Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Wysaard Wilhelm Jordaan: 'Ek glo in krag en heling'

Prof. Wilhelm Jordaan skryf vanjaar al 30 jaar onafgebroke sy gewilde rubriek op Woensdae vir Beeld. Johannes Froneman het met hom gesels.

Prof. Wilhelm Jordaan werk op 74 steeds met honneurs- en magisterstudente in die sielkunde aan die Universiteit van Pretoria. Foto’s: Lisa Hnatowicz

‘Jy is die mees beginsellose mens wat ek ken,” sê ’n vriendin by geleentheid vir Wilhelm Jordaan. Moeilik om te glo as jy sy rubrieke in Beeld lees. Soekend dalk, maar beginselloos? Hoe kan mens oor drie dekades heen iets te sê hê as jy soos ’n bootjie in die see ronddobber?

Die skewe opmerking het dalk bedoel om te sê: Jy is onvoorspelbaar. Of dalk het dit bloot verwys na sy bevraagtekening van geykte waarhede. Hoe ook al, Wilhelm het hom aanvanklik effe ontstel, maar gou besef hy kan met die onderliggende kompliment saamleef. Ook hier waar hy die storie jare later aan my sit en vertel, gee hy toe hy het nie oor alles en nog wat ’n vaste standpunt nie. Ook nie oor God nie.

Hierdie soekende dimensie van sy menswees beteken hy verkwansel nie goedkoop resepte aan sy lesers nie. Dit was nog altyd – nou reeds vir drie dekades – sy benadering as rubriekskrywer. En toe daar gepraat is in die rigting van ’n vraag-en-antwoord-rubriek, het hy gou gekeer. Dis nie sy ding om stellige raad uit te deel nie.

Toe hy destyds, in 1987, deur Willie Kühn gevra is om vir Beeld te begin skryf, het hy die sielkunde as kennisbron gebruik. Dit was immers sy vak, die terrein wat hy aan Unisa gedoseer het. Maar uit die staanspoor was sy aanslag nie “akademies” nie. Dit was ook redakteur Willem Wepener se uitdruklike voorwaarde. Hy moes selfs ’n proefrubriek skryf om die knorrige redakteur met ’n gesonde afkeer van hoogdrawendheid te oortuig dat dit leesbaar sal wees. Dit was oor Humpty Dumpty wat parmantig aan Alice (in Wonderland) gesê het: “Ek sal ’n woord laat beteken wat ek hom wil laat beteken.”

Dalk het Wepener nie besef dat Wilhelm darem in die joernalistieke praktyk geskool was nie. En dat hy allermins ’n beterweterige professor was.

n Ongeluk en ’n skaapkop

Reeds sedert 1961 het Wilhelm, boorling van Bloemfontein en student aan Kovsies, vakansies in Volksblad se redaksie as leerlingverslaggewer deurgebring. Later het hy heeltyds vir die koerant gewerk, tot 1968, toe hy besef het sy heil lê elders.

Een weergawe wat as rede vir sy weggaan oorvertel is, is dat hy ’n vliegtuigongeluk té grafies beskryf het en dat dit hom hewig ontstel het. Maar die eintlike rede was dat hy nie juis belang gestel het in die politiek wat in daardie jare deur die koerant bedryf is nie. En sonder ’n entoesiasme daarvoor, het geen joernalis ’n toekoms by die Afrikaanse koerante van destyds gehad nie.

Hy kon wel voortgaan om stoepstories te skryf, daardie kleurvolle berigte wat koerante graag onderaan die voorblad gebruik en waarin Wilhelm heel bedrewe was. Maar dit sou jou nie ver bring nie.

Een so ’n storie het toe nié die koerant gehaal nie, is jare later wel deur Wilhelm oorvertel. Die aangewese staatspresident Jim Fouché was laat vir hul afspraak en het verskoning gemaak: “Jammer ek is laat, maar ek moes eers my skaapkop in die studeerkamer opeet. My vrou wil mos nie hê ek moet dit hier by die blink tafels met my knipmes sit en eet nie,” verduidelik Fouché.

Die jonge Wilhelm vra uit: Waar die skaapkop vandaan kom en so meer. Hy gaan terug kantoor toe en skryf sy storie. Maar Bart Zaaiman, die redakteur, vind die storie nie bruikbaar nie. “Dit pas nie by die statuur van die amp nie,” was sy oordeel.

