Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Polio kry haar nie onder

“My passie is om polio uitgewis te kry. Geen kind moet wees waar ek vandag is nie.”

Dorothy-Anne Howitson van Kimberley, aktivis vir persone met gestremdhede en polio-oorwinnaar, het die oggend van 7 Januarie 1957 wakker geword en kon slegs haar ooglede roer.

Polio-inentings was nog nie in Suid-Afrika beskikbaar toe sy in 1955 in Porterville gebore is nie. Die entstof, ontwikkel deur die Amerikaner dr. Jonas Salk, is in 1955 as veilig en doeltreffend verklaar en was eers in 1956 in Suid-Afrika beskikbaar.

Dorothy-Anne Howitson, kampvegter vir persone met gestremdhede. Foto: Helena Barnard

Toe haar ma daardie oggend by haar kom, het Dorothy-Anne reeds een inenting gehad en dit was twee weke voor haar volgende inenting.

Met haar batteryaangedrewe rolstoel beweeg Dorothy-Anne geluidloos na die kombuis om tee te bestel.

“Hierdie rolstoel – dit gaan nie oor grand wees nie. Dit gaan oor mobiliteit, waardigheid en integrasie. Daarsonder kan ek nie beweeg nie.” Haar rolstoel, ’n basiese model, kos ongeveer R40 000.

Sy hervat haar vertelling. “Ons het in die Strand gebly en daar is vasgestel dat dit polio is. Ek is na die Princess Alice Home wat vol kinders met polio was.”

’n Fisioterapeut van Engeland het haar en ander kinders behandel. Haar pa, Basil, ’n posmeester, is na Uitenhage verplaas en die fisioterapeut het haar ma, Joey, touwys gemaak. In daardie tydperk het Dorothy-Anne twee loopysters en ’n rugstut gekry. ’n Popstootwaentjie, vol bakstene gepak, is ook as ondersteuning gebruik om mee te loop.

Dorothy-Anne HowitsonFoto: Helena Barnard

Polio is nie geneeslik nie, maar 100% voorkombaar deur die toediening van poliodruppels vir kinders onder vyf jaar. Veral dié groep word deur polio geraak. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het in September beklemtoon dat solank één kind met die poliovirus besmet is, kinders in alle lande die risiko loop om dit op te doen. Indien polio nie uitgewis word nie, kan tot 200 000 nuwe gevalle elke jaar voorkom. Dorothy-Anne verwys na plekke – ook in Kimberley – waar onverwerkte rioolvuil opdam en wat die poliovirus kan bevat.

“My ouers en my broer het my nie bejammer nie . . . John was die wonderlikste broer . . . hy is in 1979 in die Grensoorlog dood. Hy moes skottelgoed was en ek messegoed afdroog. Ek moes help wasgoed opvou nadat my ma – ’n gekwalifiseerde onderwyseres – my teen die bed staangemaak het.”

Wat sy vrees, is oppak en trek. Haar pa is in haar kinderjare na Jan Kempdorp, Warrenton, Kimberley en weer na die Strand verplaas. Van 1964 tot 1973 was sy ’n leerling aan die Elizabeth Conradie-skool in Kimberley waar sy matriek voltooi het.

Dorothy-Anne Howitson, kampvegter vir persone met gestremdhede, en haar hond, Gracie. Foto: Helena Barnard

As kampvegter vir persone met gestremdhede onderbreek sy kort-kort haar eie storie.

“Dit gebeur te veel dat persone met rugmurgbeserings huis toe gestuur word sonder ’n rolstoel. As so ’n persoon nie beweeglikheid het nie, tree long- en urienweginfeksies in en onkunde bestaan oor dermlediging, wat veroorsaak dat die persoon weens sepsis doodgaan.”

Ná matriek het Dorothy-Anne onder meer ’n N6-kwalifikasie verwerf en bestuur, arbeidsverhoudinge en toegepaste sielkunde studeer. Van 1981 tot 1998 het sy by die destydse Kimberley-hospitaal in ’n administratiewe pos gewerk.

“Ek was baie gelukkig daar, maar is ongeskik vir werk verklaar weens die post-polio-sindroom – what was gained is systematically lost,” beskryf sy die toestand waarmee sy in 1996 diagnoseer is.

Dorothy-Anne Howitson by Gracie. Foto: Helena Barnard

Vroeër jare, in George, het sy aan haar oom, ds. Bert Robertson, gevra: “Wat wil die Here hê moet ek met my lewe doen?

Hy het gevra: “Wat wil jy regtig doen?”

Sy het geantwoord: “Persone met gestremdhede help wat hulself nie kan help nie.”

“Hy het gesê ek moet bevestiging soek. Toe kry ek Spreuke 31:8-9: Maak jou mond oop vir die stomme, vir die regsaak van almal wat wegkwyn. Maak jou mond oop, oordeel regverdig, en verskaf reg aan die ellendige en die behoeftige.

Dorothy-Anne Howitson en haar hond, Gracie. Foto: Helena Barnard

“Dis wat ek doen. Ek sal hand en tand baklei vir sulke mense. Polio het my aan God se voete gehou. My geleer om uit te reik na iemand wie alleen is. Sonder hoop. Verlore.”

As ’n opgeleide en geregistreerde berader het Dorothy-Anne sterwensbegeleiding vir onder andere vier veelvuldige sklerose-lyers gedoen.

’n Dik geel lêer vol koerantknipsels vertel van betogings wat sy gereël het en oor ’n herrie oor ’n lugdiens se hantering van persone in rolstoele. As lid van talle verenigings het Dorothy-Anne toesprake op internasionale konferensies gelewer. Sy is die voorsitter van die Vereniging van en virkorrek so Persone met Gestremdhede in die Frances Baard-distrik, ’n raadgewer van die Nasionale Raad vir Persone met Gestremdhede en erelid van die Rotary Club Kimberley South. Aan haar mure pryk eerbewyse – ook internasionaal – soos van die Lion’s en Rotary Club International Foundation. Van die ander is Kimberliet van die Jaar (1999) en die Noord-Kaapse premier se eerbewys as aktivis en gemeenskapsbouer (2005).

Hieroor sê sy: “Applous kan ’n verslawing raak. As dit is, moet jy jou onttrek en dit nooit weer doen nie.”

Dorothy-Anne vertel van die kontras tussen ’n ongeskiktheidstoelaag teenoor die minimum loon wat ’n heeltydse versorger moet ontvang. “Iemand soos Johanna Snyman word belas omdat ek ’n woonstel aan haar huis laat bou het wat vir my ingerig is. Johanna ondersteun my geldelik. Dit is nie aftrekbaar van haar belasting nie, want ek kwalifiseer nie as haar afhanklike nie. Die wet beskryf ’n afhanklike as ‘ ’n ouer, kind, sibbe of lewensmaat’.”

Waarom staan sy in die oggend op? “Want ek is lief vir my hemelse Vader en hierdie liggaam is net tydelik. Ek sal huis toe gaan na Hom toe. Ek hoop my nalatenskap sal wees dat mense sê sy het God verheerlik. En dat sy nooit bang was om te veg vir hulle wat self nie kan nie.”

  • Donderdag 24 Oktober is Wêreld-poliodag.
Meer oor:  Dorothy-Anne Howitson  |  Kimberley  |  Wat's Jou Storie  |  Polio
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.