Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Rugby, wonderwerke en groot geld

Kerneels Breytenbach praat met Murray La Vita oor sy nuwe roman waarin Springbokrugby en godsdiens deur een groot maatskappy beheer word.

Kerneels Breytenbach gesels in sy huis in Bettysbaai oor sy jongste roman wat pas by Human & Rousseau verskyn het. Foto: Jaco Marais

“’n Boek is maar altyd ’n produk van wat in jou lewe aan die gang is en natuurlik al die ander nonsens wat deur die jare ophoop in jou onderbewuste, dink ek.”

Kerneels Breytenbach (67) sit aan die hoof van ’n groot tafel in sy huis in Bettysbaai aan die Kaapse kus. Buite reën dit en die wind huil om die huis. In die leefvertrek brand ’n vuur in die kaggel.

“Ek het begin met hom direk ná Ester [sy vorige roman]; ek het eintlik die gedagte al voor Ester gehad, maar die goed moet eers ryp word in jou voordat jy by hulle kan uitkom. Hierdie sou aanvanklik net doodgewoon ’n rugbyboek gewees het, maar met Carien se goed . . . ’n ou gaan mos dan deur vreeslike gemoedstoestande en die hele rouproses . . .”

Rou is nooit te skei van godsdiens nie, godsdiens sal altyd íewers inkom.

Sy vrou, Carien, is in 2016 aan kanker dood.

“Rou is nooit te skei van godsdiens nie, godsdiens sal altyd íewers inkom en dan begin jy nou weer worry oor wat is nou rêrig aan die gang in die wêreld en al daai.

“n Mens begin mos nadink: Is daar nou ’n God en as daar ’n God is, is Hy van liefde? Ek was my hele lewe lank nie gelowig nie, en dan kom jy by ’n punt waar jy skielik besef: Oukei, miskien . . . You’re hedging your bets a bit,” sê hy en lag.

“So, toe ek nou weer begin met hom het ek vreeslik gesukkel want toe het ek skielik besef: Bring die kerkdeel in. En toe onthou ek in Piekniek by Hangklip [die roman voor Ester] was daar so ’n verwysing na ou Jaap Schvantz wat in cahoots is met hierdie bemagtigingsfamilie, hierdie struggle-aktiviste, en toe het ek dit nou maar net ’n stappie verder gevat en skielik het die godsdiens- en die rugbyding begin saamloop.”

Corpus Christi

“Wat sal gebeur as daar weer ’n wonderwerk gebeur?” Foto: Jaco Marais

Schvantz en sy vrou, Krystle, staan aan die hoof van die reuse-onderneming Corpus Christi, wat sowel rugby as ’n groot charismatiese kerk in Suid-Afrika beheer.

“In Piekniek het ek al klaar gesê die Corpus Christi het Sarvu [die Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie] oorgeneem, so ek moes net die detail uitwerk in die boek. Dit het ’n bietjie lank gevat want ek het nooit besef hoe ’n ou deur iemand se dood getraumatiseer is nie.”

Die roman het ’n vaste struktuur – dit speel in die twee weke voor die Wêreldbekerrugbytoernooi in 2025 af.

Ontgogel deur gehalte van rugby

Kerneels sê hy kyk feitlik nie meer rugby nie.

“Ek het so ontgogel geraak deur die gehalte van die spel en hoe die foute net herhaal word en veral die probleem wat hulle gehad het met afrigters by die Springbokke.

“En dis nie dat ek sê dat die afrigters wat daar was, swak was nie, want ek dink nie een van hulle was swak nie, maar dis net dat hulle almal het met ’n gelaaide dice gesit en hulle kon dit net nie hanteer nie.

“Die ding wat in rugby ’n verskriklike groot rol speel, is kontrakte, jou agent, wat is jou agent se bedingingsmag en hoeveel word jy betaal en hoeveel kan die provinsie maak.

