Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Ridder van die rooi fes

’n Man wat een van ons land se ou simbole gered het en “gevaarlik lief” is vir duiwe, het sy merkwaardige verhaal met Murray La Vita gedeel.

Gosain Samsodien in sy werkplek met een van die rooi fesse wat hy daar maak. Agter hom is foto’s van die talle Maleierkore vir wie hy al fesse gemaak het. Foto: Jaco Marais

Teen ’n hoekgebou met ’n geweltjie in die Kaapse voorstad Kensington is ’n liggroen bordjie aan ’n veiligheidshek vasgemaak. Twee woorde verskyn daarop: Samsodien Fez. En daaronder, groter as die naam, ’n afbeelding van vier fesse. Een van die fesse is rooi en het ’n swart tossel wat van die kroon af hang.

Die ikoniese rooi fes is ’n belangrike simbool in die Kaapse Maleierkultuur; ’n simbool wat in ’n stadium begin kwyn het omdat die fesse nie meer gemaak is nie.

Gosain Samsodien (73), wat ons by die hek ontvang, is die man wat daarvoor verantwoordelik is dat die rooi fes nou weer lewe in die Kaap.

“Dié kofia-besigheid [hy gebruik ‘kofia’ as ’n wisselvorm vir fes] het in die tagtigs doodgegaan in die Kaap. Toe gesels ek en my broer daaroor en toe klim ons sommer in. Maar ons weet toe nie hoe om die fesses te maak nie en toe moet ons nou léér hoe om dit te maak. Daar was niemand om by te leer nie, toe moet ons nou net hierso experiments doen en toe wérk dit. Ons sit dit in boksies en ons parcel dit mooi op,” sê Gosain.

Pretoria – ek maak vir die Pretoria. Ek maak vir Port Elizabeth; ek maak vir East London, want daar is nêrens iemand anders wat kofias maak nie.

Hy het mettertyd alleen voortgegaan met die fesmakery.

“Daar was sewe different mense wat fesse gemaak het toe ek hierso kom. Maar hulle maak net die ordinary gewone páp, sagte fesse – nie die rooi nie.

“Ek het in die rondte gegaan en gaan kyk en toe sien ek: Nee man, daar is niemand wat dit maak nie. Toe begin ek dit maak en daarvandaan begin die besigheid te groei because toe word ek meer gerecognize as ’n fes-maker. Toe sit hulle vir my in die gréén pages ook as ’n kofia-maker.

“En toe begint ek al die different soorte fesse maak en toe begint al die ander fesmakers stadigies te vergaan. Mý fesse is ’n beter quality. Ek sit nou met die hele kaboedel; ek sit met almal die skole, ek supply net nie meer winkels nie; ek supply ál die skole se fesse.

“Ek is die enigste kofia-maker nog in die Kaap. As daar mense van India af kom dan wil hulle kofias hê; as daar mense van Malaysia af kom, dan wil hulle kofias hê. Dan koop hulle dit hier en dan vat hulle dit daarnatoe. Pretoria – ek maak vir die Pretoria. Ek maak vir Port Elizabeth; ek maak vir East London, want daar is nêrens iemand anders wat kofias maak nie.”

Gosain se geheim

Die rooi fes steek op ’n ongewone plek kop uit. Hier is Gene Louw, administrateur van Kaapland (links) saam met dr. Danie Craven en Jan Pickard, voor ’n wedstryd op Nuweland in die 1980’s. Craven het het ’n rooi fes gedra om erkenning te gee aan Maleier-ondersteuners. Foto: Argief

Waarom het die vervaardiging van rooi fesse opgehou?

“Die equipment wat hulle gebruik het, die blokke, die moulds, was nie meer available nie. Dit het begint te probleme gee. Kyk, hy werk soos ’n primusstofie wat jy aansteek dan kry jy ’n male en ’n female blok dan druk jy dit aanmekaar. Hulle kon ook nie meer die hare kry waarmee hulle die felt gemaak het nie en die matte, die rottang wat hulle binne in gesit het nie; hulle voorraad het almal van Turkey af gekom.

