Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Steinhoff: ‘Markus nou in spogtronk’

Rob Rose, skrywer van Steinheist, vertel aan Murray La Vita waarom hy meen wat by Steinhoff onder Markus Jooste se beheer gebeur het, is die grootste korporatiewe bedrog in die geskiedenis van Suid-Afrika.

Markus Jooste, tweede van regs, saam met universiteitsvriende. Foto: Verskaf

Rose, redakteur van die publikasie Financial Mail, sê wat hy in Steinheist: Markus Jooste, Steinhoff and SA’s biggest corporate fraud, wou doen, is om te wys hoe Steinhoff die land se rykste, mees bedrewe en magtigste sakeleiers, bedrieg het. En hoe R200 miljard in die proses op die JSE uitgewis is.

“Ek skryf al vir jare oor Steinhoff. Markus Jooste haat my omdat ek in 2011 oor sy bedenklike belastingkwessies geskryf het – die hofsaak waarin die Suid-Afrikaanse Inkomstediens hom hof toe gesleep en geëis het hy moet agterstallige belasting van R207 miljoen betaal.

“Ek het nog altyd gedink so iets kan gebeur. Van die gevaartekens was waar groot hoeveelhede Steinhoff-aandele in transaksies as betaling aangebied is. En dan was daar die feit dat hul belastingkoers oor die afgelope jare werklik baie laag was.

“Uit die dokumente wat ek in 2011 onder oë gehad het, het dit net nie vir my sin gemaak hoe hierdie ou multimiljardrand-transaksies aangaan sonder om enige aandele te verkoop nie. So, dis die soort dinge wat my gepla het, maar ’n mens kon nie toe die volle omvang van die probleme bepaal nie.

“Ek dink enigiemand wat sê hulle het ’n volledige prentjie gehad van wat presies skeefgeloop het, sal nie eerlik wees nie.”

Steinheist het pas by Tafelberg verskyn. Foto: Verskaf

Hy het met baie mense gepraat oor die omvang van die skade wat aangerig is.

“Ek dink iets soos 60% van die land se pensioenfondse het Steinhoff-aandele besit. En toe het Steinhoff in wese 98% van sy waarde verloor. Baie pensioentrekkers het dus geld verloor. Net staatsamptenare wie se pensioene in Steinhoff-aandele belê was, het meer as R21 miljard verloor.

“Dan is daar die verliese met betrekking tot die winkels [van ondernemings wat aan Steinhoff behoort] wat straks verkoop moet word en mense wat afgelê gaan word.

"So die omvang van verliese in die samelewing is reusagtig. Dit laat ook groot vrae ontstaan oor die land se korporatiewe bestuurstoesig. Daar was hierdie beskouing dat ons aandelebeurs en ons maatskappye uitstekend bestuur word en dat dit net die regering is wat sukkel met wanbestuur en korrupsie . . . Steinhoff het nou gewys dat dit maar net ’n fasade is.”

’n Boelie en tiran

Markus Jooste toe hy onlangs parlementslede se vrae oor die Steinhoff-debakel moes beantwoord. Foto: Jaco Marais

’n Mens sien nooit werklik wat agter die skerms in Suid-Afrikaanse maatskappye aangaan nie.

“Jy sien nie die omvang van die boeliegedrag nie. Wat die mite van Markus Jooste betref: Hy het almal geboelie en almal het net opgetree soos wat hy voorgeskryf het hulle moet. ’n Mens sien nie daardie dinge totdat iets skeefloop nie.

“Daar is die illusie dat ’n maatskappy so fantasties goed bestuur word, maar die kulturele eenvormigheid van menings en die mate waarin daar in sommige maatskappye van werkers verwag word om in hul spoor te trap, is werklik toksies en ondermyn die moontlikheid om ’n lewendige korporatiewe sektor te skep.”

Vir diegene wat aan hom moes rapporteer, kon hy ’n tiran wees.

Rose skryf in Steinheist die Markus-kultus is ten dele lewendig gehou deur ’n kultuur van vrees.

“Vir diegene wat aan hom moes rapporteer, kon hy ’n tiran wees. Sy eie uitvoerende bestuurders het dikwels nie die moed gehad om hom te konfronteer nie; hulle was te bang vir die ontsettende geniepsigheid van sy verkleinerende reaksies.

“Volgens ’n voormalige kollega is daar mense wat sê Markus was ’n goeie leier, maar hy dink nie dit is waar nie. ‘Hoe kan jy ’n goeie leier wees as jou eie personeel te bang is om vir jou te sê wat aangaan?’”

