Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Só lyk Eskom se toekoms, sê De Ruyter
Netwerk24 het Saterdag vir 75 minute saam met Eskom se Nommer 1 gekuier om die storie agter die beurtkrag en ander Eskom-kwessies te kry.

Kragstasies wat eersdaags “aftree” en Suid-Afrika se dreigende waterkrisis is maar net van die redes waarom hy hoop om Eskom te laat groen word, het André de Ruyter aan Jana Marx gesê.

Dis Saterdagmiddag. Eskom-hoof André de Ruyter (53) stap stiptelik om 14:30 by die Dairnfern-gholflandgoed se klubhuis in en steek sy elmboog uit om te groet, soos Covid-19-protokolle vereis. “Gaan ons ooit hieraan gewoond raak?” skerts hy toe elmboë teen ’n verkeerde hoek bots. 

Soos altyd kan jy hom deur ’n ring trek. “Hoe gaan dit met jou?” vra hy die kelner hoflik nadat hy gaan sit het. En dan wag hy vir ’n antwoord voordat hy ’n pot tee bestel.

De Ruyter is verlig dat die ondersoek na bewerings van rassisme teen hom nou verby is – nie omdat hy die uitslag daarvan betwyfel het nie, maar omdat dit soveel van sy tyd wat hy aan Eskom-sake wou bestee, in beslag geneem het.

“Dit was ure en dae se bymekaarmaak van inligting en voorberei vir die ondervraging deur adv. (Ishmael) Semenya, wat ek dink op ’n baie meer konstruktiewe manier opgelos kon geword het. Maar nou ja, dis die proses waardeur ons moes gaan.”

Nou kan hy weer fokus op van die dringende dinge op sy prioriteitslys: om bestaande kragstasies so goed as moontlik te herstel, Medupi- en Kusile-kragstasie se ontwerpfoute op te los en om so gou doenlik nuwe opwekkingskapasiteit – hopelik groenkrag – te bekom.

André de Ruyter,
André de Ruyter, Eskom-hoof, Saterdag tydens ’n onderhoud in Johannesburg. Foto: Deaan Vivier

Lig in die beurtkrag-tonnel

Hoewel beurtkrag die land die laaste ruk weer verlam, meen De Ruyter dat daar nog gehou word by die tydskaal vir die diep herstelwerk aan die infrastruktuur wat hy in Januarie 2020 van stapel gestuur het.

Suid-Afrika behoort dus teen September “ ’n beduidende afname in die risiko van beurtkrag” te sien. Vlak 5 van die inperking het die projek met drie maande vertraag.

Maar let wel: “Dis ’n afname, nie ’n uitskakeling nie, want ons kan dit nie waarborg nie,” waarsku hy.

De Ruyter hou intussen sy vinger op kragstasiebestuurders om te sorg dat instandhoudingswerk gedoen word. Velaphi Ntuli, hoofbestuurder van die Koeberg-kernkragstasie in Kaapstad, is verlede week geskors omdat hy nie die instandhoudingswerk gedoen het soos hy moes nie.

Klimaatsverandering dwing Eskom tot 'skoner' krag

Eskom, as een van Suid-Afrika se grootste vrystellers van kweekhuisgasse, het ’n tydskaal om sy koolstofvoetspoor drasties te verminder. Dis deel van ’n wêreldstrategie om klimaatsverandering teen te werk.

“Volgens die geïntegreerde hulpbronplan (IRP) moet ons in die volgende 8,5 jaar ongeveer 10 000 megawatt (MW) se opwekkingskapasiteit laat aftree. Ons wil daardie kragstasies uit bedryf uit stel, maar dan wil ons dit vir ’n ander doel aanwend. Ons wil dit oorskakel na gaskragopwekking en ons wil sonkrag daar installeer sodat ons kan seker maak dat ons vir die gemeenskappe wat op die oomblik van steenkool afhanklik is, ook ’n toekoms kan skep.”

Die Komati-kragstasie in Mpumalanga, waarvan net een uit nege eenhede volgens hom nog werk, sal eerste aftree.

“Ons het reeds begin met planne. Ons gaan kyk om gas, sonkrag en batterykapasiteit daar te stel, dat ons die netwerk kan stabiliseer.”

Dan sal nog drie volg – Grootvlei, Hendrina en Camdon – wat ook almal in Mpumalanga geleë is.