“So daar moet iets anders gedoen word dan. Toe begint ek my eie moulds maak en dit werk soos ’n bom. Mý moulds is gemaak van staal én hout, en dan het ek net een blok gemaak, ek het nie twee blokke gemaak nie, maar ek het ’n felt gekry wat ’n bietjie stretch op het dat as jy hom rek dan rek hy mooi die shape van die blok.”

Waar kom dit vandaan?

“Man . . . Ek gaan nie u die waarheid sê daarvan nie; dis ’n trade secret. Ek het net gesien hiesa is die felt en toe werk ek met daai felt. Baie mense wou my al kom film soos ek die goed maak, maar die probleem . . . Die probleem is die Kapenaars; hy stéél met die oog en dan doen hý daai werk.

Ander goed kan hy self leer, maar ek wil hom leer om die rooi fes te maak want ek wil hê dit moet aangaan.

“Nou op die oomblik is daar niemand behalwe ek wat dit nog doen nie. Maar ek het ’n plan; ek het ’n plan gemaak om hierdie jaar hier uit te trek; ek moet dit oorgee vir ene.

“My dogter het ’n groot plek in Makassar gebou en ek het besluit ek gaan hierdie plek daar opsit by haar. En een van haar kinders, hy’s al ’n teenager, hý stel belang so ek gaan vir hom train.

“Ander goed kan hy self leer, maar ek wil hom leer om die rooi fes te maak want ek wil hê dit moet aangaan.”

Sy dogter en haar gesin woon heel gepas in Faure neffens die kramat (graf) van die Moslemheilige sjeg Yusuf.

“Sy en haar man leer kinders daar in die madrassas [Moslemskole] om die Koran te memorise. My vrou, Sharifa, is nou op ’n vakansie daar by hulle. Ek het haar bietjie weggestuur dat sy gaan rus; sy need om weg te kom bietjie van die stres. Sy is die ene wat my help; sy is my regterhand; sonder haar kon ek nóóit hierdie besigheid gedoen het nie.”

Gekoop met kofiageld

Samsodien Gosain besig om ’n fes te maak. Foto: Jaco Marais

Gosain tel ’n tolletjie gare op wat voor hom lê op die naaimasjien waarlangs ons sit en gesels.

“Toe ek hier kom toe’t ek nie so ’n tolletjie gare gehad nie. En ek het hiervandaan gewerk en ek het hierdie plek gekoop van kofiageld, van die rooi kofiageld. En ek het op pilgrimage gegaan ook [na Mekka], ek en my vrou saam. Ek is gelukkig dat ek dit gedoen het.”

Ons praat oor die geskiedenis van die rooi fes en hoekom dit so ’n belangrike deel van die Kaapse Maleierkultuur is.

“Kyk, die Cape Malay kore mág nie sing sonder ’n rooi kofia nie. En as hulle committee meeting hou, dan mag hulle nie in die meeting sit sonder die rooi kofia nie. Dis ’n Kaapse tradition. En hulle moet elke jaar sing in die competition vir die kofia trophy, die Silwer Fes.”

Die rooi fes was natuurlik ook ’n belangrike simbool in die Moslemse Ottomanryk.

Die fesse kom in grotes van 19 ½ tot 25.

“Elke persoon se kop size is different. Ek het eers langes gemaak, maar ek het probleme met die langes, want dit is nie almal wat dit wil hê nie. Hulle wil die middelmate of die kortes hê. Ek het sommer die kofia na ’n ánder standard gevat. Ek het sommer enige colour begin maak, nie net die rooi en swart kofia nie. Ek het sommer grey gegaat; ek het beige gegaat; ek het wit gegaat. Ek het énige colour wat jy wil hê, gegaan met dieselle soort material [vilt].”

Het al die fesse tossels bo op?

“Kyk, die Hollandse kore mag nie sing met ’n tossel op nie; hulle moet daai tossel respect. Because, kyk, daai ouens is amper soos jokers.

“Ek het die kofias gemaak álmal met kwaste [tossels] aan, maar as die kofias in die winkels kom dan sny hulle die kwaste af. Toe het ek uitgevind ek moet die koste van die kofias afbring want dit raak al hoe duurder. Maar die process is stádig; dis nie ’n vinnige process nie. Toe haal ek die kwas af en ek haal die leer band aan die binnekant uit. Maar dan kry jy nog altyd mense wat die original soek. Soos Malaysian-groepe wat hier kom toer.”

