Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Solank die Sonn nog skyn . . .

Die onderwysman, strugglepersoonlikheid, oudambassadeur en sakeleier dr. Franklin Sonn  het Vrydag sy 80ste verjaardag gevier.  Heindrich Wyngaard skryf oor sy plek  in die galery van Afrikaanse ikone.

Franklin Sonn. “Hy kon harde waarhede oor apartheid oordra op ’n manier wat mense laat bloos het.” Foto: Lerato Maduna

’n Mens word nie net een oggend wakker en bevind jouself skielik in hierdie posisie waar jy een van die laaste oorlewendes is van ’n indrukwekkende generasie van verskilmakers nie. Franklin Sonn se tydgenote het hom een ná die ander ontval: Neville Alexander (75) in Augustus 2012, Jakes Gerwel (66) in November van dieselfde jaar, Adam Small (79) in Junie 2016, Richard van der Ross (96) in Desember 2017.

Nou sit hy hier in die voorkamer van sy gerieflike huis in die Kaap se noordelike voorstede en onthou Alexander as iemand met “radikale wanopvattings oor nierassigheid”, Gerwel as “denkende mens”, Small wat “waardigheid aan bruin mense se taal verleen het” en Van der Ross wat “gewéét (het) wat hy glo”.

Hy lag as hy oor sy eie vergetelheid gevra word, betrek sy vrou: “Hoor hier, Joan, wat vra hy my: Dink ek aan doodgaan?”

Hulle is nie bang vir die dood nie, sê hy ook namens haar; hulle het gedoen wat hulle kon.

Maar sonder om sy eie bydrae te oorskat, sy eie beuel te blaas, betreur hy “die tragedie van ons as bruin gemeenskap dat ons baie min geskiedenis agtergelaat het”; dat talle niks opgelewer het wat vandag as ’n prestasie opgeteken kan word en waarvandaan ons nou verder kan gaan nie.

Die kerke het oor die jare wel ’n rol gespeel en in die vroeër jare ook tot ’n mate die skole.

Hy was vasbeslote om aan te hou dínk en aan te hou dóén.

“Maar die skole het toe onder die wurggreep van Verwoerdiaanse apartheid gekom,” voeg hy by, “wat geen inisiatief of geen onafhanklike optrede gedoog het nie.”

Van sy vroegste gewaarwordinge oor die onregte van die verlede was toe hy ’n jong onderwyser in die 1960’s was. ’n Kollega, Andrew de Laura, is sonder meer geskors omdat hy as geskiedenisonderwyser ’n weergawe van die Republiekfeesvieringe aan sy leerlinge voorgehou het wat die veiligheidspolisie se ore bereik het. Hy onthou die angs op sy gesig, die sweet, toe hy dit durf waag het om hom tuis te besoek. Wat die gemeenskap betref het, moes hy vermy word: ’n Donker kleed het oor hom gehang.

En dan was daar die dag toe hy die stelsel aan eie lyf gevoel het, ’n ervaring wat (in Small se woorde) “pynlik soos ’n rasper” oor sy gevoelens geskraap het.

’n Onderwysinspekteur van Kleurlingsake het by die skool besoek kom aflê en onderwysers se beplanningsboeke moes baie spesifiek volgens die inspekteur se vasgestelde voorskrifte voorberei word. Hoe hy dit wou hê, het egter nie vir Sonn sin gehad nie. Noukeurig en met groot sorg het hy dit toe op sy eie wyse aangepas en heel in sy skik gevoel met die eindresultaat, maar die inspekteur het niks daarvan gehou nie.

“Maar meneer,” het hy probeer verduidelik, “ek het nou gedink . . .”

Die inspekteur se skerp tong het hom in sy spore gestuit: “Hoor hierso,” het hy gebulder, “ék dink – jy dóén!” Agterna het die jong onderwyser hom na die toilet gehaas; die vernedering het die trane teen sy wange laat afrol. Maar nadat hy sy trane afgevee het, was hy vasbeslote om aan te hou dínk en aan te hou dóén.

Hy sou begin om onderwysers te mobiliseer – en dis in hierdie rol, bepaald as leier van die Kaaplandse Professionele Onderwysersunie (KPO), waar hy sy grootste impak gemaak het tot die onderwys en tot die stryd teen ongeregtigheid.