André de Ruyter, eskom
Eskom is volgens De Ruyter ’n baie belangrike verwysingsprys vir privaat beleggers. 'Ons dink ons kan dit mededingend doen. Trouens, ek wéét ons kan, want Eskom het darem ook al projekte gedoen wat binne begroting en op koers was en dis hernubare projekte.' Foto: Deaan Vivier
Groenkragprojekte is volgens De Ruyter makliker om te beheer, derhalwe makliker om korrupsie te bekamp as in die geval van megaprojekte, waar daar net geen einde is aan die koste nie.

“Daar is ’n goeie rede om dit te doen: Nie net is dit duur en onbetroubaar en gaan dit baie kapitaal verg om in die toekoms in stand te hou nie, maar as gevolg van regulasies wat beperkings plaas op ons emissies, moet ons oor die volgende 15 jaar R300 miljard belê wat ons nie het nie.

“So my voorstel was: Kom ons gebruik liewer daardie R300 miljard en bou nuwe, skoon groenenergie wat volhoubaar is.”

Benewens ’n skoner omgewing, is daar ’n legio voordele aan groenkrag.

Volgens De Ruyter sal groenkrag ook die druk op Suid-Afrika se waterbronne verlig. ’n Watertekort  van 17% word teen 2030 voorspel en kragopwekking slurp tans 2% van die land se water op, want steenkoolkragstasies gebruik water om stoomturbines vir kragopwekking te dryf.

Maar as die IRP toegepas word, “kan dit 200 liter per dag aan 2 miljoen Suid-Afrikaners gee”.

“Dís die invloed wat ons op die oomblik het,” sê hy. Kusile en Medupi is reeds droogverkoelde kragstasies en gebruik dus minder water.

Groenkrag kan ook help om korrupsie hok te slaan, meen De Ruyter. “Hernubare energie is modulêr. Jy sit sonpanele op – die een ná die ander. Dieselfde met windturbines. So, dit het nie naastenby die kompleksiteit van ’n megaprojek nie. ’n Megaprojek, soos ons nou gesien het met die onthullings oor Kusile, en ander projekte kom nog, leen hulle tot korrupsie, want die geld is net só groot. Daar is net só baie. Maar as jy dit eenvoudig hou en jy sê: Wat is jou koste per sonpaneel? Dan kan ek presies gaan meet: Jou koste is dit, en (iemand anders) se koste is dat, so jy is besig om die dam onder die eend uit te ruk.”

Nuwe transmissielyne kom

Kragstasies bestaan nie in isolasie nie. Dit vra vir ’n transmissienetwerk om die opgewekte krag by die mense te kry.

“Die voordeel (om bestaande kragstasiepersele te gebruik om groenkragstasies te bou) is dat jy jou bestaande transmissienetwerk kan gebruik. Jy hoef nie nuwe transmissielyne te bou nie.”

Eskom beoog wél nuwe transmissielyne. “Ons moet in die volgende 15 jaar ongeveer 8 000 km se nuwe transmissielyne bou. Dis primêr van twee streke af: die Noord-Kaap en die Oos-Kaap. Rondom Upington is van die wêreld se beste sonkraggebiede. Daar is net sekere kolle in die Sahara wat beter is. Die Upington-area is by uitstek vir sonkrag geskik.” In die Oos-Kaap word windkragstasies beplan.

Hy sê nuwe transmissielyne gaan Eskom R118 miljard kos.

Stoom trek uit die koeltorings van Eskom se Duhva-steenkoolkragstasie. Foto: Reuters

“Ek dink (egter) nie dis die groot knelpunt nie. Die groot knelpunt is: Ons moet kontrakteurskapasiteit bou. Die laaste ding wat ek wil hê, is dat ons kontrakteurs uit ander lande moet invoer.

“Ons het ’n staalbedryf in Suid-Afrika wat sukkel. Hier is ’n geleentheid waar ons ons staal, ons kabels en ons isolators plaaslik kan vervaardig. Dis nie ingewikkelde tegnologie nie – ons kán dit doen.”

Hulle kan egter nie sloer nie. “Jy kan nie wag totdat jy die bestelling wil plaas nie. As jy vervaardigingskapasiteit wil ontwikkel, moet jy nóú reeds begin.”

Volgens De Ruyter is Eskom in gesprekke hieroor met die departement van handel, nywerheid en mededinging gewikkel.

