Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Rock chick wil vry wees van 'Afrikaanse borstrok'

Sy wou ’n boek skryf wat “van die Afrikaanse borstrok” bevry is, sê Annie Klopper aan Murray La Vita oor haar aweregse liefdesroman wat pas die lig gesien het en die literêre wêreld aan die gons het.

Annie Klopper tydens ’n onderhoud in Van Hunks in Kaapstad.Foto: Jaco Marais

Annie Klopper stap by die Van Hunks-kroeg aan die voet van Tafelberg in en bestel ’n bier – Becks-niealkoholies, want sy is vyf maande swanger.

Op die oog af lyk die vrou met die blonde hare na ’n pragtige rock chick, want sy is geklee in stywe jeans, swart stewels en ’n olyfgroen militêre baadjie waarop embleme van onder meer Led Zeppelin, ACDC en Pink Floyd pryk. In ’n sin ís sy ’n rock chick van ’n aard. Sy het immers as musiekjoernalis die Afrikaanse punk rock-revolusie – dink Fokofpolisiekar – in Kaapstad se noordelike voorstede intiem meegemaak.

Maar Annie is veel meer as net ’n rock chick. Sy het ’n doktorsgraad oor Afrikaanse rapmusiek gedoen; sy het ’n biografie oor Fokofpolisiekar geskryf; sy is ’n Afrikaansdosent aan die UWK; sy is ’n digter, en pas het haar wonderlike roman Die Tragiese Saak van Pamina Vermaak die lig gesien.

Op haar regterpols is die letters OXV getatoeëer – die registrasienommer van Virginia in die Vrystaat waar sy as kind tussen die mynhope geleef het in die tyd van die Merriespruitramp waarin talle mense dood is toe die walle van ’n slikdam meegegee het. Sy het dit laat aanbring “om te eer waar ek vandaan kom”.

Dit is ’n bewolkte Maandagmiddag en die kroegsitkamer waarin ons sit, is leeg. Musiek kom van iewers af. Teen die mure hang onder meer bokhorings en vlinders wat agter glas verstar het. Daar is ’n Twin Peaks-agtige melancholie en vreemdheid aan die dag.

“Jy weet mos daar speel gedeeltes van die boek hier in Van Hunks af. Ek het hier gesit en dele van die boek geskryf wanneer dit lekker vol en besig is. Ek hou daarvan en ek hou van die musiek wat speel. Ek het by die bar ook gesit en skryf. Ek skryf net waar ek my gat neersit,” sê Annie.

Daar sit en skryf ek in my bikini op my lilo terwyl almal rondom my braai en aangaan!

Die kelner bring haar bier en vra of sy ’n glas wil hê. Sy wys dit van die hand, neem ’n sluk uit die bottel en tel haar selfoon op.

“Kyk, in Desember het ek na ons familieplaas toe gegaan by die Weskus. Ek het ’n groot gedeelte van die boek daar gesit en skryf. Ek het in daai klein kaia gebly en hier kan jy nou sien ek kan letterlik sit en skryf waar ek my gat neersit.” Sy lag. “Daar sit en skryf ek in my bikini op my lilo terwyl almal rondom my braai en aangaan! Ek skryf my boek; ek worry nie.”

Sy wys nog ’n foto.

“En hier sit ek en luister na wat my familie sê. Dit is dan ook die plek wat as inspirasie gedien het vir die feit dat ’n groot deel van die boek teen die Weskus afspeel. Die Witwaterbaai in die boek is ’n fiktiewe plek wat losweg gegrond is op daardie area.”

“Ek dink ek het ook in my persoonlike lewe besef ’n man gaan my nie red nie.” Foto: Jaco Marais

Bikini’s en liefdesromans

Haar gunstelingskrywer as tiener was Esta Steyn.

“Sy het liefdesromans geskryf wat afspeel aan die Weskus en vir my was dit lekker om dit te lees want ons het hierdie Weskusplaas en ons is vakansies daar. Ek was net mal oor haar boeke: Kus van die Kluisenaars, Kinders van die Sabbatsee . . . Meeulanders!

“Ek kan nou ’n letterkundige snob wees met my D in letterkunde en vir jou sê ek het hogere literatuur gelees, maar ek hét nie. Nie dat Esta Steyn lae literatuur is nie, maar ek was mal oor liefdesromans; dit was vir my lekker om dit te lees.”

