Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Strooptogte: ‘Dit was die werk van agent-provokateurs’

Hy het nooit kon dink so iets soos die afgelope weke se strooptogte en geweld sou in sy komvandaan gebeur nie. Dr. Imtiaz Sooliman het aan Willemien Brümmer gesê hierdie anargie is al lankal beplan, maar die owerhede het anderpad gekyk.

Dr. Imtiaz Sooliman, stigter van Gift of the Givers, by een van hierdie stigting se vragmotors wat nou weer in KwaZulu-Natal en Gauteng help om nood te verlig ná die strooptogte en geweldpleging hier. Foto: Nicolene Olckers

Jan Smuts het eenmaal gesê in Suid-Afrika “gebeur die ergste nooit en ook nie die beste nie”.

Dr. Imtiaz Sooliman, stigter van Gift of the Givers, onderbreek vir ’n oomblik sy snelvuursinne om te dink oor hierdie woorde in die lig van die amperse leegbloei van ons reënboognasie sedert die inhegtenisname van oudpres. Jacob Zuma.

Sy stem is beslis vanwaar hy Dinsdagoggend by sy huis in Pietermaritzburg in die episentrum van die chaos gesels. “Nee, ons het nog nooit in ons geskiedenis só iets gesien nie. Dit ís die ergste. Maar dit het ook die heel beste uit Suid-Afrikaners na vore gebring het.”

As die hoof van die grootste burgerlike rampverligtingsorganisasie in Afrika (deur Arikane) het hy oor die afgelope 29 jaar na van die mees wanhopige oorlog- en rampgeteisterde gebiede ter wêreld gereis. Maar hy het nooit gedink so iets sou in sy komvandaan gebeur nie.

“Ek dink nie enigiemand in die land of enigiemand ter wêreld het dit verwag nie. In 1994 het ons kos opgegaar en mense het weggekruip en almal het gedink dit sou tóé gebeur en dit het nie . . . maar hierdie afskuwelike plan is op tou gesit deur verraaiers!”

Hy sug, maar sy stem klink nie mismoedig nie. Dié dokter wat beweer hy is gebore met “rampe in my bloed”.

“Jy moet van jou verstand af wees om suigelinge toe te laat om sonder melk te wees, kinders om sonder kos te wees. Regdenkendes sal nie ambulanse of paramedici aanval nie, hulle sal nie personeel keer om hospitaal toe te gaan nie, hulle sal nie pasiënte sonder kos, sonder suurstof, sonder mediese sorg laat en die ekonomie van die land verwoes in ’n tyd waarop die land dié verlies nie kan bekostig nie. Dieselfde mense wat hulle gebruik het om te gaan steel, sal nou werkloos wees. En dink aan die bloedbad van werksverliese wanneer buitelandse maatskappye begin onttrek uit die land? So hoe het hulle hierby baat gevind?”

Dit is die werk van vyande van die Suid-Afrikaanse mense.

Hy skep blitsvinnig asem.

“In 29 gebiede langs die noordkus is daar basies geen winkels nie. Jy het jouself in die voet geskiet en nou gaan jy honger ly en dis meer petrol om na ’n ander gebied te reis en alles word net duurder. Dit is die werk van vyande van die Suid-Afrikaanse mense.”

’n Vrou dra ’n boodskap van hoop oor terwyl lede van die weermag die strate naby die Pan Afrika Mall in Alexandra patrolleer nadat dit onlangs onder die strooptogte deurgeloop het. Foto: Deaan Vivier

Sedert die onluste begin het, het Gift of the Givers alles in die stryd gewerp om hierdie kolossale krisis te beredder. Tog is hy steeds rats van verstand en onemosioneel daar waar hy regstaan met sy vier selfone wat konstant bliep met nóg versoeke om hulp.

... die weermag en die polisie . . . jy kry byna die indruk hulle is die opdrag gegee om anderpad te kyk.

“Dit is die werk van agent-provokateurs. Dis meer as ses maande gelede beplan. Jy kan plundertogte in een winkel, in een sentrum hê, maar nie in sowat 200 winkelsentrums in die hele provinsie nie. Mense met duur karre het gekom om hulleself te help – ek bedoel, watter soort lering is dit vir hul kinders? Die mense wat gesteel het was nie gewelddadig nie. Hulle het mense op straat gegroet en hulle het niemand aangeval nie. Hulle was net bly oor die meevallertjie.

