Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Só het Malema en Trump ontstaan’

Mediavryheid is nié sensasie nie en dit is nié om jou neus in iemand anders se sake te steek nie. Dit is om inligting wat van belang is vir ’n samelewing so toeganklik as moontlik weer te gee, sê prof. Lizette Rabe aan Murray La Vita.

Prof. Lizette Rabe in die department joernalistiek op Stellenbosch. Foto: Jaco Marais

Omdat ons uit ’n apartheidsamelewing kom waar mediavryheid onderdruk is, het ons nie die mediageletterdheid om te besef wat beteken mediavryheid eintlik nie, sê Rabe.

Die fokus van die onderhoud is Rabe se pas verskene A Luta Continua – A History of Media Freedom in South Africa. Sy beskryf in haar voorwoord dié formidabele werk as die eerste omvattende poging om ’n geskiedenis van mediavryheid in Suid-Afrika sedert die koloniale tyd saam te stel.

Ons sit in Rabe se kantoor in die departement joernalistiek van die Universiteit Stellenbosch, waar sy ’n hoogleraar is.

“Dit begin seker eintlik maar met jou eie persoonlikheid. As jy lief is vir die geskiedenis dan wil jy altyd vra hoekom en waarom.

Die joernalistiek en geskiedenis is vervleg met mekaar.

“Dink maar aan daardie uitdrukking joernalistiek is ‘history in a hurry’ en joernaliste is ‘historians in a hurry’.

“En dít is ook hoekom ons ons eie professie met soveel eerbied in stand moet hou, want ons skryf die eerste rofwerk van die geskiedenis. En dan is dit nou net ’n trappie verder om dit te formaliseer en om dit ás geskiedenis te skryf.

“My meestergraad was in mediageskiedenis en my PhD was in geskiedenis omdat daar nie destyds in ons departement iemand was wat kon studieleiding gee op ’n PhD-vlak nie.

“So, ek is ’n mediahistorikus en ek is ’n kultuurhistorikus. Maar buitendien, die joernalistiek is mos ’n lisensie om vrae te kan vra; dis ’n lisensie om nuuskierig te kan wees.”

‘Vrye media bring balans’

A Luta Continua het pas by African Sun Media verskyn.

Mediavryheid is die enigste waarborg vir ’n individu se vryheid, sê sy.

“Ons sê die regstelsel is daar en dit kan onafhanklik wees, maar die regstelsel kan óók gekorrumpeer word; ons wéét van korrupte regters; ons weet hoe dit apartheid gedien het en hoe dit veronderstel was om reg en geregtigheid te dien.

“So, die regstelsel kan ook ’n ideologie dien, waar ’n vrye media met ’n pluraliteit van stemme bring die balans. Jy kan nog ’n spreekbuis wees vir iets, maar ’n ánder medium kan sê: Nee, dit is nie so nie. En dít is hoekom ’n vrye media so belangrik is.

“Ons het ’n wónderlike grondwet, ’n voorbeeld vir die res van die wêreld, maar in soveel opsigte is dit net woorde op papier as jy kyk na hoe regte vertrap word – menseregte, vroueregte, ensovoorts.

“Ons is veronderstel om ’n nierassige samelewing te wees en kyk net hoe kan die ekstreme groeperings álmal op sleeptou neem.

“En dít is waar die media nóg meer verantwoordelikheid moet hê. Ons het so ’n verskriklike groot taak om daardie balans te handhaaf, om nié vir die demagoë ’n platform te gee wat hulle groter maak as wat hulle regtig is nie.

“Dan vra jy vir jouself: Is dít dan nie selfsensuur nie? Maar, aan die ander kant moet jy ook sê ons moet hulle ook nie ’n té groot platform gee nie, want dan is óns eintlik ’n spreekbuis vir hulle.

Mense kán nie ingeligte besluite neem sonder inligting wat aan al die etiese aspekte van ons professie voldoen nie.

“Dít is hoe Malema ontstaan het. Dít is hoe Trump ontstaan het. Dink maar aan CNN wat sê hulle het nooit sulke groot kykersgetalle gehad as in die aanloop tot die 2016-verkiesing nie.

“So, aanlyn jaag jy die eyeballs, maar ons moet verantwoordelikheid aan die dag lê van hóé ons dit doen. Ons moet nie nuus onderdruk nie, maar tóg kyk wat is die balans en hoe kan ons ’n báie brose samelewing wat só swaarkry . . . As jy kyk na hoe Covid-19 alles net eenvoudig geïntensifiseer het.

“Ons het altyd gedink dit is ’n meteoriet wat die aarde gaan tref, toe is dit nie ’n meteoriet nie, toe is dit ’n onsigbare klein virus wat die mens tot stilstand dwing.

