Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Siekte steel nie spel
Nina
Nina Schumann

Die gevierde Suid-Afrikaanse pianis prof. Nina Schumann se lewe het drie jaar gelede in ’n neuroloog se spreekkamer onherroeplik verander. Sy gesels vir die eerste keer openhartig daaroor met Christiaan Boonzaier.

Dit is geen oordrywing om te sê dat Nina Schumann sewe maer jare agter die rug het nie.

Benewens borskanker, ’n dubbele mastektomie én ’n egskeiding dra Schumann – een van Suid-Afrika se voorste konsertpianiste en professor in musiek aan die Universiteit Stellenbosch – die afgelope drie jaar swaar aan ’n geheim wat sy soos ’n saadjie in haar binneste begrawe het.

Dit het vinnig donker wortels geskiet, wat onder meer haar roemryke sololoopbaan geheel en al ontspoor het.

Nou, ná jare se innerlike spit en delf, is daar ook ’n tikkie aanvaarding, vrede en hoop, en is sy vir die eerste keer gereed om dít wat haar lewe onherroeplik verander het openhartig te bespreek.

“Parkinson se siekte is drie jaar gelede by my gediagnoseer,” sê Schumann­ in haar huis buite Stellenbosch.

“Ek het dit eintlik weens my beroep weggesteek; dit het natuurlik ’n impak op my spel. Met borskanker (in 2012) was dit baie makliker om onmiddellik aan almal te sê, want dit het nie so ’n groot impak op my spel gehad soos wat parkinsonsiekte het nie.

“Dit is eintlik reeds ’n oop geheim – my naasbestaandes, kollegas en studente weet – maar ek het besluit om dit te openbaar sodat dit nie in ’n geskinder ontaard nie. Ek wil self bepaal hoe die gesprek oor my siekte verloop.

“Ek is ook nou in ’n stadium waar ek meer vrede daarmee gemaak het en gereed is om daaroor te praat. Hopelik kan dit ook bewusmaking skep.”

Uitmergelende mastektomie

Schumann sê sy het sowat ses maande ná haar mastektomie – ’n “uitmergelende” operasie van 13 uur – “iets vreemds” in haar linkerhand gevoel.

Kort daarna, ten tyde van ’n uitvoering van Sergei Rachmaninoff se Tweede Klavierkonsert, kon sy ook nie haar regterarm lig nie. “Ek het nie geweet hoekom nie, maar ek dink die parkinsonsiekte was reeds daar.”

Die “iets vreemds” is destyds ge­diagnoseer as ’n breinsiekte bekend as fokale distonie (FD), waarvoor sy ’n botoks-inspuiting in die arm moes kry – nie in die gesig nie, sê sy skertsend. “My neuroloog het my vir die FD behandel totdat hy op ’n dag onverwags gesê het hy wil toetse doen.”

Schumann moes elke twee maande weer na die neuroloog terugkeer totdat hy ná sowat 18 maande met sekerheid ’n ongewone slotsom bereik het: Parkinson se siekte aan die regterkant van haar lyf en FD aan die linkerkant.

“Aanvanklik, toe hy gesê het daar is die moontlikheid van parkinsonsiekte, het ek heeltemal uitgefreak. Ek kon dit nie glo nie, so in daai stadium het ek heelwat daaroor opgelees, wat nie gehelp het nie . . .

“En toe’t ek op ’n dag doodeenvoudig opgehou, want ek het besluit om eerder elke nuwe oomblik te ervaar en elke nuwe simptoom te voel eerder as wat ek dit weens leeswerk afwag.

Gewoond aan die idee van die dood

“Op ’n manier kom ’n mens dit dan minder agter – ek dink dit was vir my die maklikste manier om dit emosioneel te verwerk – en ek weet eintlik vandag bitter min van parkinsonsiekte omdat ek die leeswerk versaak het.

“Terselfdertyd, wat interessant is, is dat mense voor my dood is toe ek weens die mastektomie in die hospitaal was – ek was ses dae lank in die hoësorgeenheid. Die verpleegsters rol pasiënte op beddens daar uit, dan kom die volgende pasiënt in, so op ’n manier het ek daardeur gewoond geraak aan die idee van die dood – dit het doodgaan makliker gemaak om te aanvaar.

“Natuurlik gaan ’n mens nie dood van parkinsonsiekte nie – jy kan dalk weens dit val en daarom doodgaan – maar dit is iets waarmee jy met die res van jou lewe gaan sit; daar is nie uitkoms nie.”

Hoewel Schumann sê die siekte kry sy sit “ongelooflik stadig” in haar lyf, kan sy die uitwerking daarvan reeds voel.

“My grootste probleem is korttermyngeheueverlies, so wanneer ek winkel toe moet gaan, is dit ’n nagmerrie: Ek maak vir myself ’n lysie, dan vergeet ek die lysie,” sê sy weer skertsend.

“Ek sleep ook my been ’n bietjie – ook ander klein goed, soos wanneer ek iets in ’n pot moet meng; my polsbeweging werk nie baie goed nie.

“En my vierde en vyfde vinger werk nie meer so goed soos die eerste, tweede en derde nie. Ek dink nie ek gaan ooit weer kan speel soos wat ek gespeel het nie.”