Sy en haar niggies sou Desembers in hul bikini’s op die stoep lê en bak in die Weskus-son.

“En dan sou ek vir hulle liefdesromans voorlees uit hierdie romanse-omnibusse. En omdat ek die voorleser was, sou ek dan ’n bietjie bywerk; ’n bietjie kreatiewe licence neem met die verhale.”

Sy begin uitbundig lag.

In die meeste liefdesromans en romcoms [romantiese komedies] begin die krisis wat die vrou het gewoonlik as gevolg van ’n man.

“Dan sal die karakters skielik begin vloek en hulle sal toilet toe gaan sommer in die middel van ’n toneel. Want ek het altyd gedink hoekom moet alles so veilig wees? En die heldin is altyd so ongelooflik flawless. En die feit dat ek in my laat twintigs besef het hoeveel flaws ek het . . . Ek het begin speel met die gedagte van ’n flawed hoofkarakter. Dis obvious dat my hoofkarakter Pamina Vermaak flawed is, maar haar flaws is nie veroorsaak deur ’n man nie.

“In die meeste liefdesromans en romcoms [romantiese komedies] begin die krisis wat die vrou het gewoonlik as gevolg van ’n man. Pamina maak slegte keuses – daar het ook slegte goed met haar gebeur natuurlik – maar sy veroorsaak haar eie k*k; sy is nie uitgelewer aan die besluite van mans en as gevolg daarvan is sy flawed nie.

“Dis iets wat my nogal pla van die deursnee Afrikaanse liefdesroman – die gebrek aan agentskap wat vroue het en dan ook die feit dat mans so ’n ongelooflike groot rol speel in wat op die ou end met hulle gebeur.”

Annie aan’t skryf op haar familie se Weskusplaas.

‘Mý Fokofpolisiekar’

Om oor haar boek te kan praat, moet sy oor Fokofpolisiekar praat, sê Annie.

“Hulle het musiek gemaak waarna hulle en hul vriende sou wou luister . . . En dít is die grootste impak wat hulle uiteindelik gehad het op die skryf van hierdie boek, want dít het ek by hulle geleer. En in daardie sin is hierdie boek mý Fokofpolisiekar.

“Die impak wat hulle op my gehad het, was om outentiek te wees; om aan my eie stem getrou te wees.”

En toe dit verby is, was dit letterlik soos ’n brander wat gebreek het en ek was half alleen op die strand agtergelaat en ek het vir myself gevra: Wat nou?

Sy was in haar laat twintigs toe sy Biografie van ’n bende, haar boek oor Fokofpolisiekar, voltooi het.

“En ek het [in Seepunt] by my buurvrou die Griekse kunstenaar gaan sit en huil en vir haar gesê: ‘Ek wil nou nog iets skryf, ek wil fiksie skryf, maar daar is níks meer in my nie. Ek dink ek is gebreek.’

“Dit was ’n bietjie van ’n roller coaster tot in daai stadium. Dit was my studies, my musiekjoernalistiekloopbaan en toer saam met bands en skryf, en rowwe aande en foto’s neem en festivals en die Fokof-boek en die opwinding daarvan . . . En toe dit verby is, was dit letterlik soos ’n brander wat gebreek het en ek was half alleen op die strand agtergelaat en ek het vir myself gevra: Wat nou?”

Al daardie dinge het uiteindelik “deurgesyfer” en uitgemond in Die tragiese saak van Pamina Vermaak.

Die tragiese saak van Pamina Vermaak het pas by Kwela verskyn.

‘Sing soos ek gebek is’

“Ná hierdie krisis wat ek beleef het, het ek teruggegaan universiteit toe en my D gaan doen oor Afrikaanse rapmusiek. En in daardie tyd het die puzzlestukke nou maar net in plek begin val. Toe ek ophou om so hard te probeer dink aan ’n boek of ’n storie, het alles wat al met my gebeur het en al my ervarings in my lewe en die milieus waarin ek my al bevind het, net begin saamval.

“Ek het besef ek moet sing soos ek gebek is. Ek gaan nie die volgende groot literêre roman skryf nie; ek moet ’n romcom skryf. Dit was skielik net so obvious.”

Ek ek het voor die Afrikaanse rak gestaan en daar was nie één boek wat ek gevoel het gemik is op mý, Annie Klopper, en my portuurgroep nie.

