Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Roelf Meyer: Op soek na ’n nuwe daeraad

In die 1990’s was ’n jong(erige) Roelf Meyer aan die spits van die NP se grondwetlike onderhandelings. Vandag is hy ’n energieke ringkop aan die spits van ’n fasiliteringsinisiatief tussen die staat en die private sektor om sake in die land en die ekonomie te help omkeer. En ons kán droom, het hy Ilse Bigalke verseker.

Roelf Meyer by ’n skildery van oudpres. Nelson Mandela. Dit is geskilder deur ’n vriend van een van sy seuns wat ernstig in ’n fietsongeluk seergekry het en oor wie se toekoms ’n lang ruk onsekerheid geheers het. Foto: Felix Dlangamandla

Die NP se besluit om in 1996 uit die regering van nasionale eenheid te onttrek was ’n “reuse-oordeelsfout” en het op ’n manier die wit-swart-samewerking beëindig.

In die Zuma-jare was geen kommunikasie eintlik moontlik nie, maar toe Cyril Ramaphosa president geword het, het ’n geleentheidsvenster ontstaan om ’n ommekeer in die land en die ekonomie te help bewerkstellig.

Dit is hoekom hy en ’n klein span Ramaphosa se “Thuma Mina”-uitnodiging met albei hande aangegryp het, vertel Roelf Meyer in die gerieflike dubbelverdiepinghuis in die Silver Lakes-landgoed in Pretoria waar hy en Michelle, sy tweede vrou, nes geskop het.

Die Public Private Growth Initiative (PPGI), waarna Ramaphosa in altwee sy staatsredes vanjaar verwys het, is sy en Johan van Zyl, uitvoerende hoof van Toyota Europa en Afrika, se geesteskind.

“Die inisiatief is nog a work in progress, maar soos Ramaphosa op 20 Junie gesê het, het 19 sektore hulle reeds verbind tot groeidoelwitte by wyse van 43 projekte met ’n waarde van R843 miljard vir die volgende vyf jaar. 155 000 werksgeleenthede kan daaruit voortspruit.

“Die private sektor moes lank wag vir ’n geleentheid om direk met die staat in verbinding te tree. Nou kan hulle met mekaar praat oor die gesamentlike doelwit om die land om te draai en die ekonomie aan die groei te kry.”

Nhlanhla Nene en die Rubicon

Suid-Afrika is ontslae van oudpres. Jacob Zuma, maar die gemoedstemming in die land is ondanks Ramaphosa se verkiesing negatief weens rampe soos Eskom, die salariskrisis en swak ouditverslae vir munisipaliteite. Is die vennootskappe met die staat sterk genoeg om dinge om te keer?

Die huidige situasie herinner hom aan die tyd voor 1994, antwoord Meyer. “Mense was toe net so moedeloos. maar oplossings hét gekom. Ons kán die land omdraai. Ons kán die ekonomie omdraai.

Die afdanking van Nhlanhla Nene was Zuma se ergste vergryp. Dit het mense oornag laat besluit ons is net nog ’n Afrika-demokrasie wat in duie stort.
Roelf Meyer

“Kyk na die trajek. Ons was op die rand van die afgrond en is steeds in ’n diep, wye donga. Die herstelpad gaan lank wees. Maar ons moenie vergeet dat skuld in 1990 ons ook op ons knieë gehad het nie. Dit het tien jaar geneem om ekonomies weer op dreef te kom. Maar onder Trevor Manuel as finansminister het ons selfs ’n groeikoers van 5% behaal.

“Die afdanking van Nhlanhla Nene was Zuma se ergste vergryp. Dit het mense oornag laat besluit ons is net nog ’n Afrika-demokrasie wat in duie stort. By die staatsrede het Lesetja Kganyago (president van die Reserwebank) vir my gesê hy reken die skade weens dié stap is groter as die skade wat die Guptas aangerig het.”

Is dit vergelykbaar met PW Botha se Rubicon-toespraak in 1985?

“Waarskynlik, maar onthou Rubicon was een moment wat opgevolg is met sanksies wat ons oor ’n tydperk van vier jaar op ons knieë gedwing het. Hierdie sanksies is vrywillig deur Zuma ingestel.