Enigste fesmaker

’n Kaapse Maleierkoor met die tradisionele rooi fesse wat hulle tydens hul optredes dra. Foto: Argief

Gosain kyk om hom rond en wys na die rakke oorkant ons waar fesse (in plastiekomhulsels) opgestapel staan.

“Ek doen amper álles hiesa. Wat my vrou doen, is sy sit die sagte fesse se krone in, because sy het ’n manier om rondom hom te stitch. Ek sny hom; ek size hom – álles. Tot die rooi fes vat ek van die rol material tót by die einde. Ek maak hom heeltemal klaar. En ek is nou die enigste een wat dit doen,” beklemtoon hy weer. “So dis ’n probleem – as ek nou doodgaan, wie gaan dit oorvat? Ene moet dit oorvat.”

Maar wat dan van sy kleinseun na wie hy vroeër verwys het?

“Ja, hy is maar . . . Hy kan dit seker doen in sy spare tyd. Hy is nog in matriek en hy stel baie belang. Elke naweek as hulle hier kom dan is hy hier by my.”

Man, jy kan ’n lewe maak soos ek dit nou maak, maar as jy van voor af begin dan sal dit nie werk nie.

Is dit nog ’n winsgewende onderneming?

“Man, jy kan ’n lewe maak soos ek dit nou maak, maar as jy van voor af begin dan sal dit nie werk nie. Dit verkoop te min..”

Hy tel sy foon op en wys vir ons foto’s.

“Ek maak tot die graduation caps ook vir skole.”

Ons stap deur na sy groot werkvertrek waar Gosain van die fesse van ’n rak afhaal, uit hul plastiekomhulsels lig en vir ons wys. Ook die “blokke” waarop die fesse gevorm word.

“Kyk hier, elke size het ’n different blok. Jy ken mos vir MacGyver? Nou, ek het my eie MacGyver-moves hiesa wat ek aanvang.”

As die ou ’n tossel hier wil aanhê, dan maak ek my eie tossel. Ek staan hier en maak hom.

Hy neem een van die fesse en sit dit op ’n blok en stryk en trek die materiaal totdat dit pas.

“Daarsy, daarsy nou. En dan gebruik ek hierdie steam boiler om vir hom te steam. Kyk, hierso is sie steam boiler. Ek maak hom enige colour wat jy wil hê en watter h’ogte jy wil hê. Ek vind altyd die ouens met die lang fesse het baie geld en die met die kortes het min geld,” sê hy en gee ’n droë laggie.

“As die ou ’n tossel hier wil aanhê, dan maak ek my eie tossel. Ek staan hier en maak hom.”

Hy haal ’n plankie met spykers aan weerskante en wys vir ons hoe hy die tossel daarop draai.

“Ek vra altyd: ‘Nou hoeveel maal was jy in die Mekka gewees . . . Vroeër jare kan jy mos nie die tossel gedra het as jy nog nie Mekka toe was nie. Dan sê hy: ‘Ek was al drie keer.’ Dan sê ek: ‘Ek gaan drié tossels aansit.’ Dan sê hy: ‘Nee, nee! Ek is nie ’n bragerigge ou nie!’

“Elke ou het sy eie manier. As die ouens braggerig is dan hang hulle die tossel mos hier langs die kant van hulle kop, jy weet.

“Meeste van die mense wil dit nie dra met ’n kwas aan nie, maar dan kry jy mos nou mense wat hier inkom en hulle wíl ’n kwas aanhê. Hy wil ’n hadji wees; hy wil vir almal wys hy was in Mekka gewees.”

Gevaarlike liefde

Samsodien Gosain se 200 wedvlugduiwe is sy stokperdjie. Foto: Jaco Marais

Uit die bloute tel Gosain ’n Duitse tydskrif oor duiwewedvlugte op wat neffens groot skêre lê en waarin ’n artikel (met foto’s) oor hom verskyn.

