Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Spelers werk nie meer hard genoeg’

Hedendaagse Suid-Afrikaanse sportspanne vaar nie goed nie omdat spelers nie meer so passievol is en bereid is om so hard vir welslae te werk as in sy speeldae nie, het die voormalige Bafana-kaptein Neil Tovey aan Gert van der Westhuizen gesê.

Neil Tovey met die Afrikabeker nadat Bafana Tunisië in die eindstryd van 1996 geklop het. Links op die foto is FW de Klerk, destyds ’n adjunkpresident, en regs Nelson Mandela, die voormalige president van Suid-Afrika. Foto: Gallo Images

Dit is een van daardie spesiale onthou-oomblikke van Suid-Afrikaanse sport: Neil Tovey, kaptein van Bafana Bafana, in ’n Tunisiese sokkertrui wat die reuse Afrikabeker op 3 Februarie 1996 omhoog hou met ’n glimlaggende pres. Nelson Mandela, uitgevat in ’n Bafana-trui, neffens hom.

Oudpres. FW de Klerk, een van Mandela se destydse adjunk-presidente, was ook op die podium om te wys hoeveel ’n eindstryd-sege oor Tunisië vir die twee jaar oue nuwe Suid-Afrika, versoening en nasiebou beteken het.

Baie Suid-Afrikaners onthou dié dag nog goed. Daarvan getuig die wense van beterskap wat 20 jaar later ingestroom het toe Tovey ná ’n ernstige hartaanval in die hospitaal was. Winnie Madikizela-Mandela, die voormalige president se gewese vrou, het ’n bos blomme gestuur om te laat weet dat sy óók aan Tovey dink.

Die nuwe millenniërs dink alles moet vir hulle gedoen word, dit sluit sportlui en sokkerspelers in.

Die jare negentig was die spreekwoordelike goue era vir Suid-Afrikaanse spansport met die Springbokke wat die Wêreldbeker in 1995 gewen het en die Proteas skynbaar onstuitbaar op die krieketveld.

Die sege in die Afrikabeker-toernooi van 1996, die eerste waaraan Suid-Afrika deelgeneem het, was nie Tovey se Bafana-span se enigste prestasie nie. Bafana kon saamgesels met die reuse van die sokkerwêreld soos Brasilië, Argentinië, Duitsland en Engeland. Bafana is in ’n stadium as die 16de beste sokkerspan in die wêreld beskou en het in 1998 die eerste keer vir die Wêreldbeker-toernooi gekwalifiseer.

Maar baie het sedertdien verander. Bafana het ná 1996 tweede en derde in die Afrikabeker-toernooi geëindig, maar is al in die eerste ronde uitgeskakel sonder om ’n doel aan te teken. Erger nog, Bafana het soms selfs nie eens vir die toernooi gekwalifiseer nie. Dié span was al tot so laag as 80ste op die wêreldranglys en volgens ’n plaaslike sokkertydskrif is sy gemiddelde plek op dié lys sedert 1992 ’n baie beskeie 52ste.

Spelers wil nie meer hard werk

Tovey, deesdae die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) se tegniese direkteur, het sterk menings oor na wat vir baie ondersteuners lyk na die agteruitgang van Suid-Afrikaanse sport en veral sokker.

“Een van die belangrikste aspekte is die mentaliteit van die spelers. Ek dink nie dit raak net sokker nie. Dit is ’n sosiale aspek waarmee ons sedert die begin van die nuwe millennium te doen het,” sê Tovey waar ons in ’n restaurant gesels oor sy outobiografie wat hy saam met Ernest Landheer geskryf het: Neil Tovey: A Captain’s Journey (Penguin Boooks). ’n Bottel Alto Rouge is besig om in ’n ysemmer koud te word.

Millenniërs, sê Tovey, dink hulle het ’n reg op alles, dat alles hulle toekom; iets wat goed opgesom word in die moeilik vertaalbare Engelse woord entitlement.

