Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Ryk Afrikaners hou SA ekonomie aan die gang’

Ondernemers wat aan die voorpunt staan van die taak om die “strompelende landsekonomie” aan die gang te hou, is Afrikaners, skryf dr. Ebbe Dommisse in ’n boek oor Afrikaner-magnate waaroor hy met Murray la Vita gesels het.

Dr. Ebbe Dommisse in die voorkamer van sy huis terwyl ’n onderhoud oor sy jongste boek gevoer word. Foto: Jaco Marais

Dommisse meen Afrikaanse sakelui het ’n beduidende bydrae tot vernuwing en ontwikkeling van Suid-Afrika gelewer en sal voortgaan om dit te doen.

Maar indien hulle nie as volwaardige en waardevolle landsburgers beskou word nie, sal hulle straks eerder in die buiteland belê, skryf hy in Fortuine: Die wel en wee van Afrikaner-magnate, wat eersdaags verskyn.

Die onderhoud met Dommisse – voormalige hoofredakteur van Die Burger, skrywer van biografieë oor onder andere dr. Anton Rupert en sir David Graaff en voorsitter van die Helpmekaar-studiefonds se direksie – vind in sy en sy vrou, Daléne, se huis in Oranjezicht aan die voet van Tafelberg plaas.

Selfs binne die elegante voorkamer van die huis is die reuk van rook sterk aanwesig. ’n Apokaliptiese atmosfeer heers met helikopters wat deurentyd hoorbaar is soos wat hulle oor die buurt vlieg om water te gaan stort op die verwoestende brand wat Sondag 18 April in die Kaap uitgebreek en vanaf Duiwelspiek na Tafelberg versprei het.

Die top- Afrikaanse sakemanne het skielik van 1994 af begin uitblink waar dit tevore mos maar taamlik skaars was.

Dommisse skryf baantjies vir boeties pleks van ’n professionele staatsdiens was in die nuwe ANC-regering aan die orde van die dag. Duisende wit staatsamptenare het met uittreepakkette vertrek. Dié maatskaplike manipulasie het Afrikaners wat die verswakkende staatsdiens verlaat het, aangedryf om eerder die private sektor te betree.

Die scenariobeplanner Clem Sunter het opgemerk dat die ANC-regering se regstellende aksie die onbedoelde gevolg gehad het dat talle Afrikaners suksesvolle ondernemings begin het en eintlik die meeste deur daardie beleid bevoordeel is.

“Afrikaanse mense, en wit mense, het besluit: Wel, om ’n pos in die regering te probeer behou, is mos nou futiel . . . Jy sal maar jou eie ding moet doen.

“Die top- Afrikaanse sakemanne het skielik van 1994 af begin uitblink waar dit tevore mos maar taamlik skaars was. Ek beskryf dit in die deel oor die voorgeskiedenis – daar was baie mislukkings.

“Op die gebied van kleinhandel, byvoorbeeld, het Whitey Basson en Christo Wiese merkwaardige vordering gemaak, asook ander op ’n reeks van ander terreine.”

‘Mallighede en hebbelikhede’

Die voorblad van 'Fortuine'. Dommisse sê hy is baie beïndruk met Fred Mouton se pensketse van Afrikaner-magnate in die boek.

Dommisse dink die biografie wat hy oor Anton Rupert geskryf het, het die uitgewer wyle Jonathan Ball laat besluit hy moet hóm vra om dié boek oor ryk Afrikaners te skryf. Hy wou aanvanklik nie so ’n veeleisende taak aanpak nie, maar het mettertyd ingestem.

“Jonathan het my die storie vertel van sy pa wat baie groot respek vir Afrikaners gehad het en altyd gesê het ‘they never know when they are beaten’, en die bestes onder hulle reik na die sterre.

“Ek het toe begin met onderhoude. Dis maar soms baie moeilik om die mense in die hande te kry, jy weet, hulle het vol dagboeke en so aan. Enkeles het meesal per e-pos gereageer en ander weer het lang, goeie onderhoude toegestaan. Ek dink dít is eintlik die waarde van die boek – die insigryke onderhoude.”

