Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Antoinette Slabbert gesels met Bianca Goodson
Platsak en geskei ná sy fluitjie blaas

Ná 2 500 onsuksesvolle werksaansoeke is Bianca Goodson se WhatsApp-status steeds: “Watching laundry dry . . .”

Bianca Goodson: “Ek kon niemand vertrou nie.”

Sy is platsak, skuld haar bejaarde ouers al R300 000 vir hulp aan haar en moes ’n geldinsamelingsveldtog begin net om haar huis te behou.

Dít alles omdat dié voormalige uitvoerende hoof van die Gupta-front Trillian Management Consulting gedoen het wat sy geglo het reg is, en die fluitjie geblaas het.

Dit het haar ook haar huwelik en byna haar toesig oor haar dogter, Chloe (8), gekos.

Goodson vertel dat sy en haar eks­man voor Trillian gemaklik geleef het. “Ek het by Anglo American gewerk, en daar was geen rede om daar weg te gaan nie. Dit was kantoorure, wat goed was, want my dogter was nog klein. Daar was baie geleenthede en sekuriteit.”

Hulle het pas huis gekoop en was finansieel “meer as gemaklik”.

Uit die bloute het iemand met wie sy vantevore saamgewerk en wat sy vertrou het, haar vertel van ’n maatskappy, Trillian, wat op soek is na ’n vrou as uitvoerende hoof.

Ek het nie geweet wanneer iemand gaan uitvind ek praat uit nie.

“Ek het geen rede gehad om te vermoed dit is nie legitiem nie,” sê sy. Sy was net 36 jaar oud, vol idealisme en die wete dat Trillian met Eskom sou werk om beurtkrag stop te sit, het tot haar liefde vir haar vaderland gespreek.

Dié droom het blitsvinnig verbrokkel toe sy die gekonkel by Trillian aanskou.

Die laaste strooi was op 18 Maart 2016, toe sy gedwing is om ’n bankrekening by die Bank of Baroda oop te maak met ’n oortrekkingsgerief van ongeveer R300 miljoen. Sy moes die tekenregte aan iemand anders, buite die maatskappy, oordra, wetende dat sy as uitvoerende hoof steeds aanspreeklik sou bly.

“Dit was net stupid,” sê sy.

Die volgende dag om 06:00 het sy die stuurknoppie vir haar bedanking gedruk – net drie maande nadat sy die pos aanvaar het.

“Aanvanklik wou ek net afstand skep tussen my en die korrupsie. Ek het nie daaraan gedink om ’n fluitjieblaser te word nie.”

Algaande het daar meer berigte verskyn oor Trillian se rol in wat later bekend sou word as staatskaping, maar bewyse het ontbreek.

“Ek wou die joernaliste help en van die dakke af skree dat hulle (Trillian) jok!”

Die fluitjieblaser Bianca Goodson en haar dogter, Chloe.

Omstreeks daardie tyd het ondersoekende joernaliste ’n diagram gepubliseer wat Trillian se staatskapingsrol en verhoudings met ander entiteite geïllustreer het.

“Ek het myself omtrent bevuil. Ek het toe eers besef hoe betrokke ek by alles was. Ek was bang en getraumatiseer.

“Ek het probeer uitfigure of ek in die moeilikheid is.”

Mosilo Mothepu, wat die uitvoerende hoof was van Trillian Financial Advisory, ’n ander filiaal van Trillian Capital Partners, het bedank en begin uitlap wat regtig in die hart van die dier aan die gang was.

“Ek het gesien dat Eric Wood (die Trillian-baasbrein) strafregtelike klagte teen haar indien en gewag dat hy dieselfde met my doen. Ek was bang.”

In Augustus daardie jaar, toe die voormalige openbare beskermer Thuli Madonsela haar kontak, was dit eintlik ’n verligting en sy het begin praat.

Tydens ’n lang en emosionele onderhoud met Madonsela het sy tot die skrikwekkende besef gekom van hóé naby sy was aan iets werklik boos.

Bianca Goodson en haar dogter Chloe (8). Foto: Verskaf

Op regsadvies het sy álles vertel, dít wat sy kon bewys, maar ook haar eie gevolgtrekkings en vermoedens.

Haar man, wat by was tydens die onderhoud, het op pad huis toe op haar geskree. “Jy stel ons gesin in gevaar!”

Van daar af was dit net afdraande vir hul verhouding.

Sy wou die regte ding doen, soos haar ouers, albei pastore in die charismatiese kerk van Philadelphia, haar geleer het.

“Dit was moeilik. Ek is geleer ’n vrou moet haar man gehoorsaam.” Dít is ook die boodskap wat ander pastore tydens berading aan haar gegee het.

Haar onderhoud met Madonsela was op die grondslag van anonimiteit. Sy het nog weggekruip, maar was para­noïes. “Ek het nie geweet wanneer iemand gaan uitvind ek praat uit nie. Ek kon niemand vertrou nie.

“Ek kon glad nie daarop fokus om werk te soek nie.”

Intussen het haar huwelik verder verbrokkel en sy het ’n egskeidingsgeding aanhangig gemaak. “Ná die egskeiding het ek gevoel ek het nou die vryheid om my eie keuses te maak.”

