Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
SA: Soppot of slaaibak?
Die reg loop soos ’n goue draad deur Titus se lewe nadat hy as jong man besluit het hy wil ’n verskil aan ’n diktatoriale samelewing maak.

Daar is wêrelde in Suid-Afrika wat ons vir mekaar moet oopmaak. Ons moet dit doen deur na mekaar se verhale te luister en vir mekaar erkenning te gee, het dr. Danny Titus, regsman en taal- en kultuuraktivis, aan Retha Fick gesê.

Dit was gedigte wat vir hom uitgestaan het van die eerste Waarheid-en-versoeningskommissie oor Afrikaans wat onlangs in Kaapstad gehou is.

Die oomblik toe dr. Braam Hanekom op die tweede dag van die Dak-netwerk se konferensie in sy toespraak oor versoening eers die digter S.V. Petersen en toe P.J. Philander aanhaal, en hulle amper aan N.P. Van Wyk Louw gelykstel, was vir hom ’n historiese oomblik.

“Dit was so spesiaal om dit te kon hoor,” sê dr. Danny Titus waar ons ontmoet in sy kantoor by die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) se hoofkantoor in Randburg.

“My skoonpa was ’n vriend van Philander. Hulle het daar op Genadendal baie dinge saam gedoen.”

“Ons het toegelaat dat pigment ons kulturele erfenis gepolariseer het,” het Hanekom in sy toespraak gesê en bygevoeg dat die pyn van dié verskeurdheid weggesteek is in die gedigte van Petersen en Philander. Toe lees hy die gedigte voor.

“Die moedertaal se kinders moes soms in hul eie taal wegvlug van mekaar en alleen rou. Vandag gebeur dit steeds,” het Hanekom bygevoeg.

“Binne die Afrikaanse konteks beteken versoening dat ons as Afrikaanssprekendes mekaar se prentjies, herkomste en bydraes tot die taal verstaan,” sê Titus.Foto’s: Lisa Hnatowicz
Die moedertaal se kinders moes soms in hul eie taal wegvlug van mekaar en alleen rou.
Braam Hanekom

Voel Titus, voorsitter van die Dak-netwerk, dat die konferensie Afrikaanssprekendes nader aan mekaar gebring het?

“Ons was baie ambisieus, maar het werklik nie gedink dit sal só realiseer nie. Ons het aan ’n onderwerp geraak wat nog ’n bietjie ongemaklik was. Ons wou nie mense intrek om te kom sê hulle bely dit en dat nie – ons kon nie in daardie lyn gaan nie.

“Die fokus was en is steeds: Wat is die waarheid oor Afrikaans? En wat is die bekentenisse wat ons teenoor mekaar oor die taal moet doen? Die waarheid-en-versoeningsmodel vir Afrikaans is ’n model wat werk.

“Net die eerste deel ontsluit reeds soveel moontlikhede vir die taal. Onder dié vaandel bring jy soveel strome terug in die proses en dit gee mense ’n gevoel van waardigheid, ’n gevoel van erkenning.

“Mense sien nou dat ons oor die verlede van Afrikaans kan praat, juis om die hede en die toekoms van die taal te vestig. Daar is soveel uitgelaat, bewustelik uitgelaat. Ons was 100 jaar daarmee opgesaal dat Afrikaans ’n suiwer Germaanse taal is – ’n witmanstaal.

“Ek was onlangs in gesprek met mense van die ZA Huis in Amsterdam. Hulle wil graag ons inklusiewe benadering teenoor Afrikaans terugneem Nederland toe, maar veral na Vlaandere, waar mense ook steeds dink Afrikaans is ’n witmanstaal.”

Maar hoe presies lyk versoening?

As versoening die einddoel is, waarvan praat ons in die praktyk?

“Vir my is versoening die eindpunt in die gesprek van die twee elemente soos vroeër genoem. Versoening kan dus nie ’n goedkoop proses wees nie, dit moet ’n opregte, inhoudelike proses wees.

“Binne die Afrikaanse konteks beteken dit dat ons as Afrikaanssprekendes mekaar se prentjies verstaan, dat ons mekaar se herkomste verstaan en dat ons mekaar se bydraes tot die taal verstaan. Dit kom terug na die rykheid van die verskeidenheid van Afrikaans wat dekades ontken is en nou maak ons dit oop.”

Vir Titus is dit ’n besonderse proses, maar beklemtoon dat dit nie is waar dit moet eindig nie.

Iets wat ons nie mag ignoreer nie, sê Titus, is die feit dat sowat 602 000 swart Suid-Afrikaners in die 2011-sensus gesê het Afrikaans is hul moedertaal.