“Dit was nie die geval in 1996 nie. Die nuwe millenniërs dink alles moet vir hulle gedoen word, dit sluit sportlui en sokkerspelers in. Werk hulle hard genoeg?” vra Tovey voordat hy self antwoord: “Sommige, ja, maar nie die meerderheid nie.

“Alles word vir hulle gedoen, so hulle is nie bereid om iets ekstra te doen wanneer dinge nie in hul guns verloop nie. Hulle sal eerder kla en kerm pleks van om eers self aan die werk te spring en dán te kla. Dit is ’n nasionale sosiale fenomeen,” meen Tovey.

Geesdrif vir Bafana Bafana

Hart op die mou. Tovey sê hy was altyd baie trots daarop om Bafana se trui te dra. Foto: Gallo Images

Tovey laat nie sommer ’n kans verbygaan om te vertel hoe trots hy daarop was om vir Bafana te speel nie.

“Ek het eers in 1992 die kans gekry toe ek al 30 jaar oud was. My broer (Mark) wat ’n fantastiese sokkerspeler was, het dit nooit gekry nie . . . Jomo Sono, Ace Ntsoelengoe, Nelson (Teenage) Dladla het nooit daardie kans gekry nie. Daar was gróót spelers wat nooit daardie kans gekry het nie,” sê Tovey.

“Ek was trots daarop om vir my land te speel omdat ek as kind nooit gedink het ek sal dit eendag kan doen nie.

“Vandag is daar nie meer dieselfde trots in die trui nie. Spelers dink dit kom hulle toe en dat hulle nog ’n kans sal kry. Min weet hulle die geleentheid om vir jou land te speel kan skielik van jou weggeneem word deur verskeie faktore soos beserings.”

Is daar dan nog salf te smeer aan die jonger geslag?

Tovey in aksie vir Bafana Bafana. Foto: Argief

Tovey, wat as jong man in die vroeë jare 80 twee jaar se diensplig in onder meer Thabazimbi gedoen het, glo ’n dienspligstelsel sal baie van die hedendaagse skoolverlaters baat. Dit sal hulle baie oor dissipline leer en beter mense van hulle maak, sê hy en voeg by dat hy baie oor dissipline in sy dienspligdae geleer het.

’n Nuwe dienspligstelsel moet uiteraard nie so lank duur soos dié van sy dae nie en die doel van die opleiding moet ook nie wees om mense vir oorlog voor te berei nie, maar eerder vir gemeenskapsdiens.

Tovey is darem ook nie heeltemal neerslagtig oor die toekoms van Suid-Afrikaanse sokker nie. Hy sê sukses behoort nie net aan die welslae van die nasionale manspan gemeet te word nie, maar dit is ongelukkig iets wat wêreldwyd in sokker gebeur.

Dit is die moeite werd om daarop te let dat daar van o.17-vlak tot die vroue van Banyana Banyana nog nie so baie nasionale spanne was wat vir wêreld- en kontinentale toernooie gekwalifiseer het soos wat die afgelope twee tot drie jaar die geval was nie.

Planne om afrigting op provinsiale vlak te verbeter en behoorlike landwye skolekompetisies sal tot ontwikkeling bydra.

’n Introvert se outobiografie

Tovey by die bekendstelling van sy boek saam met Pitso Mosimane, voormalige afrigter van Bafana en deesdae breier van Mamelodi Sundowns. Foto: Gallo Images

Tovey praat nog met groot geesdrif oor Suid-Afrikaanse sokker. Dit is duidelik dat Bafana Bafana en Kaizer Chiefs hom steeds na aan die hart lê 20 jaar nadat hy uitgetree het.

Hy is baie teleurgesteld dat Bafana en Chiefs, wat die naweek voor ons gesprek teen TS Galaxy in die eindstryd van die Nedbankbeker-reeks verloor het, nie meer die mas opkom nie en paviljoene langs sokkervelde al hoe leër word.