Sy het die basiese resep van ’n liefdesroman goed geken.

“Maar andersyds het ek ook geweet wat my irriteer van liefdesromans in Afrikaans wat nie vir my en my portuurgroep cater nie. Ek het een Desember in ’n boekwinkel gestaan op pad na die Weskusplaas toe en ek wou graag vir my ’n Afrikaanse boek koop om te gaan lees op die plaas.

“Ek ek het voor die Afrikaanse rak gestaan en daar was nie één boek wat ek gevoel het gemik is op mý, Annie Klopper, en my portuurgroep nie.

“En dis toe ek nou weer begin dink het aan die hele Fokofpolisiekar-ding en om iets te skep wat ek vir myself en my vriende skryf en wat ons sal wil lees in ’n Desembervakansie. En dis nie te sê dat al die ander goed wat daar was swak was nie. Maar ek wou iets vir my generasie skryf wat ’n klein bietjie meer gritty en real is . . .

“Ek wou ’n boek skryf wat van die Afrikaanse borstrok bevry is . . . wat nie in daai traps val nie van ’n vrou sonder agentskap en waar dinge net ’n bietjie te veilig en ongeloofwaardig is; te volmaak. Ek dink ek het ook in my persoonlike lewe besef ’n man gaan my nie red nie.

“Ofskoon romanse ’n rol speel in Pamina Vermaak se lewe en in mý lewe – ek is nou pas getroud – is dit belangrik om oukei te wees sonder ’n man.”

Annie in Van Hunks waar sy dikwels aan haar liefdesroman sit en skryf het. Foto: Jaco Marais

Soos koekbak

Die skryf van ’n liefdesroman is soos om ’n koek te bak.

“Jy moet eers die basiese sponskoekresep ken en verstaan; so jy moet eintlik eers die clichés ken en verstaan. En eers wanneer jy dít rêrig goed verstaan, kan jy begin eksperimenteer met die icing en met die vulsel en met die manier hoe jy dit aanbied. So, daar is sekere goed wat onveranderd bly en wat so is vir ’n rede, maar daar is speelruimte.

“Dít is iets wat ek probeer regkry het hier. Ek het die basiese resep eers goed bestudeer – onwetend eintlik – deur baie lees van liefdesromans as ’n vryskut proefleser en redigeerder. Van daar af kon ek begin rondspeel. Maar ek glo die leser gaan nog steeds bevredig word deur die onderliggende bekendheid van die sponskoekresep.”

Ek het so gesukkel om te skryf want ek het so gehuil . . . Ek kon absoluut identifiseer met daardie oomblik waar jy eerlik is met jouself en met mekaar.

Die onderliggende tema van die boek is: Niks gaan verander voordat jy nie eerlik is met jouself nie.

“Dit is ook hoekom die temalied wat vir die boek geskep is, heet ‘Tyd om eerlik te wees’. In die groot moment waar eerlikheid begin seëvier in die boek, het ek snot en trane gehuil toe ek daai toneel geskryf het.

“En dit was vir my verbasend dat iets wat ek self skep so ’n uitwerking op my kan hê. Ek het so gesukkel om te skryf want ek het so gehuil . . . Ek kon absoluut identifiseer met daardie oomblik waar jy eerlik is met jouself en met mekaar.”

Op ’n vraag oor die aard van die verhouding wat sy met karakters ontwikkel, antwoord sy:

“Pamina het my soms kwaadgemaak, en Wolf [de Jager; rockster en manlike hoofkarakter] . . . ek is nie rêrig verlief op hom nie, nee.” Sy lag. “Ek is meer verlief op die stage manager Pilot de Wet – ek het vir hom my man se naam gegee!

“Daar is ’n hele paar sulke goed in die boek, sulke kamees. Dit het vir my sin gemaak dat die boek nie absoluut fiktief moet wees nie. Dit maak die boek dalk bietjie meer outentiek dat die regte wêreld ook daarin figureer.

“Toe ek begin skryf het, het ek dadelik begin om net mense in te skryf wat regtig bestaan en ek het hulle toestemming gekry. En in die meeste gevalle het ek dan saam met daai persoon gaan sit en vir hulle die toneel geskets en gevra: ‘Wat sou jy volgende doen?’ ”

* “Tyd om eerlik te wees” kan op digitale platforms soos iTunes gekoop word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.