Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Só sal Afrikaans altyd voortleef’

Ondanks baie verliese sal Afrikaans áltyd voortleef, sê dr. Willem Botha, uitvoerende direkteur en hoofredakteur van die Woordboek van die Afrikaanse Taal (WAT) aan Murray La Vita.

Dr. Willem Botha in die biblioteek van die WAT op Stellenbosch. Foto: Jaco Marais

Die onderhoud met Botha vind plaas teen die agtergrond van die WAT – deur T.T. Cloete beskryf as “een van die kosbaarste diamante van Afrikaans” – se 95ste bestaansjaar vanjaar.

My aanvanklike vraag is: Hoe het Afrikaans oor die jare verander en waarheen is die taal op pad?

“Taal is dinamies: Dit is ’n gegewe. Daar was geweldige teenstand teen die Bybelvertaling in Afrikaans deur Afrikaanssprekendes. Hulle het gevoel Afrikaans is dit nie waardig nie. Dit word vertel dat ’n ouderling van die Strooidakkerk in die Paarl sy sentimente oor die saak soos volg uitgedruk het: ‘As Nederlands goed genoeg vir Moses was, is dit ook goed genoeg vir my.’

Prof. Fritz Ponelis [taalkundige] het reeds in 1992 daarop gewys dat ons toenemend ’n vertaalde Engels praat.

“Die taal wat aan die Kaap gepraat is, is reeds teen 1671 deur besoekers aan die Kaap beskryf as iets anders as die taal in Europa. Afrikaans van die vroeë 20ste eeu het nog spore van Nederlands gedra, maar was ’n spontane, ongekunstelde taalgebruik.

“Gaandeweg is daar gewerk aan ’n Standaardafrikaans wat ’n baie formele aanslag gehad het. Die Sestigers het ons begin bevry van daardie dodelike formaliteit. Die heksejag op anglisismes is verby en die klem in die onderrig het op die geniet van die taal geval, maar daar is nou ’n behoefte aan balans.

“Waarheen is Afrikaans op pad? Prof. Fritz Ponelis [taalkundige] het reeds in 1992 daarop gewys dat ons toenemend ’n vertaalde Engels praat. Afrikaans en Engels is albei Wes-Germaanse tale en baie naby familie met dieselfde voorgeslag. Hy het daarop gesinspeel dat Afrikaans en Engels in die toekoms dalk weer een taal kan word.”

Mandarynse bure

Teen die muur in Botha se kantoor pryk van die oorspronklike illustrasies wat in die WAT voorkom. Foto: Jaco Marais

Die tuiste van die Buro van die WAT is ’n gebou in Banghoekweg op Stellenbosch, wat van die Universiteit Stellenbosch (US) – een van die WAT se borge – gehuur word. Die WAT-redaksie deel die gebou met die Confucius Institute of Stellenbosch waar Mandaryns bestudeer word.

Botha – ’n lenige, innemende en energieke man geklee in jeans en ’n aantreklike blou baadjie – ontvang ons in die portaal wat deur Afrikaans en Mandaryns gedeel word, en neem ons dan op ’n besigtigingstoer.

“Hierdie is maar ’n uitstallinkie oor waar ons vandaan kom,” sê hy en haal ’n indekskaart uit ’n houer naas ’n ou tikmasjien. “Die manuskrip van die WAT is aanvanklik met die hand geskryf en dan het die tiksters dit getik. Later het ons gerekenariseer. Dis soos ons rekenaars in 1988 gelyk het.”

Naas die tikmasjien staan ’n Olivetti-rekenaar van daardie tyd.

“Wat ons uniek maak, is ons materiaalversameling. Dis absoluut uniek; niemand anders beskik oor hierdie data nie. Dit is deur skarewerwing bekom; die hele land het deelgeneem en veral streektaalwoorde ingestuur op sulke indekskaartjies. Ons het 3,5 miljoen hiervan. Die materiaal dateer van ongeveer 1900 tot 1980.”

Botha kyk na die kaartjie in sy hand en lag. 'Dit is ’n verskriklike woord,' sê hy.

Die WAT is ’n omvattende Afrikaanse verklarende woordeboek wat Afrikaans in sy wydste omvang weerspieël. Dit beteken dat nie net Standaardafrikaans nie, maar ook die ander variëteite van Afrikaans ’n tuiste in die WAT vind.

“Moderne woorde kry ons uit ons eie elektroniese korpus en die internet. Maar as ons nie ouer woorde en streektaal uit ons unieke versameling opneem nie, is dit eenvoudig verlore.”