Die lewe is nie ’n gek, betreurenswaardige eksperiment nie, maar ’n verborge geskenk.

Lewe ’n verborge geskenk

En so beland Wilhelm ná verdere studie as dosent by Unisa, waar hy gebly het tot met sy effe voortydige aftrede op 60. Hy verduidelik dat die sielkunde ’n “fantastiese vak” is, maar dat daar soms ’n beheptheid met patologie is, dus wat “verkeerd” is. Dit fokus te eng op die individu. Dáárin het hy ’n “onbehaaglikheid” ontwikkel, sover terug as 1987 toe hy met die rubriekskrywery begin het.

Foto:

“Ek glo vas die krag vir heling en genesing lê in die mens. Mense moet hul eie krag ontdek om ’n ander lewe te lei,” verduidelik hy. In ’n rubriek waarsku hy só teen resepte vir geluk:

“Dit is inderdaad waar dat positiewe denke jou kan help om suksesvol te wees,” sê hy, maar maan teen ’n oorvereenvoudiging. Die “trekpleisterwet”, dit wil sê die idee dat jy al die goeie en slegte in jou lewe na jouself aangetrek het, is eintlik “gif vir die gees”.

Wilhelm onderskryf liewer die gedagte dat ons voluit mens moet wees en lewensin vind “binne die raamwerk van jou menslike mondering – wat ook insluit al die ongelukkigheid, pyn, lyding, seerkry en teleurstelling wat oor jou pad kom.

Jy moet snap dat die lewe “nie ’n gek, betreurenswaardige eksperiment volgens die een of ander wet is nie, maar ’n verborge geskenk wat jy met

Foto:

ander deel en wat jou lewe verryk.

“Hierin is daar nie sprake van ’n geheim wat iemand eksklusief ontdek het en dan ruimhartig teen ’n wins verkoop nie.

“Trouens, die idee van ’n verhandelbare bemarkbare geheim tas die wese van ’n geheim aan, naamlik dat dit iets is wat inherent verborge is,” formuleer hy sy standpunt.

Nie lank ná sy “aftrede” nie vra die destydse RAU hom om ’n nagraadse kursus aan te bied oor navorsingsparadigmas in die menswetenskappe en daarna volg ’n geleentheid by die Universiteit van Pretoria om daarmee voort te gaan. Nou kon hy dinge aanbied waarvoor hy nooit die geleentheid by Unisa gehad het nie.

Foto:

Selfverstaan lei tot genesing

Hier werk hy, op 74-jarige ouderdom, steeds op sy manier met honneurs- en magisterstudente in die sielkunde. Reeds in 2004 het Tukkies sy verbintenis met hulle met ’n buitegewone professoraat bevestig.

Hy verduidelik hoe hy uit die staanspoor vir die studente sê dat daar ’n informele sielkunde is, ’n “volksielkunde”. Dit is mense se eie verstaan van hulself. En dit is net so belangrik as ’n wetenskaplike verstaan van mense.

“Die selfverstaan is die basis van hul genesing. Ek wil studente dit laat verstaan. Letterkundige werke, musiek en rolprente help ons daarin,” verduidelik Wilhelm.

“Dit werk eenvoudig fantasties. Dis asof die studente iets sien wat hulle nog nooit gesien het nie.”

Uit die staanspoor sou hy op vier dinge in sy rubrieke fokus: mense se verhouding met hulself, met ander, met die gemeenskap en met die Groot Misterie. Om inhoud aan hierdie voortgaande gesprek te gee, het hy deur die jare gedagtes uit veral die teologie, filosofie en letterkunde (sy “aanverwante belangstellings”) ingewerk.

Sy rubrieke is ook meer as een keer gebundel, onder meer in 2011 onder die titel Spitstyd. Daarin word uitgesoekte rubrieke in vier afdelings ingedeel, soos hy dit uit die staanspoor bedink het.

Onderliggend aan sy denke is ’n stewige invloed van NP van Wyk Louw. Louw se standpunt oor wat ’n intellektueel is, is op Wilhelm se drukker geplak: “Intellektuele is nie noodwendig geleerde mense nie, maar mense wat bereid is om redelik te dink oor moeilike, belangrike lewenskwessies; mense wat billik oordeel oor ander; aarselend veroordeel; en bietjie meer selfkritiek op jou eie mening toepas,” parafraseer Wilhelm dit.