“Hier sit WP nou in ’n absoluut desperate situasie – hulle kan nie meer geld vir kontrakte kry nie, so hulle kan nie beter spelers lok nie. Ál daai tipe dinge.

“En dan moet die arme Springbokafrigter uit dit wat beskikbaar is, nog genoeg kry om al die provinsies tevrede te hou . . . Ek dink daai mens het die mees ondankbare werk in die wêreld.”

“Élke dag gebeur daar goed. Iemand het vir my gesê ’n rugbyspeler se lewe is waarskynlik die verveligste blerrie ding want jy het 80 minute per week op die veld en dan die res van die week moet jy volmaak waarmee?

"Leer wat jy wil doen of planne uitwerk vir die volgende wedstryd, en op die duur is dit ’n blérrie vervelige lewe, so jy moet die boek volmaak met ander goed. En só het dit maar tot stand gekom.”

Die wonderwerk wat in Hond se gedagte plaasvind, is ingegee deur N.P. Van Wyk Louw se Die Hond van God waar die groot inkwisiteur aan Christus sê Hy mag nooit weer ’n wonderwerk laat gebeur nie.

“Wat sal gebeur as daar weer ’n wonderwerk gebeur? En waar is die beste plek vir ’n wonderwerk om te gebeur maar op die rugbyveld? Waar álmal dit kan sien.”

Rugby gaan deesdae oor geld.

“Dit is ’n onderneming van ’n aard. En as jy dit en godsdiens [soos beoefen deur mense soos Angus Buchan wat in stadions vir groot groepe mense preek wat betaal om na hom te kom luister] kombineer, dan het jy mos die absolute ideale situasie.

“Jy het die velde, jy hoef nie te betaal vir die huur van die stadions waar die dankseggingsdienste [soos in Hond se gedagte op die Sondae ná groot wedstryde] plaasvind nie – al die geld gaan reguit na jou sak toe.”

‘Rugby gaan oor geld’

“Hierdie sou aanvanklik net doodgewoon ’n rugbyboek gewees het . . .” Foto: Jaco Marais

Rugby is dus nie meer ’n tydverdryf nie. Dit is nou ’n bedryf, dit is professioneel, en dit gaan oor die geld wat gemaak kan word.

“Aan die einde van die roman gebeur dit dan ook dat die Corpus Christi besef hulle het nou ’n ander angle, hulle het rugby nie meer nodig nie, hulle gaan nou geld maak uit die wonderwerke . . .

“Geloof is ’n interessante ding, maar rugby is ook ’n vorm van geloof . . . Daardie geweldige belewenis wat mense vandag nog het . . . In ’n tyd waarin die voortsetting van Cyril Ramaphosa se presidentskap onder ernstige beleg is, speel ons één wedstryd gelyk met die All Blacks en die hele land voel asof ons op water loop . . .

Sport is nie meer wat dit was nie, dit is basies nie meer sport nie, dit is iets heeltemal anders.

“Ek kan nie dink wat met die land gaan gebeur as ons sokker ewe skielik opvlam nie. Kan jy dink hoe eufories dít sal wees?”

Kerneels ontwikkel in die roman “’n situasie waar die afrigter nie ’n afrigter is nie, maar die stem van God is wat deurkom en die dinge lei”.

“Ek is geïnteresseerd in hoe dinge gebeur wat ons as alledaags beskou, maar dit is eintlik deel van ’n baie groter verandering in die samelewing en in die maniere waarop ons sport en godsdiens beoefen. Sport is nie meer wat dit was nie, dit is basies nie meer sport nie, dit is iets heeltemal anders.

“Dis maar soos met politiek ook; ons is in die middel van ’n revolusie en ons is nou al so gewoond aan wat aan die gang is dat jy nie meer agterkom dat die land besig is om ’n totále verandering te ondergaan nie. Hy kan nie bly soos hy was nie; ons almal raak gewoond aan die punches, maar jy kry nie tyd om na te dink wat dit eintlik vir jou eie waardes beteken nie.”