Botha kyk na die kaartjie in sy hand en lag.

“Dit is ’n verskriklike woord,” sê hy en lees die handgeskrewe bydrae wat deur ’n F. du Toit ingestuur is: “Hemangioom, tumor wat van mesoderm ontstaan. Dit kom uit ’n boek oor die chirurgie deur B.J. van R. Dreyer van 1965.

“Hy [Du Toit] het hierdie boek geëkserpeer – dit deurgelees met die oog op woorde vir die woordeboek en toe gedink hierdie is iets wat ons kan gebruik.”

Opleiding by die WAT

In die personeelkamer, wat ook vir opleiding gebruik word, staan ’n lang geelhout-en-stinkhouttafel wat eens in die Haum-boekwinkel op die dorp gestaan het.

Botha vertel van die opleiding. “Elke amptelike landstaal het ’n woordeboekeenheid. Dít het hier rondom 2000 begin gebeur. Redaksies van daardie woordeboekeenhede was almal al hier vir opleiding. Ons gee hulle opleiding in basiese leksikografie.

Óns begin by die jongste; die een wat die meeste gebruik word tot by die een wat die minste gebruik word; ons weerspieël die taal soos wat dit nou gepraat word.

“Ook mense – onder wie studente en dosente – van so ver as Gaboen, Zimbabwe, Malawi en Namibië was al hier by ons vir opleiding. Dan is ons ook baie betrokke by die departement Afrikaans en Nederlands [van die US]. Hulle bied leksikografie op voorgraadse en nagraadse vlak aan. Hul studente kom elke jaar hiernatoe en dan bring ons ’n bietjie die teorie by die praktyk uit en vertel hulle natuurlik ook meer van die WAT en vergelyk ons met ander woordeboeke soos die Oxford English Dictionary, wat ’n históriese omvattende woordeboek is terwyl ons ’n sínchroniese omvattende woordeboek is.

“Hulle doen alles op historiese gronde – die betekenisse van ’n woord word van die oudste na die jongste gerangskik. Óns begin by die jongste; die een wat die meeste gebruik word tot by die een wat die minste gebruik word; ons weerspieël die taal soos wat dit nou gepraat word.”

‘Dan begin ons weer voor’

Die Hennie Aucamp-gedenkmuur in die biblioteek. Foto: Jaco Marais

Ons stap verby die foto’s van die vorige hoofredakteurs van die WAT. Botha, wat in 2004 hoofredakteur geword het, is sedert 1988 in die redaksie. Hy was eers ’n Afrikaans-onderwyser aan die Hoërskool Gimnasium in die Paarl, waar hy steeds woon. Hy het Latyn en Engels aan die US studeer en ’n doktorsgraad in Afrikaans en Nederlands behaal.

“Foeitog, man, J.J. Smit, die eerste hoofredakteur, het in 20 jaar nooit iets gepubliseer nie. Maar dis nie eintlik sy fout nie . . . die woordeboekprojek is te vroeg begin. Afrikaans was nog nie gestandaardiseer nie; daar was nie genoeg letterkunde om materiaal uit te kry nie, en ons het nie geweet of ons nader of verder aan Nederlands gaan beweeg nie . . . Hy was ’n merkwaardige mens wat tegelykertyd professor in Afrikaans, Duits en Frans, en ook redakteur van Die Huisgenoot was. En toe word hy hoofredakteur van die WAT.

“Saam met die aanvaarding van Afrikaans as amptelike landstaal was daar ’n stertjie wat gesê het ’n volledige Afrikaanse woordeboek moet met staatsteun saamgestel word.”

Die eerste boekdeel (A–C) het in Mei 1951 verskyn. Deel XVI, die derde en laaste deel van die letter S, word in Mei – presies 70 jaar ná die eerste deel – gepubliseer. In teenstelling met die WAT se eerste dor publikasiejare het publikasie in onlangse jare baie versnel. Die vooruitsig is dat die woordeboek oor ag jaar tot Z voltooi sal wees.

Nadat die WAT voltooi is, sal ons voortgaan, maar op ’n kleiner skaal en met ’n kleiner redaksie. En dán sal ons van voor begin – van A af – en alles hersien.

“As die WAT nie voltooi word nie, sal Afrikaans nóóit iewers vollédig weerspieël word nie. So, dis baie belangrik dat dit voltooi moet word, want ons het hierdie wonderlike materiaalversameling wat iewers gekonkretiseer moet word.

