Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Wat’s jou storie?
Seks, leuens en ’n spesery-koekie

Sy is nie ’n soet Afrikaner-meisie nie. Ook nie ’n koek of ’n tert nie. Sy is ’n spesery-koekie. Sy doen dinge op haar manier en dit is baie meer bevrydend as om die tipiese Afrikaner-vrou te wees, sê Erla-Mari Diedericks, skrywer van die boek Seks, leuens en die internet.

Erla-Mari Diedericks, skrywer van die boek “Seks, leuens en die internet”. Foto: Gerda Louw

ISeks, leuens en die internet die moderne weergawe van Griet skryf ’n sprokie? Het jy dit destyds gelees . . . en jou indrukke toe?

“Wel ek het darem nooit my kop in ’n stoof gedruk nie, net in allerhande manlike mierneste in. Dit is seker op ’n manier die moderne weergawe. Net nou is Griet ouer en vetter en nie meer so gretig nie.

“O, indrukke van Griet skryf ’n sprokie . . . ek het daardie tyd gedink dis verskriklik baie soos Erica Jong se Fear of Flying. Ek is ’n baie groot Marita van der Vyver en Erica Jong bewonderaar. Erika Jong het later ’n ander boek uitgebring . . . The Fear of Dying wat meer in lyn is met Seks en leuens. Albei gaan oor oudword en die dood, maar myne is meer humoristies omdat ek ouer is – en natuurlik nie getroud nie.”

Jy het tong in die kies oor jouself gesê: ‘Agter al die bravade net nog ’n goeie Afrikaner-meisie!’ Is jy so bietjie in stryd met die Afrikaner- soetmeisie-beeld?

“Ek was nog nooit ’n goeie Afrikaner-meisie nie. Ek hou nie van die gespottery met koeke en terte nie, iemand het my eendag ’n tert genoem. Ek dink dis te kru en eenvoudig. Ek is eerder ’n spesery-koekie. Ek doen dinge my manier en dis baie meer bevrydend as om die tipiese Afrikaner-vrou te wees. In elk geval, is daar regtig so iets soos ’n goeie Afrikaner-meisie? Of net Afrikaner-meisies wat voorgee om soet te wees? Ek dink ook dat die Afrikaner-vrou besig is om te groei en te ontwikkel in ’n baie meer volronde vrou as die koek- en tee-tannies van die jare vyftig.”

Dankie, jy raak iets aan wat min mense raaksien: Seks, leuens en die internet word as net snaaks gesien. Of dat dit net oor seks gaan. Ek het dit ook as ’n ernstige vertelling gesien oor ’n vrou se soeke na liefde en geluk.

“Ek het half vrede gemaak met die feit dat ek nie liefde en geluk op die tradisionele manier gaan vind nie.”

Ek was nog nooit ’n goeie Afrikaner-meisie nie. Ek hou nie van die gespottery met koeke en terte nie, iemand het my eendag ’n tert genoem. Ek dink dis te kru en eenvoudig. Ek is eerder ’n spesery-koekie.

Het internet dating die lewe vir mense wat liefde wil vind baie makliker gemaak? Of net meer opwindend? En meer gevaarlik? Daar is baie malles in die donker stegies van die internet.

“Ek was in die interessante posisie dat ek tien jaar uitmekaar op die internet ge-date het. Toe ek 39 was en toe weer op 49. Op 39 het die internet nog met ADSL-lyne en daai dial up tone gewerk. Min mense het laptops of computers in hul huise gehad so jy het geweet dat dit ’n man van sekere klas was wat jy sou ontmoet.

Maar deesdae het almal gratis dating sites op hul foon. So jy kan van Kotie van Kakamas tot Loverboy van Nigerië ontmoet.

’n Mens kan net jou kop skud vir die arrogante mans wat jy op die afsprake beskryf. Wat was van die ergste afsprake wat jy al gehad het?

“Ek dink internet maak die lewe vir mense moeiliker. Jy verleer om in regte lewe met mense te praat. Jy dink jy kan iemand oor koffie in ’n besige restaurant opsom en almal soek vir chemistry. Maar chemistry en connection is nie iets wat jy altyd uit die lug kan gryp oor ’n cappuccino nie.

