vir hom: ‘Luister, oom, ek stel in goed belang.’ Hy sê toe vir my: ‘Doen wat jy nou doen die beste wat jy kan doen en spandeer al jou tyd en krag daaraan.’

“Dit is baie waar wat hy gesê het want ek het nou al so baie gesien hoe jy foute kan maak as jy nie jou volle aandag aan iets gee nie.”

“Álmal wil hê die Springbokke moet goed vaar.”Foto: Jaco Marais

‘Almal se seun’

Pieter-Steph se pa, Pieter, sê hy is almal in die Riebeek-Kasteel-vallei se seun.

“Ek moet sê ek is ’n baie teruggetrokke ou, maar as ek dorp toe gaan, is dit altyd lekker om te sien hoe vriendelik almal is en om te gesels en vir hulle stories te vertel wat hulle wil hoor.

“Dit kan ongemaklik wees want ek weet nie altyd hoe die mense gaan reageer nie. ’n Mens kry mos maar verskillende opinies, almal se opinies is nie altyd gunstig nie, so ’n mens moet jouself maar ’n bietjie terughou.

“Maar ek moet sê in die vallei is almal baie passievol oor my rugby. Almal staan bymekaar en probeer mekaar ondersteun. Dis rêrig ’n goeie gemeenskap.”

‘Hulle is my lewe’

Om pa te word was vir Pieter-Steph die beste ding wat nog ooit met hom gebeur het.

“Dít en my vrou . . . Kyk, hier op aarde is hulle my lewe. Als wat ek doen, probeer ek vir hulle doen en om hulle trots te maak.

“Ek was altyd baie vas aan die huis. Ek is nog steeds – ek wil altyd baie graag by die huis kom en saam met hulle tyd deurbring.”

Om vir lang tye van Willemien en klein Pieter Stephanus af weg te wees is nie vir hom lekker nie, maar hy beskou dit as deel van sy werk.

Ons praat oor die gesinsvakansie waarop hulle binnekort vertrek – na die Krugerwildtuin en Sun City.

“Daar is ’n strand en waterslides. Ons is ook maar kinders dan.

Dis maar hoe ons probeer lewe – om altyd die kinderlike in jou te hou as jy kan en altyd opgewonde te raak oor goed.

Sodra ’n mens dinge as vanselfsprekend aanvaar, dan lewe jy verby daai goed.”

Almal Springbokke’

Pieter-Steph sê Suid-Afrikaanse rugbytoeskouers is “ongelóóflik passievol”.

“Álmal wil hê die Springbokke moet goed vaar. En alles wat almal as ondersteuners doen . . . of dit nou negatief of positief is, hulle wil hê die Springbokke moet goed vaar. Almal wil net help, en dít is waaroor dit gaan.

Ons is as Suid-Afrikaners Springbokke – elke Suid-Afrikaner is ’n Springbok.

“Dis soos Rassie [Erasmus, afrigter] ook sê: Sodra die mense in Suid-Afrika ophou praat oor die Springbokke dan moet jy begin worry – al praat die mense net negatief, dan weet jy hulle gee om.

“Ons is as Suid-Afrikaners Springbokke – elke Suid-Afrikaner is ’n Springbok.”

As kind was dit vir hom ’n droom om op Nuweland voor ’n vol paviljoen te staan en die volkslied te sing.

“Wanneer ons op skool in die saal die volkslied gesing het, het ek altyd na ’n punt so bo die verhoog en die onderwysers gekyk en gedroom ek kan eendag die volkslied sing in ’n Springboktrui.”

Meer oor:  Murray La Vita  |  Pieter-Steph Du Toit  |  Rugby  |  Wêreldbeker  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.