Fleur en Katstert

In Hond se gedagte is die joernalis Fleur de Villiers besig om ’n biografie oor die Springbokrugbykaptein, Katstert Nel, te skryf.

“Ek het haar doelbewus genoem na een van die heel beste joernaliste wat Suid-Afrika nog opgelewer het. Ek het net gedink: Oukei, dis ou waardes wat eintlik beliggaam word in ’n jong persoon en hoe sal so ’n jong persoon reageer op wat in die moderne lewe aan die gang is? Hoe gaan sy optree as sy gekonfronteer word met godsdiens en rugby bymekaar?

“So jy het ’n persoon wat sinies kyk na die dinge en haar belewenis daarvan word skiélik so skeefgetrek wanneer sy iets bonatuurliks beleef. Dan sit jy met die moderne mens wat in daardie dilemma is: Kán ek dit glo en wát moet ek nou glo? Is daar vir my enige keuse oor as om wonderwerke te aanvaar?”

Dieper behoeftes

Ons praat oor die rituele rondom die sportbelewenis – spesifiek rugby – in Suid-Afrika en die dieper behoeftes wat dit bevredig.

“Mense van my geslag en ras verlang terug na die paradys; hulle besef dit net nie. Ons word daagliks met die dood gekonfronteer, en dit is nie net die dood van mense nie, dit is ook die dood van ’n kultuur. Almal wat deur die apartheidsera geleef het en aan die wit kant was, het ’n gewéldige gevoel van ontgogeling en verlies.

“Ons was nooit toegerus om die ander kant ook in te sien nie. En ek dink dít is ’n groot deel van wat in Suid-Afrika aan die gang is . . . Die jong wit geslag wat nié apartheidskinders is nie, het ’n heeltemal ander paradigma en hulle verkwalik eintlik die vorige geslagte.”

Ontgogel deur die gehalte van rugby

Kerneels meen die Afrikaanse kultuur is in ’n “baie, baie aardige situasie”.

“Ek vereenselwig my nie met AfriForum en Solidariteit nie, maar ek verstaan hul bekommernisse . . . Ek is nie ’n apologeet vir apartheid nie; ek is net ’n apologeet vir geregtigheid en ’n vorm van beskaafde waardes.

“Al daardie dinge kom ook op ’n manier [in die roman] ter sprake. Wat doen jy as jou geloof in die party, in die leierskap van die leiers so vinnig bewys word as totale nonsens?

“Dís hoekom Fleur se agtergrond, die back story wat ek vir haar gegee het, dié is van die kind van ’n NG predikant wat op die Cottesloe-kerkeberaad, waar teenstand teen Verwoerd gelewer is, op sy moer gekry het . . .”

Ek pols hom oor dié “ander paradigma”.

“Dit is iets wat die voortbestaan van die Afrikaanse kultuur en die geledinge daarvan bepaal. Ek dink baie daaraan: Hoekom skryf ek ’n boek in Afrikaans? Omdat ek glo daar is nog ’n Afrikaanse leserspubliek, maar die dag kom nader dat jou Afrikaanse leserspubliek nié meer in Suid-Afrika is nie – hulle het almal padgegee, en dié wat nié padgegee het nie, sit met ’n heeltemal ander lewenstryd. Jy weet hoe moeilik dit vir jong mense is om werk te kry – daai hele ding.

“Hoekom sou ’n jong Afrikaanssprekende persoon nog na ’n Afrikaanse skool toe gaan as jy wéét jy gaan álles daarna in Engels moet doen – dan gaan jy mos nou nie . . . So, vir die Afrikaner is daar ’n geweldige beleg. Vir die ouer geslag – my mense in hul 60’s en 70’s – is daar net ’n beklemming en ’n gevoel van ónmag, maar vir my kínders is daar heeltemal weer ’n ander ding.

