Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Regse’ Rian ontstel FW

Hy het al op 17-jarige ouderdom ’n voorsmakie gehad van hoe genadeloos die publiek kan wees toe mense ontsteld was oor die manier waarop hy met FW de Klerk, toe nog die land se president, gepraat het, skryf Rian van Heerden in dié uittreksel uit sy boek 16 Dinge wat ek nié moes sê nie.

Alhoewel ons geensins ryk was nie, het my pa-hulle ons Hoërskool Waterkloof toe gestuur en ek onthou veral my bruin skoene in ’n skool waar net swart skoene gedra is. My pa het eenvoudig geweier om vir ons nuwe skoene te koop en was oortuig dat ’n goeie brand soos bruin Grasshoppers ’n waarborg vir skolastiese sukses was.

Dit was nie.

Reg van die begin af, veral omdat ek van ’n vreemde laerskool gekom het, was dit pouses net ek en my kosblik met peanutbutter-en-stroop-broodjies op die speelterrein. En dit, liewe leser, is hoe ek op die verhoog beland het.

Ek het besef dat ek iets aan my selfvertroue sou moes doen en wat dan nou beter as om voor mense te praat?

Daar was seker maar altyd iets wat my na die verhoog geroep het, maar my deelname aan daardie eerste redenaarskompetisie op dertien as standerdsessie was die gevolg van ’n harde gesprek wat ek met myself in die spieël gehad het: “So kan dit nie aangaan nie, Van Heerden!”

Ek het besef dat ek iets aan my selfvertroue sou moes doen en wat dan nou beter as om voor mense te praat? En daar was vreemd genoeg iets baie aanlokliks aan die idee dat mense vir ’n rukkie na jou móét luister . . .

Ek onthou dat ek uit drie deelnemers derde gekom het en dat my sertifikaat natgereën het toe ek ná die kompetisie na my pa se wagtende Renault gehardloop het. Dit het nie saak gemaak nie . . . ek het dit in elk geval geraam en bo my bed gehang.

As jy snaaks is, is jy gewilder, en kort voor lank was ek nie meer daardie alleenkind nie.

Dit was die begin van alles.

Ek het nie net meer en meer geleenthede begin opsoek om voor mense te praat nie, maar ook die mag van humor begin besef. As jy snaaks is, is jy gewilder, en kort voor lank was ek nie meer daardie alleenkind nie. My selfvertroue en vriendekring het groter geword, alhoewel ek steeds ver van so gewild soos die rugbyspelers was. Die groepe voor wie ek gepraat het, het groter en groter geword en uiteindelik het ek op Republiekdag ’n toespraak voor die hele skool gelewer.

Ek was agter die podium, aan beide kante langs my was meisies uit my geskiedenisklas met Suid-Afrika se vlae van 1652 af tot 1991 en voor my was die hele skool op die paviljoen. Al 1 600 van hulle.

Hemels!

Rian van Heerden agter ’n mikrofoon. Foto: Lee Warren

Ek was verlief op die mikrofoon soos op ’n skool-crush.

En ai, daai skool-crushes . . . Nodeloos om te sê, het ek teen hierdie tyd lankal geweet dat ek meer van seuns as van meisies hou, maar was deeglik bewus dat dit nie vir die groter gemeenskap aanvaarbaar is nie.

So het ek maar my twee crushes van ver af bewonder.

‘Regs, was ek regs’

Ek moet ook hier byvoeg dat ek polities baie regs was in daardie stadium. Sterk orators het my gefassineer en die sterkstes in hierdie jare was natuurlik Andries Treurnicht van die Konserwatiewe Party en Eugène Terre’Blanche van die AWB. My pa (self ’n regse) sou my gereeld saamneem na die vergaderings van een van hierdie twee organisasies in die stadsaal en ek sou verstom toekyk hoe hulle met die gesproke woord die skares kon opsweep.

Ná die vergaderings was daar altyd buite (koue) kerrie-en-rys te koop en ek onthou ’n keer toe AWB-lede die Oranje-blanje-blou wou verbrand, maar nêrens ’n aansteker kon kry nie. My pa, mid-sigaret, wou nie help nie . . .

Rian van Heerden buig voor ’n bord soesji nadat die Springbokke in 2015 se Wêreldbeker-toernooi teen Japan verloor het. Foto: Theana Breugem

Regs was ek regs. Ek het selfs in matriek ’n AWB-kenteken onder my leerlingraad-balkie begin dra en van my mede-regses met ’n Eugène-saluut gegroet as ek hulle tussen klasse raakgeloop het. Daar was selfs ’n keer dat my Engels-onderwyseres my die klas verbied het as ek nie my kenteken verwyder nie. Waarna ek eenvoudig ’n hele periode buite die klas gesit het.