Rob Rose, skrywer van Steinheist, sê enigiemand wat sê hulle het ’n volledige prentjie gehad van wat presies in Steinhoff skeefgeloop het, sal nie eerlik wees nie. Foto: Tiso Blackstar

Rose is skepties oor die vooruitsig dat Jooste ooit behoorlik vervolg sal word. In Steinheist haal hy Heather Sonn, wat in Desember 2017 ná Jooste se bedanking oorgeneem het as Steinhoff se voorsitter, as volg aan:

“At Steinhoff, I believe there was purposeful deceit where certain people went to great lenghts to misrepresent financial statements, in collusion with others.”

Hy skryf dan:

“In this way, she says, what happened is comparable to Enron. At least in the case of Enron – the Houston-based energy company that went bankrupt in 2001, after massive corruption was discovered [. . .] people went to jail.

“In teenstelling daarmee, en al is die getuienis teen Steinhoff op die oog af hóé verdoemend, is daar nie hoë verwagtinge dat die Valke – wie se vlerke in die Zuma-regime geknak is – daarin gaan slaag om enigiemand suksesvol te vervolg nie, meen Rose.

Hy is klaarblyklik nou besig om terug te krabbel; hy is besig om aan ’n verweer te werk.

“Ek doen al jare lank verslag oor hierdie soort sake. Daar is byvoorbeeld die Tigon-saak waarin mense in 2002 in hegtenis geneem is en daardie saak is steeds nie afgehandel nie. Die persepsie bestaan dat jy regtig die regstelsel kan misbruik om dinge te laat voortsloer. Ek weet nie tot watter mate dit in hierdie saak gaan gebeur nie. Ek sou graag wil dink dat dit uitgesorteer sal word.

“Markus het aanvanklik ’n groot punt daarvan gemaak om te sê hy gaan dinge soos ’n man vat, maar sy optrede toe hy voor ’n spesiale komitee in die parlement verskyn het, het nie daardie indruk geskep nie.

“Een van die verdoemendste dinge is die boodskap wat hy aan sekere mense gestuur het op die dag wat hy as uitvoerende hoof van Steinhoff bedank het. Daarin het hy gesê hy het foute begaan. Toe hy in die parlement gevra is wat hy daarmee bedoel het; dat dit sekerlik ’n bekentenis van ’n aard is, het hy gesê sy fout was net dat hy ’n transaksie met die Oostenryker Andreas Seifert aangegaan het.

“Die mense met wie ek gepraat het en wat na aan hom was, glo glad nie dít is wat hy bedoel het nie. Hy is klaarblyklik nou besig om terug te krabbel; hy is besig om aan ’n verweer te werk.”

Bruno en Christo

Markus Jooste, voor in die middel met baardjie, omstreeks 1980 saam met medestudente buite Wilgenhof-koshuis in Stellenbosch. Rian du Plessis, wat later uitvoerende hoof van die perdewedren-wedmaatskappy Phumelela sou word, sit links agter Jooste. Hy het ’n snor. Foto: Verskaf

Rose het as deel van sy navorsing tyd saam met die 80-jarige Bruno Steinhoff, stigter van Steinhoff, in Duitsland deurgebring.

“Hy het al sy vertroue in hierdie ou [Jooste] gesit wat dit heeltemal misbruik het. Ek hoor hy moes die afgelope weke verskeie van sy plase verkoop. Hierdie ding het hom erg geknou, nie net wat sy reputasie betref nie, maar ook geldelik.

“En dan is daar die feit dat Markus na hom verwys het as ‘my pa’ en Bruno aan Markus gedink het as ’n seun. Bruno is ’n tipiese stroewe Duitse sakeman, maar ’n mens kon ondanks daardie front agterkom dat hierdie verraad hom diep seergemaak het.

“Bruno het baie tyd daaraan bestee om vir my te vertel hoe hy die besigheid opgebou het en baie min by die huis was en dat hy derhalwe sy dogters afgeskeep het terwyl hulle kinders was. Dít is die soort ding wat jy doen om ’n besigheid op te bou. En dan kom daar hierdie ou wat jy vertrou het en verwoes dit. Ek weet nie . . . dit is een van daardie diép, diép wonde.”

Ekself dink hy (Christo Wiese) het glad nie geweet van die ongerymdhede nie.

’n Soortgelyke vertrouensbreuk het ontstaan tussen hom en Christo Wiese, die man wat ’n groot deel van sy enorme welvaart verloor het juis ook omdat hy Jooste in so ’n mate vertrou het dat hy (en die maatskappy Brait) Pepkor aan Steinhoff verkoop het in ruil vir Steinhoff-aandele. Hy was voorsitter van Steinhoff tot die bom in Desember 2017 gebars het.

