Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Soli Philander: ‘Ouma, bid vir my!’

Soli Philander, wat hom onlangs in ’n “stink” polisiesel bevind het, se ouma het aan hom gesê die wêreld behoort aan hom. Maar hy voel deesdae “’n bietjie soos ’n lappop wat geskeur het met die semels wat uitloop”, sê hy aan Murray La Vita.

Soli Philander tydens ’n onderhoud Dinsdag in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Hy staan nie vanoggend hier as Soli Philander, “darling van South Africa en ikoon van dit en dat nie”.

“Ek staan hier as Soli Philander, visible member of this community. Visible member! As Soli Philander nie gearresteer was nie, wát sou jy hiervan geweet het? En daarom vreet ek maar die feit dat ek by ’n klomp stairs afgedonner het en in ’n sel moes gaan sit het; in ’n stínk sel.”

Die Soli wat ons vanoggend hier in ’n koffiewinkel in die Kaapstadse voorstad Woodstock ontmoet, is inderdaad ver verwyderd van die glanswêreld waarin hy beweeg het as bekroonde akteur, komediant, skrywer en radio- en televisiepersoonlikheid.

Hierdie gemeenskap is die afgelope vyf jaar deur die law gelóói, gesláán . . .

Soos hy hier sit in sy grys jas, styfpassende jeans en blinkswart stewels, is hy diep beswaard. Terwyl hy praat beduie hy met sy hande en slaan sy groot oë op.

In ’n stadium begin die skraal Peter Pan-agtige figuur, wat op 59 die pa van vier volwasse kinders is, maar steeds ’n kinderlike uitstraling het, bitterlik huil en snik.

“Hierdie gemeenskap is die afgelope vyf jaar deur die law gelóói, gesláán . . . Die law staan deur hul neutraliteit in opposisie teen hierdie gemeenskap.”

’n Mens hoor die stem van Adam Small wanneer Soli die woorde “die law” gebruik.

Springfield Terrace

Die gemeenskap waarna hy verwys, is Springfield Terrace, deel van die ou Zonnebloem en tussen Distrik Ses en Woodstock. Hy woon die afgelope paar jaar daar.

“Hy lê tussen Nelsonstraat, Russelstraat, Roger en Nelson Mandela. Daai geboue wat daar staan; daai blokke flatse wat nou Springfield Terrace is, en ’n paar huisies, was altyd Springfield Terrace oorspronklik, maar hy het nie só gelyk nie; hy was huisies – die Distrik Ses-huisies.

“Om een of ander rede, toe hulle die mense skuif uit Distrik Ses uit, toe dog hulle Distrik Ses eindig by Russelstraat. En hierdie stuk van Russelstraat tot by Searlestraat [hy beduie na regs] . . . Daar staan oorspronklike huisies.

Soli Philander voor die omstrede Marion-instituut. Foto: Jaco Marais

“Toe hulle in die seventies besef: ‘Maar my liewe magtig! We missed a bit!’ Toe kom hulle terug na daai bit toe en hulle dink: ‘Ons plan was om hierdie plek weg te moer want dit is slums, so ons gaan nou vir julle sê: Verkoop nou julle huisies aan ons, want julle moet mos eintlik donners hier weg wees, en dan bou ons vir julle hierdie blokke en dan het julle eerste opsie om van die huise terug te kry teen ’n nominale bedrag nadat julle ons toegelaat het om dit te vermooi hierso.’”

’n Stukkie Distrik Ses

Hy verwys na hulle as die “swop [ruil] mense”.

“Dit het alles so gebeur dat . . . Rêrig, jy kon grootword in hierdie Kaap en nie weet daar sit ’n oorspronklike stukkie van Distrik Ses net daar nie.

“Daardie community het toe geflourish. Die mense was so ’n tight-knit unit.” Hy strengel sy vingers ineen. “Hulle het sporting goed gehou! Hulle het support goed vir ou mense gehad. Dit was ’n community!

As ons nie nóú iets doen nie gaan hy inmekaar val.

“En die hele gemeenskap was gesentreer rondom die Marion Institute, wat ’n 100 jaar gelede deur Anglikaanse nonne geskenk was aan bruin vroue en hulle kinders in nood.

“En so ses, sewe jaar terug kom sekere mense daar in en van dag één af, dág één, baklei hierdie gemeenskap onder mekaar. Dit is mense wat mekaar nie kan verdra nie.”

Die gemeenskap se etiek is besig om “heen te gaan”.

“’n Óu etiek met die Marion wat die hartklop was van dáái etiek begin nou te vou . . . Niks gebeur meer nie; daar’s ’n bakleiery aan wie dit behoort . . . Dit word al erger en erger tot vandag . . . Jy moet gaan kyk hoe lyk daai plek . . . Dit gáán inmekaar val! As ons nie nóú iets doen nie gaan hy inmekaar val.”