Tydens ’n nagwedloop een aand het ek met ’n Vierkleur om die baan gehardloop en, ja, selfs die Vierkleur voor die skool gehys. Die skool het eers baie later agtergekom dat die vlag voor die administratiewe gebou wapper. Ek dink dit was ná ’n paar oproepe van verbygangers.

Ek was regs, ja, maar dit het my direk na FW gelei.

Dit is nie nodig hier om die geskiedenis te herhaal nie. FW de Klerk het president geword, sy toespraak in 1990 gemaak en Nelson Mandela was ’n vry man. Die land was, nodeloos om te sê, in rep en roer en veral in Pretoria was daar heelwat aksie.

Ontmoeting met Freek Robinson

In hierdie tyd (ons het in Moreletapark gewoon in ’n huis sonder ’n garage) sit ek een middag op my bed besig om my wiskundehuiswerk te doen toe die foon lui. My ma was besig om te stryk en het die oproep beantwoord.

“Rian! Daar’s foon vir jou!”

Rian van Heerden toe hy in 2015 begin het om Die Grootste Genoot op Via aan te bied. Foto: Verskaf

Die man aan die ander kant van die lyn het blykbaar reeds heelwat inligting oor my gehad. Hy het homself voorgestel as ’n regisseur van die televisieprogram Agenda en vertel dat hulle ’n program beoog waarin sekere jeugdiges vrae kon stel aan die president.

Die idee was om jeugdige verteenwoordigers van die belangrikste politieke partye te kry. Blykbaar was daar reeds iemand van Sasco (namens die ANC), ’n IVP-verteenwoordiger, ’n NP-meisie en ek.

Almal was vreeslik opgewonde oor my afspraak met FW.

En soos jy seker kan raai, het ek die KP (en seker ook die regses) verteenwoordig, alhoewel ek in daardie stadium nie amptelik aan enige politieke party behoort het nie. Maar die stories oor die Vierkleur en die AWB-kenteken het geloop, sien?

Almal was vreeslik opgewonde oor my afspraak met FW. My ma het vir almal by die haarsalon en by die kleuterskool, waar sy ’n onderwyseres was, vertel terwyl my pa veral geïnteresseerd was in watter vrae ek sou vra. By die skool het die skoolhoof dit een middag oor die interkom afgekondig terwyl ek in die einste Engelse klas gesit het waaruit ek kortstondig verban was.

Rian met die bruin skoene was nou in ’n ander liga. ’n Presidensiële liga. En net 17 jaar oud.

Ek het lank getob oor wat ek moes vra en toe besluit dat ek hierdie volksverraaier sommer met my eerste vraag sou uitboul.

Ek het lank getob oor wat ek moes vra en toe besluit dat ek hierdie volksverraaier sommer met my eerste vraag sou uitboul. Ek het dit ingeoefen, my skoolbaadjie laat droogskoonmaak en my hare spesiaal laat sny.

’n Bussie het ons paar kom oplaai om eers ’n draai te gaan maak by die SAUK in Auckland Park, waar ons op ’n toer deur die Agenda-ateljee geneem is. Ek onthou veral twee dinge van daardie eerste stop: Eerstens was daar basies geen gesprekvoering tussen ons tieners nie weens die wantroue wat in daardie stadium geheers het, en tweedens het ons Freek Robinson ontmoet toe die hysbak se deure op die Agenda-vloer oopgaan. Ek was oorstelp!

Hy was as bekende televisie-aanbieder die eerste celebrity wat ek in lewende lywe ontmoet het en die naaste wat ons gesin nog ooit aan bekendes kon kom met die uitsondering van my pa wat ’n jaar tevore vir David Kramer op die lughawe gesien het. O ja, en daar was ’n outjie saam met my in standerd 1 wat eenkeer sy witrot na die Wielie Walie-speelkamer gevat het vir show and tell . . . Maar dit was basies dit.

‘Het jy ’n vraag vir mnr. De Klerk?’

Freek het gegroet en net die NP-meisie het gereageer. Ons ander kon óf nie groet nie óf wou nie. In die Agenda-ateljee het nog ’n verrassing gewag, die bekende joernalis Clarence Keyter sou die program lei! Ek dink dit was dalk ingeval een van ons sou vries – Clarence kon mos iets kry om oor te praat, al het jy lankal oor die weer gepraat.