“Ek is ’n duiweboer ook. Dit is nou my hobby. Ons het 26 races vir die jaar wat ons vlieg. Maar hulle gaat uit gereeld; hulle gaat circle gereeld – elke tweede of derde dag. As dit nader aan ’n race kom dan vat ons vir hulle uit. Ons vat vir hulle Wellington toe, Paarl toe, Klapmuts toe. Dan laat ons hulle daar uit en dan vlieg hulle terug huis toe.

“Vir ’n race ry ons so ver as Kroonstad. Die duiwe vlieg oor ’n 1 000 kilometres ’n dag; in ’n dág se tyd is hy by die huis.”

Hy kyk na bo asof hy deur die lae plafon en die dak tot in die somerhemel kan kyk. “Hier kom elke dag duiwe terug. Hier het een dag ’n duif teruggekom wat nege jaar weg was.”

Ons is baie lief vir duiwe; geváárlik lief.

Gosain trek ’n elektroniese toestel – ’n reghoekige swart objek – nader en sê:

“Kyk, hier is my nuwe elektriese klok wat ek nou gekoop het. Dis ’n Benzing. Ek sit vir hom binne in die hok. Dan loop die duif daaroor met daai computer ring aan en dan register die klok hom vanself en dan kom hy nog op my telefoon ook.

Nou gaan hy vir ons sy 200 duiwe wys. Ons stap deur sy huis, wat aan die winkel verbind is, en ’n agterplaas (met ’n tenk waarin reënwater vir die duiwe opgevang word), tot by die hokke waar die duiwe ons met hul gefladder en gekoer begroet.

Op met ’n stel nou trappe klim ons tot by die boonste hokke. Dáár ontmoet ons sy seun, Sedick, wat saam met hom die duiwe versorg. Sedick is ’n skraal 50-jarige man met lang hare en ’n baard – ’n glimlaggende man met ’n asketiese uitstraling; hy trek ’n bietjie op Raspoetin.

“Ons is baie lief vir duiwe; geváárlik lief,” sê Gosain. Van waar ons staan, kan ons uitkyk oor die dakke van die huise en die berge in die verte. “Hier sit ons nou en wag vir hulle.”

Sedick Samsodien, Gosain se seun, met die duif wat hulle geteel het om vir hulle ’n kar te wen. Foto: Jaco Marais

Die jongste duiwe word in die boonste hokke aangehou.

“Hierso is onse laaste babas wat ons nou opgebring het van die broeihok af. Jy kan sien hoe gesond lyk hulle. Hulle lyk móói. Hulle vere is mooi; álles is mooi.”

Sedick wys vir ons ’n duifkuiken wat saam met sy ouers in hul eie hok sit. Hy haal die klein, veerlose wese uit en hou hom versigtig in albei sy hande vas.

“Dit is die karduif wat ek van dié paar af geteel het. Ons race mos vir ’n kar elke jaar. Dié is nou die kuiken om die kar mee te wen. Dis die grand prize in ’n race,” sê Sedick.

Terwyl hy afkyk na die kuiken in sy hande, verduidelik hy waarom dié so spesiaal is.

“Sekere duiwe vlieg vinnige wedvlugte en sekere duiwe vlieg kopwinde. Nou dié is kopwindduiwe; hulle vlieg hárde weer. Ons weet mos nie hoe gaan die race wees nie; ons kan mos ’n swaar wind tref. ’n Vinnige duif verloor jy sommer in die eerste race, maar dié wat hier sit, is die ultimate.”

Almal dra fesse

Ons stap weer na Gosain se werkwinkel. Wanneer ons vertrek, wys hy vir ons die foto’s van Maleierkore teen ’n muur by die voordeur; kore soos die Young Men’s Choir, die Ottomans, die Rising Stars, die Young Aces, die Boarding Boys, die Ambassadors en Die Angeliere.

Daar is ook ’n ou swart-en-wit-foto; ’n groepfoto van ’n bruin (Maleier?) rugbyspan wat Gosain beskryf as die Springbokke van 1902. Wat die mans in al die foto’s gemeen het, is die fesse wat hulle dra.

“Dit is rooi fesse,” sê hy.

Meer oor:  Makassar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.