Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Wat's jou storie?
Storieman van Bloemfontein

Die Bloemfonteinse historikus en skrywer, dr. Hannes Haasbroek, het einde Julie ná 40 jaar as hoof van die Nasionale Museum se geskiedenisdepartement afgetree. Dit was ’n vrugtevolle en vreugdevolle loopbaan, maar diep in sy hart wou hy eintlik flieks maak vir ’n lewe . . .

Dr. Hannes Haasbroek Foto: Mlungisi Louw

Op 2 Januarie 1979 stap die 25-jarige Hannes Haasbroek by die Nasionale Museum in Bloemfontein in as hoof van die geskiedenisdepartement. Tot met sy aftrede op 31 Julie vanjaar was dit sy eerste en enigste werk.

Maar dit was nie heeltemal so beplan nie.

As boerseun van die Vrystaatse platteland is hy in 1973 met ’n onderwysbeurs van die staat Kovsies toe vir ’n BA-graad met geskiedenis en wiskunde as hoofvakke.

“Toe ek hoor ek moet wiskunde-aandklasse loop, het ek die wêreld so gekyk en besluit ek neem maar eerder geskiedenis en Afrikaans. Ek was op skool goed in dié twee vakke. Ek het nou nog die Lafras Cuyper-boek wat ek in st. 5 gekry het as prys vir die beste geskiedenisleerling. Aan die Hoërskool Voortrekker, in Bethlehem, het ek ’n goeie geskiedenisonderwyser, Peet Rautenbach, gehad wat my liefde vir dié vak verder aangewakker het. Afrikaans was my ander gunsteling.”

Kovsies toe
Hannes is vir ses jaar lank ’n Kovsie en inwoner van die Karee-manskoshuis. Studentwees is “net te lekker”, en ná sy BA is hy nog nie reg of lus vir onderwyser wees nie. Ná sy honneursgraad en ’n meestersgraad oor die rol van die Engelse gemeenskap van 1848 tot 1859 in die Oranje-Vrystaat is hy steeds nie reg of lus vir die onderwys nie. Toe doen hy sy hoëronderwysdiploma. En tóé sê die onderwysdepartement dit is tyd om sy beursverpligtinge na te kom. Hulle pos hom as geskiedenisonderwyser na Koffiefontein, maar Koffiefontein se geskiedenisklaskamer sien hom nooit nie.

Eerste en enigste werk
“Die historikus-pos by die mu­seum is toe oop. Ek doen aansoek, en kry dit wraggies.”

In sy vier dekades as hoof van die geskiedenisdepartement versamel hy, dra hy by tot die museum se talle uitstallings, doen hy navorsing en pen hy stukkie vir stukkie geskiedenis vir die nageslag neer.

Sy doktorsgraad verwerf hy met ’n verhandeling oor Sir Cornelis Wessels (1851-1924), politieke en openbare figuur in die Vrystaat en pa van die bekende sopraan Cecilia Wessels (1895-1970). Uit dié verhandeling publiseer hy ook baie vir die museum en dit lei tot sy boek Stem en Legende: Die lewe van Cecilia Wessels (2005, Litera Publikasies).

“Sy was ’n unieke figuur en die koerante en tydskrifte het baie oor haar geskryf, maar daar was nooit ’n kommersiële plaat van haar of ’n boek oor haar nie. In die boek het ons ook ’n CD ingesluit.

“Baie mense het my bedank vir dié boek en daar is steeds mense wat dit soek, maar die beperkte oplaag het gou uitverkoop. Ek is bly ek kon haar lewe opskryf. Sy verdien dit.”

Een van Hannes se groot hoogtepunte is sy boek ’n Seun soos Bram: ’n Portret van Bram Fischer en sy ma Ella (2011, Umuzi). Vir hierdie eerste volwaardige Afrikaanse boek oor die Afrikaanse apartheidstryder en kommunis Bram Fischer (1908-1975) en die verhouding met sy ma, Ella (1884-1964), word die Suid-Afrikaanse Letterkundetoekenning (SALA) aan Hannes toegeken.

Maar die boek is veel meer as net oor seun en ma. Hannes verewig in ’n Seun soos Bram ook geskiedenis van Bloemfontein en die Fischer- en Fichardt-families wat van die room van die stad was.

Dit was vir my soos ’n natuurkundige wat ’n dinosourusbeentjie kry, verder grawe en die hele dinosourus uitgrawe.
Agter die Eerste Raadsaal in Bloemfontein is die Waenhuismuseum waar die vervoergeskiedenis van Bloemfontein uitgebeeld en bewaar word. Dit is deel van sy trots. Hy het dit help inrig.

