Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Queers’, die pienk lyn en die NG Kerk

Die verandering in die NG Kerk jeens gay mense vind plaas omdat so baie dominees soveel gay gemeentelede het en nie al dié mense wat by hulle aanbid, kan beskou as die Antichris of demone nie, sê Mark Gevisser aan Murray La Vita.

Mark Gevisser in sy huis in Kalkbaai. Foto: Tommy Trenchard

Die fokus van die Zoom-gesprek met die bekroonde joernalis en skrywer Mark Gevisser is sy boek The Pink Line – Journeys Across the World’s Queer Frontiers, wat pas hier en elders in die wêreld die lig gesien het.

Pierre de Vos noem The Pink Line in ’n resensie in Rapport “Gevisser se onthutsende monument aan die transformerende en bevrydende krag van stories, spesifiek vir mense wat in die skadu van die ‘closet’ moet lewe, maar ook ’n berekende politieke daad teen haat, nyd en vooroordeel van anderkant die pienk lyn”.

Gevisser het binne ’n bestek van ses jaar 20 lande besoek om inligting in te samel vir sy boek. Dit is inderdaad ’n werk van monumentale omvang waarin hy kyk hoe LGBT-regte – die regte van lesbiese, gay, biseksuele en transgender mense – wêreldwyd ’n skeidslyn geword het wat nuwe vryhede bring, maar ook nuwe vrese skep.

Hy verken die invloed wat dit op die lewens het van mense wat op hierdie nuwe wêreldwye grens [frontier] leef wat hy die pienk lyn noem.

As Suid-Afrikaners het ons die Grondwet tot so ’n mate geïnternaliseer dat ons glo selfs mense wat nie ons goedkeuring wegdra nie, het regte.

“In Suid-Afrika is daar ’n teenstrydigheid tussen die wonderlike regte [soos in die Grondwet verskans] wat queer mense [queer verwys hier na gay, lesbiese en transgender mense] het en die geweld teen hulle in gesinne of gemeenskappe wat steeds in die werklikheid bestaan.

“Dít word baie goed gedokumenteer in die navorsing wat ek aanhaal. Iets soos 70% van Suid-Afrikaners aanvaar dat LGBT-mense regte het, maar 51% keur nie homoseksualiteit goed nie,” sê hy.

Die navorsers gebruik die term progressive prudes.

“As Suid-Afrikaners het ons die Grondwet tot so ’n mate geïnternaliseer dat ons glo selfs mense wat nie ons goedkeuring wegdra nie, het regte.

“Een van die dinge wat ek wêreldwyd agtergekom het, is dat die primêre ruimte waarin die stryd plaasvind die gesin of familie en die plek van aanbidding is, eerder as die reg.”

‘SA soos Ierland’

The Pink Line word in Suid-Afrika seur Jonathan Ball-Uitgewers uitgegee.

Hoewel hy nie daaroor geskryf het nie, glo hy “iets baie diepgaande” het in die Afrikaanse gemeenskap plaasgevind.

“Dit is baie soortgelyk aan wat in Ierland gebeur het. Ierland het in 2015 ’n referendum gehad oor huwelike tussen mense van dieselfde geslag. 62,7% van Iere het ten gunste daarvan gestem ondanks die feit dat die land so oorwegend katoliek is en selfs al het die kerk mense afgeraai om dit te aanvaar.

“Een van die redes daarvoor is dat die Katolieke Kerk in Ierland erg geknou is deur die pedofilie-skandale in die kerk. Maar die belangriker rede is dat almal in Ierland nou iemand ken wat gay is. En dít is wat die veldtog laat werk het. Mense weet hulle het gay neefs en niggies of lesbiese seuns en dogters, of gay of lesbiese kollegas of bure.”

Dít is weens die wyse waarop [gay] mense “uitgekom” het in die Ierse samelewing.

Maar dit is nie asof daar nié homofobie is nie en asof ’n queer kind wat in ’n Afrikaanse gesin grootword nie aan ernstige gender-polisiëring blootgestel gaan word nie.