In Januarie 2017 het die Trillian-voorsitter, Tokyo Sexwale, adv. Geoff Budlender aangestel om die Trillian-sweer oop te krap. Hy het Goodson se hulp gevra en sy het ingestem om ’n volwaardige fluitjieblaser te word.

“Hy het my gewys waarvoor daardie rekening by die Bank of Baroda werklik gebruik is. Dit het my siek gemaak.”

Die Franse organisasie PPLAAF – die platform om fluitjieblasers in Afrika te beskerm – het haar met regshulp bygestaan en haar aangeraai om haar storie openbaar te maak, eerder as om wetstoepassers in Suid-Afrika te vertrou.

Sy het die parlementêre ondersoek-eenheid na Eskom gekontak en aangebied om te help. Toe sy niks van hulle hoor nie, het sy op 28 September 2017 haar verklaring op haar webblad gepubliseer.

“Die volgende dag het die parlement my gekontak.”

Nadat sy in November daar verskyn het, was die aap heeltemal uit die mou. Daar was geen wegkruipplek meer nie.

“Ek was toe sterker, dapperder.”

Toe kom die slag. Sy het amper toesig oor Chloe verloor.

Dié geveg het sy gewen, dank die liewe Vader.

Chloe, nou agt, weet steeds nie wat haar ma doen nie. “Ek sê vir haar Mamma het probeer baklei teen ’n klomp slegte mense wat wou geld steel. Ek hoop sy sal eendag verstaan.

“As ek na die Zondo-kommissie se sittings kyk, wil sy altyd hê ek moet vir haar wys wie is die goeie ouens en wie is die slegtes.”

Goodson voel skuldig oor die trauma wat die egskeiding vir Chloe gebring het. Haar eie geestesgesondheidstryd het ook op Chloe afgevryf, maar hulle is albei besig om beter te word.

Sy het sedertdien weer kortstondig gewerk. Eers by die sagtewaregroep Sage, maar sy sê haar openbaarmaking van haar verklaring was vir hulle te veel. Daarna by die sakevrou Magda Wierzycka, self ’n uitgesproke vegter teen staatskaping, se Sygnia.

In Januarie 2018 het Wierzycka haar een kyk gegee en gesê: “Maar jy weet jy is siek?”

Sy is psigiater toe, waar posttraumatiese stresversteuring by haar gediagnoseer is. Sy het ophou werk om op haar geestesgesondheid te fokus.

Ná ’n draai in ’n psigiatriese inrigting, twee pogings om haar eie lewe te neem en gereelde terapie het sy verlede jaar weer begin werk soek.

Maar hier sit sy vandag. 41 jaar oud, 2 500 aansoeke verder – en sy kyk steeds hoe die wasgoed droog word.

Sy is trots daarop dat sy nog altyd haar verantwoordelikhede kon nakom, maar sy en Chloe lei ’n eenvoudige lewe. “Ons bid elke aand dat Mamma werk kry.”

Die ergste, dit wat haar bitter maak, is dat sy in haar bejaarde ouers se oë moet kyk om te oorleef.

In Junie het sy besluit sy gáán hulle nie weer vra nie. Die rekeninge moes egter betaal word en sy het ’n geldinsameling op die webblad BackaBuddy begin.

Onder die titel “Supporting Whistleblowers” het sy die mikpunt op R1 miljoen gestel. Saterdag was daar reeds R107 100,66.

Een persoon gee R200, ’n ander R1 000 . . .

Dit het haar Junie-rekeninge betaal en nog ’n maand blaaskans gegee.

Sy móét haar huis, haar hawe, in Paulshof, Johannesburg, behou. Vir haar en Chloe.

“Ek het lankal ophou planne maak,” sê sy.

Haar lewe is steeds een stroom van eedsverklarings, want siviele eise volg nou namate staatsondernemings die buit probeer herwin en almal kom vra haar hulp.

“Dis irriterend. Daarom het ek alles op my webblad gepubliseer.”

Dit kwel haar dat sy en soveel ander fluitjieblasers aan hul lot oorgelaat word.

Daarom werk sy nou aan ’n tuiste vir fluitjieblasers – Whistleblowers House.

Regshulp, finansies, sielkundige steun, veiligheid, nuwe loopbane. Al die hulp wat fluitjieblasers nodig het, moet hulle by dié tuiste vind. ’n Huis bestuur deur fluitjieblasers, vir fluitjieblasers.

Antoinette Slabbert

Binne die volgende maand wil sy ’n maatskappy sonder winsbejag regis­treer en dan gaan sy aan deure klop. Sy het reeds vir pres. Cyril Ramaphosa geskryf, maar geen reaksie gekry nie.

“Ek sal aanhou skop en skree tot daar reaksie is.”

Sy het innerlike vrede oor die moraliteit van haar besluite, maar die gevolge maak haar kwaad, bitter.

“Ek sal nooit dié gevolge aanvaar nie. Hoe leer ek my dogter om die regte ding te doen (as dit beteken jy verloor alles)?”

Tog, deur alles is haar geloof net sterker.

“As God vir die mossies sorg, sal Hy ons mos nie vergeet nie.”

  • Goodson het in Maart voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig. Die kommissie se finale verslag is nog nie gelewer nie.
  • Hanlie Retief is met langverlof.
Meer oor:  Bianca Goodson  |  Guptas  |  Staatskaping  |  Fluitjieblaser  |  Trillian  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.