‘Hierdie gemeenskap is die afgelope vyf jaar deur die law gelóói, gesláán. Foto: Jaco Marais

‘Onderonsie met ’n man’

Die Marion-instituut is in ’n aantreklike dog gehawende ou gebou. Met ons besoek daaraan Dinsdag was dit ’n lieflike, sonnige en wolklose Kaapse dag en was Tafelberg in al haar skoonheid agter die gebou uitgestrek.

Die deure en vensters was gesluit. Op die sypaadjie het twee mans gesit en eet aan brood en sop van ’n skuiling vir haweloses oorkant die pad. ’n Entjie van hulle af was ’n man sonder bene in ’n rolstoel.

Pogings om Peter Agulhas, besturende direkteur van die Marion-instituut, telefonies te bereik was onsuksesvol omdat die sentrum se telefoon klaarblyklik buite werking is.

Soli is Saterdag in hegtenis geneem weens beweerde aanranding en die oortreding van ’n beskermingsbevel teen hom ná ’n onderonsie met ’n man wat in die Marion-instituut woon. Hy is die middag op waarskuwing vrygelaat en het Maandag in die hof verskyn waar sy saak tot 4 September uitgestel is.

Gelukkige kinderdae

Soli, wat homself as woordvoerder van die buurt se kinders beskryf, het vroeër gesê hy wou die owerhede se aandag vestig op ’n weerlose meisie se omstandighede en ook dat ’n man die gemeenskap toegang tot dié sentrum weier.

Hy weier glo ook dat hulle van die sentrum gebruik maak om kos te kook wat aan behoeftige mense uitgedeel kan word.

‘Ek wil net hê elke kind moet net één mens hê wat so lief is vir hulle soos my ouma vir my was.’ Foto: Jaco Marais

Soli sê sy kinderdae was gelukkiger as dié van die meeste kinders in Suid-Afrika.

“Al het ek by my ouma grootgeword en nie my pa geken nie. My ouma het in ander mense se huise gewerk en ons het in gangstér-rídden Elsiesrivier gebly; daar waar mense baklei het en mekaar vermoor het. Ek het nie regte gehad nie.

“But shít I was happy! Shít, I was loved! En dis my punt . . . I was prepared to listen to everything . . . I was prepared to adjust – om mooi te maak en reg te sê, om dit só te present dat dit sin maak . . . ál hierdie goed; and it didn’t work . . . it didn’t work! So, I’m done with it.”

‘Wat moet gebeur’

Hy wil nie hê die onderhoud moet op hom fokus nie.

Jy’s ánders . . . Anders as die ander kinders. Jy sien anderse goed.

“Dit moet gaan oor wat in hierdie gemeenskap aan die gebeur is en ék as ’n weerspieëling van dié gemeenskap. Wat by die Marion moet gebeur, is strukture moet geskep word; die geboue moet reggemaak word; en die wyses waarop daar met die gemeenskap en met borge omgegaan word, moet nou in plek gestel word. En ons is nog nie eens daar nie. Ons is by die plek waar ons sê: Kan die gemeenskap sy centre terugkry? Gee vir ons wat aan ons behoort!

“Toe ek daar in die sel sit in Caledon Square toe onthou ek ek het gesit in ’n sinkhokkie in Elsiesrivier en my ouma Anne het vir my gesê: ‘Jy’s ánders . . . Anders as die ander kinders. Jy sien anderse goed. Jy praat anders. Die mense gaan dit baie nie sien nie, maar dóén wat jy doen! Dis oukei!’

“Sy was tevrede met wie ek was en sy’t vir my gesê: ‘Die wêreld behoort aan jou!’ ’n Ou vroutjie in donnerse Elsiesrivier: ‘Die wêreld behoort aan jou. En jý kan doen nét wát jý droom!’

In ’n hokkie

“Nou sê jy nou vir my . . . daar’s ’n ou tannie wat nie ’n dag skool toe gegaan het nie; wat uit Barrydale uit gehardloop het Kaap toe; wat in toilets kom slaap het hierso op die Kaapse stasie; wat geëindig het in ’n hokkie in Elsiesrivier, het vir my laat glo . . . Dit was ’n óú antie wat nie kon lees of skryf nie wat vir my gesê het . . . Sy het dit nie net gesê nie; sy het my laat gló . . .

“Ek wil net hê elke kind moet net één mens hê wat so lief is vir hulle soos my ouma vir my was.”

‘Daar is vir my niks lekker aan wat my kinders moet face nie!’ Foto: Jaco Marais

Hy het sy ouma soms gebel en gevra sy moet vir hom bid.

