Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Skrywer waarsku: ‘Facebook is Antichris van denke’

Facebook is die “Antichris van denke”, meen die skrywer Tom Eaton. In ’n onderhoud met Murray La Vita oor sy jongste boek het hy ook gesê korrupsie sal nooit uitgeroei word nie en waarna ons moet streef, is “volhoubare korrupsie”.

Tom Eaton sê dit het hom baie gehelp en sy emosionele stres en druk verminder om te verstaan dat die ANC ’n soort sekulêre kerk is met sy eie geloofstelsel, moraliteite en wette.

Sy jongste boek is nie ’n poging om die kommerwekkende werklikhede waardeur Suid-Afrika in die gesig gestaar word te onderspeel nie, sê Tom Eaton.

Die onderhoud met Eaton oor Is It Me or Is It Getting Hot in Here? – Great Expectations and Boiling Frogs in South Africa, wat pas by Tafelberg verskyn het, vind per Zoom plaas.

Hy sit in ’n vertrek in sy huis in die Kaapstadse voorstad Oranjezicht. Agter hom is sigbaar: ’n potplant, boeke, ’n oop klerekas en ’n deur waaroor ’n handdoek hang. Eaton is ’n aantreklike man met ’n baard; hy trek ’n bietjie op ’n jong DH Lawrence.

“Toe ek eers besef het ek gaan skryf oor die soort argumente wat ons met mekaar het op sosiale media en die soort nuusstories wat ons media oorheers, het dit my gehelp om te begin fokus op wat ek wil sê.

Hy wil nie die leser wat dink hy of sy moet die land verlaat, probeer oorhaal om hier te bly nie.

“Ek het die boek net soveel vir myself geskryf as wat ek dit vir lesers geskryf het. Dit was ’n geleentheid vir my om te bepaal wat ek dink van kwessies soos politiek in sport, die doodstraf, en so aan.”

Hy wil nie die leser wat dink hy of sy moet die land verlaat, probeer oorhaal om hier te bly nie. Indien jy dink ons is sekondes weg van ondergang af, of dat die analogie van die kokende padda waarna sy titel verwys, jou werklikheid beskryf, gaan hy nie probeer om jou van mening te laat verander nie.

Hy skryf: “We are not about to boil to death, but it is hot in here and it is most definitely getting hotter, as our economy, already on its knees after decades of mismanagement and graft, reels from the impact of junk status and the Covid-19 pandemic.”

Kwaad en neerslagtig

Eaton begin sy boek deur aan te dui hoe ons verwagtinge en projeksies ons kan onderkry en hoe bevrydend dit kan wees om daarvan ontslae te raak.

“Soos baie van ons wat die nuus lees, het ook ek baie kwaad en neerslagtig en verbyster gevoel oor hierdie eindelose herhaling van slegte nuus: wangedrag, slegte regering, korrupsie en dood.

“Ek sou elke week kwater en meer moedeloos raak omdat ek elke keer opnuut verbaas is – dít is die kern van die saak, dat dit nie opgehou het om my te verbaas nie. En ’n sleutelelement van verontwaardiging is verbasing: ‘Hóé kan dit gebeur?! Ek kan nie gló dat dit besig is om te gebeur nie!’”

Eaton is ’n rubriekskrywer vir Business Day en Times Select en skrywer van ‘The De Villiers Code’, ‘Texas’, ‘The Wading’, ‘Twelve Rows Back: Some Mutterings from Tom Eaton’ en medeskrywer van ‘Touchlines and Deadlines’.

’n Jaar of twee gelede het hy skielik tot ’n ander insig gekom.

“Die ANC, in hierdie geval, het dit vir my duidelik gemaak wie en wat hy is; hy het my presies vertél wat hy gaan doen en nie gaan doen nie. Hy het dit só dikwels aan my vertel, maar ék het geweier om dit te hoor.