“As Afrikaanssprekendes mekaar in die gesprekke gevind het, wat in ’n groot mate al gebeur het, moet ons ook besef ons het ’n verantwoordelikheid teenoor die res van Suid-Afrika, teenoor mense wat dink Afrikaans is ’n verdrukkerstaal, ’n apartheidstaal, wat dit ook was. Dit is nou ons verantwoordelikheid as Afrikaanssprekendes om ons African-landgenote ’n nuwe perspektief te gee.

“Ons leef nou in ’n 2019-omgewing, nie meer in 1976 of in 1994 nie. Ons moet aan mekaar kan sê hier is ek nou mét my geskiedenis, met mý ervaring van Afrikaans, my ouers en grootouers se ervaring van Afrikaans – waar mense ook onderdruk is in húl Afrikaans deur Afrikaanssprekendes.”

Iets wat ons nie mag ignoreer nie, sê Titus, is die feit dat sowat 602 000 swart Suid-Afrikaners in die 2011-sensus gesê het Afrikaans is hul moedertaal.

“Ons kom nie genoeg by daardie mense uit nie.

“Daar is wêrelde in ons land wat ons moet oopmaak vir mekaar. Ons moet na mekaar luister, na mekaar se stories luister.

“ ’n Metafoor wat vir my werk, is dat ons soos ’n bak vrugteslaai is en nie soos ’n pot sop nie. Ons is elkeen deel van ’n groter slaai, maar jy hoef nie jou identiteit of jou kultuur prys te gee om deel van die slaai te wees nie. Anders as in die geval van die bestanddele in ’n pot sop.”

Jy sit met die spanning tussen die reg op taal teenoor die reg op toegang tot onderwys. Laasgenoemde weeg swaar.
“Ons was 100 jaar daarmee opgesaal dat Afrikaans ’n witmanstaal is.”

Die pad vorentoe

Titus glo dit is op universiteitskampusse waar die geskiedenis van Afrikaans reggestel kan word.

“Die taak is enorm, maar ons gesprekke gee my nou die geleentheid om by universiteite te gaan sê dat hulle al die moontlikhede het in terme van strukture vir navorsing en begeleiding om ’n ander Afrikaans op die tafel te plaas as die een wat ons tradisioneel ken. Dit is waaroor die meestersgrade en doktorsgrade nou moet gaan. Dit kan selfs internasionaal gepubliseer word, want dit is wat die Nederlanders en die Vlaminge nou wil hê. Dit is so ’n geleentheid om af te leer wat ons aangeleer het en aan te leer wat ons heeltemal gemis het.”

Maar is die middelgrond groot genoeg om die wa deur die drif te trek? Te oordeel na die kritiek op aanlyn platforms, is nie almal vir so ’n herskryf van die geskiedenis t e vinde nie.

“Ek dink beslis die middelgrond is sterk genoeg. Die middelgrond is iets wat voortdurend kan groei, na albei kante. Met waardevolle inligting, goeie navorsing waarteen mense nie kan stry nie, is dit beslis moontlik. Dan moet ons ook besef die ekstreme ouens gaan maar altyd daar wees.”

’n Taal onder beleg?

Enersyds het Afrikaans ’n geweldige knou gekry as akademiese taal deurdat dit by universiteite uitgeskuif is, maar aan die ander kant beleef die uitgewersbedryf byvoorbeeld ’n bloeitydperk. Het hy hoop dat die taal te midde van geweldige teenstand sal voortbestaan?

“Daar is beslis rede tot kommer. Jy sit met die spanning tussen die reg op taal teenoor die reg op toegang tot onderwys. Laasgenoemde weeg swaar. Miskien moet ons dit begin aanvaar.

“Ek glo nie ons gaan met die huidige argumente die howe oortuig van die saak vir Afrikaans nie. Ons het reeds talle uitsprake daarteen. Die uitsprake in die konstitusionele hof het gewys daar is nog onkunde oor Afrikaans, selfs by die hoofregter. Dan was daar die minderheidsuitspraak van regter Johan Froneman. Hy het aan AfriForum gesê hulle is besig om ’n karikatuur van Afrikaans te maak deur net ’n klein prentjie te bring. Dat hulle hom van die groter prentjie moet oortuig. Hy begin sy uitspraak met ’n lang aanhaling van prof. Hein Willemse oor sy besoek aan die Noord-Kaap, hoe hy by arm mense uitgekom het, bruin en swart, en nie een van daardie mense was ’n onderdrukker in Afrikaans nie.

“Kom vertel ons ook van die pyn van Afrikaans, van die uitsluiting van Afrikaans. Moenie net vir my vertel van my reg, my reg, my reg nie.”

Wat is dan sy gedagtes oor die saak van die ou Suid-Afrikaanse vlag wat die afgelope week in die gelykheidshof gewoed het?

“Vir die Nelson Mandela-stigting om dít nou te opper is vir my so ’n terugwaartse stap, dit terwyl al die geleenthede bestaan om vorentoe te kyk. Nou word daar teruggegryp na so ’n verdelende kwessie soos die vlag – ’n vlag wat nie eens meer in al sy glorie wapper nie.