‘Eskom word oorval deur beleggers’

Nóg ’n voordeel van groenkrag “as jy nou so arm soos Eskom is”, is dat oorsese lande baie gewillig is om finansiering beskikbaar te stel om ons koolstofdioksied uit die lug uit te haal, sê De Ruyter.

Een van sy gunstelingtake by Eskom is 'billike energieoorgang', oftewel die skuif na groener of skoner krag, sê De Ruyter.

“Om ’n ton ‘Europese’ koolstofdioksied uit die lug te haal, kos ongeveer $162 per ton. Die rede is dat hulle klaar hul goedkoop koolstofdioksied uit die stelsel gehaal het. Eskom se koolstofdioksied gaan omtrent $7 per ton wees. Omdat klimaatsverandering ’n wêreldwye probleem is, maak dit baie meer sin vir hierdie ouens om in ons te belê, want hulle kry vir hul euros baie meer koolstofdioksied uit as hulle Eskom en Suid-Afrika help, as wat hulle dit in Frankryk en Duitsland probeer doen.

“Ons word – en ek wil nie oordryf nie, maar ek dink tog die regte woord is ‘oorval’ – met aanbiedings van ambassadeurs, verskillende regerings en finansieringsorganisasies wat sê: ‘Ons wil dit vir julle moontlik maak.’ So ek dink daar is regtig ’n geleentheid om hierdie energieknyptang waarin ons onsself op die oomblik bevind in ’n geleentheid – ’n stimulus – te omskep.”

Té veel kokke in die kombuis?

Die uitdaging is egter dat nie De Ruyter óf Eskom die enigste besluitnemers in hierdie proses is nie.

“Eskom is nie ’n alleenstaande entiteit nie. Ons funksioneer in ’n staat-ekostelsel en daai ekostelsel moet funksioneer om ons te laat funksioneer. Ons moet met die nasionale tesourie praat, want op die ou end word hierdie lenings deur die belastingbetaler onderskryf. Ons moet met die departement van minerale hulpbronne en energie (DMRE) praat, ons moet met openbare ondernemings praat, ons moet met omgewingsake praat, want hulle is op ’n tydskaal om die lug skoon te maak.”

Wat mág hy as Eskom se hoof hier doen? “Ek kan voorstelle maak, maar ek kan nie die beleid skryf nie.”

Weet ons hoe vorder die regering om nuwe kapasiteit op die been te bring? “Ek dink die DMRE maak vordering. Dis maar waarop ons ons hoop moet vestig, want hulle is die ouens wat daai kontrakte so gou moontlik gereed moet kry. Ek kan jou verseker ons vertel hulle gereeld om te roer. Ek het ’n maandelikse vergadering met die DMRE se bestuurspan, asook die nasionale tesourie.”

Volgens De Ruyter is Eskom besig om die kontrakte oor kragskepe, wat die grootste deel van die noodkragtender van die regering gewen het, te bestudeer.

De Ruyter verduidelik Eskom se aftakeling aan die hand van ’n motor-analogie: Dis soos ’n motor wat 40 jaar oud is en teen 150 km in derde rat op die snelweg ry en nie in stand gehou word nie, sê hy. 'En nou verwag ons hierdie ding moet nog steeds loop soos ’n horlosie. ’n Stuk meganiese toerusting is net nie so geduldig nie.'
Eskom sal nuwe hoogspanningslyne vir van sy nuwe groenkragstasies moet bou. Foto: City Press

Eskom se mening oor die aard van die kontrakte is nog nie bekend nie, maar twee mense in die Eskom-binnekring het aan Bloomberg gesê Eskom wil nie krag van die kragskepe koop nie omdat hy bekommerd is oor die koste en lengte van die omstrede kontrak.

De Ruyter kan dit egter nog nie bevestig nie. “Wat ek wel kan bevestig, is: Die DMRE en die IPP-kantoor onderhandel oor die kontrakte, wat onder die DMRE val. Eskom is die aangewese koper, so Eskom moet die koopkontrak teken. Uit ’n raadsoogpunt het ons ’n vertrouensplig teenoor die maatskappy, so ons kan nie nou net willens en wetens ’n kontrak teken wat die maatskappy in die moeilikheid gaan bring nie. So ons is besig om nou kontrakte te evalueer en te kyk na die prysstrukture, om te verstaan wat presies die implikasie oor ’n tydperk van 20 jaar is – want daar is wisselkoersimplikasies en kommoditeitsprysimplikasies – en om te verstaan wat die risiko vir ons as direksie van die regspersoon is. En as ons daardie antwoord het, dan sal ons weet.”