“Ja, mense is honger, maar nie tot op die punt dat hulle hierdie soort opstand sou veroorsaak nie. Dit was opstoking. Mense is gesê hulle kan hulleself gaan help, dis gratis. En om die een of ander rede het die weermag en die polisie . . . jy kry byna die indruk hulle is die opdrag gegee om anderpad te kyk.”

‘Dit was nie Zuma nie’

Verbasend genoeg dink hy nie dis Zuma, met wie hy oor die jare ’n goeie verhouding opgebou het, wat hiervoor verantwoordelik is nie.

“Ek sou egter nie verbaas wees as ander mense sy naam hiervoor gebruik nie. Ek kan jou amper waarborg tydens die raserny verlede week het die plunderaars vergeet Zuma is in die tronk. Hulle het dit nie vir hom gedoen nie.”

... hulle het die plunderaars gebruik om die indruk te skep dat dit húlle was wat die land afbrand.

Hy dink ook nie dit was ’n poging tot ’n staatsgreep nie, want die oproeriges het nie probeer om die lughawens, die polisie en die weermag oor te neem nie.

“Ek dink die provokateurs het nie daarmee rekening gehou dat gemeenskappe sou opstaan en hulleself begin beveilig nie. Die moeilikheidmakers wat probeer het om geweld aan te hits was ’n paar gewapende mense en dit het gebeur nadat die plunderaars weg was. Dit was ’n groep mense wat die volgende dag ingegaan het en hulle het die plunderaars gebruik om die indruk te skep dat dit húlle was wat die land afbrand.”

Dr. Sooliman in 2016 nadat hy die prestigeryke Global Citizen-prys gekry het van die internasionale adviesfirma Henley & Partners. Hy en Gift of the Givers het al talle nasionale én internasionale pryse gewen en hy is die houer van nege eredoktorsgrade. Foto: Elizabeth Sejake

Sy stem is snydend.

“Die vraag is eerstens: Waar was die intelligensiedienste? Dit is al lank gelede beplan. En hoekom was die weermag nie gereed om gemobiliseer te word nie? En nou kan die regering nie eens die mense ondersteun wat geraak is nie? Hulle was afhanklik van maatskappye en nieregeringsorganisasies om mense te help. Hulle het skitterend in elke kategorie misluk.”

‘Niemand gaan ons land verwoes nie’

Soos vantevore het Gift of the Givers op verskeie vlakke die rol van die regering in die geplunderde gebiede oorgeneem. Nie net verskaf hulle brood en melk aan die honger menigtes nie, hulle verskaf ook volledige kospakkies aan gesondheidswerkers sodat hulle nie vir ure in toue hoef te staan nie.

Inwoners van Wentworth in KwaZulu-Natal by kospakkies wat hulle onlangs van Gift of the Givers ontvang het.

“Ons het gesê as hulle nie werk toe kan kom nie, wie gaan na die pasiënte omsien? Maar toe begin hospitale ons bel en sê hulle het nie kos vir hul pasiënte nie en toe begin ons kos aan die pasiënte verskaf. En toe begin ons die mense ondersteun in die gebiede waar die winkels toe is.

Op net een foon het ek reeds 5 000 SMS’e ontvang van mense wat hulp nodig het.

“Maar selfs waar die winkels weer oop is, is daar mense wat nie kan koop nie, want daar was honger voor die pandemie, daar was honger gedurende die pandemie en daar was honger voor die strooptogte en daar is honger ná die strooptogte. So ons help ook mense wat toegang tot winkels het, maar hulle kan nie koop nie. Op net een foon het ek reeds 5 000 SMS’e ontvang van mense wat hulp nodig het. Ons word oorval met e-posse, ons sosialemediabladsye word oorval en ons oproepsentrums kry elke vyf sekondes ’n oproep.”

Die Kendra Gardens-aftreeoord in Durban ontvang kos van Gift of the Givers.
Gesondheidswerkers van die Life Hilton Privaathospitaal in Pietermaritzburg ontvang kos van Gift of the Givers.

Gift of the Givers verskaf ook kos aan weeshuise, ouetehuise en tehuise vir gestremdes wat reeds voor die anargie in die moeilikheid was omdat hul finansiering gedurende die pandemie opgedroog het.

