Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Rateltaai’: Ethienne se verhaal ‘móés vertel word’

Die verhaal van Ethienne Reynecke is so ’n ongelooflike storie dat hy dit eenvoudig móés vertel, het Tinus van Staden aan Gert van der Westhuizen gesê.

Tinus van Staden voor sy rekenaar in die dae toe mense nog gereeld kantoor toe gegaan het. Vir hom is sportverslaggewing nie werk nie, sê hy. Foto: Simon Sonnekus

Oordrywing is lankal deel van sport se woordeskat. Dink maar aan (om net enkeles te noem) al die byvoeglike naamwoorde soos “wonderlik”, “fantasties”, “uitstekend”, “merkwaardig” en “ongelooflik”.

Maar die verhaal van Ethienne Reynecke – rugbyspeler, rugbykommentator, stoeier, beoefenaar van gemengde vegkuns en pa van twee dogters met drie grade agter sy naam – is inderdaad ongelooflik.

Hy het 2018 begin met ’n geskeurde milt wat hom baie pyn besorg het en in ’n hospitaal vasgekluister het. Maar nog erger sou volg.

Hy het ’n beroerte gehad en moes weer in ’n (gehate) hospitaalbed klim. Later in die jaar het hy ternouernood aan die dood ontkom toe ’n koeël hom in ’n gewapende rooftog in sy plaaslike supermark in Johannesburg skrams in die kop getref het.

Dit is so ’n ongelooflike storie dat ’n mens voel dit móét eenvoudig vertel word.

Die beroerte het onder meer sy spraakvermoë aangetas en hy moes van sy werk as kommentator terugstaan. Dit het hom egter nie gekeer om weer legends-rugby, of outoppie-rugby, te speel nie, en hy het weer die gevegkuns-kryt betree en is as amateur-ligswaargewig-kampioen van die land gekroon.

Reynecke is duidelik nie iemand wat homself jammer kry nie. “Kliphard” is een van die woorde wat by ’n mens opkom as jy hom wil beskryf. “Rateltaai” is ’n ander.

Van Staden, ’n sportverslaggewer van Netwerk24, het “rateltaai” vir die titel van sy boek oor Reynecke gekies.

Hy het in Maart 2020 ’n artikel oor Reynecke vir Rapport geskryf. Louis Gaigher, uitgewer by Lapa-uitgewers, het dit gelees en Van Staden later gekontak en gevra of hy nie ’n boek daaroor wil skryf nie.

“Dit is so ’n ongelooflike storie dat ’n mens voel dit móét eenvoudig vertel word,” sê Van Staden.

“Ek het nie ’n benul gehad wat ek doen nie. Ek het besef ek moet met soveel mense moontlik praat, en natuurlik soveel moontlik inligting by Ethienne self kry.

“Ek het dus begin om van sy rugbyvriende te bel en onderhoude met hulle te voer. Ernst Joubert was my eerste onderhoud en ek is so bly daaroor, want hy het my van Ethienne se Bell-verlamming op universiteit en ook van sy uitdagings as kind vertel.

“Daarna kon ek Ethienne in ons eerste onderhoud daaroor uitvra.”

Van Staden het vier onderhoude met Reynecke gevoer en met 20 mense na aan hom gepraat. Hy het ook gaan kers opsteek by verskeie kenners wat hom meer van onder meer beroertes en sportsielkunde vertel het.

“Ek het die boek oorspronklik amper soos ’n lang koerantberig geskryf, waar ek die storie vertel deur mense se herinneringe aan te haal. Ek dink nie dit het sleg gelees nie, maar in Januarie (vanjaar) het ons besluit om die aanslag aan te pas en dit as narratiewe nie-fiksie te vertel – dus heeltemal soos ’n storie en nie soos ’n ‘lang berig’ nie.

“Wat nou die eerste hoofstuk is, was eintlik die derde hoofstuk. Ek het ’n nuwe begin geskryf en die oorspronklike eerste twee hoofstukke se inligting by die res van die boek ingewerk.”

Van Staden het die herskrywery binne ’n maand afgehandel. Hy het sy skryfwerk in die aande ná werk gedoen.

“Dit was alles die moeite werd. Hoewel die boek redelik verskil van die eerste weergawe, is ek baie tevrede met die eindproduk. Die veranderinge wat aangebring is, het die manuskrip wesenlik verbeter.”

