Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Rocco neem só wraak op boelies

Rocco de Villiers vertel aan Murray La Vita hoe hy gesorg het dat diegene wat hom op skool en universiteit geboelie het, hom nooit sal vergeet nie.

Rocco de Villiers onlangs op ’n Bolandse herfsoggend buite Stellenbosch. Foto: Jaco Marais

Hy is geklee in ’n kortbroek en kleurvolle kouse wat tot in die middel van sy welgevormde kuite opgetrek is. Daarby dra hy ’n fleurige hemp en ’n swart snyersbaadjie met ’n oranje laproos op die lapel.

Ons sit op die stoep van ’n gastehuis wat buite Stellenbosch op ’n wynplaas geleë is. ’n Ent van ons af kabbel water uit ’n fontein in ’n poel in. Duiwe koer in die bome. Dit is aanvanklik bewolk, maar dan breek die son deur en word dit ’n stralende Bolandse herfsoggend.

“Ek is baie geboelie op skool . . . Kyk, die rede hoekom my nuwe CD se titel Kortbroek, langkouse is . . . Aanvanklik dink mens dit is snaaks; en dit ís snaaks, maar die storie ágter dit . . . Ek weet nie of jy so ’n bietjie weet hoe boelies se filosofie werk nie?” vra Rocco in sy kenmerkend lakoniese stemtoon. Hy praat stadig.

Die kinders wat my op skool geboelie het, het kortbroeke en lang kouse gedra en daarom wou ek vir baie lank niks te doene gehad het met ’n kortbroek en lang kouse nie...

“As die kind wat jou boelie altyd rooi sweetpakke gedra het dan ontwikkel jy ’n ding teen rooi sweetpakke, want dít is die sneller vir die trauma wat jy beleef het. Soos ’n kind ook, as iets met hom gebeur het by die stoof, dan word hy bang daarvoor.

“Die kinders wat my op skool geboelie het, het kortbroeke en lang kouse gedra en daarom wou ek vir baie lank niks te doene gehad het met ’n kortbroek en lang kouse nie, want dit het my getraumatiseer.

“Maar nou dat ek al 20 jaar lank in die entertainment industry is en klavier speel vir brood op die tafel en petrol in my kar, het ek besluit om daardie beeld terug te claim vir myself.

“En die manier hoe ’n mens dit doen, is om dit deel van jou wêreld te maak en dit op die verhoog te sit, want dán kan jy dit op jou eie voorwaardes doen. En dít was vir my ongelooflik bevrydend en bemagtigend.”

“As enige een van daardie kinders of daardie dekaan nou hier verbystap, sal ek nie weet wie hy is nie, maar nie een van daai mense gaan mý ooit vergeet nie.”

’n Vreemde ding

Hy vertel wat op universiteit in Bloemfontein, waar hy musiek bestudeer het, met hom gebeur het.

“Dit was ’n verskriklike vreemde ding. In my tweede jaar op universiteit was ek in die koshuis gewees en toe een dag het twee mense in my kamer ingekom . . . Ek wil nie nou weer die trauma herleef nie . . . Hulle het my aan ’n bed vasgebind en al my hare afgeskeer as ’n teken om vir my te sê . . . ‘Jy’s nie deel van ons nie; jy moet weggaan’, wat ek toe wel gedoen het; ek het die koshuis verlaat.

Mannetjie, jy sal moet verander die manier hoe jy aantrek, hoe jy is, hoe jy praat, hoe jy loop, hoe jy op die verhoog is, wat jy doen, wat jy sê...
Dekaan van lettere en wysbegeerte

“Maar weet jy wat was die grootste trauma daarvan vir my gewees? Ek word toe ingeroep deur die dekaan van lettere en wysbegeerte, ek kan nie eers sy naam onthou nie, al wat ek onthou, is sy kantoor was bruin met bruin wood panelling met bruin matte met ’n bruin half dooie delicious monster . . . sy suit was bruin, sy Grasshoppers was bruin, en so ook sy idees, clearly.

“En toe sê hy vir my: ‘Mannetjie, jy sal moet verander die manier hoe jy aantrek, hoe jy is, hoe jy praat, hoe jy loop, hoe jy op die verhoog is, wat jy doen, wat jy sê – jou héle package wat Rocco is, sal jy moet verander, wánt as jy ’n loopbaan in musiek wil hê, gaan niemand óóit belangstel in hoe jy nou is nie.’