“As jy dit doen, dwing jy jouself om te vra: ‘Is ek billik’. Jy kyk na die growwe kante van jou argument. Dit dwing jou om breër te kyk. Die filosoof Thomas Nagel noem dit ’n ‘view from nowhere’. Dis vir my ’n kosbare begrip. Dit beteken nie ‘van nêrens’ nie. Maar jy neem nie onmiddellik ’n vaste standpunt in nie.”

Hierdie ruimheid bevorder hy in die rubrieke wat deur die jare verskeie kere van lengte en plek in die koerante verander het.

Ek glo vas die krag vir heling en genesing lê in die mens. Mense moet hul eie krag ontdek om ’n ander lewe te lei.

Telkens vra dit nogal ’n aanpassing, sê Wilhelm. Maar hy het nog nooit geworstel met idees nie. “As ek net die eerste paragraaf reg het, kan ek maar aangaan.”

Die mistiek van vaderskap

Dit help ook om ’n goeie geheue te hê. Aanhalings uit die letterkunde verryk sy rubrieke soomloos.

So ook die persoonlike herinneringe wat soms kleur gee aan ’n dieper gedagte.

Hy skryf byvoorbeeld nostalgies oor handskrifte, oor sy pa se brief in “ferm, vloeiende hand” aan hom (“My liewe seun, ek glo jy sal jou geloof behou”), sy vrou se mooi handskrif, “soos biddende nonnetjies vooroor gebuig teen die wind”, en die afwagting wat met destydse slakkepos gepaard gegaan het.

Hy herinner hom ook aan sy handskrif as kind waaraan die juffrou gemeen het iets gedoen moet word. Toe skryf sy hom in vir ’n koerantkompetisie en hy oefen die voorgeskrewe Psalm 23 oor en oor – so goed dat hy ’n prys wen. En die psalm van hom “besit geneem” het.

So vertel hy ook hoe hy sy toekomstige vrou, Jackie, destyds na ’n teater saamgeneem het om na ’n drie uur lange rolprent oor die Sokkerwêreldbeker van 1970 te kyk. “Ek had ’n passie om te gaan kyk en net so ’n brandende passie om die vrou wat ek liefgekry het dáár aan my sy te hê – doelgerig as ‘t ware.”

Jackie het Wilhelm se entoesiasme vir die sokker – ook sy bewondering vir die estetika daarvan! – met grasie verduur. En toe hulle veertig jaar later, in 2010, saam Wêreldbekersokker kyk, het hulle vir ’n oomblik teruggedink aan daardie effe vreemde date van 1970.

Jackie was ’n weduwee met twee kinders toe hulle by Unisa se departement sielkunde ontmoet het en saam begin werk het. Hulle is (met die departementshoof se stille goedkeuring) getroud en het saam nog twee kinders gekry, dus vier altesame.

“Maar jy is darem trots op jou seun Willem se redakteurskap by Die Burger,” vra ek onskuldig. “Ja,” antwoord hy dadelik. “Maar ook op my ánder drie kinders.” Saam het hy en Jackie ook agt kleinkinders.

Hulle lê hom almal baie na aan die hart. Hy dink na daaroor, skryf daaroor. Soos in die rubriek “Die baie bote wat ’n pa is”. Die mistiek van vaderskap verwoord hy as volg:

As ek eendag in die hemel

kom

sal God die Vader

nie omgee nie

as ek my pa eerste groet

soos altyd

met ’n “Hei, Mister!”

want God weet

ek het ook na hom verlang:

Pa se boet.

Hy skryf meermale oor geloof. Hy praat ook gemaklik daaroor. Maar geykte beelde laat hom baie vrae vra. Wanneer hy dan op ’n begrafnis “Wat ’n vriend het ons in Jesus” hoor, sê hy “ja”, maar dalk op ander voorwaardes.

Altyd deurdag, ironies en soms melancholies. Maar nooit swaarmoedig nie. Dit is Wilhelm: denker, woordkunstenaar, intellektueel en bo alles mens.

  • Prof. Froneman is verbonde aan die Noordwes-Universiteit.
Meer oor:  Rubriek  |  Beeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.