Dis nie ’n rugbyboek nie

Reynecke in 2007 vir die Lees teen die Crusaders in aksie. Foto: Gallo Images

Van Staden sê wat hom die meeste van Reynecke beïndruk, is sy algehele renons in selfbejammering.

“Hy sit en tob nie oor enigiets wat met hom gebeur nie. Hy kyk waaroor hy beheer het, hoe hy die beste van ’n slegte situasie kan maak, en doen dit dan. Hoe sê Nike? Just do it. Hy doen dit net.”

Dit gaan deesdae beter met Reynecke nadat hy ná die terugslae in 2018 merkwaardig teruggeveg het.

Ethienne Reynecke by ’n wedstryd tussen die Bulle en die Sharks waar hy kommentaar gelewer het. Foto: Gallo Images

Hy is by afrigting by die Hoërskool Monument betrokke en sy spraak het drasties verbeter. Hy en SuperSport bly in verbinding en daar is by albei partye ’n groot bereidwilligheid om hom weer agter die mikrofoon te kry.

“Ethienne self wil dit egter nie doen voordat hy nie weer heeltemal gereed voel nie. Maar met hom is niks ooit onmoontlik nie.”

Reynecke se verhaal is uiteindelik een van hoop wat wys dat ’n mens byna enigiets kan oorkom.

“Dis glad nie ’n rugbyboek nie,” sê Van Staden. “Die feit dat hy ’n rugbyspeler is, is eintlik ’n bysaak.

“Daar is ook ander elemente in die boek wat ek regtig geniet het om in die navorsingsproses te ontdek. Byvoorbeeld die stryd wat oorlewendes van beroerte-aanvalle moet stry en die sielkundige redes waarom rugbyspelers van mekaar verskil.”

‘Dis mos nie werk nie’

Sport vind nooit in isolasie plaas nie, sê Van Staden. Foto: Simon Sonnekus

Van Staden, wat 26 jaar oud is en na bewering doodbang is vir “die groot drie nul wat nader kruip”, is al van Desember 2015 ’n sportverslaggewer.

Daar is nie ’n oomblik se huiwering te bespeur as jy hom vra of hy sy werk geniet nie.

“Ja, dis fantasties. Jy word betaal om sport te kyk en stories daaroor te skryf! Dis mos nie werk nie.”

Een van die groot hoogtepunte van sy loopbaan was toe hy oor die Wêreldbeker-kriekettoernooi in 2019 in Engeland en Wallis vir Netwerk24 verslag gedoen het.

“Die Proteas was basies reeds ná die eerste week van die ses week lange toernooi uitgeskakel, maar dit was ’n ongelooflike ervaring. Die Suid-Afrikaanse joernaliste het vrek lekker gekuier. Ek het myself só oor ’n mik gewerk dat ek hier teen die vyfde week begin duiselig raak het. Maar dit was alles die moeite werd, veral om daardie eindstryd op Lord’s te kon bywoon.”

Deesdae lei die Covid-19-pandemie tot verskeie uitdagings vir sportlui en sportverslaggewers, en dit neem ’n bietjie van die pret weg.

Daar is wel maniere om by die nuwe omstandighede aan te pas, sê Van Staden.

“Omdat ’n mens nie meer so gereeld by die wedstryde of enigsins by oefeninge kan uitkom nie, moet jy ander maniere vind om sintuiglik te probeer skryf. Daar is nou ook soveel meer goed wat stories kan wees – hoe lyk die bioborrels waarin die Bokke of Proteas hulself bevind? Wie betaal vir die Covid-toetse? Wie is al almal ingeënt?

Ethienne Reynecke in ’n geveg op die stoeimat. Foto: Deon Raath

“Ek was in Maart 2020 laas op ’n nuuskonferensie wat nie oor Zoom geskied het nie. ’n Mens mis dit. En die toeskouers, wat altyd lekker kleur aan wedstrydverslae verleen.”

Van Staden het in 2018 ook sy honneursgraad in geskiedenis behaal. Sy skripsie het gehandel oor die Basil D’Oliveira-voorval en die effek wat dit op Suid-Afrikaanse sport gehad het.

Dit het ook gewys dat sport nie net beperk is tot dít wat op die veld gebeur nie.

“Dit herinner ’n mens net weer dat sport nooit in isolasie plaasvind nie. Sport boots die samelewing na en sport is nooit net sport nie.”

Rateltaai: Ethienne Reynecke se reis van tragedie tot triomf word deur Lapa-uitgewers uitgegee en kos R235. Bestel dit hier.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.