“En ek dink ’n baie soortgelyke ding het in die Afrikaanse samelewing gebeur. Omdat so baie Afrikaners familielede het wat hulle weet gay is en vir wie hulle lief is, ook bure en kollegas vir wie hulle omgee, beïnvloed die persoonlike en intieme die ideologiese en die doktrines.

“So, wanneer jy na die NG Kerk kyk en sien hoe ver die kerk beweeg het ondanks die struwelinge wat steeds aan die gang is . . . Ek meen dít is geanker in die feit dat so baie dominees so baie gay gemeentelede het. En hulle kan nie die mense wat by hulle aanbid, sien as die Antichris of demone nie.

“Maar dit is nie asof daar nié homofobie is nie en asof ’n queer kind wat in ’n Afrikaanse gesin grootword nie aan ernstige gender-polisiëring blootgestel gaan word nie – dít is tog al in talle rolprente en boeke uitgebeeld. Maar dit lyk asof die instellings van die Afrikanerdom nie meer op papier so onderdrukkend is as wat hulle was nie. En dit het, myns insiens, te doen met meer en meer mense wat in die gemeenskap bekend is as gay of lesbies.”

‘Ouers praat’

Gevisser skryf in The Pink Line ouers is die sterkste aktiviste en pleitbesorgers vir LGBT-mense se regte.

“Ek het dit gesien in plekke so uiteenlopend as Turkye en Botswana. Botswana het ’n wonderlike plek geword vir die beweging in die rigting van regte en aanvaarding.

Soveel ouers praat oor die reis wat hulle afgelê het van verwerping na aanvaarding.

“Daar was ’n aantal werklik belangrike regsuitsprake oor genderidentiteit en die dekriminalisering van homoseksualiteit. Daar is talle redes daarvoor, maar ’n sleutel een is die baie sterk en doeltreffende beweging van ouers van transgender en gender-nonkonformistiese kinders wat met ander ouers kon praat as óúers.

“Ouers en familie speel in twee opsigte ’n sleutelrol. Die eerste is as pleitbesorgers vir verandering en tweedens as ondersteuningstrukture vir ander ouers wat self daarmee probeer vrede maak. Want soveel ouers praat oor die reis wat hulle afgelê het van verwerping na aanvaarding. En as jy dít met ’n ander ouer of familielid kan deel, kan daardie mens sien hoe jý die verandering belééf het. Dít is geweldig kragtig en veral binne ’n konteks waar familie so baie beteken, hetsy onder Afrikaanse families of ander Afrika-families of Indiër-families.”

’n Wêreldwye debat

“Net soos wat queer mense aanlyn kontak maak, maak mense wat homofobies is óók aanlyn kontak.

In The Pink Line het Gevisser probeer wys daar is nie net een manier om gay te wees nie en dat daar nie net een wêreldwye LGBT-doktrine is nie.

“Daar is hierdie geglobaliseerde idees wat sulke uiteenlopende uitwerkings het in verskillende dele van die wêreld. Dít is wat ek wérklik wou tuisbring.

“Die boek het begin by ’n idee . . . Ek het net toenemend onder die indruk gekom van hoe LGBT-regte gebruik is om ’n nuwe menseregte kleim af te steek.

“Gesprekke en debatte was aan die gang wat ondenkbaar sou wees toe ek uitgekom het [as gay]. En die regte van queer mense is bespreek in plekke en kontekste waar daar nooit, ooit enige vorm van openbare bespreking was oor seksuele oriëntering of genderidentiteit nie.

“So, skielik het jy gehoor hoe Uganda die mees homofobiese plek op aarde is of hoe Rusland werklik homofobies is. En ek wou probeer verstaan hóé dit gebeur het. Was hulle áltyd homofobies? Het iets onlangs gebeur? Wát het dit wêreldwye debat gemaak?”