(Hy het dit teen daardie tyd al bewys met sy dekking van Madiba se vrylating, wat ure gevat het. Clarence was nog besig om te gesels oor die dieper betekenis van ’n lekkende kraan toe Madiba uiteindelik deur die Victor Verster-hekke stap.)

Rian van Heerden toe hy sy eenmanvertoning Bols op die Gariep-kunstefees opgevoer het. Foto: Verskaf

Uiteindelik het die bussie weer vertrek en voor die presidensiële gastehuis stilgehou. Ek was nogal teleurgesteld, ek dog die gesprek sou in sy kantoor in die Uniegebou plaasvind, daar waar die setel van alle mag na my wete was. Maar nou ja, die gastehuis was netjies genoeg (ligjare weg van avo-groen huise) en ’n impromptu ateljee is in die pragtige tuin opgestel. Daar sou ons wag op die president.

Soos ek nou terugdink, weet ek nie presies wat ek verwag het nie. Dalk trompetgeskal met sy aankoms of ’n marsjerende peloton wagte wat voor hom loop. Maar skielik was hy daar, sonder fanfare. ’n Blesserige oom in ’n kerkpak en baie korter as wat ek verwag het. Wat hom nog meer menslik gemaak het, was sy soektog na ’n lighter in sy binnesakke om sy sigaret aan te steek.

Ons is voorgestel en het met FW bladgeskud (ek dink die NP-meisie het ge-curtsy) en is gevra om ons plekke in te neem.

Dit lyk vir my jy is die slagoffer van propaganda.

Die NP-meisie was eerste aan die beurt, as ek reg onthou, en het iets gevra soos: “Is dit nie moeilik om so amazing te wees nie?” Of so iets. Ek het nie regtig aandag gegee nie. Ek was te besig om my vraag oor en oor in my kop te oefen.

Uiteindelik (na heelwat Nasionale Party-bla-bla-bla) het Clarence in my rigting geknik: “Het jy ’n vraag vir mnr. De Klerk?”

FW het vol selfvertroue na my gekyk. Hy was die president en ek was maar ’n hoërskoolleerling. Ek sou hom wys! Toe trek ek los: “Meneer De Klerk, hoe gaan u die identiteit van die Afrikaner beskerm as u beplan om ontslae te raak van ons vlag en ons volkslied?”

Hy het geglimlag en geantwoord: “Dit lyk vir my jy is die slagoffer van propaganda.”

En dit was tydens hierdie onderbreking dat my mikrofoon weggeneem is.

Hierna het hy oorgeslaan na ’n antwoord volgeprop met propaganda. Ek was onmiddellik vies. Hoe durf hy? Ek het self aan daardie vraag gedink! Ek het teëgestribbel oor hoe ek bloot my vrese uitspreek as bekommerde jong Afrikaner en begin vra oor kultuurgebonde onderwys. Skielik het Clarence ingespring en aangekondig dat dit tyd is vir ’n advertensie-onderbreking.

En dit was tydens hierdie onderbreking dat my mikrofoon weggeneem is.

Dit was die einde van my geleentheid om te probeer debatteer met FW. Vir die res van die program moes ek maar na die ander se vrae en antwoorde luister.

Rian van Heerden skryf in sy boek, 16 Dinge wat ek nié moes sê nie, hoe polities regs hy op skool was. Foto: Waldo Swiegers

Die produksiespan het ons darem hierna vir ’n gratis ete by die Meat & Eat in Hatfield geneem. Miskien het ek toe al ’n verdere renons in stilbly begin kry, iets wat ek uiteindelik begin verafsku het.

Kort ná die program uitgesaai is, het ek ook my eerste klagtes gekry. Ons was in die kombuis van ons huis (ons derde huis in Elarduspark, Pretoria) toe my pa die koerant van die dag te voorskyn bring en my die briewekolom wys. En daar was dit, swart op wit: “Wie dink hierdie snotkop is hy om so sonder respek met die president te praat?”

Dit sou die begin wees van nie net ’n loopbaan in televisie en radio nie, maar dit was ook ’n voorsmakie van hoe genadeloos die publiek kan wees. Al is jy 17 jaar oud en bekommerd oor jou toekoms.

* 16 Dinge wat ek nié moes sê nie word deur Tafelberg uitgegee en kos R260.

Meer oor:  Rian Van Heerden  |  Fw De Klerk  |  Freek Robinson
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.