“Die een ding wat die meeste mense sê wanneer jy met hulle oor Steinhoff praat, is: ‘Christo móés geweet het!’ Ekself dink hy het glad nie geweet van die ongerymdhede nie. ’n Mens kan sê hy móés geweet het; dat jy meer skepties moet wees as jy die voorsitter van ’n maatskappy is, en hy is beslis gewaarsku, maar ek dink nie die suggestie dat hy deel was van die dinge is akkuraat nie.

“Hy het mos al daarop gewys dat hy R59 miljard van sy eie geld verloor het. Toe ek met hom gepraat het, het hy ook vir my gesê indien hy nog ’n jaar gewag het, kon hy absoluut álles verloor het. Hy was mos van plan om Shoprite deel te maak van daardie nuwe maatskappy Star en in ruil daarvoor Steinhoff-aandele te aanvaar. Dít sou alles vir hom uitgewis het.”

Wat dink dié mense as hulle in spieël kyk?

Vir Rose lê die tergendste deel van die Steinhoffsage in die vraag: Hoekom? Hoekom sou iemand so opgetree het?

“Wat sal iemand wat reeds miljarde maak, beweeg om so op te tree? Ek haal ’n Harvard-professor aan wat hierdie fantastiese boek geskryf het oor hoekom mense dit doen. Hy het met talle sulke mense onderhoude gevoer en die mate waartoe hulle hulself mislei het met betrekking tot wat hulle gedoen het, is verbysterend.

Ek dink hy het nou die mentaliteit van iemand onder beleg en ek weet regtig nie wat se uitkoms daar vir hom is nie.

“Ek weet nie of baie van hierdie mense, wanneer hulle in die spieël kyk, werklik dink dat hulle iets verkeerd gedoen het nie. Ek dink die selfbedrog en Machiavelliaanse gemak waarmee hulle dit gedoen het, is fassinerend.

“So ’n mens verwag soveel goedkeuring van sy gemeenskap of samelewing dat wanneer hy iets verkeerd gedoen het of iets loop skeef, het hy twee opsies. Hy kan of sê: ‘O vader! Ek het verkeerd opgetree en dít is wat ek moet doen om dit reg te stel’, of hy kan dit ontken en dinge probeer wegsteek. Dít is wat die mense wat in die tronk beland onderskei van dié wat nié daar beland nie.”

’n Tronk by die see

Markus Jooste toe hy voor die parlementêre portefeuljekomitee vir finansies verskyn het. Foto: Edrea du Toit

Terwyl hy aan Steinheist gewerk het, het Rose heelwat tyd in die kusdorp Hermanus deurgebring waar Jooste woon. “Ek het ook met talle mense daar gepraat en daaruit het ek die indruk gekry dat dit amper soos een van daardie spoggerige Amerikaanse tronke is. Jy is wesenlik ’n gevangene deurdat jy ’n bietjie van ’n uitgeworpene in jou gemeenskap is. Ek dink hy het nou die mentaliteit van iemand onder beleg en ek weet regtig nie wat se uitkoms daar vir hom is nie.

“Uit gesprekke met die inwoners blyk dit Hermanus het vir hom ’n de facto-tronk geword . . . al is dit nou ook ’n baie, baie gerieflike een.”

Hy beskou die Afrikaanse gemeenskap van Hermanus as insulêr.

Een inwoner het aan Rose gesê in die ou dae sou Jooste met almal gepraat het en was hy baie vriendelik.

“En dis juis omdat dit so is dat so baie van hulle dit persoonlik opneem: Hulle het vertrou wat Jooste, wat een van hulle is, vir hulle gesê het en daarom het hulle geld in Steinhoff belê. En daarom is die verraad soveel erger.”

Een inwoner het aan Rose gesê in die ou dae sou Jooste met almal gepraat het en was hy baie vriendelik, maar dit is nie meer die geval nie.

“In plaas daarvan word Jooste dikwels opgemerk waar hy, ken in die lug sodat hy die starende oë van mense kan vermy, op die dun kranspaadjies wat langs die kus kronkel saam met sy vrou stap. Hy ignoreer bure wat hom groet. Dit is asof hulle nie bestaan nie,” skryf Rose.

Meer oor:  Steinhoff  |  Markus Jooste  |  Christo Wiese  |  Rob Rose  |  Hermanus  |  Korporatiewe Beheer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.