“Hulle ervaar dit nie soos ék dit ervaar nie; hulle bekommer hulle oor hul werk – of hulle dit gaan behou, maar op ’n manier wil hulle nog sukses behaal. So daar is ’n ánder ding wat aan die gang kom en ek weet nie in watter mate dit die aard van Afrikanerskap en Afrikaanssprekende mense sal raak nie. Dit sal interessant wees om oor 100 jaar te sien wat van ons kleinkinders geword het . . .”

Dok Craven

“Rou is nooit te skei van godsdiens nie, godsdiens sal altyd íewers inkom . . .” Foto: Jaco Marais

Ek vra hom oor die sonderlinge wyse waarop dr. Danie Craven in Hond se gedagte aanwesig is.

“Die rede hoekom ek Dok Craven betrek het, is omdat hy eintlik die simbool van amateur-rugby was. En wat ook wonderlik van hom was – ek het daardie boeke van hom gaan lees – is hoe ’n ongelooflike denker hy oor die spel was.

“Kyk, sy agtergrond was mos ook in die sielkunde, maar ook in die fisieke [hy was die eerste professor in liggaamlike opvoeding aan die Universiteit Stellenbosch]. Hy kon mense motiveer, maar ook byvoorbeeld vir stutte sê: ‘As jy in die skrum sak, sit jy daai voet só en daai voet só. Die oomblik wat jy daai voet dalk só sit of só, gaan die ding uitmekaar uit val en dan gaan hulle jou kan terugstoot.’ En hoe hy vir spelers gesê het hoe om hul rúg te hou. Hy’t presiés geweet wat hy doen.

“Maar as sielkundige was hy eintlik verstommend gewees. Iemand het my vertel hoe hy ’n span voor ’n wedstryd gemotiveer het. Hy sal vir die stut sê: ‘Right, daai ou gaan vir jou vandag opdonner, so maak jouself nou al gereed daarvoor – jy gaan harde bene kou.’ Maar vir iemand anders sal hy sê: ‘Ag man, jy het daai ou se nommer; moenie worry nie.’ En wat dan gebeur, is die stut hardloop op die veld met daai ingeboude ding van hý gaan vir Dok Craven nou wys. En dan néúk hy sy opponent op tot verdere orders. En dis al wat Dok wou gehad het.

“Maar die skrumskakel wat hy nié so op die spot geplaas het nie en gesê het: ‘Ja, alles is fine met jou’; hy wou eintlik net gehad het daai ou se kop moenie nou versteur word deur allerhande weird gedagtes nie; hy moet net op die veld sy gewone dinge kan doen.

“So, hy het geweet hoe elkeen van sy spelers is en hy het geweet hoe om hulle te manipuleer, en dis vir my fassinerend . . . Hy het nie afgepraat na mense nie, hy het ín hulle ingepraat. Hy was ’n sielkundige-meester.

“Dis hoekom ek hom graag in die roman wou betrek, omdat jy dan ook die idee kry van wát sou die groot voorstander van amateur-rugby nou met professionele spelers doen.”

Die einde

Kerneels het nie geweet hoe hy die roman wil eindig nie.

“En een oggend vra Ali [Croucamp, sy vriendin] vir my: ‘Het jy nou al besluit hoe jy die boek gaan eindig?’

“En ek begin sommer praat en ek sê vir haar ek dink dít gaan gebeur en dít gaan gebeur en dan dít. En toe ek klaar is, toe sê sy: ‘Maar hoekom gaan skryf jy dit nie?’ ”

Hy glimlag. Dit is die kenmerkende warm, sjarmante glimlag van die bon vivant Kerneels Breytenbach.

“Dit is ’n einde wat vir my gegee is; ek het nie besef dit gaan só gebeur nie. En toe hy klaar is, toe is hy daar. Maar dit is maar basies jou onderbewuste wat waarskynlik al klaar die proses aan die gang gesit het. Om die ding bymekaar te kry was vir my ’n baie groot plesier.”

Meer oor:  Danie Craven  |  Kerneels Breytenbach  |  Rugby  |  Geloof  |  Rou  |  Sport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.