“Dit is soos iemand wat telkens vir jou sê: ‘Ek gee nie vir jou om nie. Ek respekteer jou nie. Ek gaan jou waarskynlik besteel.’ Hy vertel dit vir tien jaar aan jou, maar tog is jy geskok wanneer jy uitvind hy respekteer jou nie en besteel jou.

“So, ek dink toe ek besef het my reaksie het niks te doen met wat ek in die nuus lees nie; dit gaan oor my verwágting van wat ek veronderstel is om te lees – ék wat keer op keer onkant betrap word.”

Dit is tóé dat hy besluit het om nie meer verbaas te wees nie.

“Ek het besluit om dinge te sien vir wat dit is.”

The ANC, I realised, is not a government doing a very bad job. It is a money-making scheme doing a very good job.

Hy skryf:

“The ANC, I realised, is not a government doing a very bad job. It is a money-making scheme doing a very good job. Its senior politicians are not bad leaders. They are excellent entrepreneurs. All those taxes written off as ‘wasteful or irregular expenditure’ aren’t loot or loss. They are a return on an investment of loyalty and time.”

‘Nie meer verbaas nie’

Dit mag dalk klink of hy sinies en moedeloos is, sê hy.

“Maar wat dié bewuswording wél doen, is om die éindelose herhaling van skok en verbasing te verwyder. Ek is letterlik nie meer verbaas deur die jongste storie oor korrupsie nie. Wanneer ek hoor mense word ondersoek vir die diefstal van geld wat bedoel was om verligting te bring aan mense wat weens Covid-19 swaarkry, is my reaksie nie meer: ‘O, my god, hoe kan dít gebeur?!’ nie, ek dink net: ‘O, dáárdie deel van die korporasie is nou besig om dáár vir homself te werk. Die onttrekkingsmasjien het daarheen beweeg.’

“Daar is ’n fyn lyn tussen oorgawe en sinisme en ’n gevoel van: ‘Ag, wat kan ek hieraan doen?’ ” Ek hoop wat ek in dié boek gedoen het, is om baie van die skade wat ons onsself berokken weg te neem; die eindelose klein dosisse skok wat ons aan onsself toedien.”

Aktivisme vs satire

Eaton meen aktivisme verander mense se denkwyse terwyl satire dit gewoonlik versterk.

Eaton meen mense dink nie Jonathan Shapiro is skreeusnaaks nie. Foto: Argief

“Omdat ek humoristies skryf – ek is hoofsaaklik ’n satiriese, humoristiese rubriekskrywer – het ek agtergekom mense gee vir jou ’n vreemde soort vrypas. Hulle sal sê: ‘Wel, natuurlik, jy is een van daardie snaakse mense.’

“Ek het toe begin wonder waarom word sulke skrywers deur die samelewing gerespekteer? Ek dink dit is omdat daar hierdie grootliks ondeurdagte beskouing is dat satire en humor die samelewing verander.

“Daar is mense in die bedryf wat dit self glo. Jy hoor dikwels: ‘Ons daag maar met die waarheid uit.’ Of die konsep van die hofnar kom ter sprake. Ek onthou ek het op universiteit [in Kaapstad, waar hy ’n meestergraad in kreatiewe skryfwerk onder JM Coetzee gedoen het] geleer die hofnar is ’n mágtige figuur wat die koning met die waarheid kan konfronteer.

“Maar wat het daardie nar regtig verander? Ek dink nie enigiets nie. Toe begin ek dink watter belangrike maatskaplike veranderinge het daar in my eie leeftyd plaasgevind weens die werk van satiriste, komediante of humoristiese rubriekskrywers – géén.

“Wát rig hulle dus uit? Mense soos Trevor Noah of ekself . . . Ek moes uiteindelik aan myself erken jy preek vir bekeerdes; jy praat met die gehoor wat jou liefhet. Diegene wat nie van jou hou nie wil nie hoor wat jy te sê het nie.”