“Nadat die WAT voltooi is, sal ons voortgaan, maar op ’n kleiner skaal en met ’n kleiner redaksie. En dán sal ons van voor begin – van A af – en alles hersien, want jy kan dink wat alles al sedert 1951 verander het.

“Ons sal graag ook ander, kleiner woordeboeke úit die WAT wil publiseer, byvoorbeeld ’n uitdrukkingswoordeboek of ’n streektaalwoordeboek; daar is nog baie wat ons met die materiaal tot ons beskikking kan doen.”

Die WAT is vir 80% van sy geld van skenkings afhanklik, sê Botha.

“Ons ankerdonateurs is tans die Het Jan Marais Nationale Fonds, die Trust vir Afrikaanse Onderwys, Sanlam, die Universiteit Stellenbosch, die Nancy Steyn Trust en die Hiemstra Trust.”

Monnike-arbeid

Een van die indekskaarte waaruit die WAT saamgestel word. Foto: Jaco Marais

In die biblioteek tref ons ’n skatkis aan – ’n enorme versameling kosbare boeke wat insluit woordboeke van oor die wêreld en bykans die ganse Afrikaanse letterkunde. Ek wonder hardop hoe ’n mens die – vir mý wonderlike – geur van dié vertrek sou beskryf.

“Hopelik minder múf as jare gelede. Ons is nou ’n maatskappy wat ook na buite leef en ons het juis van die muwwe assosiasie weggebreek. Ons is nou betrokke by opleiding; ons is in die media, ons probeer Afrikaans bevorder deur die radio en koerante en die sosiale media, en ’n televisie-optrede nou en dan.

“So, ek hoop nie dit ruik múf hier nie, maar dit ruik beslis na bóéke, nè?”

Die biblioteek bevat ál die boeke waaruit “geëkserpeer” is, dit wil sê waaruit materiaal gekry is.

“Wanneer ons ’n bydrae ontvang, moet ons na die oorspronklike bron gaan en kyk of dit korrek is. So alles moet gekontroleer word en gekontekstualiseer word.”

By een van die tafels tref ons Rika Stofberg aan, waar sy met dié monnike-arbeid besig is.

Hennie Aucamp

By die ingang van die biblioteek is die Aucamp-gedenkmuur. Dit bevat onder meer ’n lieflike portret van die skrywer en akademikus. En dié woorde van hom: “Miskien moet ons ophou om ‘Afrikaans! Afrikaans!’ te skreeu maar doodgewoon Afrikaans só praat en skryf dat dit sy geldigheid as medium in een taalsituasie na die ander demonstreer.”

Botha sê Aucamp was ’n jare lange groot vriend van die WAT.

Die kreatiewe krag van Afrikaans kan toegeskryf word aan die feit dat dit een van die jongste tale is.

“En hier het ons al die materiaal wat ons nog het wat sy verbintenis met ons uitbeeld. Hy het ook ’n groot erflating aan ons bemaak.”

Oorkant die Aucamp-gedenkmuur word indekskaarte vertoon met bydraes deur mense soos Audrey Blignault, Alba Bouwer, S.J. du Toit (Totius), H.B. Thom, Anna de Villiers, Jim Fouché en Gideon Fagan. C.J. Langenhoven se bydrae is die woord “kouter” – ’n soort ploeg – en bevat ook ’n inksketsie deur hom van dié implement.

Die vertrek wat aan die biblioteek grens, kan as die hart van die WAT beskou word. Dít is waar die miljoene indekskaartjies wat oor die jare aan die redaksie van die WAT gestuur is, in liasseerkabinette gehou word.

‘Ons wou eie woorde skep’

’n Uitstalling wat die vroeë dae van die WAT uitbeeld. Foto: Jaco Marais

Botha meen die kreatiewe krag van Afrikaans kan toegeskryf word aan die feit dat dit een van die jongste tale is.

“Of miskien kan dit toegeskryf word aan die pioniersagtergrond van Afrikaanssprekendes: Ons soek voortdurend na die nuwe. Dit kan ook wees dat weens ons jare lange saambestaan met Engels wou ons altyd ons eie woorde vir nuwe uitvindings en modes skep.

“Die inperking is ’n voorbeeld daarvan. Terwyl Nederland van die ‘lockdown’ praat, het ons met grendeltyd en inperking na vore gekom en dit word wýd gebruik. Tog het die Nederlanders nou weer die term ‘mondkappie’ [masker] geskep, wat wyd gebruik word.

Ons het verlede jaar ’n kompetisie gehou vir die treffendste Afrikaanse handelsnaam en dit was ’n openbaring om die kreatiwiteit te ervaar.