Om agter iemand weg te kruip

Dít is die swaarste pil vir Schumann om te sluk. Ná haar aanvanklike diagnose het sy haar sololoopbaan stil-stil gestaak en haar toegespits op ensemblewerk, onder meer met haar eksman, Luis Magalhães, en hul wêreldbekende klavierduo, TwoPianists.

“Dit was eintlik sleg, want jy loop (saam met jou mede-ensemblespelers) op die verhoog op en jy voel jy steek iets weg en jy kruip weg agter iemand wat saam met jou kan speel – daai persoon kan jou op die verhoog ‘red’.

“As jy alleen speel, is daar niemand om jou te ‘red’ nie, so ek het eintlik gedink ek sal nooit weer alleen kan speel nie . . .

“Ek was nog altyd baie gedrewe en energiek. Ná die borskanker het ek myself gedwing om rustiger te raak en dit was oukei – totdat parkinsonsiekte by my gediagnoseer is. As jy lusteloos raak, raak jy depressief en ek dink dis die seerste ding wat jy kan oorkom: As jy, soos in my geval, die vermoë verloor om te kan speel.”Meer vrede, meer moed

Schumann se behandeling is in Desember met dopamien aangevul, wat volgens haar ’n “merkwaardige verskil” gemaak het, veral op haar gemoed, lewensuitkyk en vasberadenheid om haar sololoopbaan ondanks die siekte weer aan die gang te kry.

“Met die nuwe behandeling het ek definitief meer vrede (oor die siekte) as wat ek die afgelope drie jaar gehad het – en dit is eintlik danksy dít dat ek weer die moed gehad het om ’n spul solovertonings aan te pak.”

'n Geloofsprong

Magalhães moes in Januarie aan ’n TwoPianists-konsert by Casa Labia in Muizenberg, Kaapstad, onttrek. Die organiseerders het Schumann toe genooi om vir die eerste keer in ’n “lang tyd” ’n solokonsert daar aan te bied – ’n uitnodiging wat sy blindelings aanvaar het.

“Ek was baie senuagtig, want ek het gedink ek kan dit nie doen nie. Dit was ’n geloofsprong, want ek moes voorbereid wees om op my neus te kyk.”

Sy is ten tyde van die konsert, wat goed afgeloop het, aan die krag van musiek herinner, die hartseer wat sy het om afstand te doen van die kuns wat sy van kindsbeen af beoefen en die verlossing wat dit nou vir haar as lyer van parkinsonsiekte kan bring.

“Ek was (ná die konsert) ongelooflik emosioneel, maar ek was ook oorbluf oor hoe goed dit gevoel het en hoe baie ek steeds deur my musiek kon kommunikeer.”

Ná dié eerste hekkie het Schumann besluit om te kyk of sy op 23 Februarie oor nog so ’n hekkie kan spring – dié keer vir die Richard Wagner-stigting in Seepunt – voordat sy in September saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) wil paalspring oor Rachmaninoff se Tweede Klavierkonsert, die einste werk waarmee haar reis met parkinsonsiekte moontlik begin het.

“Dit is eintlik ook ’n voorbeeld van alles wat net organies in plek geval het,” sê sy.

“Toe Louis (Heyneman, KFO-hoof) my vra wat ek wil speel, het ek myself net forseer om te antwoord en nie te dink nie.

“Ek het ‘Rach 2’ voorgestel omdat dit die een stuk is wat al jare met my geassosieer word en my baie na aan die hart lê. Ek het ook aan hom gesê dit sal vir my spesiaal wees om dit vanjaar te doen, want ek word later vanjaar 50. Toe hy die datum later bevestig, 3 September, is ek uit die veld geslaan – dis ’n dag ná my 50ste.”

Geen swanesang

Schumann sê sy “het nie ’n idee” of sy die uitdagende stuk sal kan speel nie.

“Daar is heelwat plekke in die laaste beweging wat my nou senuagtig maak. My pols in my regterhand is baie styf, so enige rotasie is moeilik. ’n Mens kan dit nie forseer nie, want dan gaan die spiere in spasma. Ek glo ek sal ’n pad om dit vind.”

Sy sê dié kolossale uitvoering is nié haar swanesang nie.

“My gemoed is tans ’n mengsel van opwinding en vrees, maar ek voel 100 maal beter as verlede jaar. Nadat ek weer begin speel het, sien ek skielik weer uit na die toekoms. So, nee, ‘Rach 2’ is nie ’n swanesang nie. As ek dit regkry, sal dit ’n massiewe oorwinning vir my wees.

“Ek het wel (met betrekking tot solokonserte) geen langtermynplanne nie. Ek sal elke dag moet uitvind wat my liggaam kan doen en wat nie. Elke nuwe konsert gaan ’n toets wees, elke nuwe gehoor ’n proefkonyn.

“Maar ek gaan definitief nog musiek maak vir so lank as wat ek kan.”

  • Christiaan Boonzaier is ’n kunsjoernalis van Netwerk24.
Meer oor:  Pianis  |  Musiek  |  Siekte  |  Profiel  |  Diagnose
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.