“Dis reeds drie en ’n half jaar later en ons kom nou eers deur die drif. Moedelose Suid-Afrikaners moet dinge in perspektief sien. Almal is ongeduldig, maar regstellingsaksies begin werk.”

Roelf Meyer hou daarvan om biografieë te lees. Foto: Felix Dlangamandla

Meyer is baie opgewonde oor die PPGI, asook oor ’n nuwe inisiatief wat in die boerderysektor beslag kry om nuwe opkomende boere te bemagtig – die Agriculture Development Agency.

Wat die PPGI betref, het hulle aanvanklik net drie sektore in gedagte gehad om te wys dat dit moontlik is – motorvervaardiging, landbou en die toerismebedryf.

“Maar toe ons die gesprek aan die gang gekry het, het mense spontaan na vore getree.

“Ons volg ’n sektorale benadering en gebruik die model van die motorvervaardigingsbedryf Naamsa, wat samewerking tussen dié sektor en die regering bewerkstellig het.

“Ek dink dis betekenisvol dat die inisiatiewe afkomstig is van Suid-Afrikaanse maatskappye. Dit behoort as aansporing vir die buiteland te dien as hulle sien ons maatskappye is bereid om te belê.”

Ons kan toerisme letterlik byvoorbeeld verdriedubbel as ons e-visums het. Die regering moet eenvoudig aan boord kom om dit te laat realiseer en Ramaphosa het dit in sy staatsrede genoem.
Roelf Meyer

Oor hulle rol sê Meyer dis bloot om te bemiddel. “Want ons het ’n president wat toeganklik en oop vir besigheid is.”

Oor sy huidige verstandhouding met Ramaphosa nadat hulle so ’n hegte verhouding tydens die grondwetlike onderhandelings gehad het, sê Meyer die president is altyd hartlik en beskikbaar. Maar hul eintlike deurbraak het gekom tydens ’n gesprek met dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, destyds minister in die presidensie. “Later, toe die idee aan Ramaphosa geopper is, het hy indringende vrae gevra, maar dadelik gesê: ‘Gaan voort.’ Sy benadering is dat die private sektor groei kan verseker. Ek dink hy weet hy kan ons vertrou en ons sal kan lewer. Dit help. Sy verwysing daarna in sy staatsredes moedig die private sektor aan, want dit wys die president stel belang en is daartoe verbind.”

Rompslomp, regulasies

Wat van die enorme rompslomp en regulatoriese hindernisse wat dit moeilik vir ondernemings maak om sake in Suid-Afrika te doen?

“Die hele oogmerk is om vir die regering te sê die private sektor verbind hom tot hierdie groei, maar waar daar hindernisse is moet dit verwyder word om ons doelwitte te kan verwesenlik.

“Ons kan toerisme letterlik byvoorbeeld verdriedubbel as ons e-visums het. Die regering moet eenvoudig aan boord kom om dit te laat realiseer en Ramaphosa het dit in sy staatsrede genoem.”

Meyer vertel van ’n lekker ervaring verlede week toe ’n Amerikaanse maatskappy by die PPGI aangeklop het omdat die Transnet-hawe-owerheid hulle uit die Port Elizabeth-hawe wou verskuif.

“Hulle is die enigste produseerders van die basiese grondstof vir rubber in Suid-Afrika en is sedert 1960 hier. ’n Verskuiwing sou hul koste vyf keer laat toeneem het en hulle sou die land moes verlaat.

“Ek het met die Transnet-hawe-owerheid se uitvoerende hoof gesels en die probleem is opgelos. Hulle eerste woorde aan die maatskappy was: ‘We want you to stay.’ Dit was so lekker om te hoor.

Roelf Meyer sê die Grondwet was in die tydperk van oudpres. Jacob Zuma telkens die redding van Suid-Afrika. Foto: Felix Dlangamandla

“Dit wys dat oplossings gevind kán word, een vir een. Ek het besluit ek gaan ’n groot deel van my tyd daaraan wy om seker te maak deure word oopgemaak. Ek wil nie ooroptimisties klink nie, maar as ons nuwe energie soos in die Transnet-geval in die staatsdiens vaardig kan kry, kan ons binne drie tot vier jaar herstel.”