“En weet jy wat was vir my die vreemdste daarvan gewees? Ek het daar gesit en dit was ’n jaar nadat ek universiteit toe is . . . Ek was nog ’n kind . . . En net voordat ek universiteit toe gegaan het, het my ma vir my gesê: ‘My kind, ’n mens gaan na ’n tersiêre inrigting toe sodat hulle die béste uit Rocco uit kan kry sodat jy die beste weergawe van jousélf kan wees.’

“En hier kom hierdie idioot en breek ál daardie goed af. Weet jy wat is vir my tragies? Kyk, ek was hardegat en ek is ’n intelligente mens, so ek het daar gesit en ek het gedink: ‘Hang on, hier’s iets nie lekker nie.’ Maar nóú, in retrospek, is ek hártseer vir die ánder kinders wat daar voor daai man gesit het wat hom gegló het en hulleself verander het soos wat hulle gedink het die wêreld en hý wil hê.” Sy oë skiet vol trane. “En vandág kan hulle nie soos ek daaroor sit en praat nie, want hulle is sielsongelukkig. Dít is vir my die ergste.”

“Maar nóú, in retrospek, is ek hártseer vir die ánder kinders wat daar voor daai man gesit het wat hom gegló het en hulleself verander het soos wat hulle gedink het die wêreld en hý wil hê.”Foto: Jaco Marais

Daai vieslike goed

Rocco skink tee uit die pot Earl Grey wat ’n jong man (klaarblyklik beswymel deur die ster) oomblikke gelede voor ons neergesit het.

“Maar die ander ding wat met my gebeur het terwyl ek daar gesit het, is ek het gedink: Hoekom val hy al hierdie goed aan? En nóú dat ek begin dink het en die hele ding van die kortbroek teruggeclaim het, het ek besef die goed waaroor mense jou boelie, hetsy verbaal of fisiek, is in 100% van die kere die bestanddele wat jou suksesvol gaan maak.

“Dit is die goed waarvan hulle nie hou nie; wat hulle nie verstaan of wil verstaan nie – daai vieslike goed wat van hulle ouers of van die wêreld af kom wat ons noem judgement. En hulle kan hulleself nie verwyderd kry nie, so die enigste manier waarop hulle kan cope met hulle eie judgement, is om dit aan te val en te probeer vernietig.

“Dis ’n vreemde ding; nog steeds in die wêreld hoor ’n mens: ‘O, ons het vernuwing nodig en ons het dit en dit nodig’, maar sodra daar nuwe idees kom . . . Een van die grootste voorbeelde in entertainment die afgelope ruk was Lady Gaga. Sy kom toe met hierdie ongelooflike idees en almal sê toe sy gaan hel toe en sy is van die duiwel af!

“En dís hoe ek ’n bietjie gevoel het toe ek in daai bruin kantoor gesit het.

Jy gaan vir my nooit vergeet nie – nóóit.

“Toe ek klein was en ek vir die skooldebatte moes klavier speel dan het ons altyd na die Oriental Plaza toe gegaan in Ladysmith en dan koop ons vir my ’n groen hemp en ’n bloue, of ’n pienke en ’n gele, dan knip my ma die hemde in die helfte deur en dan werk sy dit weer vas sodat ek twee hemde het wat uit verkillende kleure bestaan.

“En ek het daaraan gewoond geraak. Ek het gedink: ‘Wow! Dis cool; die mense hou daarvan.’ En hier kom hierdie man en sê vir my ek moet dit nou als verander want dit gaan maak dat my musiek nooit sal verkoop nie en dat ek nooit suksesvol sal wees nie.

“Hoe ongelooflik . . . Die Engelse woord wat by my opkom, is evil. Kyk, daar is die uitdrukking die beste vorm van wraak is sukses. Ek wil nie dít as ’n septer rondswaai nie, maar ek het onlangs in een van my konserte gesê: As ’n mens se lewe uitwerk soos wat myne uitgewerk het, nie net omdat ek hopelik talentvol is nie, maar ook omdat ek óngelooflik hard gewerk het om uit te kom by waar ek is, dan gebeur daar ’n vreemde ding met jou.

“As enige een van daardie kinders of daardie dekaan nou hier verbystap, sal ek nie weet wie hy is nie, maar nie een van daai mense gaan mý ooit vergeet nie, want elke dag gaan jy herinner word [deur mediablootstelling] aan Rocco de Villiers en dat hy ís wie hy ís. Jy gaan vir my nooit vergeet nie – nóóit.”