Selfkoestering

Veral nou, in hierdie samelewing waarin ons in silo’s leef, is hy daarvan oortuig dat komedie en satire nie groot stelsels verander nie.

“Die waarde van komedie en satire is om mense te red van hul aangetrokkenheid tot mag en kragdadigheid. Daar is nog baie mense op die draad wat nog nie heeltemal besluit het of hulle ’n volgeling [van ’n politikus of party] al dan nie is nie. As jy by húlle kan uitkom en vir hulle wys dis oukei om vir politieke onsin te lag.

Ek was jonk en baie uitgesproke en verwaand en ek het in ’n sin vir myself perform.

“En dan gaan dit ook oor iets waarna ek dikwels in die boek verwys, en dít is selfkoestering [self care] – om stoom af te blaas en na jouself om te sien . . .

“Jare gelede, toe ek humoristiese rubrieke begin skryf het – in die middel-2000’s vir die Mail & Guardian – het dit alles oor mý gegaan. Ek was jonk en baie uitgesproke en verwaand en ek het in ’n sin vir myself perform. Ek het baie behae daarin geskep om taamlik gemeen en geniepsig en wreed te wees.

“Ek dink baie jonger mense het nie die perspektief wat ’n mens later in jou lewe ontwikkel nie. Ek is mettertyd besig om die waarde te leer van wat ek doen met betrekking tot hoe dit ander mense raak – hoe dit verligting bring; hoe dit oomblikke van perspektief bring. Ek sien dit ook in my eie reaksie op ander mense se werk waarvan ek hou. Byvoorbeeld, soos wat ek ook in die boek noem, wanneer jy mense oor hul gunsteling-satirikus hoor praat . . . Ek het nog nooit gehoor Zapiro [Jonathan Shapiro] word as skreeusnaaks beskryf nie, of dat mense sal sê: ‘Het jy hierdie spotprent van hom gesien? Dis só snaaks.’

“Hulle sal eerder sê: ‘O, dít dring deur tot die kern van die kwessie’ of ‘Dit is so ’n goeie voorbeeld van wat aan die gang is’ of ‘Dit verduidelik dinge so goed; dinge is nou vir my helderder.’

“So, indien ek ’n bietjie perspektief en helderheid kan bring – dít is die rigting waarin my werk nou gaan: Om dinge te sê wat ons almal elke dag sê, maar op ’n manier wat net bietjie anders is.”

‘Facebook kan jou vát’

Eaton huldig in Is It Me or Is It Getting Hot in Here? baie sterk menings oor die euwels van die internet en sosiale media. Hy beskryf byvoorbeeld Facebook as die “Antichris van denke”.

Eaton sê mense soos hyself en die komediant Trevor Noah preek vir bekeerdes. Foto: Argief

“Ek bring baie tyd op die internet deur en het in ’n stadium veral baie tyd op sosiale media deurgebring. Ek dink enigeen van ons wat veral tyd op Facebook deurbring, het al gesien hoe dit mense verander. Ek het die vermoë verloor om te konsentreer of te lees weens die internet.

“En ek het al gesien hoe Facebook mense letterlik vát. Ek het byvoorbeeld al gesien hoe normale, rasionele mense – effens konserwatiewe mense, maar mense waarmee jy nie sou omgee om te praat nie – van die wa af sien val en in die konyngat af verdwyn. Hulle sal eers effens regsgesind raak en dan toenemend paranoïes en aggressief wat hul uitkyk op dinge betref. Uiteindelik sal hulle heeltemal mal raak en begin glo in 5G-samesweringsteorieë en Bill Gates wat mikroskyfies in almal laat inplant.

“So, ek dink die internet, en veral sosiale media, is ontsettend skadelik vir ons. Na my mening het ons nog nie ’n vae benul van hóé sleg dit werklik vir ons is nie . . . Dit is verskriklik boos hoe ons gemanipuleer word.