Om meer aandag aan die tuisfront te skenk, sal Meyer sy aansienlike internasionale aktiwiteite moet afskaal. Hy is sedert 1994 by konflikgebiede betrokke toe Noord-Ierland hom en Ramaphosa genooi het om die Suid-Afrikaanse ervaring te kom deel. Hy en sy In Transformation Initiative was sedertdien betrokke by probleemlande soos Mianmar, Colombia, die DRK, Zimbabwe en Spanje.

“Ek het aan my vennote gesê ek sal my buitelandse reise moet inkort. Die PPGI en ADA verdien nou meer aandag om te slaag. Ek is opgewonde daaroor en dis nou, anders as in die vorige era, die moeite werd om oplossings te soek. Ons het die nodige toegang en ek kan sien ons maak ’n verskil.

“Dit voel soos ’n kykweer na die tyd voor 1994 en die moontlike uitkomste is ongelooflik.”

Twee goed wat die NP wel by nabetragting moes gedoen het, was om oudpres. Nelson Mandela in 1985 reeds vry te laat. Die land het van 1985 tot 1990 gebloei met township-opstande en die daling in die rand se waarde.
Roelf Meyer

As die NP se hoofonderhandelaar oor die Grondwet het Meyer baie kritiek uit regse Afrikaner-geledere verduur. Is daar by terugskoue iets wat hy anders sou gedoen het?

“Die Grondwet het homself die afgelope dekades telkens bewys en was veral in die Zuma-era ons redding. Dit was die burgerlike samelewing wat Zuma tot ’n val gebring het, nie politici nie. Hofsake is feitlik weekliks of maandeliks aanhangig gemaak en die Grondwet het genoeg beskerming verleen om die opsie uit te oefen om reguit na die konstitusionele hof te gaan om die staat te beskerm. Dit is ons belangrikste waarborg en bate, staan bo die uitvoerende en wetgewende gesag en is ’n rigsnoer vir almal.

“Tegelyk het ons ’n konstitusionele hof waarop ons kan peil trek.

“Ons het onlangs baie werk in die DRK gedoen. Toe ons aan politici die moontlikheid noem om Joseph Kabila voor die konstitusionele hof te daag, het hulle net gelag.”

Mandela en transformasie

Twee goed wat die NP wel by nabetragting moes gedoen het, was om oudpres. Nelson Mandela in 1985 reeds vry te laat. “Die verwagting was dat PW Botha dit in sy Rubicon-toespraak sou doen, maar toe steek hy mos nooit die Rubicon oor nie. Die land het van 1985 tot 1990 gebloei met township-opstande en die daling in die rand se waarde.

“As ons in 1985 met die proses begin het, was ons uit ’n onderhandelingsoogpunt baie sterker.

“Die tweede fout was dat ons ná die grondwetlike onderhandelinge onmiddellik moes begin het om te onderhandel oor die beste moontlike model om sosio-ekonomiese transformasie te bewerkstellig. Die uitgangspunt was dat die nuwe regering daarvoor verantwoordelikheid sou neem. Dis nou 25 jaar later en ons kan nog nie die einde van transformasie sien nie.”

Roelf Meyer meen die destydse NP-regering moes oudpres. Nelson Mandela al in 1985 vrygelaat het. Foto: Felix Dlangamandla

Drome in konteks

Vandag se jong mense het met reg geen geduld met die gebrek aan transformasie en ontwikkeling nie. Wat sê ’n mens vir hulle?

“Dis hoekom dit so belangrik is dat ons ’n positiewe boodskap bly uitstraal. Mense sê Ramaphosa droom, maar dis nonsens.

“Verlede week het drie instellings my genader wat aan die nuwe stad wil help bou wat hy in sy staatsrede genoem het. Dit beteken mense begin saam droom en dis ’n wonderlike positiewe benadering.

“Uiteindelik is dit baie eenvoudig: As die ekonomie omgedraai kan word en daar is ’n belewenis van groei, sal dit tot alle dele van die bevolking spreek. Ongeduld kan net deur ekonomiese groei in positiwiteit omskep word.