“Die stigting kan eerder werk aan hoe ons by ’n Mandela-ideaal kan uitkom. Ons het totaal daarvan afgewyk.”

Wegvlug

Lekker Boeing

daa’ie 747

wegvlug

van ’n DF Malan

Van ’n ge-jabaas

en ’n ge-neebaas

kommervry

van ’n ge-hierjy!

Vlugpassasier

’n alleenman sit hy

hy wat nou

lugkastele bou

In sy 747

die onderdaan

hy? No fear

lankal nie meer.

Daar’s ’n Eldorado

êrens

in die wêreld

en ’n hemel blou bo!

– S.V. Petersen

Gedagtig aan ou Flenterkatiera-Maans

as my skoorsteen se yskoue wind

soos SV se verse snik in “Die stil kind”

word my vingers hier al kouer saans

en ek vra myself: “Wat soek jy hier

stoksielsaligalleen voor ’n uitgebrande vuur?”

– P.J. Philander aan die einde van sy lewe in Amerika

n Lewe van regte en die reg

Die reg loop soos ’n goue draad deur Titus se lewe.

Hy is in Worcester gebore, het daar grootgeword en is ná skool na die Universiteit van Wes-Kaapland om regte te studeer.

“Dié besluit was deel van die rassisme en die diktatoriale aard van ons samelewing van daardie tyd. Jy wil graag ’n verskil maak en ek het gedink dat met ’n klein prokureurskantoortjie in Worcester ek ’n verskil sal kan maak.”

Met sy staatsdiensbeurs land hy toe in die vroeë 1980’s as staatsaanklaer in Tembisa aan die Oos-Rand waar hy sy eerste bene in justisie kou. Hy werk in swart howe, maar word later verskuif na Kempton Park, waar hy ook wit mense aankla. Enkele jare later kry hy die geleentheid om aan die Universiteit van Leiden in Nederland te gaan studeer, waar hy sy meesters- en doktorsgraad in die regte verwerf. Hy word ook by die Clingendael-instituut vir Diplomatieke Studies in Den Haag as diplomaat opgelei. Hy en sy vrou, Lynda, woon ses jaar lank in dié land, waarna hulle terugkeer en hy by verskillende instellings ’n kampvegter vir menseregte is.

Nou is hy uitvoerende direkteur van korporatiewe aangeleenthede by die ATKV. Het die ATKV die laaste tyd ’n bietjie stilgeword of is dit net ’n persepsie?

“Dit is aan die een kant ’n persepsie. Die ATKV se benadering was nog altyd om juis op die middelgrond te fokus en om aktief agter die skerms te wil werk omdat ons ook voel dat ’n mens nie mense onnodig wil verdeel nie.

“Ons benadering is om aktief te wees op die taal- en kultuurterreine en ons bydraes daar te lewer.

“Maar ja, daar is ’n saak uit te maak dat ons meer vokaal kan wees.”

Hier om te bly

Titus sê hy wonder dikwels waarom “die Vader ons hier bymekaar gegooi het”.

“Was dit ’n grap? Of was dit Sy opregte bedoeling dat ons hier bymekaar moet wees? Ons het nou eenmaal daardie pot wat hier staan.

“Of dit ’n soppot of ’n slaaibak is, dit is vir ons om te besluit.”


Die man agter die denke

Titus (61) het sy vrou, Lynda, in 1979 in Kaapstad op ’n dansvloer van ’n klub met die naam Space Odyssey ontmoet.

Hulle is in 1983 getroud en het twee dogters, Daléne (32) en Neriska (19). Daléne het haar eie parfuum-onderneming en Neriska is ’n tweedejaarstudent in politieke wetenskap aan Monash.

Lynda, ’n traumatoloog met ’n private praktyk, het in 2013 haar stryd teen kanker verloor.

Hoewel hy nou reeds 36 jaar “hier bo” bly, sê Titus sy hart trek maar tog met ’n punt terug Kaap toe. Volgende jaar tree hy af by die ATKV, maar sien aftrede as net meer tyd om te lees en te skryf oor dit wat na aan sy hart lê, naamlik menseregte.

“Ek kry die gevoel dit is baie nodig om nog navorsing daaroor te doen.”

Intussen het sy wewenaarstatus hom gedwing om agter die kospotte in te skuif.

“Ek leer hoe werk uie en knoffel. Dit gaan so met stampe en stote, maar daar is darem al ’n dis of twee wat ek kan maak.”

Titus en die twee dogters woon in Roodekrans, Roodepoort.


  • Fick is Beeld se adjunkredakteur.
Meer oor:  Danny Titus  |  Taal  |  Afrikaans  |  Vergifnis  |  Onderrigtaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.