“Wat is die rol van die media? Ons het gesien hoe het die aanvraag na inligting in die pandemie gestyg. Mense kán nie ingeligte besluite neem sonder inligting wat aan al die etiese aspekte van ons professie voldoen nie.”

Kubermense

Ons het toe ewe skielik kubermense geword; ons het mense agter skerms geword.” Foto: Jaco Marais

Die joernalistiek moes, soos ander beroepe, weens die pandemie herdefinieer word.

“Wat is dit wat ek moet doen? Wat is my taak in die samelewing? Wat is my rol in die samelewing? Hoe kan ons ons samelewing die beste dien? Want dít is tog waaroor die joernalistiek gaan, om ’n stem vir die stemloses te gee; om vir die mense wat nie die finansiële spierkrag het nie uit hulle dilemmas te help, of dit nou behuisingsnood is en of dit kosnood is, wat dit ook al is – dít is tog die rol wat ons behoort te speel.

“En om die politici verantwoordbaar te hou. Daardie ding van om dié wat mag het verantwoordbaar te hou sodat dié wat nie mag het nie met respek behandel word. Dít is waarmee daardie laaste hoofstuk van my boek afsluit.

Ons het toe ewe skielik kubermense geword; ons het mense agter skerms geword.

“En dan, terselfdertyd, ons aanlyn lewe . . . Alles het toe ewe skielik aanlyn beweeg. Ons het toe ewe skielik kubermense geword; ons het mense agter skerms geword.

“Maar hoe dit toe ook gekulmineer het in iets wat ons nie voorheen ’n naam voor gehad het nie. Ek haal vir Ferial Haffajee aan oor kubervrouehaat.

“Daar is ’n baie bekende BBC-vrouejoernalis wat sê in haar tyd het hulle nie eens ’n naam gehad vir seksuele teistering nie. Dit het gebeur, maar hulle kon dit nie benoem nie. Dieselfde in mý tyd – jy het geweet met wie jy nié alleen in die hyser klim nie, maar daar was nie ’n woord soos seksuele teistering nie.”

Haat jeens joernaliste

“Ek identifiseer nie as Afrikaner nie omdat ek met ’n Duitse kulturele identiteit grootgeword het.” Foto: Jaco Marais

Rabe verwys na ’n studie oor kubervrouehaat waar ’n vroulike sportjoernalis erg blootgestel is aan aanlyn kommentaar van mans wat dinge sou geskryf het soos: “As ek jou teëkom dan verkrag ek jou.”

“In die studie het hulle hierdie mans geïdentifiseer en hulle in persoon gekry om teenoor hierdie sportjoernalis te laat sit en gesê: ‘Sê nou vir dié persoon wat jy aanlyn geskryf het.’ En die mans kon dit nie doen nie, want voor hulle was ’n méns, ’n médemens, en hulle het beséf wat hulle gedoen het.

“Dieselfde wat dan nou met Ferial en ons medejoernaliste gebeur het – die goed wat hulle aanlyn toegesnou word en ook die fisieke bedreigings van waar sy was en waar daar hierdie amper massahisterie rondom haar opgebou het.

Vroulike joernaliste is meer uitgelewer.

“Nou goed, vroue is nie die enigstes nie; Max du Preez het dieselfde ervaar en hy het ook gesê as dit nie was vir die polisie wat naby was nie [buite ’n sitting van die Zondo-kommissie] dan weet hy nie wat die mob rondom hom sou gedoen het nie.

“So, dis nie net vroulike joernaliste nie, maar vroulike joernaliste is meer uitgelewer. Ek dink mans kry ook maar genóég hulle haatspraakpos, maar vroue kry dit nóg meer, want dit is asof daar by mans ’n rég is om vroue só te behandel. En dit hou ’n gevaar vir vryheid van spraak in. Ferial het byvoorbeeld gesê: ‘Ek skryf nie meer soos wat ek geskryf het nie.’ Daai inhibisie om nie meer jouself só te kan uitdruk nie.”

‘Fondament van álle vryhede’

“Ja, ons maak foute onder die druk van tyd, maar dan moet daardie foute weer reggestel word.” Foto: Jaco Marais

Vryheid van spraak, vryheid van uitdrukking en vryheid van die media is fundamenteel aan ons samelewing.

“En dít is, dink ek, wat my gedryf het om te sê: Dít is óns geskiedenis en hoe ons hierdie geskiedenis van vryheid van uitdrukking moet koester en nie moet vergeet nie, want dít is die fondament van álle vryhede.”

Sy skryf ook oor hoe spraakvryheid bedreig word deurdat die media se geloofwaardigheid deur mense soos pres. Donald Trump ondermyn word en hulle afgemaak word as “fake news” – as oneerlik en ongeloofwaardig.

