Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Prof. Klaus von Delft – ’n pot vol helder sonneblomme...

Prof. Klaus von Delft (81) van Bloemfontein se lewensverhaal wat sy kinderjare in ’n Tweede Wêreldoorlogse Duitsland insluit, waar hul huis vanweë ’n bomaanval in die nag afgebrand het toe hy slegs agt was, vertel nie net van uitermatige “swaarkry” nie.

Prof. Klaus von Delft (81) en sy vrou, Elna, by hul huis in Webbstraat in Waverley in Bloemfontein.Foto: Mlungisi Louw

Dié uitsonderlike verhaal kan ook as ’n geweldige groot bron van inspirasie en hoop dien vir diegene wat dink dat hulle nou met die globale Covid-19-pandemie swaarkry en aan die einde van die pad gekom het.

Von Delft, ’n afgetrede professor in Duits van die Universiteit van die Vrystaat (UV) en trotse pa van sewe briljante kinders en oupa van 21 en ’n halwe kleinkind, sit die vurk waarmee hy die vars tuisgebakte melktert van sy vrou, Elna, geniet netjies op sy bordjie by hul huis in Webbstraat in Waverley, Bloemfontein, neer.

Dit is dan wat hy met sy vertelling oor sy lewe begin, langs ’n pot vol heldergeel sonneblomme.

“Dit was gedurende die Groot Depressiejare in November 1933 dat my ouers, Heinrich en Karin von Delft, van Duitsland na Suid-Afrika gekom het,” vertel hy.

“My pa is vir ses jaar as pastoor deur die Lutherse Kerk na die Duitse gemeente in Stutterheim in die Oos-Kaap, gestuur. Ek is in Julie 1937, as hul derde kind, daar gebore.”

Hy sê dit was in Julie 1939 dat sy ma, ’n paar maande

vroeër as wat beplan was, met die drie kinders terug Duitsland toe is om vir haar siek pa, Karl Magirus, te gaan kuier.

“Maar oupa Karl sterf toe terwyl ons nog op ’n weke lange skeepsreis op pad daarheen was.”

Prof. Klaus von Delft (81) en sy vrou, Elna, by hul huis in Webbstraat in Waverley in Bloemfontein.Foto: Mlungisi Louw

In November 1939 breek die Tweede Wêreldoorlog uit en sy pa word toe onmiddellik in Suid-Afrika in ’n oorlogskamp saam met al die ander Duitse burgers in Suid-Afrika geïnterneer, wat nou as “vyande” van Engeland deur dié Britse kolonie beskou was wat destyds onder die Smuts-regering gestaan het.

“Dié gevangeniskamp by Baviaanskloof was noordwes van Pretoria.”

Hy sê sy pa sou hulle as kinders eers baie jare later weer kon sien en het nie altyd geweet of sy familie eens nog gelewe het nie.

“Hier en daar kon hy briewe vir my ma stuur, maar briewe het ’n halwe jaar geneem om aan te kom en was dan vol swart strepe soos wat die inhoud daarvan gesensor was.”

Von Delft vertel hy het in Ulm, ’n stad in die suide van Duitsland, skoolgegaan waar sy ma en die drie kinders by sy ouma Magirus gebly het. Maar die huis in Ulm het in November 1944 in ’n nagtelike bomaanval afgebrand.

Prof. Klaus von Delft, (81), sê dit gaan harde werk wees om die land weer op te bou ná die Covid-19-pandemie, maar Duitsland het dit binne tien jaar ná die Tweede Wêreldoorlog gedoen.lFoto: Mlungisi Louw
Prof. Klaus von Delft (81) van Bloemfontein glo dat die lewensles wat te leer is uit die heropbou van Duitsland ná die Tweede Wêreldoorlog was dat alles moontlik is as ‘ mens bereid is om hard te werk.Foto: Mlungisi Louw

“Ons was gelukkig om komberse en warm klere te kon red, want die woning was op die tweede verdieping, nie heeltemal bo nie. Dit het dus ’n ruk geneem voordat die vuur by die woning uitgekom het,” onthou hy.

“Ek het ook as seuntjie van agt my ma vir ’n ruk in die puin en vlamme gesoek terwyl sy ander mense gehelp het.”

Hy sê van hier af het hulle na die platteland verhuis, na ’n plaasdorpie met die naam Markbronn naby Ulm, waar sy ma ’n bouvallige huisie gevind het wat enige tyd gesloop kon word. Hier het hulle van 1944 tot 1949 gebly.

“My ma het as plaaswerker op die omliggende plase gewerk om te oorleef. Vroue moes al die plaaswerk doen, want die boere en hul werkers was almal in die oorlog vasgevang,” sê Von Delft.

“Haar vergoeding was daagliks twee liter melk en ’n paar los aartappels wat sy van die landerye mag opgetel het.

Op dié wyse het sy en ons kinders altyd kos gehad, selfs gedurende die baie erge naoorlogsjare, waartydens die inwoners in die stede erg honger gely het nadat die regering in duie gestort het.”

Hy sê van sewe tot tienjarige ouderdom het hy na ’n klein dorpskooltjie in Markbronn gegaan, waar die hele skool se leerlinge almal in een klaskamer was.

In 1947 het sy ma, wat in die 1930’s medies gestudeer het, daarop aangedring dat hy goeie kwalifikasies moes behaal.

“Sy het my as tienjarige na die akademiese hoërskool in die stad gestuur, waarsonder ’n mens nie universiteit toe mag gaan nie, ongeag die feit dat die hele land ná die oorlog in puin gelê het en daar erge hongersnood en werkloosheid was.”

Von Delft sê hy moes in die week by ’n ouer tannie in Ulm bly, sodat hy na die akademiese skool toe kon gaan.