Jacques Dommisse Foto: Verskaf

Die boek bied fassinerende insigte, hetsy deur onder meer nuwe lig te werp op sakedramas, intriges en -suksesse, sowel as op die spanning en botsings tussen van die reuse. Die sluier word ook gelig op magnate se “mallighede en hebbelikhede”. En in die hoofstuk “Land van gewers” kry die leser ’n kykie op die filantropie van Afrikaanse magnate, onder andere François van Niekerk, “Afrika se grootste filantroop”.

Hy skryf oor Koos Bekker, Johann Rupert, Christo Wiese, Whitey Basson, GT Ferreira, Laurie Dippenaar, Michiel le Roux, Jannie Mouton, Thys du Toit, Johan van Zyl, Douw Steyn, Roelof Botha, Hendrik du Toit, François van Niekerk en Markus Jooste.

Sy seun Jacques het die dele geskryf oor die “megaboere as ultrapreneurs”, waarin gefokus word op die Dutoit-groep, ZZ2, die Karsten-boerdery, die Schoeman-boerdery, Wildeklawer en op Charl Senekal, Estelle van Reenen, Milaan Thalwitzer, Nick Serfontein, en BP Greyling.

Volgens Dommisse jr. is dít ultrapreneurs wat selfs vir water en elektrisiteit voorsiening kan maak as dit moet, “want ’n boer maak ’n plan”.

“Hul aanvoeling, entrepreneuriese denkwyse, vooruitskouing, gesonde oordeel en strewe na verbetering speel alles ’n rol. Hulle is ook onderhandelaars, beraders, opvoeders en filantrope.

“Hulle wil ’n verskil maak en vooruitgang verseker. Dan staan hulle ook reeds jare lank aan die voorpunt van nog ’n nuwe tydvak, die vierde nywerheidsrevolusie, waar hulle reeds leiers in genetika, die landbouwetenskap en - tegnologie is.”

‘Afrikaner-ondernemings nie begunstig’

Dommisse sê daar word baie geskryf dat die regering Afrikaners voor 1994 bevoordeel het, maar dit is net in beperkte mate waar – die regering het wit mense as sulks bevoordeel, maar “op enkele klein uitsonderings na is daar min bewyse dat die staat Afrikaner-ondernemings doelbewus begunstig het”.

Hy skryf die ekonomiese opkoms van Afrikaners in die eerste drie dekades ná die Ekonomiese Volkskongres in 1939 is deur sommige liberale en radikale historici aan die NP-regering se hulp aan Afrikaner-sake toegeskryf, terwyl Afrikaner-historici die mening toegedaan is dat Afrikaners uit eie krag opgang gemaak het.

Anton Rupert kon nie dink aan enige Afrikaanse maatskappy wat deur ’n Engelse maatskappy bemagtig is nie.

’n Opmerking van Anton Rupert, wat privaat meermale sy afkeer van Engelse neerbuigendheid uitgespreek het, teenoor die geskiedkundige Hermann Giliomee terwyl laasgenoemde aan sy boek Die Afrikaners gewerk het, het Giliomee aan die dink gesit.

Hy het Rupert gevra of hy weet van enige Afrikaanse maatskappy wat deur ’n Engelse maatskappy bemagtig is. Sy antwoord was: “Ek kan nie dink aan een geval nie en ek is dankbaar daarvoor.”

Grypsug

'Die kortsigtigheid van die regering oor wat ’n mens die reënmakers noem, is eintlik verbasend.' Foto: Jaco Marais

Volgens Dommisse het Anton Rupert geglo Afrikaners is die spil wat Europa en Afrika kan versoen.

“Maar onder hierdie RET-lot [die voorstanders van radikale ekonomiese transformasie] is daar mos nou géén begrip daarvoor dat jy waarde moet skép nie en dat jy dit nie net kan vát nie. En daardie grypsug is ’n geweldig nadelige ding vir ons land.

“En die jaloesie op mense wat geld maak . . . Die eienaardige ding is, dit lyk my niemand is méér behep met geld as hierdie voorstanders van RET nie. Hulle wil dit almal hê en al die statussimbole daarmee saam – die duur ryding en die Breitling-horlosie.”

Jy weet, deur na die buiteland te beweeg, bring die Afrikaanse maatskappye eintlik geld terug na Suid-Afrika toe, nè.

Dommisse skryf hoewel die Steinhoff-skandaal die aansien van die sakesektor ’n knou toegedien het, “het verreweg die meeste Afrikaanse ondernemers steeds aan die voorpunt gestaan van die taak om die strompelende landsekonomie aan die gang te hou”.