’n Silhoeët van die Medupi-kragstasie in Mpumalanga. Foto: Argief

Volgens De Ruyter kon Eskom wél vooraf insette “oor die vereistes, soos oor hoe die kragprofiel moet lyk, asook insette in die kontrak” lewer.

“Dis nie asof ons die kontrak skryf nie, maar ons kon sê ons wil graag dit sien en dat sien, so dit was ook ’n bietjie van 'n onderhandelingsproses. Ons het baie hard gedruk vir byvoorbeeld klousules om die integriteit van die proses te beskerm en seker te maak dat daar spesifieke anti-korrupsie-bepalings in die kontrakte is dat ons seker kan wees ons word nie blootgestel nie.”

Sodra Eskom klaar die kontrakte bestudeer het, sal hulle met die DMRE oorleg pleeg. Volgens hom behoort die laaste onderhandelings nie langer as ’n maand of twee te duur nie.


'EK IS OOK MOEG VIR BEURTKRAG'

André de Ruyter, eskom
André de Ruyter weet hy gaan weerstand van personeel kry vir solank hy Eskom se geldkrane toedraai. Foto: Deaan Vivier

“Waar ek mense se begrip sou wou vra, is: Eskom is ’n baie groot en komplekse struktuur. Ons het 80 individuele kragopwekkingseenhede. Daar is hier en daar uitsonderings, maar die meerderheid is werklik in ’n swak toestand. Dan het ons net so onder 300 000 km transmissie- en distribusielyne. Om krag van die kragstasie in Mpumalanga tot by verbruikers se huise te kry – om daardie ketting 24 uur van die dag aan die gang te hou, gegewe die nalatenskap wat ons het – is uitdagend.”

As jy boonop kyk na al die elemente wat daarmee saamgaan: Die inligtingstelsels. Die verkrygingstelsels. Die vergoedingstelsels. Die aansporings . . .

Volgens hom beteken instandhouding om elke element na te gaan – “van die vervoerband wat die steenkool in die aanleg inbring tot waar jou emissies die lug ingaan”.

“Die aftakeling is regtig diep en om dit om te draai neem ongelukkig tyd.”

Volgens De Ruyter herstel Eskom nou nog van die skade aan die Kendal-kragstasie nadat die arbeidsonrus in 2018 tot sabotasie gelei het.

“Ek verstaan mense is gefrustreerd, hulle is moeg, hulle is keelvol vir beurtkrag. Ék is moeg daarvoor. Ek is ook geïrriteerd as die ligte afgaan en ek wil ook nie beurtkrag hê nie . . .”

Eskom se Kendal-kragstasie naby Delmas, waaraan hulle nou nog herstelwerk doen nadat arbeidsonluste in 2018 tot sabotasie van infrastruktuur gelei het. Foto: Bloomberg


5 DINGE WAT JY NIE VAN ANDRÉ WEET NIE 

  • De Ruyter en sy vrou is groot voëlkykers. “Dis ’n lekker ding om konstruktief oor te stry. Ek is baie lief vir die Wildtuin, ek kom net te min daar. Ek gaan al soontoe vandat ek drie jaar oud is en dis steeds die plek waar ek die beste ontspan.” Hy bly “amper in ’n bos” in Johannesburg, “so ek merk maar my lysie af soos ek tyd kry”.
  • Hy lees “ ’n hele paar boeke op ’n slag”, want hy het leesstasies in verskillende dele van sy huis.
  • Sy gunsteling-genres is niefiksie, biografieë en geskiedenisboeke. Hy het pas die biografie van Napoléon Bonaparte klaar gelees.
  • Hy kyk nie baie nuus nie, maar het ’n swak vir ’n Sweedse speurverhaal – “amper bietjie van ’n noir-gevoel. Ek moet bieg: Dis nou as ek nie voor die gevolgtrekking aan die slaap raak nie.”
  • Pat Davies, voormalige hoof van Sasol toe De Ruyter daar werksaam was, is vir hom ’n mentor. “Ek dink nou nog in sekere situasies: Wat sou Pat nou gedoen het? Want hy het die vermoë gehad om besluite baie mooi te kristalliseer in dit wat eenvoudig is. Dit was vir my baie goed om by hom daardie vaardigheid te leer.”
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.