“Een ding staan vir my vas: Ons het iemand nodig gehad om ons op die high road te plaas en Cyril Ramaphosa was altyd die ou wat dit kon regkry.

“As hy oudpres. Nelson Mandela opgevolg het, sou dinge baie anders verloop het.”

Waters waar daar rus is

Wanneer Roelf se propvol program dit toelaat, kies die Meyers graag koers Okavango-delta toe.

“Ons was bevoorreg om ’n paar jaar opeenvolgens Botswana toe te gaan. Die bos is my grootste ontvlugting en die Okavango-delta bly die heiligste plek op aarde wat bos aanbetref.

“Ons was ook gelukkig genoeg om die Serengeti twee keer te besoek, maar die Okavango bly bobaas.

“Dit gaan oor die verskeidenheid regdeur - in die voël-, water- en vlaktelewe.

“En die totale stilte!”

Nog ’n stem van stilte wat hom lok, is die Karoo. “Ons het verlede jaar oor Kerstyd ’n road trip daar gedoen en ek sal dit enige tyd weer doen, al was dit nogal warm.”

Dat die natuur ’n groot rol in die Meyers se lewe speel, spreek uit die talle kunswerke wat die mure vol hang. Hul huis in Silver Lakes grens ook aan ’n natuurreservaat.

Saam het Roelf en Michelle, ’n Engels-onderwyser van beroep, vyf kinders en Roelf het sewe kleinkinders.

RNE en Vredesakkoord

Daar is ’n versugting onder talle Suid-Afrikaners na ’n samekoms van die middelgrond oor grense heen as teenvoeter vir radikale wat die land verdeel. Is iets soos ’n regering van nasionale eenheid (RNE) haalbaar?

“Ons moes nooit uit die destydse RNE gestap het nie, maar FW (de Klerk) het onder die meerderheidsgevoel in die NP-koukus geswig.

“Ek dink nie daar is ’n haalbare moontlikheid om dit nou te herstel nie, maar toekomstige verkiesings kan koalisieregerings oplewer. Die middelgrond-idee kan wel op gemeenskapsvlak realiseer.

“Ek wonder dikwels of ons nie die dikwels vergete Vredesakkoord van die 1990’s moet herbesoek nie. Desmond Tutu, Johan Heyns en Attie du Plessis was die voorlopers, met die steun van partye en die staat. Vredeskomitees is tot stand gebring oral waar daar politieke geweld was.

“Mense soos Dikgang Moseneke en Kgalema Motlanthe sou tans ’n rol kon speel. Dit kan veral op die platteland werk. ’n Voorbeeld is Bonnievale, waar die twee moorde onlangs plaasgevind het.”

Rolmodelle

Hy het nie veel tyd vir pres. Paul Kruger in Suid-Afrika se geskiedenis gehad nie, maar toe hy jonk was wel vir die “gematigde” pres. M.T. Steyn (“seker maar oor ek in die Vrystaat grootgeword het”).

Later het Thomas Jefferson, die derde Amerikaanse president (1801 tot 1809), hom begin fassineer.

“Jefferson het ’n baie belangrike rol in Amerika se konstitusionele ontwikkeling gespeel. As ’n voorstander van individuele regte en die demokrasie was hy ’n oopkop denker wat ook ’n hele paar tale gepraat het. Hy was benewens ’n politikus ook onder meer ’n argitek, boer en regsgeleerde.

“Ek het Monticello, sy huis in Virginia, in die vroeë 1980’s besoek en dit het ’n groot indruk gemaak.

“Dit was ook hy wat die eerste ouens uitgestuur het om te kyk wat in die binneland van Amerika aangaan – die Lewis en Clark-eks­pedisie. Ek het wyd daaroor gelees. Die doel was onder meer om ’n Amerikaanse teenwoordigheid daar te vestig voordat ander moondhede kon en die natuurlewe te bestudeer.”

Volgens Meyer is biografieë sy groot leesvoorliefde en die groot boekrak in die studeerkamer getuig daarvan.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Roelf Meyer  |  Suid-Afrika  |  Politiek  |  Beleggings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.