“Jy weet, deur na die buiteland te beweeg, bring die Afrikaanse maatskappye eintlik geld terug na Suid-Afrika toe, nè. Jy het ’n hele klompie voorbeelde: Richemont van die ou Rembrandt-groep, die Shoprite-Checkers-groep wat by Afrika inbeweeg het, maar tog, die dividende en die aandele is hier en dieselfde met Naspers, hoewel Koos Bekker sê die regering stel nie belang in hul dollars nie.

“Die kortsigtigheid van die regering oor wat ’n mens die reënmakers noem, is eintlik verbasend. En dan daarmee saam die illusie dat die staat werk kan skep. Ek wei taamlik uit daaroor in die boek. Thys du Toit het sterk menings daaroor.”

‘Min reënmakers’

Du Toit is ’n Stellenbosse beleggingskundige wat besonderse welslae in die finansiëledienstebedryf behaal het. Hy was voorheen grootbaas van Coronation en het ’n voorloper met die konsep van familiekantore vir welgestelde families geword.

So, die geheim wat ’n land moet hê, is om reënmakers die geleentheid te gee om hul towerkuns in jou land te verrig.

Du Toit het aan Dommisse gesê: “Daar is só min reënmakers in besigheid. Hulle name is Johann Rupert, Christo Wiese, Jannie Mouton. Kyk verder: Elon Musk, oud-Suid-Afrikaner; Roelof Botha, oud-Suid-Afrikaner. So, die geheim wat ’n land moet hê, is om reënmakers die geleentheid te gee om hul towerkuns in jou land te verrig. Jy het daardie enkele topindividue nodig, soos Bill Gates. Hy het in sy garage begin. Hy het nou 250 000 mense in diens en hy het die grootste liefdadigheidstigting in die wêreld. Maar, die belangrikste, hy het die hele wêreld se groeikoers as gevolg van tegnologiese vooruitgang met ’n halfpersent verhoog.”

‘Verleiding van rykdom’

'Jy weet, deur na die buiteland te beweeg, bring die Afrikaanse maatskappye eintlik geld terug na Suid-Afrika toe, nè.' Foto: Jaco Marais

Onder hedendaagse Afrikaanse sakelui is Markus Jooste die opperste toonbeeld van wat kan gebeur weens die verleiding van rykdom wat grootmenere laat dink dat hulle kan doen net wat hulle wil en dat hulle daarmee kan wegkom, skryf Dommisse.

Hy stel Jooste só aan die leser bekend: “Jooste was die meesterbrein agter die komplekse konglomeraat Steinhoff International, die internasionale meubelhandelaar waarvan die inmekaargeweefde struktuur vanuit Suid-Afrika bedink en bedryf is voordat dit in die land se grootste korporatiewe skandaal ineengestort het.”

Volgens Dommisse was Jooste die enigste voorste sakeman wat nie vrae vir die doeleindes van Fortuine wou beantwoord nie.

“Voorheen het sy bedrywighede oral aandag getrek en het hy verskeie onderhoude aan die media toegestaan. Maar ’n paar maande voordat die Steinhoff-skandaal oopgebars het, het hy in sy dop begin kruip.

“Op ’n versoek om ’n persoonlike onderhoud het hy op 5 April 2017 per e-pos laat weet: ‘Baie dankie dat u aan my gedink het vir u boek. Ek probeer egter om ’n baie private lewe te handhaaf ter wille van my kinders en neem glad nie deel aan enige media/pers of privaat profielartikels/-boeke nie.’

Jooste se naam kom telkens in die boek ter sprake waar ander magnate oor hul verbintenisse met hom praat of oor die verliese wat hulle weens die ineenstorting van Steinhoff gely het.

“Dit was agt maande voor die sensasionele val van Steinhoff se aandele in Desember 2017. Jooste was aan die begin van daardie jaar nog op die toppunt van sy reputasie as geldmaker, maar waarskynlik was hy toe al bedag op wat verkeerd kon loop. Agterna kon daar min twyfel wees dat Jooste se onwilligheid om oor homself en Steinhoff te praat alles te wyte daaraan was dat hy toe reeds geweet het hoe hol die Steinhoff-dop was.”

Jooste se naam kom telkens in die boek ter sprake waar ander magnate oor hul verbintenisse met hom praat of oor die verliese wat hulle weens die ineenstorting van Steinhoff gely het.