Snelle verandering

Biografie

Mark Gevisser se vorige boeke sluit in die biografie Thabo Mbeki: The Dream Deferred, waarvoor hy die Alan Paton-prys ontvang het; Lost and Found in Johannesburg: A Memoir, en Portraits of Power: Profiles in a Changing South Africa.

Hy is ook mede-redakteur van die bundel Defiant Desire: Gay and Lesbian Lifes in South Africa.

Sy artikels en ontledings het al in onder meer The New York TimesThe GuardianThe Wall Street JournalGranta en die meeste groot Suid-Afrikaanse Engelstalige koerante verskyn. Hy skryf tans die rubriek “The Monthly Review” vir Business Day.

Hy het begin deur oor globalisering te lees.

“Want ek wou die tempo verstaan waarin dinge besig was om te verander. Daar was vorige bewegings – daar was ’n vorige gay-beweging, die vroueregtebeweging, die antikoloniale beweging; maar dit het vir my gelyk asof dinge nou besig was om ongelooflik vinnig in die wêreld te verander, en ek wou dít verstaan.

“So, ek het oor globalisering en die vektore daarvan begin lees: massamigrasies, kommoditeitskapitalisme, toerisme, en spésifiek die digitale revolusie.

"Terwyl ek gelees het, het dit vir my duidelik geword dit is weens globalisering dat hierdie wêreldwye gesprek teen so ’n tempo in ons tyd en era aan die gang was.

“Een van die vektore van globalisering is ’n wêreldwye menseregtebeweging, maar dit is nie die enigste een nie. Dié beweging is egter baie belangrik deurdat dit idees versprei, idees soos persoonlike outonomiteit en dat jy hierdie identiteit kan hê en régte binne daardie identiteit kan hê.”

Pienklyn-politiek

“Ek wou die tempo verstaan waarin dinge besig was om te verander.”

Hy het besef hy wil nie hierdie storie uit sy studeerkamer in Kalkbaai aan die Kaapse kus vertel nie.

“Maar ek wou ook nie een van hierdie gay reisverhale skryf nie,” sê hy laggend. “Nie dat sulke skryfwerk nie ook lieflik is nie, maar ek wou werklik die politiek van dinge verstaan. Ek het toe vir ’n beurs [grant] aansoek gedoen by die Open Society Foundation en met my reise begin.”

Hy het begin deur aktiviste te ontmoet.

“Deur hulle het ek begin verstaan wat die kwessies is en het ek op die lande begin fokus wat ek meen emblematies is van pienklyn-politiek. En dan het ek na spesifieke kwessies begin kyk.

“Só het ek byvoorbeeld in Rusland besluit die kwessie wat ek wil beskryf, is dié van ouers en kinders want daar bestaan die anti-gay-propagandawet wat dit onwettig maak om homoseksualiteit onder minderjariges te bevorder en dit dus onhoudbaar maak om ’n gay ouer te wees.

“Ek wou vasstel hoe queer ouers daarmee saamleef. Daar het ek toe met heelparty lesbiese ouers onderhoude gedoen. Maar toe hoor ek van Pasha, wat weens die anti-gay-propagandawet voogdyskap van haar seun verloor het toe sy van geslag verander het [van man na vrou].

“Ek het haar ontmoet en tyd saam met haar deurgebring en besef daar is ’n konneksie tussen ons en dat sy ’n baie sterk storie het om te vertel. En dat haar persoonlike narratief die temas van Rusland sou kon dra. Ek het my dus op haar toegespits en die tweede en derde kere wat ek Rusland besoek het, net met haar en haar mense tyd deurgebring.”

‘Identiteite vorm aanlyn’

“Maar ek wou ook nie een van hierdie gay reisverhale skryf nie.”

Dít het die basis gevorm van sy werkwyse.

“So, in elke plek wat ek besoek het [dit sluit in Tambo Village by Kaapstad, Mexiko, Amerika, Egipte, Malawi, Uganda, Israel en Indië], sou ek met die aktiviste kontak maak, ’n tema vind en my dan uiteindelik toespits op ’n mens of twee in wie se lewens daardie tema tot uiting kom.”