“Daarvoor moes ek 05:00 elke Maandag stoksielalleen ’n lang pad skool toe aandurf, met plaasprodukte in my sak en ’n 5 l-staalmelkkannetjie in die hand, vir my tannie se kos vir die week en weer naweke alleen terug plaas toe reis,” vertel hy.

“Die skoolpad soggens om 05:00 was eers 6,5 km te voet in die pikdonkerte van Markbronn af tot by die treinstasie by Herlingen. Dit het een en ’n kwart uur geduur. Dan was dit ’n halfuur per trein tot in Ulm. Dan nog ’n halfuur te voet tot by my tannie se huis. Hiervandaan was dit ’n kwartier tot by die skool.”

Von Delft sê die alleen stap in die donker was nie vir hom die ergste nie, maar die koue melkkannetjie wat heeltyd teen sy bene gekap het.

“Soms het ek myself stukkend op die gladde ys geval, maar het die melkkannetjie steeds hoog in die lug vasgehou sonder om die melk te mors. Want ek het geweet, as ek daardie melkkan sou laat val, sou die gort gaar wees. Dit was proteïne en almal in die stede het honger gely.”

Die professor vertel sy storie teen die agtergrond van ’n paar geskiedkundige feite.

Altesaam 60% van alle geboue in Wes-Duitsland is in hierdie tyd verwoes en het in puin gelê. Desondanks moes Wes-Duitsland ná die einde van die oorlog 12 miljoen vlugtelinge van die ooste af in die verwoeste Wes-Duitsland huisves.

Hy sê volgens die verdrag wat in 1945 in Potsdam tussen Brittanje, die Verenigde State van Amerika en Rusland gesluit is, is die hele Oos-Duitsland aan Rusland gegee.

'n Vroeëre foto van prof. Klaus von Delft (81) toe hy professor in Duits aan die Universiteit van die Vrystaat was.

Rusland het gevolglik 12 miljoen inwoners vanuit Oos-Duitsland na Wes-Duitsland onder haglike omstandighede weggedryf, om plek te maak vir Russiese burgers wat daar kom woon het, saam met miljoene mense uit Oos-Europa vanaf lande soos Tsjeggo-Slowakye, Pole en mense wat die Russe op hul beurt na Oos-Duitsland soos vlugtelinge weggedryf het.

Dié 12 miljoen vreemdes uit Oos-Duitsland, wat as “Die Vertriebenen” (die ontneemdes) bekend was, het in hul miljoene sonder enige besittings opgedaag en almal is in huise van Wes-Duitse families uitgeplaas, al het 60% van Wes-Duitsland in puin gelê.

“Dié Duitsers moet eer kry vir wat hulle gedoen het om hulself op te bou binne tien jaar met die las van 12 miljoen vlugtelinge na wie hulle ook moes omsien.”

Die mooi van dié storie, sê Von Delft terwyl hy na die geel sonneblomme kyk, was dat Wes-Duitsland ná tien jaar reeds weer ’n welvarende land was, met al die stede heropgebou. Dit is ’n navolgenswaardige les in hardwerkendheid en dit was veral die vroue wat so hard gewerk het om die land weer op te bou.

In 1946 is Von Delft se pa vrygelaat en het hy weer die bediening by die Lutherse gemeente in Bloemfontein aanvaar. Hy kon in 1947 uiteindelik na Duitsland reis waar die gesin herenig is. Dit was die eerste keer dat Von Delft sy pa bewustelik gesien het – hy was toe tien jaar oud.

Die gesin het in 1949 na Suid-Afrika teruggekeer waar sy pa die bediening hervat het.

Von Delft sê die lewe skuld jou niks nie, alles hang net van jou eie ingesteldheid af. Hy sê sy lewensleuse is daarom: “Das Ringen ist unsere Sache, das Gelingen ist Gottes Sache. Am Ende ist alles, was wir sind, Genade – und sonst nichts.” (Die stryd en die vlyt lê in ons hande, die kroon en die loon lê in God se hande. Uiteindelik is alles wat ons is genade – niks meer nie.)

Of soos die Groot Boek dit stel, dit is hy en sy vrou se trou- en huweliksteks:

“Wenn jemand auch kämpft, so wird er doch nicht gekrönt, er kämpfe denn recht.” (2 Timotheus 2:5: “Iemand wat aan die wedstryd deelneem, kan die prys wen, slegs as hy volgens die reëls meeding.”)

Klaus en Elna von Delft se kinders

Von Delft en sy vyf seuns het almal aan Grey-Kollege in Bloemfontein gematrikuleer – waar hy in 1949 as vreemdeling “rou uit Duitsland” aangekom het, sonder om ’n woord Afrikaans of Engels te kon verstaan het.

Von Delft het in 1967 met Elna Uys in die huwelik getree en hoewel sy ’n stoere Boerenooi is en hy toe al Afrikaans magtig was, het hulle op Duits as huistaal besluit om die kinders te bemagtig.

Die egpaar se sewe kinders is:

1. Jan von Delft – professor in teoretiese fisika aan die Ludwig-Maximilians-Universität in München, Duitsland.

2. Kornelia von Eschwege, ’n chemikus en huisvrou van Bloemfontein.

3. Mark von Delft – ’n SAP-programmatuurkonsultant en omgewingsaktivis van Edinburgh, Skotland.

4. Tilman von Delft – ’n dokter van Inverness, Skotland.

5. Dirk von Delft – ’n pediatriese chirurg van die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad.

6. Frank von Delft – ’n professor in biochemie aan die Universiteit van Oxford en Diamond Light Source, Brittanje se sinchrotronfasiliteit in Oxford, Engeland.

7. Bettina Böhmer – ’n dokter en huisvrou van Pretoria.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.