Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Robert se reis na manlikheid

Robert Hamblin praat met Murray La Vita oor sy merkwaardige lewe van vele transformasies, waarvan die oorgang van vroulik na manlik maar een was.

'Ons almal word met vroulikheid én manlikheid gebore en die geleentheid om onsself daarin uit te druk.' Foto: Robert Hamblin

Die onderhoud met Hamblin (52) vind op ’n sonnige Kaapse oggend plaas in die huis in Muizenberg waar hy en sy vrou, Sally Shackleton, en hul dogter, Georgia-Asemahle (7), woon.

Hamblin is ’n aantreklike man met ’n welige baard, blou oë (wat soms groen of grys kan word) en ’n besonder welgevormde neus. Hy is geklee in ’n geruite hemp, ’n groen cargo-broek en sy vrou se groot pienk pantoffels.

Langs die leefvertrek, waar ons by ’n tafel sit en gesels en koffie drink, is sy ateljee vol kunswerke. Van die skilderye is nog in wording. Hy is op die oomblik gefassineer deur die haas-figuur. Onder die werke waarin dié dier figureer, is treffende afbeeldings van figure met menseliggame en haaskoppe. Sommige is in pakke geklee. Hy sê dit is selfportrette.

Sy haaskunswerke is selfportrette, sê Hamblin. Foto: Robert Hamblin

As jong mens – toe hy nog Adéle was en voordat hy in sy dertigs met ’n geslagsverandering begin het – was hy ’n nuusfotograaf en later ’n gesogte en gevierde fotograaf van bekendes in veral die vermaakbedryf. In onlangse jare spits hy hom hoofsaaklik toe op sy skilderwerk en konseptuele kuns.

Hy het in ’n vorige onderhoud gesê niks – geen projek of kunswerk – gaan ooit belangriker wees as om Georgia, wat hy en Sally aangeneem het toe sy drie maande oud was, groot te maak nie.

Billy en Alexis

Hamblin se aangrypende boek, Robert: A Queer and Crooked Memoir for the Not So Straight and Narrow, het pas verskyn. Sy pa, Billy Venter, wat hy op die ouderdom van 16 leer ken het, is ’n sentrale karakter in sy lewe en in die boek. Hy was ’n gay man en flambojante swendelaar wat later aan vigs gesterf het.

Hoewel sy pa hoofsaaklik in mans belang gestel het, het hy ’n minnares gehad, die enigmatiese Alexis, wat ook ’n groot rol in die jong Adéle se lewe gespeel het.

“Mense gebruik gender om ander mense se lewens te verwoes. Om dít te wys, was een van die funksies van haar karakter in die boek,” sê Hamblin.

“Mense vra my nou nog oor haar gender. Dan dink ek: Wat maak dit saak? Hoekom moet jy weet? Die punt is, daar is mense wat haar daarvan beskuldig het dat sy trans is, en dit het haar lewe vernietig.

“En moenie dink ons is uit daai tyd uit nie; mense word steeds verwoes deur daai soort inligting. Geïnternaliseerde homofobie en transfobie is steeds ’n ding, asook geïnternaliseerde rassisme. Die manier waarop swart mense mekaar ook die k-woord noem en al daai goed. It happens.”

Al die kodes

Dit alles spruit uit die kruispunt tussen gender en mag.

'Ek was moerse eensaam gewees vir ’n lang tyd in die transition.' Foto: Robert Hamblin

“Nog voor jy vir ’n kind ’n naam gee, kyk jy na sy gender en dan weet jy hoe om hom te behandel daarna. Jy leer vir ’n kind wie is ’n oom en wie is ’n tannie en hoe hulle moet optree teenoor ’n oom en teenoor ’n tannie.

“Al daai kodes word dan in mense geprogrammeer. En dit is gekoppel aan mag, want as jy nie die kodes regkry nie, verloor jy jou mag, want dan is jy stupid en as jy stupid is, is jou plek baie spesifiek in die samelewing.

“As ’n man is dít jou vertrekpunt en jy moet daarby bly. Jy mag nooit ’n rok dra nie, want dan gaan jy gedonder raak, en ons is nog steeds daar. ’n Stuk materiaal kan jou dood beteken. So, mans is nog nie bevry nie en ons hoop dit gaan op een of ander stadium gebeur.”

Hamblin se memoires het onlangs by Melinda Ferguson Books, ’n druknaam van NB Uitgewers, verskyn.

Hamblin het ’n aantal jare gelede die nieregeringsorganisasie Gender DynamiX geskep. Toe hy nog in daardie hoedanigheid as gender-aktivis gewerk het, het hy gevind sulke moorde en geweld vind in alle dele van die samelewing plaas.