Een van die boeiendste mededelings in Fortuine is hoe ’n Vrydagmiddagete in die bekende Stellenbosse restaurant Decameron die voorspel was tot ’n “noue ontkoming wat een van Stellenbosch se bekendste vroue met Steinhoff-aandele gehad het”.

Iets wat Jooste in die restaurant gedoen het, het haar beweeg om die Maandag haar makelaar opdrag te gee “om alle Steinhoff-aandele in haar en haar kinders se trusts te verkoop”.

“Enkele dae daarna het Steinhoff ineengesak.”

Breinkwyn en wantroue

'Afrikaanse mense, en wit mense, het besluit: Wel, om ’n pos in die regering te probeer behou, is mos nou futiel.' Foto: Jaco Marais

In sy laaste hoofstuk skryf Dommisse die breinkwyn – die vertrek van kundige Suid-Afrikaners uit alle groepe na oorsese bestemmings – is een gevolg van wantroue in die regering.

“Dit raak nie net Afrikaners nie, dit raak werklik die topgekwalifiseerdes van die land. Ek is eintlik baie bekommerd daaroor. Die mense wat wél welvaart kan skep – daar is ’n vyandiggesindheid teenoor hulle, die regering is vyandiggesind teenoor die sakesektor,” sê hy.

Hy skryf in Fortuine AfrAsia Bank se South Africa Wealth Report het in 2019 getoon dat die getal dollar-miljoenêrs in Suid-Afrika die vorige jaar van 43 600 tot 39 200 afgeneem het en dat die land 130 inwoners met bates van $10 miljoen of meer oor dieselfde tydperk verloor het.

“Kyk na wat op die oomblik in die universiteitswese aan die gang is. Geld vir navorsing is met 90% besnoei en dan praat hulle van ’n Afrika-renaissance, dis mos onmóóntlik om ’n Afrika-renaissance te bevorder as jy navorsing tot op die been sny.”

‘Ideaal sneuwel aan US’

Dommisse dui in Fortuine aan hoe Afrikaans “in die openbare lewe uitgerangeer is”. Onder die “voorgeslagte” oor wie hy skryf, is Jannie Marais, wie se stigtingsideaal vir die Universiteit Stellenbosch (US) in onlangse jare “gesneuwel” het.

“Afrikaanse sakelui was oor die jare betrokke by die taalstryd op Stellenbosch, vandat die stigting van die oudste Afrikaanse universiteit in 1918 moontlik gemaak is deur die sakeman Jannie Marais se skenking van £100 000 op voorwaarde dat Hollands (Afrikaans) ‘geen mindere plaats’ teenoor Engels sal beklee nie.

“Die proses van geleidelike verengelsing was nie die gevolg van normale taalverskuiwing nie, maar het onder druk van vasberade politici geskied. Paradoksaal het ideoloë wat dekolonisasie van kurrikula die luidste verkondig, te velde getrek teen Afrikaans – die hibriede, mees gedekoloniseerde inheemse taal in Suid-Afrika, een van net vier moderne tale wat die hoogste vlakke van akademiese en wetenskapstaal bereik het.”

‘Reik na die sterre’

'Die proses van geleidelike verengelsing was nie die gevolg van normale taalverskuiwing nie, maar het onder druk van vasberade politici geskied.' Foto: Jaco Marais

Volgens Dommisse het die vraag by Afrikaanse sakelui ontstaan in hoeverre hulle hul verbondenheid met hul taal- en kultuurgenote steeds as belangrik beskou.

“Beskou hulle hulself bloot merkantilisties, ingestel daarop om groot wins te maak, of steeds as deel van ’n klein groep wat hulle help vorder het tot waar hulle is en wat as een van die minderheidsgroepe steeds ’n betekenisvolle rol in hul geboorteland kan speel?”

Hy sluit die boek af deur aan te dui onder watter omstandighede “Suid-Afrika inderdaad ’n vooruitstrewende land kan wees waarin alle Suid-Afrikaners na die sterre kan reik”.

Fortuine: Die wel en wee van Afrikaner-magnate verskyn vroeg in Mei by Jonathan Ball-uitgewers. Die Engelse uitgawe heet Fortunes: The Rise and Rise of Afrikaner Tycoons.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.