En dan is daar die 29 gebiede waar nie een winkel staande gebly het nie, waar hul vragmotors en vrywilligers ’n baken van hoop geword het.

“Waar mense vir ons sê hulle het vragmotors, hulle het voertuie, sê ons hulle kan ’n vrag kospakkies kom haal sodat hulle dit na hul mense kan neem, maar dis geloofwaardige mense. Ons het dokters, professore, sakemense, hoofde van universiteite en institusies en maatskappye, wat gesê het hier is ons mense, hulle sal van deur tot deur gaan om kos af te lewer. Dis ongelooflik hoe mense van alle strata van die samelewing gesê het ons gaan nie toelaat dat hierdie storm ons onderkry nie en niemand gaan ons land verwoes nie.”

Sooliman onlangs by sy huis in Pietermaritzburg saam met verteenwoordigers van die Universiteit van KwaZulu-Natal wat gekom het om brood en melk af te haal, waarna hulle na die pakhuis is om kospakkies op te laai.

Hy skep asem terwyl hy van die skade probeer bestek opneem.

“En dan het hospitale mediese voorraad nodig, want 70 apteke is afgebrand, mediese groothandelaars is afgebrand en een farmaseutiese vervaardigingsaanleg is afgebrand. Baie, baie dokterspraktyke en oogkundiges se praktyke is afgebrand. Die gesondheidsdepartement het ons gister laat weet hulle het 20 oogheelkundige stoele nodig sowel as inspuitings vir entstowwe. Ons verskaf dit vandag vir hulle. Ander hospitale het beskermende kleredrag en teaterklere nodig en ons verskaf dit ook vir hulle.”

Hy praat ook met maatskappye om planne te maak om kleiner ondernemings en dokterspraktyke weer op hul voete te kry.

Sy stem is moedig.

“In Suid-Afrika maak ons altyd ’n plan. Die nuwe term is sosiale aktivisme waar burgers self verantwoordelikheid neem vir hulle land. Ons wag nie vir die regering nie. Hulle is daar om ons te verteenwoordig, maar as hulle nie hul werk kan doen nie, dan kan ons dit net sowel self doen.”

President Sooliman?

Die joernalis Rebecca Davis het juis vandeesweek in die Daily Maverickgeskryf toe Gift of the Givers aankondig hulle is op pad om dinge reg te ruk, was sy nie “die enigste persoon wat vir die honderdste keer gewens het ons kon net die sleutels van die Uniegebou aan Imtiaz Sooliman gee en klaarkry nie”.

Hy lag.

Op pad na ’n rampgebied in een van die 44 lande waar Gift of the Givers al ’n baken van hoop was. Foto: Ian Carbutt

“Dis nie ’n nuwe sentiment nie. Daar is duisende mense wat wil hê ek moet president van die land word. Daar is webtuistes en dinge en elke dag is daar ’n ander prentjie van my met ’n ander bewoording en mense bel my en vra hoekom ek myself nie beskikbaar stel nie, maar ek is nie geïnteresseerd in die politiek nie. Ek skerts en vra wat as iemand my iPad steel? Wat gaan hulle dán doen?”

Hy lag weer lekker.

Die primêre fokus van die aanstigters was om rassespanning aan te hits en te verdeel en heers, maar dit het misluk.

“Maar jy weet, ek is nie alleen nie. Ek het nou vir die eerste keer gehoor wit mense sê, ons wil nie die land verlaat nie, ons wil hier bly om dinge reg te maak. Daar is ’n nuwe vertroue dat hierdie dinge gekeer kan word. Niemand het dit verwag nie en nou het mense soveel selfvertroue dat hulle niemand sal toelaat om verwoesting in hul land te saai nie.

“En die goedgesindheid! Swart, wit en bruin gemeenskappe het saamgestaan om die wag te hou. So baie ondernemings wat in swart besit was, is vernietig. Die primêre fokus van die aanstigters was om rassespanning aan te hits en te verdeel en heers, maar dit het misluk. En selfs die plunderaars het nie mooi gedink wat hulle doen nie en ek is seker ons gaan nou die gewetenswroeging begin sien. Hoeveel van die gesteelde goedere is nie al teruggegee nie? Die inwonersverenigings het gesê, dit kan nie deel van ons kultuur wees nie. Mense het nou ’n nuwe respek vir taxiverenigings gekry, want hulle gaan van deur tot deur om die toerusting terug te kry.”