“Ja, ek het vir haar gesê: ‘Bíd vir my! Bíd vir my, want dís wat ek hier wil doen.’ Dan sê sy: ‘My kind, jy weet tog . . .’ Dan gaan doen ek dit en dan hoop ek net wat hiér in my geplaas is, sal uiting kry en mý rigting aandui.”

Belhar en Afrikaners

Soli daag mense uit om hom te beoordeel op grond van die werk wat hy in sy lewe gedoen het.

“My heel eerste stuk Heppie Hawker met die karakter DC Diamond was oor Belhar . . . Die flatse in Belhar, wat op een punt die kern van geweld en misdaad en wat verkeerd is met ’n gemeenskap was.

Hy het onder apartheid “die diepste vriendskappe” met Afrikaners gemaak.

“Ek het daar ingestap en toe skryf ek oor wat diep en meaningful en lekker ook van dit was. En oor why we couldn’t just gooi Belhar into hell, close the door and leave it there!”

Hy sê hy het onder apartheid “die diepste vriendskappe” met Afrikaners gemaak.

“Ek skuld hulle. Ek skuld die etiek binne in hulle wat gesê het: ‘Philander . . . Ek sien vir jou en nou sien jy vir my.’ En só was ons vriendskappe ever since.

“Die eerste ding wat ek op televisie gedoen het, as Soli Philander, nie as ’n karakter nie, was ’n Afrikaanse taalprogram op nasionale televisie waar ek met kinders gepraat het.

“In daai konteks moes ek argumente backstage hê oor sê ons ‘ak’ of sê ons ‘ek’ [soos Kapenaars dit uitspreek]. Nou, jy kan in Pretoria ‘ak’ tot dit deur jou gat val, maar die dag as ék sê ‘ak’ kan ek nie meer hier in die Kaap loop nie! Dít is mos nou net my lewe! Ek het mos nou nie ’n keuse oor sulke goed nie!

“Die program was Ons sê almal só. Dit was ’n eerste vir my. Ek is bruin en ek sit op nasionale televisie en ek vra nie verskoning daarvoor nie, en ek praat met kinders oor hoe ’n mens Afrikaans praat.

“Die produk was ’n resultaat van almal se samewerking. En binne daai konteks moes hulle my vertrou. Ons was besig met iets wat nog nie voorheen gedoen is nie.

“Almal se harte was daarin. Daar was nie ’n oomblik wat ek gevoel het: ‘O, hel! Ek is nou bruin tussen dié klomp wit mense nie.

Soli Philander Maandag buite die landdroshof in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

“So, daardie werk van my spreek baie oor wie ek is en hoe ek voel. Kyk na Liriekeraai . . . Herman [Binge, regisseur en vervaardiger] het vir my gesê: ‘Soli, kýk na jou land. Kyk hoe lýk ons. Kyk ons mense wat voel asof hulle nie in hulle eie taal kan voel dat hulle êrens behoort nie; dat hulle deel is van iets nie. Nou vra ek vir jou, Soli Philander: Make it okay! Make it okay dat ons net kan saam kuier en lekker saam kan verkeer en lekker kan wees!’

“And everybody got onto that plak. And that is what we did. Jy kan sê van Liriekeraai wat jy wíl . . . Building community? Gaan kyk vir Liriekeraai.”

‘Gaan jy dit oorleef?’

Sy hart is “in stukke vir mense wat op plase in vrees lewe . . . in vrees . . . dít is hul lewe. Hulle weet nie of hulle as hulle vanaand gaan slaap aangeval gaan word en as jy aangeval word . . . Die wreedheid van die aanval . . . Hoe erg gaan dit wees? Gaan jy dit oorleef?

“Besef jy dat ek níks daaroor mag sê nie? Want die oomblik as ek iets daaroor wíl sê, dan moet ek gesê word: ‘Wát bedoel jy?’ Want as ek dit nie só stel nie, dan sê ek nou ander goed. Ék kan nie omgee vir my mede-Suid-Afrikaners nie, want wat wil ek sê?”

Daar is vir my niks lekker aan wat my kinders moet face nie!

Hy beduie na agter hom in die rigting van Springfield Terrace en die Marion-instituut, en só besef ons dat wat hy volgende sê nie meer betrekking het op die slagoffers van plaasaanvalle nie, maar wel weer gaan oor die situasie in sy buurt.

Dan beduie hy in die rigting van Springdield Terrace en begin huil.

“Daar is vir my niks lekker aan wat my kinders moet face nie! En ek kan nie rus nie . . . Ek kán nie! Ek sou graag wou, maar ek kán nie.”

Meer oor:  Murray La Vita  |  Soli Philander  |  Arrestasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.