“Hierdeur het Franklin Sonn sy karakter gevestig om te midde van kritiek duidelike leierskap te toon,” sê dr. Danny Titus, uitvoerende direkteur van korporatiewe aangeleenthede by die ATKV.

Een van die mees gerespekteerde nasionale figure in die land.

Die letterkundige prof. Hein Willemse van die Universiteit van Pretoria meen dat Sonn homself duidelik geposisioneer het “as ’n pragmatiese, gematigde, liberale leier wat gewillig was tot dialoog met die regering”; dat hy hom op dié wyse van ander se “politiek van weiering” onderskei het.

Vanuit hierdie magsbasis het hy oor die “professionalisering” van die onderwysberoep onderhandel, oor die opleiding en vergoeding van onderwysers. Sy rektorskap van die destydse Skiereilandse Technikon (Pentech, nou KSUT), nadat hy onder meer hoof was by Spes Bona, het Sonn “op die voorpunt van die studenteopstande en studentepolitiek” gebring, sê Willemse, “en ook uiteindelik in die streeks- en nasionale politiek”.

Foto’s uit daai tydperk wys waar hy ’n optog saam met Gerwel en aartsbiskop Desmond Tutu lei, tromp-op geloop deur die polisie, byna bors teen bors staan hulle daar. Hy het stabiliteit op die Pentech-kampus verseker deurdat hy “die knocks gevat het” en “die leed van my mense teenoor die koning verwoord het”.

Oor hoe hy dit gedoen het, skryf prof. Hermann Giliomee in sy outobiografie Historikus (Tafelberg, 2016): “Franklin Sonn, met sy unieke mengsel van selfspot en hekel, kon harde waarhede oor apartheid oordra op ’n manier wat mense laat bloos het.”

Dit het veel te make gehad met die les wat hy by sy ma geleer het. “Fight the sin,” was haar wyse woorde, “and love the sinner.”

Oudpres. Nelson Mandela het dit raakgesien. Briewe wat hy vanaf Robbeneiland aan Sonn geskryf het, getuig daarvan. “Wat Madiba in my ontdek het,” sê hy nou, “is ek deel sy fight in my hart, maar as dit alles verby is, moet ons saamleef.” En hy klink steeds uit die veld geslaan oor sy eerste kennismaking – as deel van die Mandela-verwelkomingskomitee – met die “lang, skraal man” met die “groot hande”.

In 1994 het Mandela op grond van sy gewildheid aangedring dat Sonn die ANC se verkiesingsveldtog in die Wes-Kaap lei, selfs al was dr. Allan Boesak die premierskandidaat. In 1995 het hy hom as Suid-Afrika se eerste ná-apartheidsambassadeur na Amerika gestuur, waar hy nie bloot as ’n verteenwoordiger van sy geboorteland verwelkom is nie, maar as ’n “Madiba in Washington” beskou is.

Die nasionale Orde van Ikhamanga (silwer, 2008) is aan hom toegeken vir sy uitnemende bydrae tot onderrig en die verwesenliking van ’n regverdige bestel. “Nieteenstaande die versmorende atmosfeer van apartheidsverdrukking,” lees die sitaat, het Sonn ontpop “as een van die mees gerespekteerde nasionale figure in die land” – hy, gebore in Vosburg in die Karoo, die seun van die gesiene opvoeder uncle Pat en die “modelvrou” aunty Mag.

Terwyl hy hoop dat hy ’n “duplikaat” van sy ouers is, het hy en sy vrou van 53 jaar, Joan – “ ’n simbool van vrede en waardigheid” – hul eie kinders in ooreenstemming met die Christelike geloof en waardes grootgemaak.

En hier, kort voor sy 80ste verjaardag, draai hy nie doekies om oor twee hartsake nie: “Ek is baie lief vir die bruin mense”, sê hy trots. En in dieselfde trant: “My hart pomp in Afrikaans. En as ek met die antie in Hanover Park (op die Kaapse Vlakte) in haar taal praat, dan voel ek die vervreemding en verwerping aan in haar stem.”

Nou, te midde van sy eie naderende einde van deelname en waarneming, wag hy op die aankoms van ’n leiers­figuur uit eie gemeenskap, “wat dapper en nie op ’n afskrikkende manier nie” kan opstaan . . . voordat die son vir hom ondergaan.

*Heindrich Wyngaard is ’n sosiopolitieke kommentator en TV-aanbieder.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.