“Die kinders wat my op skool geboelie het, het kortbroeke en lang kouse gedra en daarom wou ek vir baie lank niks te doene gehad het met ’n kortbroek en lang kouse nie, want dit het my getraumatiseer.”Foto: Jaco Marais

Weirdos van die band

Toe hy op skool was, het sy pa ’n orkes gehad.

“En dan het sy band elke Saterdag vir al die troues op Harrismith gespeel. En dis hoe ek ook begin speel het; by die troues – Jim Muller se keurspele.

“So ons hele familie het dan na al die troues toe gegaan. Nou sit ons daar, maar omdat ons nou nie deel van die trougaste is nie, is ons mos nou die weirdos van die band wat daar in die hoek van die stadsaal ingeprop word.

Watter normale seun kom nou na ’n troue toe met ’n babablou safarisuit met damn sonneblomme op die sak?

“En toe was daar ’n vrou wat altyd so agter ons by ’n tafel gesit het . . . En toe het ek baie aangetrek soos wat ek nou aantrek, die look wat ek nou teruggeclaim het – ek het babablou safari suits gedra en my ma het vir my blomme uitgeborduur op die sakke, of die diere waarvan ek gehou het, want ek het gedink dit is lekker cool; met my tekkies en my sokkies.

“Dan was daar altyd ’n vrou wat agter my gesit het en gesê het [hy maak haar stem na]: ‘Watter normale seun kom nou na ’n troue toe met ’n babablou safarisuit met damn sonneblomme op die sak? Man, ek sê niks nie, maar hier kom probleme; hiér kom probleme.’

“Ek was toe seker so ses of sewe gewees en ek het dit gehoor. Dan sal sy sê: ‘Nee, daai De Villiers-vrou sal moet hokslaan; hier is ’n viéslike ding besig om te gebeur. Ek kan jou sê watter tipe dáái is. Gaan seker maar Joburg toe – Sodom en Gomorra.’

“Ek het dit elke Saterdag gehoor. Dis vir my interessant; voordat ek ’n bladsy op Facebook gehad het, het ek net ’n gewone profiel gehad en toe ek my profiel oopmaak, was sý een van die eerste mense wat my vriend wou wees. Nóú wil hulle deel wees van jou suksesverhaal, want nóú is dit lekker om te sê: ‘Weet jy, hy het al van vroeg af saam met sy pa in die band gespeel! En, weet jy, hy is nog presiés dieselfde.’

“Daai ding wat jou bekend of suksesvol gemaak het, is daai ding wat hulle in jou gehaat het."

Rocco weet nou wie hy is.

“Jy moet onthou, ek verteenwoordig op die oomblik álle minderheidsgroepe waaraan jy kan dink: Ek is wit in ’n land waar die meeste mense swart is. Ek is ekonomies gemaklik in ’n land waar die meeste mense arm is. Ek is gay in ’n samelewing waar die meeste mense heteroseksueel is; en ek speel klavier in ’n bedryf waar die meeste mense sing.

My darling, ek kan sien jy het jou eie alfabet . . . Jy moet nou net die woorde maak en dan die sinne en dan moet jy jou eie taal praat.
Pieter-Dirk Uys

“Maar ten spyte daarvan het ek soos wat ek hier sit op die ouderdom van 54, geïnfiltreer in elke kommersiële wêreld – van musiek en CD-verkope tot by konserte, tot by TV. Mens sou dink ek sou in ’n klein vreemde wêreldjie moes probeer oorleef . . .” 

Aan die heel begin van sy loopbaan was Pieter-Dirk Uys een van die enigste mense wat hom ondersteun het.

“Hy het een aand na my show toe gekom toe is daar agt mense in daai konsert – nét agt. Toe sê hy: ‘My darling, ek kan sien jy het jou eie alfabet . . . Jy moet nou net die woorde maak en dan die sinne en dan moet jy jou eie taal praat. En ek belowe jou oor 20 jaar gaan duisende mense met jou wil saampraat.’”

* Rocco se vertoning op die KKNK heet Wat om te dra agter op ’n bakkie. Dit is op 21 Maart om 13:00 in die burgersentrum.

* Om een van twee dubbelkaartjies na hierdie vertoning te wen, stuur e-pos met die opskrif “Rocco”, met jou naam en kontakbesonderhede na bemarking@netwerk24.com teen 17:00 op 18 Maart 2019. Die wenners sal in ’n prystrekking gekies en in kennis gestel word.

Meer oor:  Murray La Vita  |  Rocco De Villiers  |  Kortbroek  |  Boelies  |  Langkouse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.