En in Waaihoek, neffens Bloemfontein se enorme ou kragtorings, is die Wesleyaanse kerkskooltjie waar die ANC in 1912 gestig is. Hannes is die man wat die feite oor die ware geboorteplek van die ANC uit die argiewe opgediep het.

“Dit was ’n hoogtepunt. Al die jare het niemand geweet presies waar die ANC gestig is nie. Toe ek op die inligting afkom, het ek ’n museumbakkie gevat en gaan kyk. Ek het gedink die geboutjie sou platgestoot wees. Toe staan dit steeds.

“Dit was vir my soos ’n natuurkundige wat ’n dinosourusbeentjie kry, verder grawe en die hele dinosourus uitgrawe. Die provinsie het die gebou mooi gerestoureer, ’n ouditorium en restaurant gebou en ’n instansie gekry om ’n museum in te rig, maar dit het doodgeloop. Dit is hartseer. Dit is tog ’n toeriste-attraksie en deel van die geskiedenis. Wat daarvan gaan word, is ’n ope vraag.”

Hy is ook bekommerd oor geskiedskrywing in die toekoms.

“Ek is nog van die ou historici wat in die argiewe en dokumente gaan rondgrawe. Van die nuwe historici wil nie van die argiewe weet nie. En daar is nog soveel geskiedenis wat geskryf moet word.”

Geskiedenis vir almal
Deur die jare het Hannes as museumnavorser én navorsingsgenoot van die Universiteit van die Vrystaat se geskiedenisdepartement tientalle navorsingsartikels in onder meer die museum se geakkrediteerde joernaal, Indago, gepubliseer om geskiedenis vir die nageslag te bewaar. Hy het ook dié joernaal sy naam gegee. In sy vakgebied is hy bekend.

Maar dit is nie net historici en geskiedenisliefhebbers wat hom ken nie. ’n Deel van ’n historikus se werk is om geskiedenis as vak te populariseer.

Ook dit het hy goed reggekry met sy rol as redaksielid en skrywer van die museum se tydskrif Culna en met gereelde geskiedenisartikels in Volksblad, ander koerante en populêre tydskrifte – oor van die stigtingsplek van die ANC, Bloemfontein se trems tot by Elvis, Frank Sinatra en Dallas.

Storieman
Voeg by sy geskiedskrywing ook ’n kortverhaal of wat, humoristiese tydskrifrubrieke én ’n satiriese spanningsroman, Woudfontein: ’n Spanningsverhaal (2015, Penguin Random House), wat goeie resensies gekry het.

Die eerste drie hoofstukke van sy volgende boek is geskryf.

“Nou het ek meer tyd. Dit is so ’n aweregse spanningsverhaal wat hier iewers in die Vrystaat afspeel,” sê hy en lag uit sy maag uit.

“Ja, ek hou van lag en ek is so bietjie aweregs.”

Hannes is sedert sy kinderdae, op die plaas Vaalhoek by Bethlehem, ’n storieman. “Ek hou baie van stories en van fliek.

As Jamie Uys my kon raaksien, sou ek seker nie vandag in Bloemfontein gewees het nie.

“In st. 7 het ek my pa, Gerbrand, se 8 mm-rolprentkamera gekry. Daarmee het ek tot matriek op die plaas flieks gemaak. Van my ouer broer, Japie, tot sy meisie, en die plaaswerkers en soms die bure het in my flieks gespeel. Soms het ons ’n groot cast gehad.

“Dit was meestal cowboy-flieks en een keer op 16 Desember ’n Voortrekkerfliek met die werkers in Zoeloe-drag en die res in Voortrekkerdrag en met vals baarde. Die karre het gaan stilstaan op die Lindley-pad om te kyk.

“Hulle het seker gedink ons vier die Dingaansdag ernstig. Maar dit was net omdat dit vir almal ’n vakansiedag was. Op fliekaande is die bure genooi. Hulle het daarvan gehou.

“As Jamie Uys my kon raaksien, sou ek seker nie vandag in Bloemfontein gewees het nie. Dan sou ek flieks gemaak het.”

Hannes en Jamie Uys se paaie het toe nie gekruis nie, en vir 40 jaar al gee Hannes vir mense geskiedenis en stories. En hy is tevrede.

Meer oor:  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.