“Dit is opvallend dat ons ten opsigte van handelsname maar pas die beheptheid met Engels ontgroei het. Al hoe meer, veral kleiner, ondernemings kom met kreatiewe name vorendag. Ook die wynbedryf wat so lank verknog was aan Engelse name raak nou kreatief in Afrikaans. Hermanuspietersfontein en Simonsig was hier die baanbrekers met name soos Bloos en Kaapse Vonkel, maar intussen het al hoe meer landgoedere besef dat Afrikaanse name ’n outentieke karakter aan hul produk gee, ook vir die uitvoermark, en ook toeristiese waarde het.

“Ons het verlede jaar ’n kompetisie gehou vir die treffendste Afrikaanse handelsnaam en dit was ’n openbaring om die kreatiwiteit te ervaar.”

Hy noem van die name: Boggom (velskoene), Gegrond (koffieroostery), Proux (tuisbakkery), Skep (argitekspraktyk), Respek en Eiers (ontbytrestaurant).

Die naam waarvoor die meeste mense (lede van die publiek) gestem het en wat dus as die wenner aangewys is, was Moer Op Als (geurmiddel).

Van strawasie tot sturvy

Botha vind die “wonderlike verskeidenheid” woorde in die WAT bekoorlik.

“Neem byvoorbeeld ‘strawasie’ – dit kom uit die Italiaans en beteken ’n onenigheid en moeilikheid wat op ’n bakleiery kan uitloop. En dan iets absoluut esoteries soos ‘minnekoos’. Dit is om liefde te betoon deur aanraking byvoorbeeld deur te streel, vas te hou, te omhels en te soen.”

Hy noem ook "sturvy" wat verwys na iemand met ’n hoë dunk van hom- of haarself, veral in vergelyking met andere. ’n Voorbeeld van hoe dié woord gebruik word, kom uit Chase Rhys se Kinnes: “Nicole was altyd daa, but innie backround, sy was nooit saam ôs oppie playground ie. Ek het altyd gedink, naai sy’s sturvy, wan sy’t nooit gepraatie.”

‘Baie bekommerd’

Botha in die personeelkamer van die WAT by sketse wat F.J. Snijman, een van die vorige hoofredakteurs van die WAT, gemaak het terwyl hy vasgekeer was in Nederland, waar hy studeer het, toe die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het. Foto: Jaco Marais

Wat die posisie van Afrikaans aan universiteite betref, sê Botha: “Dit ís jammer dat die voorstelle van die Gerwel-kommissie dat daar ter wille van die sprekers minstens een Afrikaansmedium-universiteit in die Wes-Kaap moet wees; dat dáárdie ideaal besig is om te versand.”

Die gesprek keer terug na die toekoms van Afrikaans.

“Daar is groot kommer in baie kringe oor Afrikaans. Ons het eintlik baie goed presteer om só lank langs Engels onsself te handhaaf, want in ander taalomgewings het Engels dikwels die ander tale verdring.

So ek troos my daaraan dat Afrikaans ten spyte van baie verliese áltyd sal voortleef – altyd gepraat en geskryf sal word.

“Ons het rêrig onsself goed laat geld, maar weens ons politieke verlede gaan dit nou swaar. Maar ek kyk na die swart tale in Suid-Afrika – hulle het [anders as Afrikaans] báie min geleentheid gehad oor baie jare om hulself op te hef, maar hulle het nié ondergegaan nie.

“Hulle word nog steeds gepraat; hulle word nog steeds geskryf; hulle het ’n letterkunde. Hulle het nóóit amptelike taalstatus gehad nie en hulle het dít oorleef.

“So ek troos my daaraan dat Afrikaans ten spyte van baie verliese áltyd sal voortleef – altyd gepraat en geskryf sal word. Ek is wél baie bekommerd oor die verlies aan hoë funksie. Dit is ’n gróót jammerte. Daar is baie hard gewerk en Afrikaans is binne ’n kort tyd – binne vyf dekades – ontwikkel tot ’n wetenskapstaal, ’n taal wat sigself in énige vakgebied kan laat geld. Daar is net vier moderne tale aan wie daardie eer toekom.

“Dit sal bítter jammer wees as ons hierdie hoë funksies totaal verloor ná al die energie, geld en tyd wat daaraan gewy is om Afrikaans te ontwikkel.”

• Besoek www.wat.co.za vir nader besonderhede oor die WAT en hoe om ’n woord te borg of te koop.

Meer oor:  Willem Botha  |  Afrikaans  |  Engels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.