‘Ek is ’n yskoue klip’

Die groot vraag is hoe hy dit regkry om nie woedend te word of uit te brand te midde van die teëspoed wat die afgelope 28 jaar sy brood en botter geword het nie?

Sooliman by die Sunfresh bakkery saam met onder meer sy vrou, dogter en ’n sielkundige wat brood kom haal het vir hospitale in hierdie gebied.

Hy klink vrolik.

Ek het verlede week vanaf Maandagoggend die 12de Julie tot middernag die 16de Julie gewerk en ek het nie een sekonde geslaap nie.

“Ek het ’n unieke eienskap. Ek kan myself emosioneel afsny. My vrou (Zohra) noem my ’n alien. Sy sê ek is nie ’n mens nie en wanneer ons ’n gesprek het oor emosies, mag ek nie deelneem nie, want ek het nie emosies nie. Maar ek leer altyd vir my mediese spanne en hul personeel jy kan nie emosioneel verknog raak aan enige iemand of iets nie, want dan sal jy nie kan funksioneer nie. Ek is soos ’n yskoue klip en wanneer ek in die midde van ’n krisis is, is ek meer gedrewe.

“Ek het verlede week vanaf Maandagoggend die 12de Julie tot middernag die 16de Julie gewerk en ek het nie een sekonde geslaap nie. Ek het nie behoorlike maaltye geniet of regtig iets gedrink nie, want ek het nét gewerk. Ek het darem die naweek geslaap, maar ek kan vir net vier uur slaap en dan weer begin werk.”

Hoe kry hy tyd vir sy gesin?

“Ek het twee vroue en ses kinders. Wanneer só iets gebeur raak almal betrokke. Ons familie bestee tyd saam deur dinge saam aan te pak.”

Ek probeer weer: Het hy régtig nie eens kwaad geword oor die afgelope twee weke nie?

“Nee, ek voel nie kwaad nie, want ek weet die mense wat gesteel het, het nie geweet wat hulle doen nie. Ek verstaan arm mense wat honger is. Dis nie geregverdig om kos te steel nie, maar ek het mense gesien wegstap met net ’n hoender of ’n blikkie vis. My teleurstelling lê by diegene met duur karre wat voorbereid was daarop om te plunder. Die ander teleurstelling was die studente wat ingebreek het by plekke om sjiek klere te steel. Hulle word opgelei vir beroepe, maar jou professionele waardes stem nie ooreen met jou spirituele waardes en jou moraliteit en jou etiek nie. As jy nóú al wil steel, wat gaan jy eendag doen as jy jou eie onderneming het?”

Dán eers sal jy sterf

Toe sy spirituele leermeester, die Soefi-sjeg wyle Muhammed Saffer Effendi al Jerrahi, in 1992 in Istanbul vir hom die opdrag gee om ’n organisasie, Waqful Waqifin, (vertaal as “Gift of the Givers”) te stig, het hy sy florerende praktyke as mediese dokter verlaat om mense van alle rasse, godsdienste, klasse en politieke affiliasies onvoorwaardelik te dien.

Dit was egter veral die konflik in Bosnië wat hom 85% geleer het van dit wat hy weet.

Inwoners maak skoon by Jabulani Mall in Soweto ná die onlangse strooptogte hier. Foto: Gallo Images

“Die belangrikste is om koelkop te bly en op jou voete te kan dink en nie paniekerig of irrasioneel te raak nie. Selfs in ’n oorlogsone te midde van bomme wat knal, moet jy leer om kalm te bly. Dit is ook ons geloof dat jy net kan sterf wanneer jou tyd verstreke is. Nie ’n dag vroeër nie en nie ’n dag later nie. Met daardie ingesteldheid weet ons wat móét gebeur, sál gebeur.”

Jy hoor die glimlag in sy stem. Dié dokter met sy nege eredoktorsgrade wat al herhaaldelik op sosiale media “benoem” is vir ’n Nobelprys vir Vrede. “Ons kan dit nie verander of keer nie, maar met daardie ingesteldheid weet ons ons moet net bly en doen wat gedoen moet word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.