“Die getal kere wat ek uitgeroep is Manenberg toe vir mans wat hulle seuns wil aanval omdat hulle rokke aantrek, was dieselfde getal as wat ek Kampsbaai toe uitgeroep is waar van daai families ook nie kan cope nie en daar violence gebeur: Ek wil my seun blíksem, want ek het hom gevang met ’n stuk lipstick op sy gesig.

“Maar dáár word dit weggesteek; dit word nie die polisie se probleem nie. Jy bel die NGO, want jy het die nommer.”

Tweede puberteit

Daar is uitdagings aan verbonde om ’n wit mán te wees. Die kompleksheid en skynbare teenstrydighede van Robert se ervaring hiervan, kom na vore wanneer hy daaroor begin praat.

“Ek het gou in my transition agtergekom ek is nie ’n man nie . . . Dit het my járe gevat om ’n man te word. ’n Transition gebeur nie oornag wanneer jy hospitaal toe gaan of hormoonbehandeling kry nie. Jy groei nie ’n baard oornag nie. Énige puberteit neem sewe jaar en dit is ’n tweede puberteit.

“En dan wanneer jy in jou fisieke manlikheid arrive het, is jy nog steeds nie ’n mán nie. Dit het nog baie meer jare gevat voordat ek gevoel het: Oukei, nou is ek ’n man. Wat bedoel ons daarmee? Wat is ’n man? Dit is ’n vertrekpunt, nie ’n aankoms nie. Ek dink die oomblik toe ek besef het ek is ’n man, is toe ek besef het ek is nié ’n man nie . . . Die dualiteit daarvan is ’n werklikheid.”

Vryheid van vrouwees

In die samelewing is gender ’n manier vir ons om iemand se menslikheid te beskryf. As jy nie iemand se gender ken nie, is hulle nie ’n mens nie, sê hy.

'En dan wanneer jy in jou fisieke manlikheid arrive het, is jy nog steeds nie ’n mán nie.' Foto: Robert Hamblin

“Hoe meer empatie ek vir mans ontwikkel het, hoe meer het ek besef: Ek het nooit army toe gegaan nie; ek kan nie om ’n vuur staan en sê ek het die army resist nie; I can’t claim that; I wasn’t broken by the system . . . I circumvented the system.

“Ek het grootgeword in die vryheid van vrouwees. Dit beteken jou kreatiwiteit en jou vroulikheid is nooit verdof nie – veral as jy nie rape beleef het nie.

“Ons almal word met vroulikheid én manlikheid gebore en die geleentheid om onsself daarin uit te druk . . . Ek kan hierdie man wees . . . Ek kan my vrou se slippers dra en hulle nooit weer vir haar teruggee nie,” sê hy laggend en kyk af na sy gekruisde bene en sy voete. “Of ek kan só sit en nie ’n f*k omgee nie. Ek het nooit daardie oppressions beleef nie. So, ek identifiseer as queer.”

Vir Hamblin omsluit die konsep queer onder meer almal – onder andere mense van alle geslagte of seksuele oriëntasies – wat saamstem dat toksiese manlikheid ’n probleem is.

“Oukei, as ’n wit man . . . Let’s face it: Our bodies tell our stories. Dis ál hoe ek lyk in die openbaar; ek lýk soos ’n wit man en die samelewing, en veral vroue en mense van kleur, gaan op my reageer as ’n wit man.”

Vroue deins terug

Hy beskryf in sy boek hoe hy op ’n bruin man en vrou skree wat op straat baklei.

“Ek klim uit my kar uit en ek bepoep myself om dit te doen, maar ek skree vir hom en hy luister dadelik vir my en hy loop weg . . .

“Dit was ’n baie skokkende oomblik vir my, want toe ek dit as ’n vrou gedoen het, was ek in gevaar, maar daar ís hierdie reaksie op ’n wit man. En nie noodwendig omdat hy báng was vir my nie, maar oor daardie kóde in die samelewing van ’n wit man het mag en hy het ’n sisteem agter hom. So, wanneer hierdie wit ou uit sy kar uit klim, staan ’n hele sisteem klaar agter hom.

“Ek moes dus skielik leer om daai mag te hou in die oomblik, want dit gaan daardie vrou help en dit gaan hóm help om nie violent te wees nie.

’n Eiesoortige gesinsfoto. Op die voorgrond is Sally en Georgia. Hamblin, met ’n witgeverfde gesig, staan agter hulle. Dié werk was in 2015 deel van die uitstalling 'Daughter Language'. Foto: Robert Hamblin

“Die ander ding wat ek moes navigate, is . . . Ek was in die entertainment-wêreld en daar word aanhoudend vir jou gesê: ‘Artikuleer! Praat harder! Praat mooi! As ’n vrou moet jy jouself laat geld; jy moet hard praat; jy moet leer om jou stem dieper te gebruik.’