“Dis daai ding van hoe langer jy iets herhaal hoe meer raak dit aanvaarbaar en dan later ’n feit. Dít is hoe Trump reggekry het om die hoofstroom-media te ondermyn deur sy herhaling van ‘fake news’ en die ‘mainstream media’ wat hy ‘lame-stream media’ noem om sy eie agenda natuurlik te bevorder.”

Ja, ons maak foute onder die druk van tyd, maar dan moet daardie foute weer reggestel word.

Dit is uiters belangrik dat joernaliste geloofwaardig moet wees.

“Ons praat van staatskaping, maar terselfdertyd was daar mediakaping waardeur ’n sekere narratief versprei is. ’n Koerant met ’n baie hoë sirkulasie wat deel van mense se lewenswyse was en wat sélf ietwat arrogant gesê het: Dis nie nuus voordat ons sê nie sê dis nuus nie . . . hoe hulle hulleself soos klei laat vorm het in die hande van die staatskapers en daardie rogue unit-narratief verkondig het. Die skade wat dit nie net aan hulle titel, hulle handelsnaam, gedoen het nie, maar aan die beroep as gehéél.

“Dít is waar ons as individuele joernaliste met soveel ontság ons geloofwaardigheid moet handhaaf, want as ons dít verloor het, is daar níks om mee handel te dryf nie, want wie gaan ons glo? Jy weet, Zuma het al omgedraai en gesê: ‘Kyk net hoe maak hulle foute.’

“Ja, ons maak foute onder die druk van tyd, maar dan moet daardie foute weer reggestel word . . . Ál wat ons het, is ons geloofwaardigheid.”

Wie se belange?

Die langste hoofstuk in A Luta Continua is die een waarin sy onder meer kyk na Afrikanernasionalisme en “partydige joernalistiek aan albei kante van die taalkloof”.

“Dit het gevoel soos daardie drome waar jy net nie . . . waar jy so in ’n labirint is en jy kan nie uit hom uitkom nie. Daai hoofstuk . . . Ek kan nie uit hom ontsnap nie; hy hou my gevange.

Is dit wat ek skryf wél onafhanklik? Kom dit nie uit ’n sekere diep subjektiwiteit nie?

“Ja, die belange wat gedien is deur die media . . . Kyk, Rhodes met sy kapitalistiese mynbelange, sy empire-belange, wat óók ’n ideologie was. So, hetsy imperialistiese ideologie of Afrikaner-nasionalistiese ideologie – ons moet die heeltyd onsself onafhanklik daarvan sien.

“Maar ek skryf aan die begin van die boek jy kan net sien van waar jy staan. Waar jy staan, bepaal jou horison en jou uitkyk, so ons moet die heeltyd bewus wees van die bril waarmee ons na die samelewing kyk en onsself vra: ‘Is dit wat ek skryf wél onafhanklik? Kom dit nie uit ’n sekere diep subjektiwiteit nie?’”

‘Joernaliste moet buitestanders wees’

“Ons moenie vir één oomblik die waaksaamheid verslap nie.” Foto: Jaco Marais

Sy wou ’n nuwe narratief skep oor mediavryheid en vryheid van uitdrukking

“Want as jy kyk na die boeke hieroor is hulle uit ’n sekere hoek geskryf. Die Engelse boeke verstaan nie wat was die Afrikaanse media nie en Naspers se geskiedenis byvoorbeeld deur Muller [Sonop in die Suide, C.F.J. Muller] is só nasionalisties geskryf.

“Ek identifiseer nie as Afrikaner nie omdat ek met ’n Duitse kulturele identiteit grootgeword het. En dít is wat joernaliste tog maar moet wees – buitestanders.

“So, ek het as buitestander hierdie hele dans bekyk en probeer sin maak uit wie is nou die een wat die dans aanvoer en wie is die een wat gelei word, en probeer om ’n narratief te skep oor amper 400 jaar van uitdrukking van spraak omdat dit so verskriklik belangrik is. Ons moet almal iéts doen om ons media in stand te hou.”

A luta continua beteken “die stryd duur voort”.

“Daar was by haar geen twyfel wat die titel van die boek sal wees nie, want ons moenie agteroor sit en dink ons hét nou vryheid van spraak verskans in ons Handves van Menseregte nie. Ons moenie vir één oomblik die waaksaamheid verslap nie, want daar is áltyd mense wat die media aan bande wil lê en dít is hoekom ons ’n vrýe media moet hê en ’n pluraliteit van stemme, want as die een hierdie een se belange dien, gaan die ander een ’n korrektief daarop plaas. Hoe minder stemme, hoe slegter vir ’n demokrasie.

“Ons moet weet die stryd duur voort.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.