Wen is die enigste manier waarop toeskouers teruggelok kan word, sê Tovey. “Wen is die enigste ding, wen is die begin en die einde,” beklemtoon hy.

Tovey behoort te weet waarvan hy praat; hy was immers kaptein van ’n Bafana-span wat by ondersteuners die verwagting van oorwinnings eerder as nederlae geskep het.

Sy boek gaan egter nie net oor dié gloriedae en sokker nie, hy wou ook vir ondersteuners probeer vertel wie Neil Tovey regtig is.

Die boek moes maklik lees, so asof ek saam met ondersteuners om ’n tafel sit en gesels. Dit moes oor my hele reis as mens gaan.

Maar waarom nou eers, ’n hele twee dekades nadat hy uitgetree het?

“Dit is te danke aan Ernest se deursettingsvermoë,” lag Tovey.

Landheer, navorsing- en publisiteitsbestuurder by Chiefs, sê in enige ander land sou daar al lankal ’n boek of boeke verskyn het oor ’n speler van Tovey se statuur. Hy wou seker maak Tovey se verhaal word opgeteken.

Tovey beskryf homself as ’n introvert wat nie maklik oor “private sake” praat nie. “Ek het nie dadelik ‘Ja!’ gesê toe Ernest my genader het nie. Ek moes eers daaroor dink. Ek wou hê dit moes ook ’n inspirasie vir ander mense wees, met ’n paar lewenslesse.

“Dit moes maklik lees, so asof ek saam met ondersteuners om ’n tafel sit en gesels. Dit moes oor my hele reis as mens gaan, vandaar die subtitel: A Captain’s Journey.”

Twee hartaanvalle

Tovey in aksie vir Bafana Bafana. Foto: Argief

Dit het Tovey en Landheer twee jaar geneem om die boek te skryf. Hulle het ’n hele klomp keer ontmoet in dieselfde restaurant waar ons sit en gesels. “Ete ná ete en wyn ná wyn,” spot Tovey.

Hy het uiteindelik sy sin gekry en aan lewenslesse is daar nie ’n tekort nie: van hoe hy drie weke ná die Afrikabeker-triomf weer teruggekom het aarde toe met die dood van sy ma, Daphne; die stryd nadat sy seun, Sheldon, op die ouderdom van 19 maande in ’n bad met warm water verbrand het; en die teleurstelling nadat hy Bafana gehelp het om vir die Wêreldbeker-toernooi van 1998 te kwalifiseer, maar nie saam Frankryk toe is om daaraan deel te neem nie.

En dan is daar ook die verhaal van sy twee hartaanvalle. Met die tweede een in 2016, die keer toe Madikizela-Mandela vir hom blomme gestuur het, was hy vir twee en ’n half minute dood voordat hy weer bygebring is.

“Dinge soos dié gebeur met ’n rede, jy weet nie wat dit is nie. Die Vader daarbo besluit oor sulke dinge. Dalk het Hy ’n plan vir my, ek weet nie . . .”

Die hartaanvalle het Tovey se lewe ingrypend verander. “Ek het net die gebruik van 54% van my hart oor. My longe, my niere, al my belangrike organe is beïnvloed. Dokters sê vir my ek kan nie my polsslag bo 135 laat styg nie.

“Ek kan skaars meer sweet. Ek kan nog gholf speel, ’n bietjie draf en stap. Maar ek kan nie meer fietsry of muurbal speel nie.”

Hy let ook meer op na wat hy deesdae eet, maar volg nie ’n streng dieet nie, sê Tovey toe ek hom uitvra oor sy keuse van espetada en skyfies.

“Ek het nie ophou lewe nie.”

Meer oor:  Bafana Bafana  |  Kaizer Chiefs  |  Afrikabeker-Toernooi  |  Neil Tovey  |  Sokker  |  Afrikabeker  |  Sport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.