“Nou gebruik ek hierdie selfde stem met ’n manlike lyf . . .Oh, my God! Jy sien net hoe deins vroue terug . . . Dít was báie, baíe pynlik; om te sien hoe jou allies skielik terugdeins net omdat jy . . . En wanneer jy aan woede uiting gee . . . Ek moes heel ander maniere leer om aan frustrasie uiting te gee.

“Ek dink ek het nog steeds nie geleer hoe nie . . . Ek het net al hoe eensamer geraak. Ek was moerse eensaam gewees vir ’n lang tyd in die transition.”

Testosteroon

In een van die laaste hoofstukke van die memoires beskryf Hamblin die invloed wat testosteroonbehandeling oor ’n tydperk van ses jaar op hom gehad het. Die idee dat dit die alfa en die omega van manlikheid is, is verkeerd, sê hy.

“In die liggaam se hormonale en endokriene stelsels is ’n komplekse en sensitiewe balans tussen báie hormone, nie net estrogeen en testosteroon nie.

“Daardie hoofstuk vertel wat met mý gebeur het. Baie transmans het glad nie daardie ervarings nie. My beste vriend is al op testosteroon vir tien jaar en hy het nou eers ’n snor. Dit het ook glad nie sy hele uitkyk op die wêreld verander nie. Hy voel hy is dieselfde mens.

“Vir mý het dit rêrig gevoel asof dit my brein omgedraai het. Ek het baie nuwe ervarings gehad, mentally en intellectually, wat ander ouens nié ervaar nie. So, dit beteken nie as jy aan enige vroulike liggaam testosteroon toedien dat jy ’n man as die eindresultaat gaan kry nie. Dis ’n baie komplekse ding.”

Die ou self

Hamblin sê hy voel “diep ongemaklik” met ou foto’s van hom en met sy vorige naam.

Adéle Hamblin. Hamblin voel 'diep ongemaklik' oor ou foto’s van hom soos dié een, maar hy meen dit is wél belangrik om dit te deel omdat dit deel is van sy werk as ’n aktivis en kunstenaar.

“Maak nie saak hoe mooi ek was en hoeveel sukses my naam gedra het nie. Gedurende daardie tyd was my ongemak nie net persoonlik nie. Ek het die onsigbare gees van strukturele geweld met betrekking tot gender gevoel; geweet dit is n blinde, universele onderdrukking wat meeste mense voel, maar nie kan sien nie.

“Vandag is my liggaam meer gemaklik, maar my ou naam en foto’s van my vorige liggaam is steeds soos ’n gees wat herinner dat ons almal nog onder daardie fascisme lewe. Dit laat my voel asof ek en ander mense soos ek sonder ’n stem in ’n nagmerrie probeer skreeu.

“Dit is belangrik om transmense se pyn rondom ou foto’s en name te respekteer. Ek deel albei my plekke van ongemak omdat om daaroor te praat deel is van my werk as ’n aktivis en kunstenaar. Wanneer dit ’n sinvolle gesprek tot gevolg het, is my werk gedoen. ”

Samelewing kán verander

Sedert sy oorgang van vrou na man het hy “nog érnstiger transitions as dít gehad”.

“Ek het getransition van ’n jong persoon na ’n middeljarige persoon met baie middeljarige liggaamlike pyne, wat ’n ánder crucible of note is – ’n universele een.

“En ek het gegaan van ’n persoon sonder kinders tot ’n middeljarige persoon met ’n sewejarige kínd, wat ook báie meer dramaties is as wat my gender transition was, en pynvol en moeilik om te resolve. So, ons gaan maar almal die hele tyd deur transitions.”

Ook die samelewing verander en transformeer. Op sy troudag met Sally het Hamblin in sy toespraak gesê sy (getransformeerde) liggaam is die bewys daarvan dat die samelewing kán verander en dat die mensdom beter kán word.

“Ek het ’n man geword, maar die vroulike leef voort in my en ek leef in ’n samelewing wat dit toelaat, wat ruimte skep vir ’n queer man om te wees presies wat hy is – vir almal om te sien.”

• Die uitstalling Queer Cartographies, wat bestaan uit inkwerke deur Hamblin, is van 22 Junie in die Nel Galery in Kaapstad te sien. Sy boek word op die openingsaand (22 Junie) in die galery bekend gestel. Besprekings kan by images@roberthamblin.com gedoen word.

Meer oor:  Robert Hamblin  |  Trangender  |  Queer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.