“Een man het gevra hoekom het ek nie sulke lang bene as op my foto nie. En hy was so kort soos ’n dwerg. Ek het net daar uitgestap. ’n Ander man het een keer gesê ek verveel hom. Hy was so hoog op dwelms dit was eintlik ’n kompliment. En ’n ander een het met my begin stry oor politiek en gesê ek kan nou maar f*k*f en ’n uber vat. Wat ek wel gedoen het. En een man het vir my gesê dat as ek nie saam met hom in die bed gaan spring nie, gaan hy nie vir die kos betaal nie. En so kan ek aan en aan en aan gaan.”

Ek weet as rubriekskrywer skryf en sê jy baie dinge aspris om die tonge kos te kry. Maar jy kry nogal baie aardige kommentaar. Ontstel die soort denke en die afbrekende opmerkings jou?

“Ek het in die begin gehuil. Toe het ek begin kommentaar terug lewer. Nie noodwendig om die mense aan te vat nie, want ’n mens kan nie ’n dom donkie leer drink nie, maar net om my mening te stel en soms liggies met hulle te spot. Ek het geleer dat kritiek meer oor hul onsekerhede en probleme verklap as oor my. En soos wat ek begin kommentaar lewer het, het meer mense met my begin saamstem en vir my opgekom. En dieselfde mans wat my uitskel as ’n manne-hater kontak my nog dieselfde dag op Facebook om daar te flikvlooi en vir my te vertel hoe hulle my oopkopgeid geniet. Maar ek maan altyd . . .ek is oopkop, nie oop bene nie.”

Jy skryf werklik aangrypend oor pyn: Die pyn van om verwerp te word, die pyn van om iemand te verneuk of verneuk te word, die pyn van om te voel jou lewe is doelloos en alleen. Ek dink baie vroue kan hulle vereenselwig daarmee. Hoe hanteer jy dit? Of gaan jy net aan?

“Soms drink ek tequila. Ander kere klim ek in die bed met koekies en tee. Die pyn probeer ek gewoonlik weg eet of weg drink. En eers daarna sal ek dit op ’n volwasse praktiese manier probeer verwerk. Maar om te skryf is eintlik my terapie. Sodra ek oor die pyn skryf, verander ek dit in woorde. Ek toor met woorde en ek toor my pyn weg. Dis alchemie! En om so eerlik te skryf soos wat ek doen, moet jy natuurlik ophou lieg vir jouself. Ek spaar darem so baie geld aan sielkundige behandeling en ek dink ek laat ander mense beter voel omdat my eie liefdeslewe so ’n katastrofe is.”

Het jy al die geheim van die liefde ontdek? Al bly dit vir nou vir jou onbereikbaar?

“Die geheim van die liefde? Respek, geduld, goeie seks, bereidwilligheid om iets te laat werk (compromise), of dis wat almal my vertel. Persoonlik dink ek mense wat nie ’n hunkering het na ervaring of altyd dink iets beters wag om die draai nie, staan ’n beter kans op liefde. Jy moet nie die hele tyd na opwinding soek nie. Jou geliefde moet jou opwinding wees. En regtig, is daar regtig mense wat regtig egtig gelukkig is in huwelike of net mense wat voorgee om te wees? En ander mense se idee van geluk is nie noodwendig myne nie. Maar ja my ma en pa het ware liefde gehad. Dalk het juis dit dinge vir my moeilik gemaak, ek het gedink my lewe sal ook so uitdraai.”

Jy mag maar soms uitgaan vir tequila en jou gedigte kliphard opsê, dis baie goed.

“Hahahahahaha ek dink die nudes wat ek vir mense stuur as ek tequila gedrink het, is beter as my gedigte, maar goddank doen ek dit nie meer nie. Ek dink deesdae is die gedigte dalk beter as my figuur.”

  • Erla-Mari Diedericks se kortverhaal, Chavah en die Choa Kamma, is een van die verhale wat opgeneem word in die Toyota US Woordfees Kortverhaalbundel 2020. Sy sal ook in gesprek tree met Marion Holme oor haar boek Seks, leuens en die Internet op die Woordfees. Dit vind plaas op 11 Maart 2020 om 10:00 in die Drostdy Teater op Stellenbosch.
Meer oor:  ???Erla-Mari Diedericks  |  Rubrieke  |  Skrywer  |  Boek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.