Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Rugby in die hemel gespeel

Hy glo rugby word in die hemel gespeel, punt.

Dít is die mening van Franco Smith, afrigter van die Vrystaat-Cheetahs wat hulle tot ’n tweede Curriebeker-eindstryd gebrei het sedert hy hom in 2015 heeltyds by hulle aangesluit het.

Smith het as vierjarige saam met sy ouers, Abie en Marietta, van Lichteburg af na Bloemfontein getrek, want sy oupa het tussen Smithfield en Reddersburg met skaap geboer. Sy pa wou nader aan oupa en die plaas wees.

Franco Smith tydens oefening in die aanloop tot die eindstryd.Foto: Mlungisi Louw

Op die oog af lyk hy na ’n moeilike mens, iemand wat nie nonsies duld nie. In werklikheid is hy eintlik ’n oop mens, ’n mense-mens, iemand wat daarvan hou om te gesels, en nie noodwendig rugby nie – hoewel rugby hom ook na aan die hart lê.

Hy kon dit byvoorbeeld nie oor sy hart kry om die nuus aan Jasper Wiese oor te dra dat sy suster in ’n ongeluk dood is nie. Hy wat Smith is het die tyding gekry tydens die span se laaste oefening voor die halfeindstryd van die Curriebeker-reeks teen die Haaie verlede Vrydag en hy het op die ou end sy spanbestuurder, Ashwell Rafferty, ingespan om met Wiese te praat.

Smith se hart se punt bly sy gesin. Sy vrou, Tanya, seuns, Franco jr. en Jean, en sy jongste spruit, sy dogter, Cara.

Hy kry so ’n tevrede uitdrukking op sy gesig as hy van hulle praat.

Franco Smith skop nog gereeld balle saam met sy spelers tydens oefeninge.Foto: Mlungisi Louw

“Sondag is Smith’e-dag. Dis wanneer ek en my familie tyd saam deurbring. Ons begin gewoonlik deur saam kerk toe te gaan en daarna bring ons die dag saam, net ons,” vertel die oudste van drie Smith-broers.

Daar is nog MJ en Abie. MJ is die Vrystaat Rugbyunie se hoëprestasiebestuurder en ook verantwoordelik vir die kontraktering van spelers en Abie hou skool in Humansdorp.

Laasgenoemde het juis vanjaar die Oostelike Provinsie se Akademiespan afgerig. Hy het ook destyds vir een van die Vrystaat en Cheetahs se lieflingspelers, Sergeal Petersen, skoolgehou, vertel Franco.

“Ek wou nog altyd rugby gebruik om ander se lewe positief te beïnvloed. Rugby is die sport wat in die hemel gespeel word deur alle soorte mense – langes, kortes, vettes en maeres, daar is plek vir almal,” sê hy.

Dit is half moeilik om weg te beweeg van ’n gesprek waarin rugby nie die oorheersende faktor is nie as dit by Smith kom. Hy staan vandag ’n laaste keer aan die stuur van die Vrystaat-Cheetahs of enige Suid-Afrikaanse span. Hy begin in Januarie as Italië se afrigter, met sy eerste proesel as internasionale afrigter, die Sesnasies-reeks, wat oor ’n tydperk van drie maande beslis word. Hy sal dan vir daardie drie maande in ’n hotelkamer(s) bly.

Franco Smith met ’n breë glimlag by een van die span se oefensessies in die aanloop tot Saterdag se Curriebeker-eindstryd.Foto: Mlungisi Louw

Dis juis hoekom sy vrou agterbly as hy in Januarie met sy werk by die Azzurri­ begin.

Dit sal vir hom niks vreemds wees om saans alleen in die bed te gaan klim vir drie maande nie, hy moes dit voorheen al doen. “Ek het in 2017 saam met die Springbokke en dan ook in die Superrugby-reeks, 133 dae in hotelkamers gebly. Dis nie lekker nie, maar dis deel van die werk.

“Dit was ook deel van my besluit toe Rassie (Erasmus, Springbok-afrigter) my gevra het om aan te bly, om nie in my pos as aanvalsafrigter van die Bokke aan te bly nie.

“My seun Franco jr. het sy matriekjaar begin en dit was belangrik dat ek by die huis moes wees. Dit was uiteindelik ’n moeilike besluit wat ek moes neem.”

Hy sê as die Sesnasies eers agter die blad is, dan sal hy en Tanya saam besluit hoe om dinge aan te pak.

Hy sê dit sou glad nie sin gemaak het om sy gesin in Desember saam met hom oorsee te neem nie, want hy sou bitter min van hulle te sien gekry het.

Nou word die gesprek in ’n ander rigting gestuur. Franco lyk gemakliker om oor Franco die mens te praat.

Hy speel gholf om te ontspan. Woensdae speel die Vrystaat-Cheetahs gholf.

“Ek moet so ’n bietjie wegkom van alles af. Ek het lanklaas ontspan en wil Woensdae gholf speel,” sê hy in sy kantoor ná die week se eerste en enigste mediakonferensie voor Saterdag se eindstryd.

Maar daar is ’n ander kant aan Franco Smith, wat min mense ken – hy is ’n deeltydse historikus.

“Ek hou baie van lees en geskiedenis. My pa was ’n geskiedenisonderwyser en dis waar alles begin het. Toe ek op varsity ’n vak gesleep het, het ek sommer geskiedenis 1, 2 en 3 ook gedoen om my besig te hou, so ja, ek lees graag.”

Hy sê hoewel hy nie juis lief is vir rondrits in sy vrye tyd nie, het hy dit wel in Europa gedoen toe hy daar (in Italië) gewoon het.

“Ek sal nie noodwendig op ’n Sondag in die motor klim met my gesin en net ry nie. Dis nie ek nie. Ek gaan wel die ooptes van ons mooi land mis, die plaaslewe – dit laat my terugdink aan my kinderdae. Dis hoekom ek so lief is vir die Vrystaat. Ek gaan ook my familie en vriende wat agterbly, mis.

“Wat die rugby betref, gaan ek Saterdae by Grey-Kollege ook mis. Daar kon ek sit ek kyk hoe die (skole-)rugby oor die jare verbeter het en waar daaraan nog gewerk behoort te word.”

Waaroor Smith nie wil uitwei nie, is dat hy in 2014 reeds by Grey se rugby betrokke geraak het en dit, soos die Engelse sal sê, ’n overhaul gegee het.

Dit was ’n gespook om hom sover te kry om oor sy laaste wedstryd te praat sonder dat hy emosioneel raak.

Hy het aan die begin van die Curriebeker-seisoen gesê dit is die verkeerde tyd toe hy gepols is oor hoe hy voel dat hy aantree vir sy laaste Curriebeker-reeks.

Voor die halfeindstryd teen die Haaie, wou hy steeds nie oor wat toe sy moontlike laaste stryd kon wees, praat nie.

Op Dinsdag se mediakonferensie het Smith bewoë geraak toe die onderwerp weer aangeraak is.

Eers het hy stil geraak en toe skiet sy oë vol trane. Hy draai toe links en bedank sy kaptein, Tian Meyer, langs hom dat hulle (die spelers) hom vir nog ’n week aan die stuur gehou het as afrigter.

Maar soos sy geaardheid is, sê Smith, dit is nie die tyd om emosioneel te raak nie, want dit gaan hulle nie in vandag se eindstryd teen die Goue Leeus help nie. Ná die wedstryd miskien, maar nie in daardie 80 minute in hul strewe om die Curriebeker ’n sesde keer in Bloemfontein staan te maak nie.

Meer oor:  Vrystaat-Cheetahs  |  Franco Smith  |  Afrigter  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.