Een van die dinge waarvan hy bewus geword het, is dat die pienk lyn op ’n eerste vlak geopolities is en deur lande of kontinente loop.

“Of tussen Wes- en Oos-Europa, tussen die Weste en sommige dele van Afrika, of tussen Suid-Afrika en Zimbabwe. Die pienk lyn loop ook deur een of ander aanlyn gemeenskap of identiteit en die beperkinge van die werklike, ‘aflyn’ lewe.

“Want as jy ’n selfoon en ’n bietjie data en ’n mate van privaatheid het, kan jy in verbinding kom met hierdie merkwaardige aanlyn gemeenskap. Wat elke mens wat ek ontmoet het wat jonger as 40 is, anders maak as jy en ek en ons generasie, is dat die vorming van hul identiteit aanlyn plaasgevind het.

“Dit het aan hulle horisonne en ’n sin van moontlikhede gegee wat mense van ons generasie net nie gehad het nie. Maar wat dan gebeur, is dat daar ’n sekere dissonansie is tussen wat aanlyn gebeur en jou ‘aflyn’ lewe.

“Neem as voorbeeld die lesbiese ma’s van Rusland. Eerstens reis hulle want hulle is middelklas en tweedens gaan hulle aanlyn en lees oor gay-ouerskap en hulle sien mense doen dit, daarby lyk dit asof Rusland besig is om ’n bietjie oop te maak.

Dus: net soos wat queer mense aanlyn kontak maak, maak mense wat homofobies is óók aanlyn kontak.

“Hulle begin dan hierdie alternatiewe gesinne skep. Maar dan klap Rusland toe, deels as gevolg van die digitale revolusie – omdat dit grense wil stel vir hierdie globalisering – maar ook omdat, net soos wat mense aan die een kant van die pienk lyn idees kry, kry mense aan die ander kant óók idees.

“Wat ek in my boek uitwys, is dat die idees wat tot die totstandkoming van die anti-gay-propagandawet gelei het, ontspring het uit kommunikasie tussen regsgesinde Amerikaanse konserwatiewe en regsgesinde Russiese konserwatiewe – en daardie kommunikasie het aanlyn plaasgevind.

“Dus: net soos wat queer mense aanlyn kontak maak, maak mense wat homofobies is óók aanlyn kontak.”

Die lesbiërs in Rusland moes nou weer ondergronds gaan in hul aflyn lewens.

Drie Facebook-profiele

Iemand wie se lewe hom werklik ontroer het, is dié van die Egiptiese transgender vrou Maha.

“Sy het drie Facebook-profiele gehad. Die een was as ’n man en dit was die profiel vir haar familie en vriende uit haar kinderdae. Die tweede een was as ’n vrou waardeur sy kon beleef hoe dit is om ’n vrou te wees. En die derde een was as ’n transgender persoon. Daardeur kon sy met ander transgender mense kommunikeer en met mense wat van transgender mense hou.

“So, sy het hierdie drie aanlyn identiteite gehad. Maar soms sou sy deurmekaar raak en sou die verkeerde mens op die verkeerde profiel beland. Sy het toe deur haar transgender profiel ’n bron vir hormone gevind en het begin om haar liggaam aanlyn te wysig en aanlyn ondersteuning daarvoor gekry.

“Maar as jou liggaam aanlyn verander, verander dit ook aflyn. Wat toe gebeur het, is dat sy op straat aangeval en beledig is. Sy was dit nie te wagte nie en het haar na haar huis teruggetrek en ’n kluisenaarsbestaan begin volg.”

Meer oor:  Ng Kerk  |  Pierre De Vos  |  Mark Gevisser  |  Rusland  |  Uganda  |  Turkye  |  Botswana  |  Ierland  |  Egipte  |  Suid-Afrika  |  Grondwet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.