Facebook kan jou in ’n Nazi verander óf dit kan jou in ’n vurige omgewingsaktivis verander.

“Wat vir my verbysterend is, is dat jy ’n skoon blad kan wees en dat die algoritmes jou dan in ’n rigting kan stuur. Facebook kan jou in ’n Nazi verander óf dit kan jou in ’n vurige omgewingsaktivis verander.

“Dit hang létterlik van die ‘wil’ van die algoritmes af en wat die meeste geld vir adverteerders sal maak. Dit is wérklik nagmerrie-agtig. Ek het daaroor geskryf vanuit die werklike angs en woede wat ek ervaar.”

‘Goeie mense’

Een van die hoogtepunte van Eaton se werklik indrukwekkende bundel essays is die een waarin hy oor staatsbeheerde entiteite (SBE’s) skryf en ook met die leser sy eie ervaring as draaiboekskrywer vir die SABC deel.

Die SAA is nou bankrot, maar vliegtuie het nie uit die lug geval nie, sê Eaton. Foto: Argief

“Die insig waartoe ek daar gekom het, is dat Suid-Afrikaanse televisie gebeur ten spyte van die SABC. Eintlik alles daar gebeur ten spyte van die SABC.

“Dieselfde geld enige SBE wat naastenby funksioneer . . . Die SAA is nou bankrot, maar vliegtuie het nie uit die lug geval nie; Eskom is bankrot, maar hy hou die ligte die meeste van die tyd aan.

“Ek dink dit is belangrik om te besef dít gebeur te danke aan uitstekende, hardwerkende mense wat nog hier en daar aanwesig is.

“Ons ken almal al die verskriklike voorbeelde van wat in SBE’s aangaan, maar ek het gedink dit is die moeite werd om te onthou baie Suid-Afrikaners is goeie mense; hulle is hardwerkende mense wat wil hê dinge moet werk. En omdat jy vir die SABC of Eskom werk, beteken nie jy is ’n slapgat wat oor niks omgee nie.”

‘Steel net minder’

Mense lag wanneer hy praat van “volhoubare korrupsie”; hulle dink dit is ’n slim grap.

“Maar dit ís nie. Ek dink dit is belangrik om op so ’n manier daaraan te dink – veral ook ter wille van ons eie psigiese welstand en om te voorkom dat ons kranksinnig raak.

“Ons dink in sulke teenoorgesteldes oor korrupsie: Dit is verskriklik en moet uitgeroei word. Maar dít is in skerp kontras met wat in die wêreld aangaan – élke land in die wêreld is korrup; korrupsie is net ’n ander naam vir die finansiële en interpersoonlike prosesse wat tussen die staat en die privaat sektor bestaan.

Korrupsie is die olie “wat die hele enjin aan die gang hou”.

“En deur te sê dit moet uitgeroei word, vra jy vir ’n algehele ineenstorting van alle stelsels. So, ek is doodernstig wanneer ek sê wat ons nodig het, is ’n stelsel of ’n samelewing of ’n land waarin mense net ’n bietjie steel in plaas van op ’n onbeteuelde wyse.

“Soos ek in die boek skryf: Dit is nie korrupsie wat lande doodmaak nie, dit is onvolhoubare korrupsie wat dit doen?.?.?. In ’n ideale wêreld sal almal uiteraard hul belasting betaal en sal dit eerlik aangewend word, maar in die werklike wêreld sal korrupsie altyd by ons wees.

“Ek dink die fokus moet wees om te sorg dat korrupsie volhoubaar is eerder as om al hierdie emosionele energie daaraan te bestee om dit uit te roei – verál in hierdie land waar ons in elk geval so ’n buigsame verhouding met moraliteit het.

“So, ek maak nie ’n grap wanneer ek dít sê nie.”

Meer oor:  Murray La Vita  |  Tom Eaton  |  Korrupsie  |  Facebook
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.